Sinode vir eers stil oor maagdelike geboorte

Hieronder word berig dat die sinode van Noord-Transvaal (Noordelike sinode) in September 2003 nie standpunt wou inneem oor Jesus se maagdelike verwekking of oor Jesus se liggaamlike opstanding nie. Daarmee het die hele sinode van Noord-Transvaal hulle legitimasie-eed verbreek. Die legitimasie-eed sê onder andere:

…verklaar hiermee … voor die Here dat ek van harte glo dat … die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die Dordtse Leerreëls, … ooreenkom met die Woord van God. Ek belowe … ywerig en volhardend te leer … getrou te handhaaf, … verwerp ek alle dwalings wat teen hierdie leer stry en beloof ek om dit te weerlê, teë te spreek en alles in my vermoë te doen om dit uit die kerk te weer.

Net die Apostoliese geloofsbelydenis (12 artikels) alleen is reeds baie duidelik oor Jesus se maagdelike verwekking en die liggaamlike opstanding. Dus, enige predikant wat nie Jesus se maagdelike verwekking of Sy liggaamlike opstanding verdedig nie en wat nie argumente daarteen weerlê nie, verbreek hierdie eed.

Dit is skreiend om te besef dat die Noordelike sinode twee nuwe hervormers, proff. Pieter Botha en Pieter Craffert gekry het om die sinode oor hierdie saak toe te spreek. Die vraag is: wie se toedoen was dit? Die volgende werp lig hierop:

  • Kobus Gerber was op daardie stadium die moderator van die Noordelike sinode. Dit is dieselfde Kobus Gerber wat saam met Ben du Toit in 2006 as die NG Kerk se parlementêre verteenwoordigers die parlement aangemoedig het om homoseksuele huwelike in Suid-Afrika te wettig (kyk NGK vra SA parlement dat homoseksuele huwelike gewettig word (Okt 2006)).
  • Ferdie Mulder skryf in sy boek Opgestaan (Julie 2011, bladsy 5) die volgende: Twee (spesiaal genooide) Nuwe Hervormers, professore Pieter Craffert en Pieter Botha van Unisa, het byvoorbeeld in 2003 op uitnodiging by die Noordelike sinode van die NG Kerk opgetree en dit reggekry dat dié sinode onder meer nie ’n kategoriese geloofsbelydenis oor die geskiedkundigheid van Jesus se liggaamlike opstanding wou maak nie (Beeld, 5 September 2003). Dr. Kobus Gerber, wat toe die moderator van die betrokke sinode was en tot en met 2007 voorsitter van die kuratorium aan die Universiteit van Pretoria (Tukkies), is sedertdien aangestel as die Algemene Sekretaris van die NG Kerk. Ten spyte van kommer oor dié kontroversiële besluit van die sinode was daar ook stemme van ondersteuning wat opgegaan het. Professor Wilhelm Jordaan, buitengewone professor in Sielkunde aan Tukkies en NG lidmaat by Waterkloof-gemeente, wat ook op uitnodiging ’n hoofstuk in die Nuwe Hervorming se boek geskryf het, het die sinode vir hierdie besluit geprys (Die Burger, 9 September 2003). So ook het dr. James Kirkpatrick, senior lid van die kuratorium by Tukkies, ten minste volgens mediaberigte, ’n sleutelrol in die sinode se besluit gespeel (Beeld, 5 September 2003).
  • In in video Namibië op weg met die algemene sinode?, Youtube, 11:44, Ferdie Mulder, 16 Jan 2021, word die volgende gesê: Toe die Algemene Sinodale Kommissie (ASK) hulle gedistansieer het van die radikale uitsprake van die Nuwe Hervormers, het Fanie Cronjé en James Kirkpatrick van die Noordelike Sinode hulle misnoë uitgespreek oor die ASK se verwerping van die Nuwe Hervorming se radikale insigte. (Beeld, 1 April 2003). Later die jaar wou die sinode van Noord-Transvaal (Noordelike sinode), waaraan hulle twee verbonde was, nie standpunt inneem oor Jesus se maagdelike geboorte of oor Jesus se liggaamlike opstanding nie (Sinode vir eers stil oor maagdelike geboorte, 5 Sep 2003).

Oordeel dus gerus self…

***********

Sinode vir eers stil oor maagdelike geboorte | Beeld

Hierdie artikel het in Beeld, verskyn op 5 September 2003.

Maar NG Kerk skep ruimte vir dié wat ‘gelowig worstel’

Neels Jackson

Modimolle (Nylstroom) – Ná lang debatte oor die nuwe hervorming het die NG Kerk in Noord-Transvaal gister opnuut sy geloof bevestig dat Jesus sy verlosser en lewende en opgestane Heer is.

Die sinode wou egter nie ’n kategoriese uitspraak lewer oor die geskiedkundigheid van die maagdelike geboorte of Jesus se liggaamlike opstanding nie.

Die kwessies het in die brandpunt gekom nadat twee nuwe hervormers, proff. Pieter Botha en Pieter Craffert, die sinode Dinsdag toegespreek het. Hulle het vertel waarom hulle op grond van die Bybelwetenskap nie die tradisionele sienings van die maagdelike geboorte en die opstanding onderskryf nie.

Party afgevaardigdes het sterk gevoel dat die sinode moet sê mense wat nie glo dat Jesus letterlik uit ’n maagd gebore is en letterlik uit die dood opgestaan het nie, is nie gelowiges nie.

Ouderling Braam Nortjé van Mutare wou weet hoe die kerk kan sê Jesus is die verlosser as Hy nie ’n maagdelike geboorte gehad het nie.

Hierteenoor het dr. James Kirkpatrick van die gemeente Suidoos Pretoria gevra of hy dan vir ’n klomp mense wat ernstig worstel, moet gaan sê hulle is ongelowiges omdat hulle die ortodokse geloofstaal van die kerk nie presies kan nasê nie.

Omdat dit ’n moeilike en omstrede kwessie is, is besluit dat die sinode nie nou ’n uitspraak daaroor sal lewer nie.

Diegene wat sterk voel daaroor moet ’n goed gemotiveerde beskrywingspunt opstel en die volgende sinode sal dit dan oor twee jaar bespreek.

Intussen het die sinode erken daar is waarde in die bevindings van die Bybelwetenskap oor die Nuwe Testament se gegewens oor Jesus. Dit kan mense se geloof verryk. Voorts skep die kerk ruimte in sy gesprek vir mense “wat gelowig twyfel en worstel met sekere geloofsaspekte en die historiese perspektiewe rondom die persoon van Jesus.”

1 thought on “Sinode vir eers stil oor maagdelike geboorte”

  1. ek wil graag verneem wat die NG kerk se standpunt nou in 2024 is oor die uitsprake hierbo. Is dit ooit verder geneem en ‘n finale besluit geneem?

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui