Piet Strauss oor AS 2013

Die volgende berig deur Piet Strauss, moderator van die NG Kerk vanaf 2007 tot 2011, is in Juig! van Desember 2013 gepubliseer op bl 11:

********

Die Algemene Sinode van die NG Kerk het van 6 tot 10 Oktober 2013 in Port Elizabeth vergader. Reaksie en menings het van vriendelik-aanmoedigend tot krities-veroordelend gewissel.

Dat die Sinode moontlik ’n oplossing vir die plek van die bekende Belydenis van Belhar in die NG Kerk en sy familie gekry het, is wyd verwelkom. Die voorstel wat nou met ’n twee-derde meerderheid deur kerkrade goedgekeur moet word, kom daarop neer dat die lidmaat self oor sy aanvaarding van hierdie dokument besluit.

Die Sinode het in die spervuur gekom oor twee sake waaroor lidmate breedweg saamstem: dat die duiwel ’n persoon is, en dat die beoefening van homoseksualiteit onskriftuurlik is.

Vir die Sinode staan dit nie vas dat die duiwel ’n persoon is nie. Daar is ook besluit om opnuut ’n studie oor homoseksualiteit te doen nadat die Algemene Sinode van 2007, na ’n jarelange studie daaroor, ‘n kompromisbesluit geneem het. (Tog is dit duidelik gestel dat die huwelik net tussen een man en een vrou kan geskied en dus heteroseksueel is, en dat mense wat homoseksueel is, slegs kerklike ampte mag beklee indien hulle selibaat is (onthouding beoefen).

Teenstrydige Sinodebesluite wek twyfel of dit in opdrag van die Here praat en doen afbreuk aan die sinodale gesag. ’n Sinode moet praat asof in opdrag van die Here. ln die Kerk gaan dit om die gesag van die Woord wat ’n uitvloeisel is van die gesag van Christus as die Hoof van die Kerk.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui