NG Kerk verloor gaysaak

Kyk ook:

NG Kerk verloor gaysaak | Netwerk24

Deur Isabel Venter

8 Maart 2019 19:50

Dit is verkeerd om te steun op godsdienstige sentimente om ’n besluit te maak oor die grondwetlike regte van andere.

Só het die hooggeregshof in Pretoria Vrydag beslis in ’n uitspraak wat elke NG Kerk (NGK) in die land nou wéér die mag gee om self te besluit of hulle gay verhoudings wil erken, gay paartjies mag trou en gay predikante wil aanstel.

Dit nadat die NGK se algemene sinode gister ’n saak oor die kwessie in die hooggeregshof in Pretoria met koste verloor het.

Dié sinode het in 2016 sy besluit oor die kwessie verander nadat dit die jaar tevore aanvaar is dat elke kerk self dié besluite kon neem.

Die hof het bevind dat die algemene sinode gefouteer het toe hy in 2016 ’n beslissing gemaak het teen selfdegeslaghuwelike en is die 2015-besluit nou weer geldig.

Regter Joseph Raulinga het namens ’n volbank regters in sy uitspraak gesê die NGK het nie by sy eie reëls gehou toe hy in 2016 besluit het om 2015 se besluit te herroep of te verander nie.

Verder het die NGK wel inbreek gemaak op die regte van hul gay lidmate.

Laurie Gaum, een van die aansoekers in die saak, het aangevoer die huwelik ’n statutêre instelling van die staat. Omdat die staat beslis het gay paartjies mag trou ingevolge die Wet op Burgerlike Verbintenisse (Wet 17 van 2006), moet die NGK hom daaraan onderwerp. Deur hulle te verbied om in die kerk van hul keuse te trou, is ’n skending van hul menseregte.

Die NGK het op hul beurt aangevoer die kerkbesluit skend nie gays se regte nie, omdat dit hulle vry staan om by enige Christelike kerk aan te sluit wat die Bybel soos hulle vertolk. Alternatiewelik kan gays hul eie kerk begin, het die kerk ook gesê.

“Die probleem is wanneer die kerk die hof nader, dan geld die reëls van die land en moet dit toegepas word deur die howe. In hierdie saak is daar gesteun op die Handves van Menseregte en is dit verkeerd om te steun op godsdienstige sentimente om ’n besluit te maak oor die grondwetlike regte van andere,” sê die hof.

Volgens Raulinga het die NGK geen argumente aangevoer oor hoekom sy 2016-besluit in belang is vir die samelewing is nie.

“Die besluit het die standpunte van die oorgrote meerderheid van die kerk gesteun, maar nie die minderheid of die breër samelewing nie,” sê die hof.

Die hof het ingestem dat daar deur dié besluit op homoseksuele lidmate se reg op vryheid van geloof, gelykheid en privaatheid getrap is. Hulle geloofsoortuigings en keuse om deel te wees van sekere kulturele- en geloofsinstellings is hulle ontneem.

Voorts was daar onreëlmatighede met hoe die kerk te werk gegaan het tydens die 2016-besluit.

“In kontras met vorige besluite het die 2016-besluit nooit terugverwys na die 2015-besluit nie. Die 2015-besluit is nooit tersyde gestel, bevestig of gestaaf nie,’’ sê die hof.

Die 2015-besluit kon, ingevolge die kerkorde, aangepas, vervang of hersien word, maar dit is nie gedoen nie.”

Prof. Pierre de Vos, ’n grondwetkenner, meen die uitspraak sal nie noodwendig ’n uitwerking hê op ander kerke of gelowe nie.

Hoewel die uitspraak kortliks gehandel het met die inbraak op lidmate se regte, was dit meer “ ’n tegniese saak” van aard.

“Die uitspraak het net betrekking op die NGK,” sê De Vos.

Kenners by Freedom of Religion South Africa (FOR SA) is egter nie heeltemal oortuig nie.

Dié instansie, wat hom beywer vir geloofsvryheid, het die hele uitspraak gister bestudeer en meen dit is belangrik dat daar so gou moontlik regsekerheid gekry word om seker te maak ander kerke en gelowe nie beïnvloed word nie.

Dr. Frits Gaum, voormalige redakteur van die Kerkbode, en Laurie se pa, het die hof se besluit verwelkom. Hy meen reg en geregtigheid het geskied en dat die kerk twee keer sal dink voordat hy aan sy lidmate sal voorskryf. Hy hoop dat die kerk hom sal berus by die uitspraak.

Hy voel die 2015-besluit is goed want dit laat ruimte vir almal se sienings.

“Ek glo as gelowige moet ons kan uitlewe wat ons is en hoe God ons gemaak het. Ons seksualiteit is tog deel van ons menswees,” sê Gaum.

Laurie Gaum self was verheug oor die uitspraak.

“Dit is ’n merk langs die pad . . . Dit was nie ’n maklike pad nie, en ons is goed bewus van dié wat ons verloor het langs die pad.”

Neels Jackson, nog ’n voormalige redakteur van die Kerkbode, meen die sinode sal nie noodwendig teen die hof se besluit appelleer nie. Hy meen wel die aangeleentheid sal bespreek word later in die jaar by die kerk se volgende algemene sinodesitting.

Dr Nelis Janse van Rensburg, moderator van die NGK, het gesê die kerk sou Vrydagaand op die uitspraak reageer.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui