NG Kerk se lidmate val in 19 jaar met 25%

Kyk ook:

Op 19 Februarie 2012 is in NGK-lidmate 20 000 minder in een jaar berig dat die NG Kerk 20 000 lidmate in een jaar verloor het. Hierdie tendens gaan steeds voort (kyk twee artikels hieronder).

Streeksinde Aantal Persentasie
Wes-Kaapland 182 384 26,4%
Oos-Kaapland 48 984 7,1%
Noord-Kaapland 26 887 3,9%
KwaZulu-Natal 18 849 2,7%
Vrystaat 73 465 10,6%
Goudland 77 245 11,2%
Noordelike Sinode 90 258 13,1%
Hoeveld 68 926 10,0%
Oostelike Sinode 89 383 12,9%
Namibie 14 669 2,1%
Totaal 691 050 100,0%

Geskiedenis, veral in Europa, het gewys dat kerke dikwels lidmate verloor weens liberale teologie. Die vraag is of NG Kerk leiers ook hierdie rede as ’n moontlikheid sal erken…

2000 2010 2019
Aantal belydende lidmate 919 790 857 205 691 050

**************

NG Kerk se lidmate val in 19 jaar met bykans 25%

Netwerk24
Marelize Barnard
26 Januarie 2019 09:47

Die NG Kerk se lidmate het in die laaste 19 jaar met byna ’n kwart (24,8%) afgeneem – en die Kerk soek nou antwoorde hiervoor.

Volgens syfers in die NG Kerk se jaarboeke was daar in 2000 altesame 919 790 belydende lidmate. In 2010 was daar 857 205 en begin vanjaar was dié syfer 691 050, volgens Le Roux Schoeman, redakteur van die Kerkbode.

Dit beteken dat meer as 200 000 belydende lidmate in minder as 20 jaar die NG Kerk verlaat het.

Dr. Gustav Claasen, algemene sekretaris van die NG Kerk, sê in die jongste uitgawe van die Kerkbode dat die voortgesette afname binne ’n raamwerk van redes gesien moet word, en dat mense nie kleinserig oor die redes moet wees nie.

Die NG Kerk hou vanjaar, soos die gewoonte elke vier jaar is, ’n peiling onder die gemeente om ’n beeld van elke gemeente te kry.

Claasen sê die manier waarop die Kerk na lidmaatskap kyk, het heeltemal verander. Daar moet in ag geneem word dat mense nie meer net na een gemeente se dienste gaan omdat hulle volgens bepaalde grense by daardie bepaalde gemeente moet inskakel nie.

“Jy kan nie vir ’n millenniër sê jy móét na hierdie of daardie kerk gaan omdat hy of sy in die opvangsgebied van ’n bepaalde gemeente is nie,” sê Claasen by navraag.

“Die harde geografies omlynde grense vir bepaalde gemeentes bestaan nie meer vir kerkgangers nie. Daar is nou eerder geperforeerde grense met mense wat die een keer saam met vriende na een kerk gaan en die volgende keer dalk weer saam met familie na ’n ander kerk gaan.”

Gemeentes waar verskillende generasies geakkommodeer word en waar dit nie noodwendig as ’n ‘vrouekerk’ of ‘mannekerk’ net bepaalde mense welkom laat voel nie, groei wel steeds.

In die Kerkbode sê Claasen emigrasie en ’n dalende geboortesyfer in tradisionele voedingsgemeenskappe van die NG Kerk dra daartoe by dat die aantal belydende lidmate verlede jaar met 20 812 afgeneem het.

Daar is wel nog gemeentes waar die lidmaatgetalle groei, en Claasen sê dit is veral by dié gemeentes waar groter diversiteit en inklusiwiteit opmerklik is.

“Gemeentes waar verskillende generasies geakkommodeer word en waar dit nie noodwendig as ’n ‘vrouekerk’ of ‘mannekerk’ net bepaalde mense welkom laat voel nie, groei wel steeds.”

Hy sê ook waar gemeentes na buite leef en inskakel by die gemeenskap en eerder die groter gemeenskap dien, groei die gemeentes ook.

Daar word nou klem gelê op transformasie en ’n nuwe manier van kerk-wees met die fokus op groter betrokkenheid by die gemeenskap.

Volgens Claasen word die ouderdomsprofiel van die tipiese bevolkingsgroepe van die drie Afrikaanse Kerke (NG Kerk, Gereformeerde Kerk en Hervormde Kerk) al hoe ouer. Dit is een van die gevolge van die emigrasie van jonger lidmate. Waar ouer lidmate nog in plaaslike NG kerke is, sit hul kinders in Engeland en Kanada.

Wat teenwoordigheid by dienste betref, woon 34% van lidmate Sondae se eredienste by.

********************

Hier volg ook ’n berig in Kerkbode:

Lidmaatskapdaling: Nou moet tendense verstaan word

23 Januarie 2019
Le Roux Schoeman en Conette le Roux

Dit is steeds ’n geval van minder en ouer lidmate, maar die NG Kerk se jongste koppetel­ling is nie rede om “kleinserig” te wees nie, meen dr Gustav Claassen, algemene sekretaris van die NG Kerk.

’n Mens moet volgens Claassen die voortgesette afname in lidmate binne ’n “raamwerk van redes” sien. Hy sê emigrasie en ’n dalende geboortesyfer in tra­di­sionele voedingsgemeenskappe van die NG Kerk dra daartoe by dat die aantal belydende lidmate ver­lede jaar met 20 812 afgeneem het.

Dit bring die aantal belydende lidmate op 691 050 te staan. Ook dooplidate (lidmate wat nog nie belydenis van geloof afgelê het nie) het gedaal met 1 966 vergeleke met die vorige jaar en staan nou op 189 439, volgens die jongste amptelike statistiek wat eersdaags in die Jaarboek van die NG Kerke 2019 sal verskyn.

Claassen meen die fokus verskuif nou na die verskyning later vanjaar van Kerkspieël wat na die tendense agter die data kyk.

Dié gemeente-opname word elke vier jaar gedoen en die doel is om ’n beeld van elke gemeente se huidige bedieningspatroon en situasie te kry. “Die manier hoe ons na lidmaatskap kyk, het heeltemal verander,” sê Claassen, wat volgens hom hoë eise stel aan ’n sensus wat aanvaar dat mense nie oor gemeentegrense heen beweeg nie. “(Ons weet) jongmense pendel tussen gemeentes en jy kry ’n vryvloei tussen hulle.” Claassen meen navorsing toon dat gemeentes waar “diversiteit aangespreek word, groei”. “Dis kerke wat hul eie missionaliteit ernstig opneem,” aldus Claassen.

“Ek dink vir baie mense is ‘lidmaatskap’ nie meer so (belangrik) nie,” meen ds Marlise Malherbe van NG gemeente Richardsbaai in KwaZulu-Natal. “Sommige (mense) beweeg van een event na die volgende gemeente tot waar dit vir hulle ‘lekker’ is … of dit nou musiek, die mense, die gasvryheid is.”

Malherbe, wat werk in ’n provinsie wat, tesame met Namibië, die streek met die kleinste aantal lidmate is, het gesê sy kan aan verskeie redes vir die daling in getalle dink. “Ek dink op die platteland kry mense swaar (al die vrese van grondonteiening ensovoorts is by groot dele in KZN ’n realiteit). En sommige mense verlaat dus die dorp vir die stad of trek na hulle kinders waarvan baie dan nie meer NGK lidmate is nie,” meen sy.


Ontleding: Ons moet sinvol kleiner wees

Die krimping van die kerk is ’n komplekse verskynsel wat genuanseerd benader moet word. Enkelduidige ver­­kla­rings en katastrofe­ring werk nie, skryf Danie Mouton.

Die NG Kerk se sterk historiese band met Afri­kaner-nasionalisme en Afrikaans haal die kerk nou in. As daar nie meer genoeg Afrikaners in die omgewing is nie, dink ons die gemeente is gedoem. Ons kyk die res van die gemeenskap mis, en besef nie Christus stuur ons na ons hele omgewing nie. Dit bring na­tuurlik die gebruik van Afrikaans as die taal van ons hart en diepste geloofsbelewing in gedrang. Wanneer ’n mens sien hoeveel Afri­kaans­spre­kendes deesdae in Engelse kerke aanbid, besef jy ons moet versigtig wees om Afrikaans nie bo die evangelie te prioritiseer nie.

Die dalende lidmaattal vra van die kerk om te leer hoe om sinvol kleiner te wees en eenvoudiger te bedien. Sinvol kleiner beteken dat die amp van die gelo­wi­ge en die amp van ouderling en diaken geak­tiveer en toegerus word om die gemeente te lei. Dit geskied in ’n hele aantal Oos-Kaapse gemeentes (en elders) in vennootskap met ringsleraars. Ons sal in die toekoms meer hiervan moet sien.

Thomas Friedman is in die kol as hy sê: “People moved from being an audience to being participants”. Waar gemeentes lidmate toelaat om sinvol deel te neem aan die erediens word jongmense veel makliker ingesluit. Dit verg openheid by le­raars en die gewilligheid om meer te­rug te staan sodat ander gawes en erva­ring tydens die erediens benut kan word. ’n Krisis is dat ouer lidmate dikwels nie die jonger lede van die gemeenskap raaksien nie. Dan dink hulle daar is nie jongmense nie. Ons het heelwat voorbeelde van gemeentes wat dit regkry om jongmense sinvol in te sluit.

– Ds Danie Mouton is direkteur van die Oos-Kaaplandse Sinode.

2 thoughts on “NG Kerk se lidmate val in 19 jaar met 25%”

  1. Dankie vir die artikel. Ek stem saam dat die Ng kerk nou God se woord oor homoseksualiteit verander het dit is en bly n gruwel in God se oe dit is n seksuele sonde soos pedofilie, sodomie .bestialiteit ongetroude paartjies wat saam bly. Dit gaan n ketting reaksie afgee.
    Ek glo die persone wat dit so openlik ondersteun op utube satan gekies het . Elkeen van ons het n keuse en ons bid tot God om mense se oe te open. Die kerk is sekerlik in verdrukking want God se woord stem nie ooreen met ons land se handves van mense regte nie daarom dat gays die kerk hof toe kan vat en baie mense val onder die bietjie druk en gee hulle saligheid weg. God is liefde en vol genade vir die wat Hom kies God se ware woord sal altyd uitgedra word omdat Hy self in beheer is. Daar moet meer gepreek word oor die kruis dood van Christus en die ware betekenis daar agter nl dat God wat sondeloos was al ons sonde op Hom moes neem en Hy deur sy Vader verlaat was sodat ons gered kon word ons wat nooit een oomblik sonder sonde is nie.

  2. Dankie vir die artikel …dis seker belangriker om by die oplossing uit te kom as om na die logiese gevolg te kyk van kompromie..!
    Openbaring 3 (Gemeente van Laodicéa) waarsku die gemeentes teen die gees van akkomodasie (kompromie)
    Dis nie slegs n waarskuwing vir die NG Kerk nie maar wel vir die Gemeentes ( Wie ñ oor het laat hom hoor wat die Gees aan die “gemeentes” sê (Openbaring 3:22 )
    Die oplossing is eenvoudig…”Be Zealous and Repent” (Revelation 3:19)
    Belydenis moet herstel word in die Kerke…die Bloed van Jesus moet weer terugkom in ons Kerke….
    Ons as Kerke verwag die rokers en drinkers en sondaars moet belydenis doen..maar ons wil nie van ons sterkste verslawing .ons sterkste dagga en dwelms belydenis doen nie….
    “One of the strongest addictions…are Non Biblical Beliefs ”
    Die Kerk het Belydenis van sonde uit die Kerk verwyder
    Die Kerk het eerstens die Kragtige werking van die Heilige Gees in ons samekomste gemarginaliseer as ñ manifistasie wat beperk moet word tot die charismatiese beweging…
    Geen wonder allerhande ander grondbeginsels is gemarginaliseer op grond van kerk leerstellings nie….
    Die Kerke weet baie goed diep in hulle harte hoe die gees van akkomodasie die kerke gevang en kragteloos gemaak het…
    Geen wonder die Here self sê dat Hy dan die kerk uit Sy mond sal spoeg….eintlik is die regte woord Braak of Kots….
    Kom ons elkeen sit ons hand op ons bors….soos die Tollenaar wat sy vuis teen sy eie bors geslaan het….mag elkeen van ons kerke die vuis teen sy eie bors slaan….
    Ek groet my mede broers en susters met die eerste Boodsksp van die eerste Kerk in Handelinge….
    “Repent and let everyone of you be Baptized for the remission of sins….and you shall receive the gift of the Holy Spirit ” ( Acts 2:38)

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui