NG Kerk steek dominee in die pad oor doop

Kyk ook:

En weereens kry ’n predikant in die NG Kerk die trekpas oor die doop. Kyk ook:

En is dit nou nie ironies dat Parkegemeente in Kraaifontein net twee weke gelede vir ds Louis van der Riet, ’n gay predikant, bevestig het nie (kyk Gemeente ‘kies liefde bo vrees’ met aanstelling van gay leraar). Die NG Kerk se moderator (Nelis Janse van Rensburg) was selfs by om sy ondersteuning heelhartig te gee.

Nou goed, dit is so dat elke NG Kerk predikant ’n legitimasie-eed aflê waartydens hy/sy die Belydenisskrifte (die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die Dordtse Leerreëls) onderskryf. Die Heidelbergse Kategismus, Vraag 74 onderskryf die kleindoop.

Dit bly egter ’n totale belaglikheid, ’n sotheid, dat ’n homoseksuele predikant welkom in die NG Kerk is, maar nie iemand wat die groot doop aanhang nie. En dit is bloot omdat die doop so goed beskryf word in die Belydenisskrifte. Die ironie is dat homoseksualiteit, saamwoon en die bestaan van die duiwel (alles dinge waarvoor daar tans ruimte gemaak word in die NG Kerk) nie so heeltemal duidelik beskryf word nie, bloot omdat dit so ongelooflik asvanselfsprekend aanvaar is in die tyd toe die belydenisskrifte opgestel is.

Die woord, “irrelevant” kom by my op. Die liberales in die NG Kerk het ’n vrees om irrelevant te word. Oor hierdie rede wil hulle homoseksualiteit ontsondig en stoei hulle (waarskynlik steeds voort) om Belhar in die NG Kerk in te smokkel om tog net seker te maak dat die NG Kerk nie as rassisties gesien word nie. (Terloops, die NG Kerk kan ruimte maak vir die grootdoop deur middel van dieselfde proses as waarmee die belydenis van Belhar aanvaar wou word.) Hierdie sotheid maak die NG Kerk irrelevant.


Maar om irrelevant vir mense te wees is, wel,… irrelevant.

Die vraag is:

Wat dink God hiervan…?

**************

NG Kerk steek dominee in die pad oor doop

Ané van Zyl

03 Maart 2019 20:44

’n Dominee is uit die NG Kerk se bediening geskop nadat dit aan die lig gekom het dat sy geloofsoortuigings in stryd is met dié van die Kerk.

Sommige lidmate van die NG-gemeente in Melkbosstrand was Sondag hewig ontsteld toe hulle hoor dat hul jeugleraar, ds. Kenny Pritchard, in die pad gesteek is oor sy standpunt oor die doop.

Pritchard is van sy amp onthef nadat ’n ondersoek deur die NG Kerk se Ring en Sinode bevind het dat sy oortuigings oor die doop nie strook met wat die Kerk leer nie.

Die bevindings van die Ring en Sinode lui: “Ds. Pritchard se verkeerde opvatting van die doop is ’n standpunt wat hy volgens sy eie getuienis sedert ongeveer 2015 koester, en wat hy sedertdien nog nie gewysig het nie en nie van plan is om te wysig nie.

“Hy het nooit enige tekens van berou of insig getoon nie,” sê die Kerk.

Pritchard was nie by die diens nie en het ook nie media se navrae beantwoord nie.

“Ná 2015 het hy hom van die kinderdoop gedistansieer en sonder die Kerk se medewete homself laat herdoop,” lui ’n brief van ds. Kotie Kritzinger, dr. Francois Hanekom en ds. Hansie Cronjé van die Melkbos-gemeente wat Sondag aan gemeentelede gegee is.

’n Lid van die gemeente het Kritzinger tydens die diens in die rede geval en gesê: “Wie sê julle is reg? Ek is ’n lidmaat van hierdie kerk en ek sal nie stilbly nie.

“Dit is elkeen se besluit of hulle klein of groot gedoop wil word. Doop is nie die einde of die begin nie!” het die vrou uitgeroep.

Kritzinger het gesê hy verstaan dat mense ongelukkig voel dat die NG Kerk te hard opgetree het.

“Al die kerke het ongelukkig verskillende beleide oor die doop. Op die ou end was dit Kenny se eie keuse, en ons kan ongelukkig niks daaraan doen nie,” het Kritzinger gesê.

Klein groepies mense het ná die diens saamgedrom om die kwessie te bespreek. Van hulle het gemeen Pritchard is ’n grootmens en is in staat om sy eie besluite te neem. Ander wou weet hoekom die kerk in die eerste plek die saak na die Ring en die Sinode verwys het.

Kragtens die kerkorde moet sake wat ’n leraar se legitimasie-eed raak, deur die Ring en Sinode gehanteer word. Die legitimasie-eed is die eed wat predikante in die NG Kerk aflê wanneer hulle leraars word.

’n Ondersoekspan wat vroeër aangestel is om Pritchard se oortuigings te ondersoek, het tot die besluit gekom dat hy moet loop.

Geen lede van die Melkbosstrand-gemeente was egter deel van die besluitnemingsproses nie.

“Die uitslag van die ondersoek was dat ds. Kenny se siening van die doop en optrede ’n verbreking van sy legitimasie-eed vir predikante is, en dat hy dus sy bevoegdheid as leraar van die NG Kerk verloor,” lui die brief wat aan gemeentelede gegee is.

“Aangesien hy nie bereid is om sy siening oor die doop te verander nie, het dit dus reeds in werking getree.”

Die Kerk sê Pritchard bly steeds ’n lidmaat van die NG gemeente in Melkbos, al het hy sy status as predikant verloor.

Pritchard het aanddienste waargeneem, en daar sal vir die voorsienbare toekoms nie aanddienste by die Melkbosstrand NG kerk gehou word nie.

Ds. Thys du Toit van Vredenburg, wat deel van die taakspan was wat Pritchard afgedank het, sê tydens gesprekke was Pritchard eerlik oor sy standpunt oor die doop.

“Hy het dit nie vir ons weggesteek nie. Hy het dit duidelik gemaak dat hy nie glo in die verbondsdoop nie, maar glo in die bekeringsdoop,” het Du Toit Sondag aan die gemeente gesê.

“Dit beteken dat hy nie kan voortgaan as predikant in die NG Kerk nie. Dit was nie vir ons ’n maklike besluit nie, maar as gevolg van die Kerk se standpunt oor die doop het ons geen ander keuse gehad nie,” het Du Toit gesê.

Die Ring in Kaapstad het reeds op 13 Februarie sy bevindings in ’n verslag aan die Melkbosstrand NG kerk se bestuur bekend gemaak.

Pritchard is skriftelik van die besluit in kennis gestel en het die dokument onderteken. Hy mag binne 30 dae appèl teen die besluit aanteken.

Die bestuur van die Melkbosstrand-gemeente sê in die brief hulle het groot waardering vir die werk wat Pritchard die afgelope jare gedoen het.

“Ons besef ook dit is ’n moeilike tyd vir hom en sy vrou, Mariska. Ons moet hulle met groot liefde ondersteun. Ons vra (vir die gemeente), bid asseblief vir genesing, voorsiening en antwoorde oor die wil van God.

“Kom ons vat asseblief hande en kyk positief vorentoe.”

Pritchard is verskeie kere telefonies en per WhatsApp gekontak vir kommentaar, maar hy het nie geantwoord nie.

“Die NG Kerk het niks daarteen dat iemand groot gedoop word nie, solank dit soos die kinderdoop eenmalig geskied,” sê ds. Charl Stander, voorsitter en aktuarius van die NG Kerk in die Wes-Kaap.

“Omdat die NG Kerk glo dat die doop ’n daad van God alleen is, kan dit tog nie herhaal word nie. Volgens die bevinding het ds. Pritchard erken dat hy nie meer dié doopbeskouing van die NG Kerk onderskryf nie en dat hy gevolglik nie sy weg oopsien om kindertjies te doop nie. Dit maak sy voortgesette bediening in die NG Kerk onmoontlik.”

5 thoughts on “NG Kerk steek dominee in die pad oor doop”

  1. Sal graag ’n program oor ngkerk wil hê oor die DS wat afgedank is omdat hy wil groot doop. Hulle kan die ander dominee kry wat dan klein doop.

    Die bybel se jy moet nie twis oor die bybel nie. As die ds groot wou doop en plaas klein kan hy dit doen. Daar staan nêrens jy mag net klein doop. Jesus was dan ook groot gedoop.

    Groete

  2. waarom NG kerk ledemate verloor

    Volgens my is die bybel daar vir wysheid oor sekere dinge en die presepsie om in God te glo deur mense al kom hy in sy swakste vorm. Dat een kerk reg is beteken dit nie ’n ander kerk wat wil goed doen, doen verkeerd nie. As dit die persoon sterker maak in God se wil dan is dit goed. Ek praat nou nie van Satanisme en gelowe wat verkeerd wil wees nie. Om oor die algemeen gay mense weg te wys is nie reg nie. Daar is twee slagtige mense daarbuite of mans wat amper ’n vrou is en vrouens wat amper ’n man is of soos man wil wees. Die kerk moet bepaal of die mense net verkeerd wil wees op die kerk banke en nie net weg wys nie dat hulle nie mag trou. Dit beteken nie dat ’n gay persoon nie vir God mag werk mag doen. Die ander ding is hier is mense wat elke Sondag in die Kerk is. Het die NG kerk al dit aangespreek oor gewoonte kerk toe te gaan? Nee want hulle weet nie van die politiek daarbuit wat al jare aankom wat se die kerk word as besigheid gehardloop. Dis nie dat ek nie wil na preek luister maar ek wil definitief nie gewoonte soos in die bybel staan na die preek uit gewoonte te luister nie. Daar is soos iets soos ’n geestes te kort of dat jy net wil die bybel en wereld beter plek maak deur God se wil en die seen te ontvang saam met ’n groep mense deur die heilige gees om jou sterker te maak vir wat daar buite is. Om vir my te sê Sondag is kerk toe gaan dag dink ek is verkeerd

    Daarom dink ek die mense moet hulle verskille laat staan en al die kerke roep en saam werk eerder as om te sê jy is reg ek wil my besigheid verkoop.

    Global Citizen

  3. Baie ongelukkig dat die NG Kerk op so ’n lelike manier van iemand ontslae raak oor iets wat sogenaamd nie met kerkorde saamstem nie. Maar homoseksualiteit wat direk teenstrydig is met Bybel word aanvaar

  4. Die NGKerk is nie meer konsekwent nie. Hulle ja is nie meer ja en hulle nee is nie meer nee nie. Wat is meer on Bybels as n gay dominee wat so uitgesproke is teenoor alles wat eerbaar is.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui