Skokkende geskiedenis van die NG Kerk sedert 2000

Die doel van hierdie dokument is om ’n opsomming te gee van die skokkende geskiedenis van die NG Kerk sedert 2000. Dit gaan nie in detail in nie, maar die detail kan verkry word deur op die skakels in die dokument te kliek.

Lesers word ook attent gemaak op die artikels hierbo wat sekere sake in isolasie beskou.

1. Inleiding

Ons is in die jaar 2021. In die NG Kerk kan jy self besluit wat jy oor homoseksuele verhoudings (ook bekend as selfdegeslagverhoudings [SGVs]), die duiwel en seks voor die huwelik glo. Die maagdelike verwekking en Jesus se liggaamlike opstanding staan sover nog vas soos dit ook in die Bybel en belydenisskrifte bepaal word, maar daar is reeds baie predikante en teoloë wat dit, alhoewel versigtig, bevraagteken en daarmee wegkom.

Hoe het ons hier beland? Dubois du Toit beskryf in Requiem vir ’n verlore skaap dat dit soos ’n skaap is wat graspol vir graspol verdwaal het. Hierdie dokument lig daardie graspolle uit.

Waar het dit alles begin?

Die antwoord op hierdie vraag sal waarskynlik nooit presies geantwoord kan word nie. Twee name kom egter op:

  • Die eerste naam is Ferdinand Deist. Hy het Rudolf Bultmann se teologie in Duitsland aangeneem en dit in Suid-Afrika kom populariseer. Daarmee het hy ’n groot invloed op die teologie in Suid-Afrika bewerkstellig. Hy is in 1997 oorlede.
  • Die tweede naam is Ben du Toit

2. 2000 Ben du Toit se boek

In 2000 publiseer Ben du Toit sy boek God? Geloof in ’n postmoderne tyd. Daarin vra hy onder andere: “Is dit regtig nodig om in die maagdelike geboorte te glo as voorvereiste om Jesus as Verlosser te sien?” Hy maak verder ook Jesus se liggaamlike opstanding verdag en ontken die bestaan van die duiwel.

Nie net waag hy om hierdie dinge te sê nie, maar hy ontvang ook die Andrew Murrayprys vir hierdie boek.

In 2020, 20 jaar na sy eerste boek, publiseer Ben du Toit weer ’n boek met die titel God: Is daar ’n ander antwoord? Daarin verklaar hy dat hy ’n postteïs is, wat basies op ateïsme neerkom, en verlaat die kerk.

Voor hy sy geloof verloor dien hy eers in ’n paar baie strategiese poste in die NG Kerk. Hy was byvoorbeeld een van die NG Kerk se parlementêre verteenwoordigers en ook hoof van kommunikasie van die NG Kerk. In Maart 2021 in Herinnering aan Jan du Rand (1945-2021) skryf Hoffie Hofmeyr:

Vanuit die NG Sinode van die Suid- en Wes-Kaap, was Ben feitlik met die hand uitgesoek vir senior sinodale posisies. Vir byna twee dekades was hy in posisies waar oor Skrifgesag en Skrifinterpretasie strategies belangrike besluite in die NG Kerk geneem is.

Meer hieroor later.

3. 2002 algemene sinode oor skrifgesag

Tydens hierdie sinode word die weg gebaan vir toekomstige onskriftuurlike besluite en dwaalleringe met die goedkeuring van die besluit oor skrifgesag. Daarin kom onder andere die volgende sinsnedes voor wat die Bybel beskryf:

  • “menslike karakter van die Skrif”
  • “gewone mensewoorde”
  • “die Bybel as menslike boek”
  • “menslike “foute” in die Bybel”
  • “wetenskaplike “swakheid”
  • “geen aanspraak op historiese eksaktheid nie”

Hierdie besluit is onder andere gebruik om Jurie le Roux onskuldig te bewys in die klag van Ferdie Mulder teen Jurie le Roux (kyk Ring van Pretoria-Oos bevinding van ondersoekkommissie oor klag teen prof Jurie Le Roux). Kyk ook later in hierdie dokument: 2006 Ferdie Mulder, lewenslank geskors van UP teologiese fakulteit

4. Die stigting van die Nuwe Hervorming

In ongeveer 2002 word die Nuwe Hervorming in Suid-Afrika gestig. Hulle is ’n sustersorganisasie van die Jesus Seminaar en ontken feitlik al die belangrike Bybelwaarhede, soos Jesus se Godheid, opstanding, maagdelike geboorte, ens. In Desember 2002 word die boek Die Nuwe Hervorming uitgereik. (Vir meer oor die Nuwe Hervorming, kyk Sarel van der Merwe se DVD, Nuwe Strominge in die Teologie.)

In reaksie daarop reik die Algemene Sinodale Kommissie (ASK) van die NG Kerk in Februarie 2003 ‘n verklaring uit waarin hulle hul distansieer van die radikale uitsprake van die Nuwe Hervormers.

Kort daarna kritiseer James Kirkpatrick en Fanie Cronjé die ASK se verklaring – kyk James Kirkpatrick en Fanie Cronjé ongelukkig dat NG Kerk die Nuwe Hervorming kritiseer (1 April 2003).

‘n Paar maande later kom spreek twee Nuwe Hervormers die sinode van Noord-Transvaal toe tydens hulle streeksinode (volgende paragraaf). Beide James Kirkpatrick en Fanie Cronjé is aan hierdie sinode verbonde.

Alhoewel Sakkie Spangenberg ’n leidende rol gespeel het in die Nuwe Hervorming, bedank hy eers in 2004 uit die NG Kerk.

5. 2003 Sinode van Noord-Transvaal

Tydens hierdie streeksinode, waarvan Kobus Gerber die moderator is, word twee nuwe hervormers, proff Pieter Botha en Pieter Craffert, na die sinode genooi om die sinode toe te spreek oor Jesus se liggaamlike opstanding en maagdelike verwekking. Dit lei daartoe dat die sinode nie ’n kategoriese uitspraak wil lewer oor die geskiedkundigheid van die maagdelike geboorte of Jesus se liggaamlike opstanding nie. Daarmee verbreek die hele sinode hulle legitimasie-eed. Vir meer hieroor, kyk Sinode vir eers stil oor maagdelike geboorte.

6. 2004 algemene sinode

Tydens hierdie sinode word weer ’n besluit geneem oor skrifgesag. Baie van die 2002 besluit word bloot herhaal.

Die Belydenis van Belhar is ook ’n groot besprekingspunt en daar word voorbrand gemaak vir selfdegeslagverhoudings (SGVs): anders as die 1986-besluit erken die 2004-besluit nêrens dat SGVs sonde is nie. Theo Danzfuss skryf ’n gediggie (Op Hartenbos se strand) aan Kerkbode oor die sinode en sê onder andere die volgende:

Die huwelik is slegs wettig tussen ’n vrou en ’n man
maar ons sinode is baie slim, – kyk hier is ons plan:
Seks met dieselfde geslag, dit mag niemand verbied
maar onthou dit mag slegs buite die huwelik geskied.

Daar is sprake van kerkskeuring en ‘n aparte kweekskool, maar niks hiervan realiseer nie.

7. 2005 Pieter Pelser waarsku die NG Kerk

In Augustus 2005 publiseer Pieter Pelser sy boek, NG Kerk: Reformeer of… Disintegreer? (gratis beskikbaar as eboek). Sy boek maak egter nie baie impak nie, hoogs waarskynlik omdat hy sy tyd te ver vooruit is. Lesers van sy boek voel waarskynlik dat hy spoke opjaag.

8. 2006 Ferdie Mulder, lewenslank geskors van UP teologiese fakulteit

In 2006 word Ferdie Mulder, ’n teologiese student, lewenslank geskors uit die teologiese fakulteit van die Universiteit van Pretoria. Hy het veral drie dosente, Julian Müller, Jurie le Roux en Dirk Human gekonfronteer oor hulle siening oor Jesus se liggaamlike opstanding en hy wou hulle aankla van teologiese dwaalleer. Hy het ander studente se ondersteuning gewerf, maar almal het hulle ondersteuning onttrek nadat hulle deur Flip du Toit, hulle verteenwoordiger by die kuratorium, met regstappe gedreig is. Louis Scheepers sê op 15 Maart 2012 die volgende:

“Ek … was een van die wat destyds Ferdie Mulder se verklaring onderteken het (en ONGELUKKIG daarvan onttrek het uit onkunde, nadat ons met regstappe gedreig is).”

Ferdie het egter voortgegaan asof hy die studente se ondersteuning gehad het. Daarvoor is hy lewenslank geskors. Vandag fokus kerkleiers bloot op Ferdie se oneerlikheid, maar hierdie dosente was nooit voor stok gekry nie. Inteendeel, al hulle kollegas het hulle beskerm.

Vir meer hieroor, lees gerus sy boek wat gratis beskikbaar is: Opgestaan. Studente se stryd om geloof by Tukkies in die jare 2001 tot 2006

9. 2006 Weer Ben du Toit

In Oktober 2006 vra Ben du Toit in ’n artikel in Kerkbode: Aanbid ons almal maar dieselfde God? Dit begin al hoe duideliker raak dat liberales in die kerk meer en meer selfvertroue begin kry om hulle liberale sieninge te uiter.

Ook in 2006, moedig Ben du Toit en Kobus Gerber, die NG Kerk se parlementêre verteenwoordigers, die Suid-Afrikaanse parlement aan om homoseksuele huwelike te wettig (kyk  NGK vra SA parlement dat homoseksuele huwelike gewettig word). Dit is dieselfde Kobus Gerber wat die moderator van Noord-Transvaal was in 2003.

10. 2007 Evangeliese inisiatief

In 2007 is die toestand in die teologiese fakulteit by Pretoria van so aard dat 10 emeriti ’n geloofstandpunt onderteken waarin hulle hulself distansieer van die teologiese strominge wat by Tukkies plaasvind.

Ook in ongeveer 2007 word die Evangeliese Inisiatief onder leiding van Hoffie Hofmeyr op die been gebring in teenreaksie op die teologiese strominge in die NG Kerk. Hulle rig egter niks wesenlik uit nie en dit sterf ’n stille dood, veral nadat dit bekend word dat die moderator, prof Piet Strauss, meer bekommerd is oor kerkskeuring as oor die teologiese strominge in die NG Kerk.

11. 2007 algemene sinode

Voor die algemene sinode van 2007 pleit teoloë in ’n ope brief vir gays dat die sinode ruimte moet maak vir SGVs. Alhoewel die sinode nie ruimte maak vir SGVs nie beweeg die NG Kerk nog nader aan die afgrond. Soos die 2004-besluit word die sondige aard van homoseksualiteit nêrens erken nie.

12. Kerkbode, Jean Oosthuizen en Kletskerk

Op ’n stadium begin Jean Oosthuizen, ’n vryskut joernalis by Kerkbode. Van vroeg af is hy baie uitgespoke teen behoudende Christene.

Vir ’n geruimte tyd word sy webwerf, Kletskerk, waarin hy Godslasterlike kommentare toelaat, op Kerkbode se webblad geadverteer totdat behoudende lidmate daarteen kapsie maak.

In ’n onderhoud met Hanlie Retief op 9 Maart 2013 kom die volgende baie duidelik na vore oor Jean:

  • Sy definisie van God is wollerig
  • Hy twyfel oor die bestaan van hemel en hel (veral die hel)
  • Hy kan nie die gedagte uitsluit dat mense van ander gelowe ook hemel toe kan gaan nie

Hoe gebeur dit dat iemand met sulke geloofsoortuigings by die Kerkbode, die amptelike kommunikasiemedium van die NG Kerk, betrokke raak?

13. 2009 Adrio König probeer wal gooi

In Februarie 2009 wend prof Adrio König ’n moedige poging aan om die liberale stroming in die NG Kerk te keer met die publisering van sy boek Die evangelie is op die spel. Die hooftema van die boek is dat indien Jesus se opstanding ontken word, is die evangelie op die spel.

Hy kry egter baie kritiek op die boek en ’n debat volg in die media van April tot Oktober 2009. Die dekaan van die fakulteit teologie aan die Universiteit van Pretoria, prof Cas Vos, en sy kollega, prof Dirk Human sê dat hulle wil braak oor die boek.

14. 2009 NG teoloë vra ateïs om verskoning

In 2009 dreig George Claassen, ’n ateïs en voorsitter van Skepties Suid-Afrika, skole wat godsdiens beoefen met regsoptrede. Volgens hom is daar egter baie Christen ouers wat hom skerp aanval daaroor. Na aanleiding daarvan vra James Kirkpatrick en Chris Jones vir Claassen amptelik om verskoning. Die feit dat Kirkpatrick en Jones geen kritiek lewer oor die feit dat Claassen skole dreig met regsoptrede nie skep die indruk dat hulle Claassen se optrede goedkeur.

15. 2010 UP teologiese fakulteit: ateïste welkom, skeppingsleerders nie

Op 2 Februarie 2010 tree die einste George Claassen, op as gasspreker by die openingsdag van die Universiteit van Pretoria se Teologiese Fakulteit. Dit word gedoen onder die vaandel van die seisoen van luister. Later, in dieselfde maand, word ’n versoek gerig dat Mark Harwood, ’n skeppingsleerder, ook die teologiese fakulteit toespreek, maar Julian Müller wys dit van die hand. (Kyk UP Teologiese Fakulteit – Claassen in, Harwood uit.)

16. 2010 Die Trojaanse Perd in die NG Kerk

In November 2010 word die boek Die Trojaanse Perd in die NG Kerk gepubliseer (gratis beskikbaar as eboek). Die volgende sewe mense het die boek geskryf:

  1. Dr. Henrietta Klaasing (Hoofskrywer)
  2. Dr. Hennie Mouton (Hoofskrywer)
  3. Ds. Gideon Aggenbag (Medeskrywer)
  4. Daniel Louw (Medeskrywer)
  5. Ds. Jan Louw (Medeskrywer)
  6. Ds. Hanan Viljoen (Medeskrywer)
  7. Dr. Koos Visser (Medeskrywer)

Kort na die boek gepubliseer is skryf Mike Smuts ’n baie negatiewe resensie daaroor. Daarna hou alle kritici van die boek hierdie resensie voor as weerlegging van die boek. Dit is egter ’n totaal misplaasde resensie waarin hy die skrywers van meganiese inspirasie beskuldig.

Die boek maak wel sommige lidmate se oë oop, maar op die oog af lyk dit nie of dit ’n reuse impak maak nie. Selfs sommige mense wat later deel word van die Kairos Netwerk (2020) vind die boek vervelig op daardie stadium.

Amper vyf jaar later, op 10 Junie 2015, erken Jean Oosthuizen op Facebook dat “die NG Kerk hulle poepkoud geskrik het” toe die boek uitgegee is.

Die skrik het egter nie lank gehou nie, want tydens die volgende algemene sinode in 2011, ’n jaar ná die boek gepubliseer is, word ruimte gemaak vir die bestaan van die duiwel en saamwoon.

17. 2011 Opgestaan, deur Ferdie Mulder

In Julie 2011 publiseer Ferdie Mulder, van wie reeds vertel is, sy boek, Opgestaan (gratis beskikbaar as eboek), waarin hy skokkende feite oor heelwat teoloë onthul. Selfs nie hierdie dokument stuit die liberale stroom nie…

18. 2011 algemene sinode

Voor die aanvang van die sinode skryf die media dat hierdie sinode gaan praat oor “saamwoon, grootdoop, kerkeenheid en duiweluitdrywery” (kyk Ware soeke na God se wil). Dit is daarom dat Louis le Roux ’n plakkaatveldtog inisieer tydens die sinode.

Tydens die sinode verander die beplande gesprek oor die bediening van bevryding (duiweluitdrywery) na die bestaan van die duiwel en die sinode maak ruimte daarvoor (kyk Die NG Kerk en die duiwel/bose). Verder word saamwoon, dus seks voor die huwelik, goedgekeur. Kyk 2011 NGK saamwoonbesluit.

Op 16 November 2011 skryf Jan Louw ’n brief aan die algemene sinode moderamen (ASM). Kobus Gerber antwoord terug met: “Indien u nie tevrede is nie sal die Aktuarius van die sinodale gebied waarbinne u is u kan adviseer oor verdere prosesse wat u kan volg.”

19. 2011 Jesus is die een!, deur Johan Janse van Rensburg

In Oktober 2011 publiseer prof Johan Janse van Rensburg sy boek Jesus is die een! – Verloor ons nie die evangelie in die Emerging Church nie?.

Teen hierdie tyd skrik boeke waarskynlik nie meer liberale teoloë af nie.

20. 2010-2013 Seisoen van debatte

Net voor die publikasie van Die Trojaanse Perd in die NG Kerk in November 2010, breek die “seisoen van debatte” (soos ek dit noem) aan as deel van die seisoen van luister.

In 2010 word die Diversiteitsforum geskep as ’n inisiatief van Ben du Toit, die NG Kerk se kommunikasiehoof. Charles Malan, die webbestuurder, verwyder heelwat van die behoudendes se plasings. Gelukkig word meeste daarvan gekopieer voor dit verwyder word.

Toe die gesprek op die diversiteitsforum tot stilstand kom, gaan die debat voort op die NG Kerk en Kerkbode se Facebookblad.

Ben du Toit het waarskynlik nie rekening gehou daarmee dat die behoudendes, so ’n steen des aanstoots sou wees in hierdie gesprekke nie. Hoe suksesvol hierdie gesprekke was in Ben du Toit (en ander NG Kerkleiers) se oë sal ’n mens egter nie weet nie. Die behoudendes wat veral betrokke was by die debatte was Jan Louw, Daniel Louw, Henrietta Klaasing, Gideon Aggenbag, Hennie Mouton en Wynand Louw.

Die seisoen van debatte bevestig net weereens dat daar ’n baie definitiewe vasgelooptheid bestaan tussen die behoudendes aan die een kant en die liberales aan die ander kant. Die debatte maak die gaping bloot groter tussen die twee partye.

21. 2012 Wynand Louw vs Nelus Niemandt

Na die 2011-sinode blyk dit uit ’n onderhoud met Evert Buurman op 26 Okt 2011 dat Nelus Niemandt, moderator van die algemene sinode, saamstem met die 2011 duiwelbesluit.

In ’n eposgesprek (tussen 3 Nov en 7 Des 2011) probeer Wynand dit met Nelus uitklaar. Nelus doen egter presies dieselfde as wat Julian Müller in 2005 gedoen het en verklaar bloot dat hy by sy legitimasie-eed staan. (Volgens Cobus van Wyngaard is dit ’n geldige benadering.)

Omdat hierdie benadering nie werk nie, skryf Wynand op 12 Februarie 2012 ’n ope brief aan Nelus op Facebook.

Op 11 Maart 2012 reageer Nelus in ’n lang brief en beskuldig Wynand van leuens sonder om sy vrae te beantwoord (kyk Moderator ontmasker “aanstootlike leuens” (Facebook)).

Op 16 Maart 2012 reageer Wynand op Nelus. Kyk Antwoord op Prof Nelus Niemandt se artikel in Kerkbode 16 Maart 2012.

*********

Later in die jaar, in Wie val wie aan, vertel Niemandt hoe belangrik die opstanding is vir die Christelike geloof. Toe hy egter gevra word of hy hom dan by Ferdie Mulder skaar of by Julian Müller en Jurie le Roux, toe wil hy nie kant kies nie. In ’n persoonlike e-pos sê Ferdie egter dat Nelus deur dik en dun by Müller en Le Roux gestaan het in 2005.

22. 2012 Sinode Hoëveld luister na besware

Tydens die Sinode Hoëveld in April 2012 konfronteer Jan Louw vir Nelus Niemandt en beskuldig hom daarvan dat hy bydra tot ongelukkigheid onder lidmate oor dinge wat in die media gesê word. Kyk Dwaalleer: Aanval op moderator ‘pynlikste’.

Tydens die sinode word besluit om ’n geleentheid te skep om na bekommerdes te luister. In Oktober 2012 word so ’n luistergeleentheid gehou. 14 mense doen voorleggings en nog vier mense dien voorleggings in wat nie die geleentheid kon bywoon nie. Die volgende persone woon die luistergeleentheid by as verteenwoordigers van die Hoëveld Sinode: Neels du Randt (voorsitter), André Bartlett en Theo Danzfuss. Dit lyk egter nie of dit enige impak gehad het nie.

23. 2013 Dwaalleer tugondersoek teen Ben du Toit

In 2011 kla Wynand Louw vir Ben du Toit aan oor die feit dat hy nie in die duiwel glo nie en daarom sy legtimasie-eed verbreek. Ben du Toit word egter onskuldig verklaar omdat die sinode amptelik ruimte gemaak het vir mense wat nie aan die duiwel glo nie. Kyk Die uitkoms van die dwaalleer tug ondersoek teen Dr Ben du Toit.

24. 2013 algemene sinode

Nie minder nie as 10 beswaarskrifte word ingehandig teen die duiwelbesluit van 2011.

Die uiteinde: die bewoording van punt 7 word slegs ’n klein bietjie verander (kyk 2013 NGK besluit oor die duiwel):

  • 2011-besluit: Daar is ruimte vir lidmate wat aan die werklike en persoonlike aard van die duiwel en demone glo, en daar is ruimte vir lidmate wat die Bybelse spreke oor die bose en duiwels anders interpreteer.
  • 2013-besluit: Daar is lidmate wat die persoonlike aard van die duiwel en demone aanvaar, en daar is lidmate wat die nie-persoonlike aard van die duiwel en demone aanvaar. Albei standpunte erken die realiteit van die bose.

Die homoseksuele besluit van 2007 word herbevestig en daar word besluit om opnuut ’n studie oor SGVs te doen nadat erken is dat die 2007-besluit ’n kompromisbesluit was.

Kyk Terugblik op die Algemene Sinode 2013 en Piet Strauss oor AS 2013.

Tydens hierdie sinode word ook besluit om Louis Jonker se gesprekspamflette Oor geloof en die wetenskap te ondersteun as deel van die onderwerp “Verhouding wetenskap en teologie (geloof)”. Daarin word onder andere gesê dat Genesis 1 eers in ballingskap geskryf is, ’n streep word deur die sondeval getrek, van intelligente ontwerp word gesê dat dit “te lig bevind is” en dat ons nie anders kan as om die oerknal en evolusie as betroubare wetenskap te aanvaar nie.

Hierdie sinode gee Neels Jackson moed dat die NG Kerk begin draai – kyk Die NG skip is aan die draai (14 Okt 2013).

25. 2015 algemene sinode

Voor die aanvang van die 2015 Algemene Sinode word taakspanne aangestel om die kwessie van homoseksualiteit te ondersoek (soos besluit is tydens die 2013 AS). Die objektiwiteit van hierdie taakspanne word egter betwyfel. Kyk Ope byeenkoms van die NGK se Taakspan oor Homoseksualiteit in Maart 2015 te Stellenbosch.

Nelus Niemandt, die moderator van die NG Kerk op daardie stadium, pleit openlik daarvoor dat homoseksuele mense nie selibaat hoef te bly nie. Kyk Nelus Niemandt se pleidooi: ‘Gooi NG Kerk óóp vir gays’.

Ook steun die teologiese fakulteit van Stellenbosch hierdie siening. Kyk Laat NG kerkrade oor gays besluit.

In Oktober, tydens die algemene sinode, besluit die sinode om ruimte te laat vir SGVs.

Hierdie besluit word sterk deur die drie teologiese fakulteite gesteun. Kyk NG teologiese skole progay en Dit is ’n goeie besluit, sê NG dosente.

Daar is egter sprake dat daar emosionele manipulasie was tydens die sinode.

Toe die notule van die algemene sinode egter uitgereik word, word daar gesê dat ’n moratorium op die besluit geplaas is. Kyk NG Kerk: Gays sal moet wag.

Tydens hierdie sinode word weer ’n dokument goedgekeur oor geloof en die wetenskap (kyk Geloof en die wetenskap 2015). Dit is tot ’n mate selfs erger as die dokument wat in 2013 goedgekeur is. Dit sê onder andere die volgende:

  • Die Ou Testament het binne verskillende tradisies as mondelinge oorvertellings begin en is vir die eerste keer in ballingskap opgeskryf.
  • Slegs mense wie se denke nog nie deur Westerse wetenskapsdenke gevorm is nie glo steeds aan die bestaan van bose en onrein geeste/figure/wesens. Dit het ’n invloed gehad daarop dat mense tot vandag toe dinge in die Bybel letterlik interpreteer wat nie letterlik bedoel was nie.
  • Genesis 1 tot 3 is deur Egiptiese en Ugaritiese perspektiewe beïnvloed. Dit is oneerlik en oneerbiedig om vandag Genesis 1 tot 3 letterlik te lees. Daarmee word ’n streep deur die sondeval getrek.
  • Jesus het nie werklike bose geeste in varke ingejaag in Markus 5:1-21 nie. Die skrywer het dit aan Jesus toegedig bloot om mense se geloof in Jesus te versterk.
  • Die hele NGB word afgemaak as ’n voorwetenskaplike dokument. Artikel 4 en Artikel 36 is verdere bewys daarvan. Artikel 12 word ook hier genoem, waarskynlik omdat dit teenstrydig is met die oerknal.

26. 2016 hofsaak teen NG Kerk

Voorstaanders van SGVs is baie ontsteld oor die bevriesing van die 2015-besluit en 11 lidmate besluit om die NG Kerk hof toe te sleep (later sluit nog ’n persoon aan wat dit 12 maak). Die uitspraak kom eers in Maart 2019. Bietjie meer daaroor later.

27. 2016 buitengewone algemene sinode

Weens die kontroversiële omstandighede rondom die 2015-besluit, besluit die algemene sinodale moderamen (ASM) om die beplande 2017 algemene sinode te vervroeg na 2016. Tydens hierdie buitengewone sinode word die besluit van 2015 omgedraai (kyk 2016 NGK Homoseksuele besluit).

Kort na die sinode, op 21 November 2016, bespreek die moderator, Nelis Janse van Rensburg, die besluit in ’n Youtube video. Daarin sê hy dat die sinode nie besluite op gemeentes gaan afdwing nie. Dit laat die vraag ontstaan: Nelis, wat is die doel van die Algemene Sinode?.

Intussen gaan die hofsaak teen die NG Kerk voort.

28. 2017 Jan Louw by Vrystaatsinode

Voor die aanvang van die Vrystaatse sinode op 11-15 Junie 2017 dien Jan Louw ’n paar beskrywingspunte in vir bespreking. Hy kry geleentheid om dit aan te bied, maar die punte word nie tot stemming gebring nie. ’n Taakgroep word aangestel om navorsing te doen oor homoseksualiteit.

Op 20 Februarie 2018 kry Jan Louw ook die geleentheid om die kuratorium toe te spreek. Tydens sy toespraak gebruik hy twee teoloë as voorbeelde om sy saak te stel. Die kuratorium bied aan om ’n gesprek te reël tussen Jan Louw en die betrokke teoloë. Hy wys dit egter van die hand. Let daarop dat die toesighoudende liggaam, die kuratorium, nie die erns van die saak ingesien het nie en waarskynlik gehoop het om Jan Louw stil te maak deur die probleem syne te maak.

Niks verder word opgelewer nie.

29. 2018 André Bartlett: moderator van Hoëveld Sinode

In Oktober 2018 word André Bartlett die moderator van die Hoëveld Sinode. Hoekom is dit veelseggend?

André Bartlett is een van die prominentste kampvegters vir homoseksueleregte in die NG Kerk. In die tyd wat hy moderator word, is die homoseksuele kwessie baie aktueel in die NG Kerk:

  • In September 2015 maak die NG Kerk ruimte vir SGVs wat ’n opskudding veroorsaak onder lidmate.
  • Die besluit word bevries, maar alle behoudendes in die kerk hou asem op oor wat volgende sou gebeur.
  • In 2016 besluit 11 lidmate om die kerk hof toe te vat omdat hulle nie die bevriesing van die besluit aanvaar nie. (Die hof lewer eers in Maart 2019 uitspraak en die voorstaanders van homoseksuele verhoudings wen.)
  • In September 2016 vra André Bartlett in ’n privaat hoedanigheid amptelik om verskoning aan die homoseksuele gemeenskap oor dit wat in die NG Kerk gebeur en hy bedank uit die ASM uit protes.
  • In 2016 word die besluit weer omgedraai maar almal weet dat daar weer oor die saak besluit sou word in die volgende sinode in 2019.

‘n Mens sou dus dink dat sinodegangers geweet het vir wie hulle gestem het. Wat moet ’n mens hieruit aflei? Is behoudendes in Hoëveld sinode in die minderheid? Of was daar vuil spel? Of was behoudendes salig onbewus van wie André Bartlett is?

Terwyl ons praat oor Bartlett:

Hoe gebeur dit dat iemand soos André Bartlett soveel prominente posisies vervul (soos Ben du Toit)?

30. 2019 NG Kerk verloor hofsaak

Op 8 Maart 2019 lewer die hof uitspraak en die NG Kerk verloor.

Die vraag is: Het die NG Kerk werklik die gayhofsaak behoorlik teengestaan?

Sommige bewoording in die uitspraak gee die idee dat die NG Kerk nie hulle huiswerk behoorlik gedoen het nie.

Die NG Kerk se respondente was Nelis Janse van Rensburg, Dewyk Ungerer, Gustav Claassen en Thijs van der Merwe. Almal mense wat waarskynlik gehoop het dat die NG Kerk die hofsaak sou verloor.

Vir meer hieroor, kyk Oorsig van NGK 2019 hofsaak oor homoseksualiteit.

31. 2019 Morelexit

Reeds voor die 2019 algemene sinode reik Moreletapark gemeente ’n verklaring in April 2019 uit waar redes gegee word waarom Moreletapark moontlik uit die NG Kerkverband wil tree. In ’n persverklaring op 7 Mei 2019 word die NG Kerk se teologiese opleiding genoem as ’n bekommernis.

Prof Fanie Snyman, uittredende dekaan van die fakulteit teologie aan die Universiteit van die Vrystaat, reageer daarop en sê dat hy moeg is vir verdagmakery. Dit ontketen ’n debat in die media waar ’n verdere vyf briewe/artikels oor die onderwerp geskryf word.

32. 2019 algemene sinode

Die 2019 sinodesitting word regstreeks op Youtube uitgesaai. SGVs is weer op die agenda. Op die oog af lyk dit of die proses bo verdenking is (anders as wat moontlik die geval was tydens die 2015-sinode). Die sinode besluit weer om ruimte te maak vir SGVs en bevestig daarmee Moreletapark se bekommernisse oor die rigting waarin die NG Kerk beweeg.

Vir die volledige besluit en ’n kort bespreking oor die besluit en die proses, kyk 2019 NGK homoseksuele besluit.

Op 5 Januarie 2020 skryf Jan Louw (weer) ’n brief aan die ASM dagbestuur en op 8 Januarie 2020 stuur hy die brief aan die volledige ASM. Twee of drie lede erken ontvangs, maar nie één van die lede van die ASM (waarvan geweet word) spreek hulle uit teen die besluit nie.

********

Kyk ook Die NG Kerk en homoseksualiteit wat ’n meer gedetaileerde opsomming gee van die gebeure in die NG Kerk rondom homoseksualiteit.

33. 2020 (Moreleta) Kairos Netwerk

Die 2019 homoseksuele besluit was die laaste strooi wat behoudendes noop om iets daadwerkliks te doen.

Kort ná die 2019 sinode begin behoudende gemeentes doleer.

Op 25-26 Februarie 2020 vind die Moreletapark beraad, onder leiding van Moreletaparkgemeente plaas waar ongeveer 500 mense by die Moreletaparkgemeente bymekaar kom.

Die Moreleta Kairos Netwerk ontstaan mettertyd hieruit. Pieter Breytenbach van NG gemeente Moreletapark dien as voorsitter. In Februarie 2021 verander die naam na “Kairos Netwerk”.

Vir meer inligting, kyk Kairos Netwerk.

34. 2021: God is ‘n vrou

Tydens ‘n legitimasiediens verwys die prediker, Ds Melanie Thirion, na God in die vroulike geslag. Die voorsitter van die algemene kuratorium, Frederick Marais, verdedig haar en niks verder gebeur nie.

35. 2021: Tukkies stel kurrikulum transformasie bekend

In Augustus 2021 stel prof Jerry Pillay, dekaan van Tukkies se teologiese fakulteit, “kurrikulum transformasie” in ‘n video bekend. Daar word geen geheim daarvan gemaak dat daar wegbeweeg word van alles wat westers is nie: Afrikaans, kolonialisme, nasionalisme, eurosentrisme, westerse teologie en teoloë/geleerdes (“scholars”). Hy sê ander andere:

“We are consciously giving more attention to black theology, African Christian theology, liberation theology, feminist theology, womanist theology, urban theology, etc.”

Kyk ook UP stel hulle kurrikulum transformasie bekend (18 Aug 2021)

36. Dubois du Toit in gesprek met Frederick Marais

Op 7 September is ds Dubois du Toit van NG gemeente Suiderhof Namibië in gesprek met dr Frederick Marais, hoof van die algemene kuratorium van die NG Kerk. Daarin verdedig Marais die NG Kerk se drie teologiese fakulteite en toon bitter min begrip vir die teologiese dwaling in die NG Kerk.

Kyk Kommentaar: Dubois du Toit in gesprek met Frederick Marais (7 Sep 2021)

37. Queering the prophet konferensie

Op 16-18 Maart 2022 bied dosente van die teologiese fakulteit van Stellenbosch ‘n konferensie aan met die titel “Queering the Prophet”. In hierdie konferensie word die profete van die Bybel deur ’n queer lens beskou. Kyk Opsomming: Queering the prophet conference, Stellenbosch 2022.

38. 2022: CRCA breek bande met die NG Kerk

In Mei 2022 besluit die sinode van die CRCA (Christian Reformed Churches of Australia) om alle bande met die NG Kerk en die Hervormde kerk te verbreek weens hierdie kerke se standpunte oor homoseksualiteit.

39. 2023: Peter Nagel betwyfel Jesus se Godheid

Peter Nagel, ‘n teologiese dosent by Universiteit Stellenbosch, word skuldig bevind aan dwaallering en word geskors nadat hy ‘n artikel skryf waarin hy Jesus se godheid bevraagteken. In 2024 word sy predikantsbevoegdheid herstel nadat hy verklaar dat hy steeds sy legitimasieverklaring onderskryf.

40. 2023: Nog twee boeke

In 2023 sien nog twee boeke van behoudendes die lig:

Soos met vorige boeke is die doel daarvan om lidmate in die NG Kerk in te lig om standpunt in te neem vir die waarheid.

41. 2023: Algemene Sinode:

In die agenda van die algemene sinode beveel ATLAS gesamentlike aanbidding aan.

Ruimte word steeds gemaak vir SGV.

Kyk ook Algemene sinode 2023.

Kyk ook

42. Algemeen

42.1. Teologiese opleiding

Oor die NG Kerk se drie teologiese fakulteite kan rillerstories vertel word, waarvan Ferdie Mulder se Opgestaan seker die bekendste is. Baie van hierdie stories sien egter nooit die lig nie oor die volgende redes:

  1. Teologiese studente vrees dat legitimasie geweier sal word.
  2. Jong predikante vrees dat hulle gebrandmerk sal word deur ouer kollegas of hulle verval in passiwiteit wanneer hulle eers gelegitimeer is en as predikante beroep is.

Die volgende lys word aan lesers voorgehou wat voorbeelde gee van die skokkende dinge wat in die teologiese fakulteite plaasvind:

42.2. Andrew-Murrayprys

Andrew Murray was ’n baie behoudende, gerespekteerde teoloog in Suid-Afrika. Om hom te vereer het die Andrew Murraypryse in 1978 ontstaan onder leiding van Frits Gaum. Dit opsigself is ironies omdat Gaum se teologie ver van behoudend is:

Nietemin, dit is waarskynlik onder andere deur sy toedoen dat Desmond Tutu en Gerrit Brand ook by die Andrew Murraypryse gevoeg is met die Andrew Murray-Desmond Tutuprys en Desmond Tutu-Gerrit Brandprys. Beide van hierdie persone is ook baie progressief:

  • Soos reeds genoem is Desmond Tutu ’n universalis. Verder is hy ook ’n aktivis vir SGVs. Hy gaan so ver om te sê dat hy net so sterk voel oor SGVs as oor apartheid en dat hy eerder hel toe sal gaan as na ’n hemel wat ’n homofobiese God het.
  • Gerrit Brand was ’n voorstaander van homoseksuele verhoudings en sy opinie oor die maagdelike verwekking was dat dit nie bewys kan word nie. Dit wil ook voorkom of hy ook soos andere glo dat God deur mense uitgedink is om swaarkry te verwerk.

42.3. Teoloë

Daar is nog baie wat gesê kan word oor wat verskillende teoloë in die NG Kerk sê en glo. Hier is ’n lys van ’n paar voorbeelde:

Vir ’n meer volledige lys, kyk Lys van teoloë wat liberale uitsprake gemaak het.

Kyk ook Lys van petisies deur progays.

9 thoughts on “Skokkende geskiedenis van die NG Kerk sedert 2000”

  1. Baie dankie, Daniel, vir jou voortgesette ywer teen die verdraaing van die Evangelie. Dit is só belangrik dat daar stemme gehoor moet word sodat behoudende gelowiges kan ervaar dat hulle aangemoedig en ondersteun word.

  2. As behoudende lidmaat van die NG Kerk, het ek met diepe skok kennis geneem van al die verdraainge en dwalings wat reeds oor ’n lang tydperk in ons kerk plaasvind. Ek probeer geensins om myself te verontskuldig nie, maar ek (en ek glo baie ander lidmate) was weinig bewus van die geweldige aanslag wat midde in ons eie geledere teen God en Sy Woord aan die gang was. Baie baie dankie vir hierdie uiteensetting van gebeure. Hoe kan ons dit onder alle lidmate se aandag bring, omdat almal nie toegang tot die internet het nie? Dis kernbelangrik, sodat hieroor gebid kan word.

  3. Skokkend, hierdie berekende aanslag teen Christus en God se woord. Baie dankie vir u harde werk. Sekere kernwaarhede is ononderhandelbaar vir die Christelike geloof.
    Bevraagteken dit en jy is duidelik nie ’n Christen nie. Dus, die antichris het die NGK leierskorps sonder veel teenstand binnegedring. Om nie duidelik standpunt in te neem vir die waarheid nie is om die leuen te ondersteun. Om langer hierdie dwaalleeraars te duld is om Christus te verraai en behoort nie langer toegelaat te word nie. Gewone lidmate is onbewus hiervan. Ek meen hierdie werk van u behoort in soveel moontlik koerante gepubliseer te word sodat almal kan weet. Mag ons mekaar aanspoor om die Heiligheid, Krag en Waarheid van Christus en God se Woord te bely.

    1. Ek nooi alle getraumatiseerde N.G kerk lidmate uit na iets beter,skoon,rein,heilig.

      Nader Jehova God in die naam van sy seun Jesus,Christus,en smeek vir geestelike verligting

    2. Ek daag Hennie Pienaar uit om enigeen van sy gay,lesbian,BI-SEXUAL,queer PALLE in enigeen van Jehova God se gemeentes in die wêreld te probeer trou
      Hennie sal gou agterkom dat hy met die ware God se mense te doen het.

      Ons wen al ons sake tot by die EUHRCOURT

      EK NOOI ALLE GETRAUMATISEERDE N.G KERK LEDE UIT NA IETS BETER REIN SKOON HEILIG

      NADER JEHOVA GOD IN DIE NAAM VAN SY SEUN JESUS CHRISTUS EN SMEEK VIR GEESTELIKE VERLIGTING

  4. Daar is baie ruimte vir die wat reeds jare terug uit NG kerk bedank het omdat ons besuit het om GOD in Gees en Waarheid te dien en die Bybel as God se outoriteit volkome voor te hou. Die Woord waarsku ons om te bid sonder ophou omdat in die laaste dae hierdie groot afval in wegdraai van God se waarheid aan ons bekend gemaak is.. Elke kerk leier moet Openbaring se sewe gemeentes bestudeer en die waarskuwings ter harte neem.en waak sodat ons sal volhard en die oorwinning behaal.
    Kies die lewe..Jesus is die enigste weg, waarheid en die lewe. Seèn en voorspoed vir elkeen wat nie skroom om die waarheid te lewe nie.
    THE JESUS WAY IS THE ONLY WAY!!

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui