RSG gesprek oor die duiwel of Satan

Kyk ook:

Op Sondag 23 Junie 2019 het Jean Oosthuizen tydens die program “Uit ’n ander hoek” op RSG met Julian Müller en Evard Huisamen gesels oor die duiwel of Satan.

Wanneer jy die volgende lees, dink daaraan dat Ferdie Mulder lewenslank van die teologiese fakulteit van die universiteit van Pretoria geskors is omdat hy die teologie van onder andere hierdie einste Julian Müller aangevat het.

Uit ’n ander hoek, Sondag, 23 Junie 2019

As daar een onderwerp is wat gelowiges oor die eeue fassineer is dit die duiwel of Satan. Sommige beskou die Duiwel as ’n mitiese figuur wat boosheid uitbeeld. Ander glo Satan is ’n werklike persoon wat in die onsigbare geesteryk bestaan. Jean Oosthuizen gesels met die teoloog prof Julian Müller en dr Evard Huisamen van die Coram Deo Gemeente in Kaapstad oor die bestaan van die duiwel en wil by hulle weet waar kom die duiwel vandaan en of hy bestaan.

Kliek HIER om te luister.

Bietjie meer as ’n jaar gelede op 6 Mei 2018 het Jean oor hierdie presiese onderwerp met Julian Müller en Deon Kitching gesels (kyk RSG gesprek oor die duiwel en die bose).

Ek wil net iets herhaal wat ek alreeds in die verlede gesê het: Dit bly verstommend dat RSG hierdie platvorm aan Jean Oosthuizen gegee het om week na week tydens die program “Uit ’n ander hoek”, liberale idees te verkondig sonder enige debatvoering.

Hier volg ’n paar dinge wat gesê is tydens die program op 6 Mei met my kommentaar in [rooibruin blokhakies]:

**********

Evard Huisamen vertel dat hy vroeër in sy lewe by Satanisme betrokke was en bevry is daarvan. Vandag ontken hy egter die bestaan van die duiwel.

Julian is meer geïnteresseerd oor wáárom dit vir mense belangrik is om in die duiwel te glo as oor die vraag óf die duiwel bestaan.

[Kommentaar: Daar is ’n gesegde wat lui: “Hou jou vriende naby aan jou en jou vyande nog nader”. Om jou vyand se bestaan heeltemal te ignoreer is fataal.]

Hieroor sê Evard dat baie mense redeneer dat as daar nie ’n duiwel is nie, dan beteken die evangelieboodskap niks. Daar is ook mense wat glo dat sekere siektetoestande deur die duiwel veroorsaak word. Julian sê dat sommige mense glo dat dit ’n pakket is: as jy in God wil glo, dan moet jy ook in die duiwel glo. Hy sê: “Dit het te doen met mense se siening van die Bybel. As jy ’n letterlike verstaan van die Bybel het dan moet jy natuurlik in die duiwel glo.

[Kommentaar: Later in die gesprek sê Julian self dat jy nie die duiwel kan verwerp sonder om ’n teïstiese godsbeskouing ook te verwerp nie. Sonder ’n duiwel is daar niks om van verlos te word nie. Daar is geen waarde aan lewensredders as daar nie ’n see, dam of groot swembad bestaan waar mense kan verdrink nie.]

Op Jean se vraag hoe die duiwel in die Ou Testament verskil met die duiwel in die Nuwe Testament, sê Julian die volgende: “Ek weet nie of daar so ’n groot verskil is nie, maar ons moet onthou dat die Bybel ’n antieke boek is wat in ’n tyd geskryf is toe mense ’n antieke wêreldbeeld gehad het, heeltemal anders as wat ons vandag het.” Evard sê dat die woord Satan slegs in drie plekke in die Ou Testament voorkom: Kronieke, Job en Sagaria. Wat homself betref beskryf die Ou Testament glad nie die duiwel as ’n bonatuurlike figuur soos dit in die Nuwe Testament gedoen word nie.

[Kommentaar: Dus glo Evard nie dat die duiwel deur die slang met Eva gepraat het nie en hy glo ook nie dat Satan (Lucifer) ’n gevalle engel uit die hemel is nie (Jesaja 14:2). Wel, ek is nie verbaas nie, want geen liberale teoloog glo mos vandag aan die sondeval nie. Let daarop dat hy wel erken dat die duiwel in die Nuwe Testament beskryf word as ’n bonatuurlike figuur. As jy dus die Bybel as ’n geheel lees, moet jy tog seker tot die gevolgtrekking kom dat die woord “Satan” in die Ou Testament na ’n bonatuurlike figuur verwys. Maar as jy die hele Bybel as ’n antieke boek sien wat deur mense geskryf is wat ’n antieke wêreldbeeld gehad het, dan maak dit seker sin as jy die duiwel heeltemal verwerp in beide die Ou- en Nuwe Testament.]

Op die vraag wat aan lidmate gesê moet word oor die duiwel, antwoord Julian soos volg: Hy glo dat daar nog ’n groot opvoedingstaak is. Hy glo dat ons duidelik aan lidmate moet sê dat ons nie alles in die Bybel hoef te glo nie. Dit sluit dinge in soos ’n donkie en slang wat praat en dat al die diere in Noag se ark was. Dit is nie vir almal maklik om daarvan afstand te doen nie en ons het ook ’n tradisie in die kerk van ’n letterlike verstaan van die Bybel. As ons egter nie daarvan kan wegkom nie sal ons nie kan vorder tot ’n beter verstaan van wie God is en hoeveel plek ons aan die bose moet gee nie.

[Kommentaar: Die Bybel leer ons wie God is en hoe dinge inmekaar steek. Dit sê (1)waar ons vandaan kom, (2)wat ons doel op aarde is en (3)wat ons eindbestemming is. Dit is juis die Bybel wat ons ’n verstaan van God gee, nie ons eie studie en gedagtes nie. Dit is egter duidelik dat Julian en sy geleerde vriende die Bybel verwerp het en vir hulleself ’n god geskep het, soos so goed uitgebeeld word in Welkom by Bou-‘n-God.]

Volgens Julian verwag die geloofsbelydenisse [van die driesusterkerke] nie dat jy aan die duiwel glo nie. Hy noem die 12 artikels as voorbeeld en sê: “Daar is geen verwysing na die duiwel [in die 12 artikels] nie. Daar word nêrens in die belydenisskrifte van ons verwag om in die duiwel te glo nie. Daar word slegs terloops na die duiwel verwys. Die hoofsaak is dat ons aan die drie-enige God glo. Ons glo nie aan die duiwel nie. Dit is ’n bysaak. Dit kom soortvan aan die stertkant by as daar gepraat word van die verskynsel van die bose of die verskynsel van die kwade in die wêreld.”

[Kommentaar: Dit mag wees dat die belydenisskrifte nie pertinent sê dat jou redding afhang van die geloof in die duiwel nie, maar niks van die evangelieboodskap maak sin as daar nie ’n duiwel is nie. Dit is baie duidelik dat die belydenisskrifte die bestaan van die duiwel erken. Kyk byvoorbeeld:

Dus, enige persoon wat die duiwel se bestaan ontken gaan teen die belydenisskrifte in en predikante wat die bestaan van die duiwel ontken, verbreek baie duidelik hulle legitimasie-eed.]

Evard stem 100% saam en sê: “As jy ’n deeglike studie van die demonologie in die Nuwe Testament maak sal jy agterkom dat baie plekke waar daar in die Nuwe Testament na die duiwel verwys word jy eintlik ’n ander verklaring daarvoor het as dat dit ’n bonatuurlike wese is wat mense aanval. Trouens, dit is interessant dat as jy na Paulus se teologie en briewe gaan kyk dan bring Paulus byvoorbeeld nêrens die Satan in verband met die sondeval nie. Dit is die mens wat oortree het, nie die Satan wat agter die mense gesit het en die mens verlei het nie. Ook vind jy nie by Paulus dat hy vreeslik baie van die Satan maak nie. As jy die Bybel op die oog af lees, dink jy Paulus skryf baie daaroor, maar as jy gaan kyk daarna kom jy agter dat Paulus se aandag en fokus nie by die Satan was nie, maar wel by Christus.”

[Kommentaar: Hierdie stellings grens aan die belaglike.
Eerstens, Paulus ontken nie die duiwel nie. Inteendeel, hy waarsku baie ernstig dat ons stryd in die lewe “nie teen vlees en bloed is nie, maar teen die bose geeste in die lug”. Kyk byvoorbeeld 2 Korintiërs 11:14, Efesiërs 4:27, Efesiërs 6:11-17 (wapenrusting), 2 Tessalonisense 2:9.
Tweedens, in 1 Tessalonisense 3:5 praat Paulus van die “verleier” en in Openbaring 12:9 word daar verwys na “die slang van ouds”. Dit is baie duidelik die naam wat Satan gekry het na aanleiding van die sondeval. Daarom kan ’n mens Paulus se verwysing na die “verleier” moontlik as ’n indirekte verwysing na die sondeval sien.
Derdens, hoeveel keer moet Paulus oor die duiwel praat voordat mense sy bestaan sal erken?
Vierdens, natuurlik was die onderwerp van die duiwel nie Paulus se fokus nie. Die bestaan van die duiwel was hoogs waarskynlik die mees algemeenste ding in sy tyd – dit was nie nodig om baie tyd daaraan te spandeer nie. Die kwessies van daardie tyd was die nuwe leer wat Jesus gebring het en daarom was dit sy fokus.]

Oor die vraag hoekom soveel gelowiges alle kwaad aan die duiwel wil toeskryf sê Julian dat mense nie ’n verklaring het vir dinge wat skeefloop nie en dan die duiwel die skuld gee. Dit is eintlik ’n manier om jouself te verontskuldig. Hy sê dat dit jammer is dat ons bevryding in Jesus Christus nie ’n groter werklikheid is nie. [Dit is ’n liederlike strooipopargument. My ervaring is dat daar nie baie mense is wat die duiwel as verskoning gebruik vir hulle foute nie. Almal weet dat hulle ’n verantwoordelikheid het om die Satan te weerstaan. Kyk 1 Petrus 5:8-9 en ook My genes made me do it!. Ek het dit al voorheen gesê in RSG gesprek oor die duiwel en die bose, maar ek vra weer: Wat is die betekenis van Jesus se verlossingswerk vir Julian? Waarvan het Jesus hom kom verlos?]

Jean vra vir Julian dat as daar nie ’n Satan of ’n duiwel is nie dan is daar by implikasie ook nie ’n hel nie. Wat word dan van die hele narratief van erfsonde, die verlossingsleer, Jesus se versoeningsdood, die ewige straf en alles wat daarmee gepaard gaan?

Julian antwoord soos volg: “Weereens is die vraag hoe letterlik moet van hierdie konsepte opgeneem word. Byvoorbeeld, hel, onderwêreld, doderyk. Hoeveel van daardie is metaforiese beelde? Ons as teoloë moet die konteks van hierdie konsepte verduidelik. Konsepte van ’n boek wat uit die antieke tyd ontstaan het en geskryf is. Sekere konsepte is in daardie tyd aanvaar en was normaal en vanselfsprekend, anders as ons huidige situasie ná die verligting waar ons ’n ander wêreldbeeld het. Ons het nie meer ’n gelaaide wêreldbeeld met allerhande bose magte wat funksioneer en wat ons bedreig nie. Ons moet hierdie konsepte herinterpreteer en mense help om dit te verstaan binne die huidige situasie. Dit is die uitdaging. Die Bybel kan nie net na vandag toe oorgeplaas word en letterlik gelees word nie.

Jean: “Julian, hierdie is tog alles dinge wat in die belydenisskrifte staan. Hoe kom ons daarby verby?

Julian: “Ons moet onthou dat die belydenisskrifte ook ontstaan het in ’n tyd toe mense nog ’n voorwetenskaplike wêreldbeeld gehad het. Daarom moet ons nie net die Bybel nie, maar ook die belydenisskrifte herinterpreteer vir vandag.

[Kommentaar: Lees “herinterpreteer” = “verwerp”. Julian verbreek openlik sy legitimasie-eed. Maar hy is die bekommerd nie, want liberale teoloë is onaantasbaar in die NG Kerk.]

Oor die vraag waar boosheid vandaan kom, sê Evard dat hy in hierdie opsig baie meer Joods as Christen is. Hy glo dat daar goed én sleg in elke mens is. Boosheid het dus nie ’n bonatuurlike oorsprong nie, maar ’n menslike oorsprong.

Jean: “Julian, as ons die duiwel uit die prentjie laat, waar laat dit ons met God? Moet ons nie dan ook die teïstiese God uit die prentjie uithaal nie?”

Julian se eerste reaksie is: “Ja definitief.” Hy sê dat die teïstiese Godsbeeld soos volg is: Die duiwel is verantwoordelik vir al die sleg en God is die teenhanger en doen alles wat goed is. Dus, as jy nie aan die duiwel glo nie, kan jy ook nie in ’n teïstiese God glo nie.

[Kommentaar: En dit is presies die rede hoekom Julian Müller ’n postteïstiese godsbeeld het. (Alle evangeliese of behoudende Christene het ’n teïstiese godsbeskouing.). Weereens herinner ek die leser daaraan dat Ferdie Mulder lewenslank van die teologiese fakulteit van UP geskors is terwyl Julian Müller gebly tot sy aftrede…]

Jean: “Evard, toe jy jonk was, was jy by okkulte en Satanisme betrokke. Hoe sien jy dit vandag? Bestaan dit?”

Evard: “Daar was ’n tyd in my lewe wat ek lesings oor die duiwel gegee het en toe ondersoeke oor Satanisme gedoen is, was ek die land vol gewees. Snaaks genoeg was dit die tyd toe die kerke die volste was. Dit het my gepla. Daardie tyd was ek absoluut onder die indruk dat alles wat jy in die Bybel lees 100% korrek is. As jy egter erns maak met die Bybel kom jy agter dat jy met ’n bepaalde, voorwetenskaplike wêreldbeeld in die Bybel te doen het. In die 20ste eeu kan jy dit nie net so toepas nie. Dit is eers toe ek regtig ernstig gaan kyk het na die Bybel waar die Satan vandaan kom dat ek besef het dat ek begin twyfel daaroor.

1 thought on “RSG gesprek oor die duiwel of Satan”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui