NGK Diversiteitsforum 2010

Die NG Kerk diversiteitsforum is geskep op die NGK se amptelike webblad www.ngkerk.org.za. In die eerste plasings word genoem dat Ben du Toit, die NGK se kommunikasiehoof, die leiding geneem het om hierdie webwerf te vestig.

Die behoefte vir hierdie debat is bietjie onduidelik, maar spekulasie is dat dit ’n sagmaakproses is om lidmate gewoond te begin maak aan sekere sieninge wat in die NGK gedryf gaan word.

Die rede hoekom die volle debat hier geplaas word is omdat daar baie forum manipulasie plaasgevind het deur die webbestuurder, Charles Malan. Hy het baie skrywes verwyder en met die hulp van ’n paar mense het ons probeer om die volle debat hier te plaas en ook te wys watter dele verwyder is. Ongelukkig is daar een of twee skrywes aan die begin van die debat wat verwyder is wat nie gevang kon word nie. Die skrywes gemerk in grys is deur die webbestuurder, Charles Malan, verwyder.

DIVERSITEITSFORUM

Vir die oorspronklike debat, kyk www.ngkerk.org.za en kliek op “Diversiteitsforum” of gaan direk na die debat HIER.

Hoe werk dit:

Hierdie forum is bedoel om die gesprek oor diversiteit te stimuleer.

Bydraes is die persoonlike menings van gespreksgenote en is nie noodwendig die amptelike standpunt van die NG Kerk nie.

Charles Malan is die skakelpersoon van hierdie forum. Hy behou die reg voor om gespreksgenote deur middel van hulle e-posadres te kontak, indien nodig.

Die gesprek oor diversiteit is reeds oor ’n tydperk van maande aan die gang. Uittreksels uit hierdie gesprekke verskyn by Argief ter insae. Kommentaar is welkom.

Saamgesels? Klik op die knoppie onderaan die bestaande gesprek, wat dan ’n e-pos na die forum sal oopmaak.

Ander kort tekste, referate en artikels word ter insae by Argief geplaas.

Jou bydrae sal so gou moontlik as reaksie/byvoeging onderaan die bestaande gesprek vertoon word.

Ons gebruik asseblief voorname en ’n e-posadres word ook verskaf.

DIVERSITEITSGROEP SE VISIE EN MISSIE

2010-05-14

Diversiteitstaakgroep

DIVERSITEIT EN DIE NG KERK – ’n FORUM EN ARGIEF

In die lig van voortdurende en selfs toenemende spanning op terreine soos ras, geslag, seksuele oriëntasie en interkerklike verhoudings is dit duidelik dat die kerk ’n groot verantwoordelikheid het om oor diversiteit leiding te help gee.

Die negatiewe uitlewing van diversiteit saai onmin, verwydering en selfs haat teenoor groeperings wat as “die ander” beleef word. Die positiewe dinamiek van diversiteit hou egter soveel voordele in dat talle groot maatskappye programme vir diversiteitsbestuur het.

Vir die NG Kerk is daadwerklike aandag aan diversiteit noodsaaklik. Die grootste enkele uitdaging bly steeds om die ander as my naaste te begin sien en volgens Christus se voorbeeld oor grense heen uit te reik. Talle probleemterreine het voortdurende aandag nodig, bv. afstand en spanning tussen rasse, die gebrek aan kerkeenheid, die posisie van vrouens as slagoffers en in kerklike ampte, die houding teenoor gays, ens.

Die taakspan vir diversiteit het na raadpleging van streeksinodes ’n visie en missie vir die groter diversiteitsgroeperingsaamgestel. Die ideaal is om binne die NG Kerk positiewe diversiteit ter wille van Christelike naasteliefde te bevorder sodat die kerk ’n model vir die gemeenskap kan wees.

Die taakspan wil as missie doelgerig bepaalde kernaspekte van diversiteit bevorder, veral ten opsigte van geslag, ras, kerkverband, kultuur, seksuele oriëntasie, materiële verskille, gestremdheid en kommunikasie.

’n Belangrike doelwit is om met kerklike strukture van gemeente- tot sinodevlak te skakel en medewerking op al die vlakke op te bou. Hierdie forum is dus die plek om ook ondervindings en projekte van gemeente tot gemeente uit te ruil. Inligting soos kort verslae, artikels en referate sal in die argief of by dokumente bewaar word. Gemeentes moet dus vir bv. hulle kerkblaaie hier pitkos kan kry. Daar is geen kopiereg nie, behalwe as kommersiële belange ter sprake is.

Die forum wil graag ’n oop en dus openhartige gesprek stimuleer. Daar is geen sprake van sensuur nie, maar vanselfsprekend moet die gesprek op ’n hoë vlak gevoer word. Hier is nie ruimte vir beledigende en rassistiese boodskappe nie. Bydraes moet in die praktyk toon hoe daar ten spyte van kritiek verdraagsaam en met respek met “die ander” gekommunikeer kan word. Daar is genoeg haatspraak op die oneindige internet.

[Die laaste paragraaf is later verander na: Die forum wil graag ’n oop en dus openhartige gesprek stimuleer. Daar is geen sprake van sensuur nie en alle boodskappe word aanvanklik geplaas, maar vanselfsprekend moet die gesprek op ’n hoë vlak gevoer word. Hier is nie ruimte vir beledigende en rassistiese boodskappe nie. Bydraes moet in die praktyk toon hoe daar ten spyte van kritiek verdraagsaam en met respek met “die ander” gekommunikeer kan word. Slegs boodskappe oor diversiteit en dus nie oor ander irrelevante en geloofsake nie, moet hier geplaas word.

Nog later is die laaste paragraaf vervang met die volgende:
Die forum wil graag ’n oop gesprek stimuleer. Daar is geen sprake van sensuur nie en alle boodskappe word aanvanklik geplaas, maar vanselfsprekend moet die gesprek op ’n hoë vlak gevoer word.
Slegs boodskappe oor diversiteit soos in die lys hierbo en dus nie oor ander irrelevante en geloofsake nie, moet hier geplaas word. ’n Kort opskrif oor die tema sal lesers help. ’n Geldige webadres moet selfs vir ’n skuilnaam verstrek word. Die kommunikasie is informeel op voornaamvlak, maar dit sal goed wees as bydraers hulself met van en voornaam identifiseer om verwarring te vermy.
Die gedeelte oor “beledigende en rassistiese boodskappe” is dus verwyder.]

Skakelpersoon: Dr. Charles Malan, tel. 012 546 4195, sel 076 563 9469,

charlesmalan@absamail.co.za

Kommentaar:

Die kommentare is verdeel in ’n paar lêers omdat dit so lank is. Kyk https://glodiebybel.co.za/index.php/ngk-diversiteitsforum-m.html.

Inhoudsopgawe

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui