Om publiek te bely

Kyk ook:

In die artikel hieronder skaar Cobus van Wyngaard hom by Julian Müller.

Let egter op na die datum waarop hierdie artikel gepubliseer is. Dit is heelwat later gepubliseer as 2005. Is dit toevallig dat dit gepubliseer is baie naby aan die tyd toe Wynand Louw vir Nelus Niemandt gekonfronteer het met vrae – kyk Korrespondensie met prof Nelus Niemandt.

Kyk ook kommentaar onderaan die artikel.

*********

Om publiek te bely

Deur Cobus van Wyngaard

15 Maart 2012

Ek onthou nog hoe ons in ’n koshuiskamertjie in 2005 RSG geluister het in ’n gesprek oor geloof, die Fakulteit Teologie by UP, en ’n sekere student se diepe spanning met sy opleiding daar. Hier na die einde se kant toe was daar ’n vraag van een van die paneel lede aan Julian Müller, iets oor “het Jesus uit die dood uit opgestaan, is die graf leeg?” Sy antwoord was “ek het Sondagoggend saam met die gemeente die apostolicum bely” (ek haal uit geheue uit aan).[1]

Baie was kwaad. Ja, ek moet erken, selfs van ons studente wat ten sterkste gekant was teen die klagtes wat in omloop was het gewonder of hy nie maar bietjie “meer” kon sê nie, of hy nie maar sy aanklaer bietjie meer vrede kon gee nie.

Maar die spanning met die antwoord verklap dalk hoe diep dinge verkeerd gegaan het in ons geloofsgemeenskappe.

Die huidige vlaag van beskuldigings is by uitstek vrot van die individualisme. Ten spyte van die alewige claim dat daar namens “lidmate” gepraat word, verklap die aanklaers ’n perspektief waar die individu se interpretasie, en die individu se siening, die van die gemeenskap kan troef (ook hier, soos gister, moet ons erken dat die kerk maar ’n lang geskiedenis het van in hierdie slaggat trap, so skuldbelydenis kan maar aan die orde wees).

Die spanning met Müller se antwoord dieselfde. Ons soek nie mense wat deel is van die geloofsgemeenskap nie. Ons soek nie mense wat verklaar dat hulle deel is van ’n 2000 jaar oue tradisie, ’n tradisie waarmee hulle partymaal verskil, partymaal saamstem, maar altyd in gesprek mee is nie. Ons soek individue wat verwoord op maniere wat ander individue gemaklik sal maak.

My een worsteling wat gemaak het dat ek gister hieroor begin skryf het, is die vraag hoe predikante verantwoordelik kan reageer in die publieke ruimtes waarin hierdie eindelose aanvalle geloods word. Daar is baie opsies. Party onttrek. Party bly stille observeerders. Party probeer verduidelik. Party probeer nuut verwoord. Party kies verskillende opsies op verskillende tye. Maar ek begin wonder of Müller ons nie dalk die meeste help nie.

Kan ek dieper bely as om te bely dat ek saam met die geloofsgemeenskap bely? Is daar iets “meer”. Is die idee dat ek “meer” moet sê as “ek bely saam met die kerk van alle eeue” (en dit beteken nie ek stem met elke moment van die kerk van alle eeue saam nie, dit beteken ek kies om vanuit hierdie tradisie te leef) nie uiters problematies nie? Hoe kan ek as individu dit sterker stel as om saam met die gemeente te bely? Ek wonder of dit nie dalk die volgehoue stem van predikante in die publiek moet wees nie: ons bely saam met die gemeente en saam met die kerk van die eeue.

Wat dink jy?

Voetnotas

[1] Cobus onthou reg. Die volgende is aangehaal uit Ferdie Mulder se boek, Opgestaan, bladsy 55:

…het ds. Nel nogal wys opgetree deur ’n vraag oor Jesus se opstanding aan professor Müller te stel: “Julian, het Jesus liggaamlik opgestaan, en beteken dit dat die graf leeg is?” Ek sal nooit die lang en ongemaklike stilte vergeet wat gevolg het voordat professor Müller huiwerig op ds. Nel se vraag geantwoord het nie. Toe RSG die program die daaropvolgende Sondagaand uitgesaai het, was dit opvallend (en jammer?) dat dié lang stilte uitgesny is. Was dit deur die toedoen van dr. Flip Loots of die redigeerders by RSG? Die swanger stilte sou nooit nasionaal uitgesaai word nie. Sy antwoord was:
“Ek het vanoggend ’n erediens bygewoon soos wat ek elke oggend ’n erediens bywoon op ’n Sondag. En met groot vrymoedigheid sê ek met die gemeente saam die Apostolicum, want dit is wat ek glo . . . dit beteken nie dat daar nie ruimte vir herinterpretasie is nie.”

Kyk ook die volgende uit Sarel van der Merwe se DVD: Nuwe Strominge in die Teologie (11:32).

Kommentaar

Cobus, siende dat jy vra.

Dink jy nie dit is hoogs oneerlik nie? Dit is mos nie ’n eerlike antwoord nie? Ons almal weet mos wat daar gebeur het: Julian Müller glo nie in Jesus se liggaamlike opstanding nie. Dit is die rede hoekom daar konflik was tussen Julian Müller en Ferdie Mulder. As Julian aan Jesus se liggaamlike opstanding geglo het, sou daar nooit konflik gewees het tussen dié twee nie. Op die ou einde het Julian nooit erken dat hy nie in die liggaamlike opstanding glo nie, want hy het geweet dat dit sy toga gaan kos. Ferdie het ’n fout gemaak en dit was toe die ideale geleentheid om vir ewig van Ferdie ontslae te raak deur hom lewenslank te skors.

Nou stel jy voor dat indien ’n teoloog ’n vraag gevra word wat moontlik sy toga kan kos, moet hy nie eerlik antwoord nie, maar bloot antwoord: “ek bely saam met die kerk van alle eeue”.

Ek staan verstom…

Daniel Louw

(Kyk ook “Ek bely steeds die belydenisskrifte”)

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui