Plakkaatveldtog tydens 2011 sinode

Voor die aanvang van die NG Kerk se algemene sinode in Oktober 2011 by die Birchwood Konferensie sentrum in Boksburg is reeds berig dat die sinode sou besluit oor “saamwoon, grootdoop, kerkeenheid en duiweluitdrywery” (kyk Ware soeke na God se wil). Toe reeds het behoudendes geweet dat die kans goed sou wees dat die sinode ‘n liberale aanslag sou hê teenoor die besluite.

Louis le Roux tydens plakkaatveldtog teen NG Kerk algemene sinode 2011Dit is daarom dat Louis le Roux ‘n plakkaatveldtog geïnisieer het vir tydens die sinode. Die plan was dat hy plakkate op lamppale by die konferensiesentrum sou aanbring en elke dag buite die konferensielokaal sou sit om vrae te beantwoord. Die media het voor die tyd daaroor berig asof daar heelwat mense daar sou opdaag. Dit was egter nie die aanvanklike bedoeling nie. Hier volg die bewoording van die plakkate wat gebruik is:

  1. Sinode, wees aan God gehoorsaam, nie aan mense
  2. Jesus IS die Seun van God en self ook God
  3. Jesus het FISIES uit die dood opgestaan
  4. Jesus IS die enigste Weg tot saligheid
  5. Die HELE Bybel IS die Woord van God
  6. HERE U Woord is die WAARHEID
  7. Diversiteit ten koste van die WAARHEID
  8. Judas het 30 munte gekry, WAT KRY JY?
  9. Keur die Bybel homoseks verhoudings goed?
  10. PASOP!!!! Die Bose bestaan werklik
  11. Wie, wat is die Trojaanse perd in die NGK?
  12. Wie skuil in die Trojaanse perd in die NGK
  13. ‘n Ander Jesus – ’n Ander Evangelie
  14. Gesonde teologie = ’n gesonde Kerk
  15. Daar is groot droefheid by my oor my broers

Maandag, 10 Oktober 2011 het Louis daar opgedaag met sy plakkate. Sommige van die plakkate het hy aan lamppale vasgemaak en nog ‘n paar plakkate het hy langs hom uitgestal waar hy op sy kampstoel gesit het. Dit het hy elke dag gedoen.

Donderdag (13 Oktober) is hy egter uit die bloute gevra om die plakkate, sonder rede, af te haal (kyk Geforseer om plakkate by sinode te verwyder). Later is uitgevind dat die NG Kerk se ekumeniese vriende daardie dag die sinode besoek het. Die afleiding wat ‘n mens maak is dat die plakkate ’n verleentheid was en daarom verwyder moes word.

Die uiteinde van die sinode was soos volg:

  1. Daar is ruimte geskep vir mense wat nie in die duiwel glo nie. Let op dat die aanvanklike bedoeling slegs was om te praat/besluit oor die bediening van bevryding (uitdrywing van bose geeste). Die bestaan van die duiwel is egter ingesmokkel en op die ou einde goedgekeur. Kyk Die NG Kerk en die duiwel/bose.
  2. Saamwoon, dus seks voor die huwelik, is goedgekeur. Kyk Huwelik en Saamwoon – Algemene Sinode NG Kerk 2011-10-12.

Louis se plakkaatveldtog was dus nie suksesvol nie, maar dit sal as verdere aanklag dien tot diegene wat skuldig is aan hierdie goddelose besluite tydens die algemene sinode van 2011.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui