Sinode Hoëveld luister na besware maar gaan dit iewers kom?

Kyk ook:

Sinode Hoëveld het twee geleenthede in Oktober 2012 gereël, wat ’n uitvloeisel was van hul sinodesitting. Die eerste was ’n luistergeleentheid op 10 Oktober 2012 in Kemptonpark, wat ’n geslote vergadering was waar spesifieke NG-lidmate, maar ook van ander streeksinodes, voorleggings kon maak, en die tweede was ’n ope geleentheid wat op Hervormingsdag, 31 Oktober, gehou is.

Onderstaande is ’n uittreksel uit die streeksinodedokumentasie.

———-

BESKRYWINGSPUNT 1: Verwarrende uitsprake in die media deur teoloë

(1) Die Sinode daarvan kennis neem dat uitsprake in die Media deur Teoloë van die NG Kerk lidmate verwar en selfs laat twyfel oor geloofswaarhede.

(2) Om hierdie saak daadwerklik as volg aan te spreek:

2.1 Deur gemeentes: Die Sinode gemeentes daaraan herinner dat dit die opdrag van die Ouderling is om te waak oor die suiwerheid van die leer (Kerkorde Artikel 16.1.5) asook die uitoefening van opsig en tug (Kerkorde Artikel 16.1.4). Indien daar predikante of teologiese dosente is wat onder die toesig van ouderlinge ander geloofswaarhede verkondig wat in stryd is met die Woord en Belydenisskrifte, daar teen hulle opgetree moet word.

2.2 Deur die SDK: Die Sinode die SDK versoek om die kwessie van vermeende dwalings in die NG Kerk wat ontevredenheid onder lidmate veroorsaak, ’n saak van prioriteit te maak en ’n paneel van leraars en ouderlinge saam te stel om:

2.2.1 In die lig van ons seisoen van luister, aandag te gee aan die stemme van ’n aantal persone wat die afgelope paar jaar al op verskeie maniere probeer het om gevaarlike leerdwalings binne die kerk onder ons aandag te bring. Waar prakties moontlik, moet die paneel die persone persoonlik te woord staan bv. Sarel van der Merwe en sy DVD, Nuwe strome in die Teologie, Dr Adrio König met sy boek: Die Evangelie is op die spel, Ferdie Mulder met sy boek: Opgestaan, Besorgde lidmate en leraars se boek: Die Trojaanse Perd in die NG Kerk, asook kerkrade wat beskrywingspunte oor leerdwaling by die Sinode ingedien het. Die paneel moet verslag lewer aan die SDK en aan die Sinode.

2.2.2 Die SDK word versoek om voor die einde van die jaar nog, ’n ope byeenkoms te reël waar hierdie probleem indringend bespreek kan word.

2.3 Deur die Algemene Sinode: Die Algemene Sinode versoek word om duidelik aan lidmate van die NG Kerk te verklaar waar die teologiese toekoms van dié Kerk lê, tov:

(i) die gesag van die Woord van God;

(ii) ons belydenisskrifte;

(iii) verskillende teologiese strominge in die kerk.

Besluit 2.1 hierbo: Die SDK verwys hierdie besluit na die kerkrade

Besluit 2.3 hierbo: Die SDK stuur die besluit deur na die skriba van die Algemene Sinode.

Besluit 2.2 hierbo: Hierdie besluit is ’n direkte opdrag aan die SDK

Die SDK het besluit om 2.2 soos volg uit te voer:

* Besluit 2.2.1 gaan oor die saamstel van ’n “luisterpaneel” en

* Besluit 2.2.2 gaan oor die reël van ’n Ope Byeenkoms.

———-

10 Oktober 2012:

By die luistergeleentheid van 10 Oktober was die volgende mense verteenwoordig deur die Hoëveld sinode:

Die volgende mense het aanbiedings gedoen:

  1. Ds Jan Louw: Oorsig
  2. Dr Hennie Mouton: Leierskap se bevordering van liberale teologie
  3. Dr Henrietta Klaasing: Persoonlike en Forum ervarings
  4. Prof Johan Janse van Rensburg: Teologie van die NG Kerk vandag
  5. Sarel van der Merwe: DVD: Nuwe strominge in die teologie
  6. Dr Samuel van Vuuren: Kuratorium en Sinodebesluite
  7. Ds Francois Gouws: Uitsprake van teoloë in Media
  8. Frans Pieterse: Beskrywingspunt – Gesag van die Woord
  9. Ds Louis Scheepers: UP ervarings
  10. Ds Fanie Scheepers: Mentor vir Louis en EI lid
  11. Dr Wynand Louw: Postmodernisme
  12. Dr Koos Visser: Ondersoeke op dosente
  13. Gideon du Plessis: Leierskap apaties
  14. Daniel Louw: www.glodiebybel, teoloë en amptenare

Agter (staande): Louis Scheepers, ???, Koos Visser, Sarel van der Merwe, Daniel Louw, Hennie Mouton, Francois Gouws (snr)?. Voor (sittende): Wynand Louw, Jan Louw, Henriëtta Klaasing.

Agter (staande): Louis Scheepers, ???, Koos Visser, Sarel van der Merwe, Daniel Louw, Hennie Mouton, Francois Gouws (snr)?.
Voor (sittende): Wynand Louw, Jan Louw, Henriëtta Klaasing.

Voorsitter dr Neels du Randt: Vrae

Alle voorleggings moes vooraf skriftelik ingedien word. (Kliek hier om al die voorleggings af te laai in een dokument. Kyk ook Wynand Louw se voorlegging, Dwaalleer in die NG Kerk.) Die volgendes, deur mense wat nie daar kon wees nie, is ook vooraf ingedien:

  • Yf Veldhuizen: ’n Persoonlike perspektief op die hantering van sekere geloofsake in die NG Kerk
  • Pieter Pelser: Artikel vir Hoëveldse Sinodesitting
  • Ds Gideon Aggenbag: Uitgebreide voorlegging oor ’n bepaalde kerkamptenaar
  • Riaan Rossouw: Teologiese opleiding by die Universiteit van Pretoria, en ’n Oorsig oor die NG Kerk

Die SDK van Sinode Hoëveld, wat die luisterspan gevorm het, het die volgende verklaring rakende die voorleggings van 10 Oktober beskikbaar gestel in die ope byeenkoms van 31 Oktober.

———-

3. Wat het ons gehoor? Ons het ons verbind om met ’n oop gemoed te luister en het onder andere die volgende gehoor :

a. dat daar gepleit word vir die suiwer bediening van die Woord van God soos dit in ons gereformeerde belydenisse uiteengesit word;

b. dat daar gereken word dat daar tans verskeie ernstige dwaalleringe binne die kerk geduld word;

c. dat sommige van die besware gaan oor uitsprake van teoloë en ander besware gaan oor besluite van kerkvergaderings;

d. dat daar gevoel word dat meeste besware op dowe ore val;

e. dat volgens gespreksgenote se gevoel die NG Kerk ’n onwilligheid of onvermoë openbaar om daadwerklik op te tree;

f. dat daar verwag word dat die “kerkleiding” die inisiatief moet neem om hierdie probleem reg te stel;

g. dat sommige selfs reken dat die NG Kerk reeds so ver verval het, dat dit nie meer moontlik is om iets daaraan te doen nie;

h. dat gespreksgenote tog ook baie dankbaar is vir die geleentheid, aangesien dit na bewering die eerste keer in baie jare is wat ’n kerkvergadering vanuit die kerkverband gewillig is om na hul kommer te luister.

———-

31 Oktober 2012:

By die ope geleentheid van 31 Oktober 2012, is dit baie duidelik deur die SDK gemaak dat die inhoud van besware nie bespreek gaan word nie, maar slegs die kerkregtelike prosedures wat gevolg moet word om NG-lidmate (insluitende ampsdraers, teoloë ensovoorts) aan te kla en om besware in te dien oor besluite van NG-vergaderings, soos byvoorbeeld die Algemene Sinode.

’n Vergadering kan nie aangekla word nie – slegs besware kan ingedien word. Enigeen, en enige groep, van lidmate, kerkrade, gemeentes, ringe tot streeksinodes kan aanklagtes lê en besware indien. Maar besware kan nie direk na die Algemene Sinode gestuur word nie – dit moet via ’n pad loop wat in die kerkorde soos volg uitgespel word: “Teen ’n besluit van die Algemene Sinode kan ook ’n gravamen/beswaarskrif ingedien word by die skriba van die beswaarde se sinode vir deursending na die Algemene Sinode indien dit deur die betrokke sinode, sinodale kommissie of moderamen aanvaar word.” Dit beteken volgens my dat die betrokke streeksinode, sy sinodale kommissie of sy moderamen die proses kan stop.

Daar is onder andere verduidelik dat die moderator nie namens die NG Kerk kan praat nie, net namens homself en dan kan hy natuurlik, soos enigeen anders, die Algemene Sinode se besluite weergee. Hy kan dit nie verander nie – dit kan slegs deur die volgende Algemene Sinode gedoen word.

Omdat hierdie ope geleentheid nie eintlik, na my en talle ander se menings, aan besluit 2.2.2 hierbo voldoen nie, het die voorsitter, dr Neels du Randt, die geldige vraag gevra waar daar wel so ’n geleentheid om die besware self te bespreek, geskep kan word. Die moderator, prof Nelus Niemandt het ’n voorstel gemaak, maar of dit tot iets daadwerkliks gaan lei, is ’n ope vraag.

My opsommende opmerkings:

Lidmate, kerkrade, ringe en streeksinodes kán pertinent besluit (of hulle mág, weet ek nie) om nie saam te stem met meerdere vergaderings, soos die Algemene Sinode, se besluite nie. Of die Algemene Sinode hulle dan kan afsny, weet ek nie. Hoe meer sulke reaksies teen besluite van die Algemene Sinode gaan volg, hoe minder effektief en van belang sal laasgenoemde vergadering uiteraard raak. Ek vermoed sulke reaksies sal ook as nie-kerkregtelik beskou word, maar die praktyk van stadige besluitneming (die Algemene Sinode sit net elke 2 jaar, en die proses van beswaarindiening kan gestop word soos hierbo verduidelik is), sal in baie gevalle waarskynlik noodsaak dat mindere vergaderings hul teenkanting sal verklaar. Gelowiges kan immers nie toelaat dat foutiewe besluite, soos hulle dit sien, die kerk van Christus benadeel totdat regstellings eendag gedoen is nie. Boonop is regstellings deur die Algemene Sinode, na aanleiding van kerkregtelike besware, glad nie gewaarborg nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui