Wie is Sakkie Spangenberg?

Sakkie (IJJ) Spangenberg is bekend vir sy openlike liberale sieninge.

Sy siening oor die Christendom se verhouding tot ander godsdienste lei tot ’n klag van leerdwaling waarin hy onskuldig beving word.

Hy word een van die sentrale figure in die debat oor die Nuwe Hervorming en hy is medeskrywer van die boek Die Nuwe Hervorming (Desember 2002).

Hy bevraagteken onder andere die leer oor die Drie-eenheid en dit besorg hom ’n tweede klag van leerdwaling. Ná talle gesprekke met die Ring van Lyttelton, bedank hy in 2004 as gelegitimeerde en as lidmaat van die NG Kerk, maar sit sy werk by Unisa voort.

Dus was die NG Kerk nie “in staat” om hom af te dank nie, ten spyte daarvan dat hy essensiële Bybelwaarhede verwerp het. ’n Mens het respek vir sy integriteit, anders as sommige ander teoloë, om eerder uit die NG Kerk te bedank as om ’n leuen te leef en selfs gelowiges tot struikeling te bring binne die kerk (Matteus 18:6-7).

Kyk ook

Die volgende kom uit die elektroniese Christelike Kernensiklopedie (eCKE):

Spangenberg, Izak Jacobus Johannes (Sakkie)

SPANGENBERG, IZAK JACOBUS JOHANNES (SAKKIE) (1951–*) voltooi sy aanvanklike teologiese studie aan die Universiteit van Stellenbosch en word in 1977 as proponent in die NG Kerk gelegitimeer (Kyk by: Legitimasie). Hy word in 1979 lektor in Bybelkunde aan die Randse Afrikaanse Universiteit en in 1987 professor in Ou Testament by Unisa. Hy spits hom toe op die wysheidsliteratuur van die Ou Testament (en skryf ’n kommentaar op Prediker*), op die apokaliptiese literatuur van die tweede tempeltydperk, en op Bybel*uitleg waaroor hy die boek Perspektiewe op die Bybel skryf. Hy ervaar dat veral die Ou Testament dikwels in die kerk “verchristelik” word en vra dikwels die vraag: “Wat staan régtig daar?” Hy beland in verskeie polemieke, onder meer oor die Christendom se verhouding tot ander godsdienste. Dit lei tot ’n klag van leerdwaling teen hom (wat nie gehandhaaf word nie) omdat hy die uniekheid van Christus sou ontken het. Hy word een van die sentrale figure in die debat oor die Nuwe Hervorming*. Hy bevraagteken bv die substansiëring van die leer oor die Drie-eenheid in bepaalde Bybeltekste en die begronding van die leer oor die erfsonde in Gen 1–3. Dié kwessies lei tot ’n tweede klag van leerdwaling en ná talle gesprekke met die Ring van Lyttelton, bedank hy in 2004 as gelegitimeerde en as lidmaat van die NG Kerk, maar sit sy werk by Unisa voort. Hy en ’n groep geesgenote stig die Nuwe Hervorming-netwerk as ’n tuiste vir mense wat kerklike dogmas problematies vind en as ’n forum om sulke kwessies te bespreek.

In sy bekende boek, Jesus van Nasaret (2009), skryf Spangenberg dat die Bybel ’n versameling antieke godsdienstige geskrifte is wat deur gewone mense geskryf is. Volgens Spangenberg is die Jesus van die Christendom en Jesus van Nasaret nie sonder meer gelyk nie, en hy meen dat die evangelie wat die kerk verkondig (sondeval*-verlossing-eindoordeel*) nie die evangelie is wat Jesus verkondig het nie. Sy gevolgtrekking kom daarop neer dat Jesus niemand anders was nie as ’n Joodse profeet en wysheidsleermeester en nié die Seun van God in ’n trinitariese konteks, met ander woorde as Persoon in die Drie-eenheid*, nie.

Volgens die gereformeerde teoloog JH van Wyk het ons by Spangenberg en die Nuwe Hervorming “met ’n paradigmaskuif van ontsaglike grootte in die teologie te doen, weg van die klassieke verstaan van die persoon en werk van Jesus Christus, van Jesus as Heiland en Here, na Jesus as voorbeeldige mens.” JJF du Rand noem dit ’n “alternatiewe geloof”.

Vir verdere lees: IJJ Spangenberg 1998. Perspektiewe op die Bybel. God se Woord in mensetaal. Pretoria: Van Schaik. IJJ Spangenberg 2009. Jesus van Nasaret. Kaapstad: Griffel. Durand JJF 2005. Doodloopstrate van die Geloof:’n Perspektief op die Nuwe Hervorming. Stellenbosch: Rapid Access. JH van Wyk 2015. Teologie van die koninkryk: Studies in Dogmatiek en Etiek (Hoofstuk 9). Potchefstroom/Pretoria: Vanwyk

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui