Requiem vir ’n verlore skaap

Die volgende artikel is geskryf deur Dubois du Toit, predikant in Windhoek. Hy het dit geskryf na aanleiding van Ben du Toit se nuwe boek, God: Is daar ’n ander antwoord? (30 Oktober 2020).

************

Requiem vir ’n verlore skaap | Di-lutions of Grand-err

Deur Dubois du Toit, Windhoek

7 Desember 2020

  • In reaksie op die kontekstuele rigtingwysers wat opgeloop het tot Ben du Toit se voorblad-artikel in die Kerkbode van 15 November: “Die mens: Antwoord en ook skepper”

Een middag na klas by Stellenbosch se kweekskool, tussen Hofmeyer en Murray se standbeeld en die groot palmboom, het ‘n vriend vir my een van die waardevolste stukkies gereedskap in my lewe gegee. Dit was iets wat ek gereeld daarna toegepas het wanneer ek besin oor die noodsaaklikheid om iets te sê. Sy voorstel was: “vra jouself die vraag af – is dit wys, of is dit windg@t?”

Die doel van hierdie skrywe is nie om op een of ander orkes-wa te spring net om iets te sê nie, maar om ‘n saak van groot erns en kommer – waarvan Ben se skrywe ‘n belangrike hoogtebaken is op ‘n teologiese landskap wat in die laaste 20 jaar groot fout-lyne in die NG kerk ontbloot het – ‘n bietjie in te kleur.

“Hoe verdwaal ‘n skaap my seun” het ek my pa menige male hoor vra in my vormingsjare. Daarna lui die bekende antwoord op sy retoriese vraagstelling elke keer “graspol vir graspol my seun.”

In ‘n onderhoud met Joe Rogan (die bekende potgooi persoonlikheid) oor, o.a., die insuipeling van ‘neo-marksistiese’ klasse onderskeid [sic] en kompulsie wetgewing op universiteits-gronde wêreldwyd, en tans aan die opkom in verskeie lande (sien bv. Kanada se Handves C-16), word prof. Jordan Peterson (van Toronto Universiteit) die vraag gevra: “how has this gone so far?” Peterson verwys na die motief van ‘n boek – Ordinary men (‘n absolute ontstellende lees) – oor ‘n groep gewone Duitse polisiemanne in die 2de wêreld oorlog wat stadig maar seker verander is in ‘n Nazi moord-eenheid. Die skrywer van die boek illustreer hierdie polisiemanne se transformasie as die gevolg van klein konstante afwykings van hul morele onderbou tot dit totaal geërodeer het.

Peterson gebruik ook dié motief, in van sy ander Youtube gesprekke, om te verduidelik hoe, [aanvanklik] liberale waardes, en [uiteindelik] ‘totalitarianisme’ in ‘n samelewing pos vat: “if i’m going to encroach on you, and be sophisticated about it, I’m going to come 2mm, right to the point were you start to protest, then I will stop and wait; until you calm down. Then I will encroach again until you start to protest, and I will stop and wait again – I will do this over and over until you’re back 3 miles from where you started and wonder how got there. The answer is: I pushed you a little farther than you should have gone and you agreed. I then pushed you a little farther than you should have gone again, and you agreed again.”

In die fliek ‘life as a house’ dra Kevin Kline se karakter, George, die volgende waarheid aan sy probleem-kind oor: “You know the great thing, though, is that change can be so constant you don’t even feel the difference until there is one. It can be so slow that you don’t even notice that your life is better or worse, until it is”

Ons het in die NG Kerk by die punt gekom waar ‘n klomp van ons rondom ons kyk en die vraag vra: “hoe het ons hier beland?” En my pa se antwoord lui in my kop: “graspol vir graspol my seun”.

Kerkleiers soos, o.a., Ben du Toit, Nelus Niemand, André Bartlett en hul aanhangers, kollegas en ondersteuners, het in die laaste 20 jaar ‘n geweldige gesofistikeerde transformasie in die NG kerk bewerk d.m.v die strukturele posisies wat hulle beklee het. Transformasie deur die sistematiese erodering van behoudende sienings oor Skrifgesag, deurgevoer tot ‘n volslae post-moderne “liefde- en verdraagsaamheids etiek”, as uiteindelike hermeneutiese paradigma vir alles godsdiens- en Skrif gebonde.

Onder die vaandel van ‘liefde en verdraagsaamheid’ is ook die ‘ruim huis’ beginsel aan die groot klok gehang binne die NG kerk: “elkeen kan vir hulself besluit hoe hulle wil glo oor: die duiwel…die hel…selfdegeslag verhoudings…die maagdelike geboorte(?)…die liggaamlike opstanding(?)” (graspol vir graspol).

Dallas Willard, in sy briljante boek ‘The Divine Conspiracy’, dui op die skuif wat plaasgevind het op kampusse in Amerika, rakende die morele opleiding van studente: vanaf ‘morele ideologie’ na ‘etiese verantwoordelikheid’. ‘n Noemenswaardige, tog ontstellende, skuif. Hy skryf hierdie skuif toe aan die post-moderne dogma “ons kan nie weet wat regte of verkeerde denke is nie” – wat ons weliswaar in ‘n tipe epistemiese ‘limbo’ laat. Die antwoord wat die hoëlui in die NG kerk op hierdie selfde gewaarwording in ons Suidelike-Afrikaanse konteks gee is: “kom ons wonder saam.”

Na aanleiding van vrae wat ontstaan het oor die skynbare onbeheptheid van die hoëlui met die kognitiewe dissonansie wat ontstaan het – nie bloot weens verskillende standpunte in dieselfde denominasie nie, maar eweneens onversoenbare standpunte – is daar gepaai, of die implikasies van bogenoemde dissonansie onderspeel, en (waar paai en onderspeling nie die gewenste uitkomste opgelewer het nie) vir die laaste 5 jaar lank vermaan dat die Christelike liefde vereis dat ons mekaar bly ‘vashou’ in luister en dialoog.

Henry Cloud (bekend vir sy mede-outeurskap in die 1992 top-verkoper ‘Boundaries’) skryf in sy boek ‘Necessary endings’ dat daar in enige verhouding (romanties, platonies, professioneel) wat geteister word deur voortgesette ‘dissonansie’, ‘n punt kom waar ‘nog praat en nog luister’ nie meer gaan help nie. In welke geval is ‘n ‘necessary ending’ die enigste logiese uitweg. Vir baie NG predikante het hierdie punt aangebreek.

Ek wil laastens in groot liefde oor Ben en sy gevolg iets sê. Vir ‘n post-teïs is al wat oorbly die mens…en lui die titel van Ben se kerkbode artikel “Die mens: antwoord en ook skepper” dieselfde klank as Protagoras se wel-bekende uitlating: “man is the measure of all things” – wat absolute waarde uit die hande van die Skepper neem, Hom as’t ware ontken, en dit in die stof-handjies van sy skepsels plaas.

Dit is nie moeilik om in te sien hoe jy by dié gevolgtrekking uitkom wanneer God en God se bo-natuurlike handeling stelselmatig uit die Bybel uit-geïnterpreteer en gehermeneutiseer word, as bloot menslike versinsels, oorlewings-taktiek en apologie vir mags-behoud, in ‘n barbaarse, patriargale, pre-moderne wêreld nie.

Wat oorbly is die mens – ‘alleen in die wêreld’, as ek Wentzel van Huyssteen se 2006 boektitel mag leen. Waartoe dit ons verplig is humanisme. Waartoe dit ons noop is aktivisme. In die naam van verdraagsaamheid en inklusiwisme word ons bemagtig met onverdraagsaamheid en eksklusiwisme. Die hoogste waarde is verontwaardiging. Die hoogste status is minderheidsgroep-status. Die waarste waarheid is my waarheid. Die belangrikste ervaring is my geleefde ervaring. Die vyand is behoud. Taboo is die apologeet.

“Hoe verdwaal ‘n skaap my seun? Graspol vir graspol my seun.” Die titel van hierdie skrywe verwys na ‘n requiem – ‘n herinnerings-handeling of lied. My hoop is dat, wanneer ons oor ‘n klompie jaar terugkyk op hierdie era in ons kerk, die dinge waarna hierdie skrywe verwys (en alles wat daar rondom plaasgevind het) sal dien as spreekwoordelike ‘kat-ogies’ wanneer ons ons weer in die-donker-nag-van-die-mens bevind.

Al wat ek weet is: God is die Antwoord en ook Skepper

1 thought on “Requiem vir ’n verlore skaap”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui