NG Kerk: Gays sal moet wag

Kyk ook:

Aan die begin van Oktober 2015 het die algemene sinode die skokkende besluit gemaak om ruimte te maak vir predikante en lidmate om in homoseksuele verhoudinge te staan (kyk 2015 NGK homoseksuele besluit).

Nadat heelwat NG gemeentes beswaar aangeteken het (kyk NG gemeentes teen 2015 gaybesluit), het die moderamen egter besluit om ’n moratorium op die besluit te plaas tot die volgende algemene sinode in 2017. Dus word die uitvoering van die besluit met twee jaar uitgestel.

As behoudende NG Kerk lidmate dink dat dit tyd is om fees te vier is hulle onder ’n illusie. ’n Mens moet onthou dat daar onder die NGK leierskap geen hartsverandering plaasgevind het nie. Hierdie besluit is bloot gemaak om die huidige ongelukkigheid in die NGK bietjie te demp – dit is bloot gedoen ter wille van skadebeheer. Die gay kwessie sal definitief weer aan die deur klop. Om proponent Hennie Pienaar hier onder aan te haal:

“Dit is teleurstellend dat die kerk so ’n besluit, wat hom uiteindelik weer relevant in die samelewing maak, tydelik kon stuit.”

“Dit motiveer ons om die volgende twee jaar bitter hard te werk, op grondvlak, sodat lidmate ons siele en harte sien, sodat hul vooropgestelde idees oor waarom hulle ons wil uitsluit, sal val. Sodat hulle besef dis ’n onreg. Dis eers wanneer jy met gay mense te doen het, hul stories hoor, hul harte en siele sien, dat jy besef hulle is net sulke mense soos ek.”

Dit laat behoudende lidmate en predikante wat homoseksualiteit as sonde sien, met drie opsies:

1. Beveg die dwaling in die NG Kerk baie aggressief en maak gereed om hierdie kwessie tydens die 2017 algemene sinode vir eens en vir altyd te beëindig. Dit gaan in kort die volgende behels:

  • Dwaalleraars sal by hulle onderskeie ringe aangekla moet word. Dit mag selfs beteken dat behoudendes bereid sal moet wees om predikante in ander ringe te gaan aankla indien daardie ringe nie iets aan die saak doen nie.
  • Gemeentes sal hulle moet distansieer van die kuratoriums, wat duidelik op ’n dwaalpad is. Daar is geen teken daarvan dat die kuratoriums sal omdraai nie.
  • Nuwe beroepings van predikante sal baie versigtig gedoen moet word (kyk Vrae aan predikante).

Onthou dat alhoewel progay predikante nie tans gayhuwelike kan voltrek of in gay verhoudings kan staan nie, kan niks aan hulle gedoen word indien hulle openlik hul progay opinie verkondig nie. ’n Mens kan ook verwag dat progay predikante sal voortgaan om gays se babas te doop (kyk Doop van 2 vroue se kind help genees). Dus sal behoudendes hierdie situasie maar geduldig moet duld en hoop en bid dat ’n mens dit sal kan omdraai in 2017.

2. Aanvaar dat die NG Kerk op ’n onomkeerbare pad is en gaan voort met besprekings om weg te breek van die Algemene Sinode. Dit gaan in effek beteken dat die NGK gaan skeur.

3. Verlaat die kerk of stig af: Die dwaling in die NG Kerk dra nie God se goedkeuring weg nie. As die dwaling nie gestop kan word nie, moet behoudendes ernstig daaroor dink en bid om eerder die NG Kerk te verlaat (kyk Handelinge 2:40, Openbaring 18:4, 2 Korintiërs 6:17, Jesaja 48:20, Jeremia 51:9, Efesiërs 5:6-7 en 1 Timoteus 6:5 (AOV)).

************

NG Kerk: Gays sal moet wag

(Van Netwerk24 gekopieer.)

Deur Pieter Steyn, 18 November 2015 00:22

Die NG Kerk hou by die besluit van sy algemene sinode om gay lidmate op elke vlak te verwelkom, maar die uitvoering daarvan is vir twee jaar uitgestel.

Dit beteken gay proponente mag voorlopig nie in die amp van leraar georden word nie, tensy hulle selibaat is.

Gay paartjies se burgerlike verbintenis word voorlopig ook nie erken nie. So ’n verbintenis mag ook nie deur ’n leraar voltrek word nie.

Na verneem word het die moderamen van die algemene sinode, wat in Edenvale vergader, Dinsdag ná ’n “oop gesprek” oor die gees waarin en manier waarop die algemene sinode die besluit geneem het, besluit dit staan.

Die praktiese uitvoering van die besluit word egter gestaak hangende die uitslag van die appèl.

Dit sal op die vroegste in 2017 wees wanneer die volgende algemene sinode besluit oor die appèlle wat ontvang is.

Intussen is dr. Johann (Tokkie) Ernst, aanvanklik een van die sekondante van die voorstel wat tot die kerk se gay-besluit gelei het, se naam Dinsdag verwyder as ’n sekondant.

Sy naam is in die voorlopige notule van die sinode aangeteken as sekondant, maar is verwyder voordat die notule goedgekeur is.

Proponent Hennie Pienaar, een van die leiers in die stryd om gewone regte en voorregte vir gays in die NG Kerk, sê hy is teleurgesteld oor die appèl, maar is steeds baie positief oor die besluit.

“Dit is teleurstellend dat die kerk so ’n besluit, wat hom uiteindelik weer relevant in die samelewing maak, tydelik kon stuit.”

Pienaar sê hulle is egter nie negatief nie en hef aan lê voor.

“Dit motiveer ons om die volgende twee jaar bitter hard te werk, op grondvlak, sodat lidmate ons siele en harte sien, sodat hul vooropgestelde idees oor waarom hulle ons wil uitsluit, sal val. Sodat hulle besef dis ’n onreg. Dis eers wanneer jy met gay mense te doen het, hul stories hoor, hul harte en siele sien, dat jy besef hulle is net sulke mense soos ek.”

Pienaar sê hy sien uit na die volgende algemene sinode in 2017.

“Ons hou reeds partytjie, al is die besluit gevries. Minstens is daar iets om te vries. Voor die sinode was daar niks. Dis soos om uit te sien na ’n vleisbraai, later. Jy het die gevriesde tjops, al kan jy nog nie dadelik gaan braai nie. Ons sien uit na ’n tamaai braai en álmal is genooi!”

Meer Stories

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui