Wie is Nelus Niemandt?

alt
Nelus Niemandt het Piet Strauss opgevolg as moderator van die NG Kerk vanaf 2011 tot Oktober 2015. Daarna het Nelis Janse van Rensburg vir Nelus Niemandt opgevolg.

Nelus is oor die algemeen redelik versigtig om sy teologiese sieninge ruiterlik te erken en dit opsigself sê reeds baie van wat hy glo. Op 1 Julie 2015 het hy egter baie duidelik verklaar dat hy ten gunste van homoseksuele verhoudings is. Nog ’n leidraad van dit wat hy glo is sy vriendskap met ontluikendes soos Brian Mclaren en Rob Bell.

Jesus se opstanding

Hy is baie traag om hom uit te spreek oor Jesus se opstanding. In ’n Facebookdebat (kyk Wie val wie aan) sê Nelus dat die opstanding uiters belangrik is, maar toe hy gevra word of hy vir Ferdie Mulder is of Julian Müller, toe vra hy hoekom hy moet kies tussen hulle. In ’n persoonlike e-pos aan my het Ferdie egter gesê dat Nelus homself in 2005 tydens die opstandingsdebakel sterk by Julian Müller en Jurie le Roux geskaar het teen Ferdie.

Bestaan van die duiwel

Uit ’n radio-onderhoud met Evert Buurman op www.uitsaaines.co.za, is dit duidelik dat Nelus Niemandt nie glo dat die duiwel ’n persoon is nie (kyk Nelus Niemandt oor die bose en seks voor die huwelik). Dit het reuse teologiese gevolge.

Universalisme

Tydens die Hoëveld Sinode het ds Louis Scheepers gesê dat toe hy ’n teologiese student by Tukkies was, Nelus gesê het dat Christene en die Moslems dieselfde God aanbid en ook dat Nelus hom nie wou antwoord toe hy hom gevra het of Jesus werklik opgestaan het nie.

In Bell kry skel tot byna in die hel (2 Apr 2011) verdedig Nelus vir Rob Bell nadat hy kritiek ontvang het oor sy boek Love Wins, waarin hy beweer dat God nie mense hel toe sal stuur nie.

Wynand Louw se vraelys

Dr Wynand Louw het vir Nelus eenvoudige vrae gevra wat hy nie wou antwoord nie. Daarop het Wynand ’n ope brief aan Nelus gerig om Nelus te dwing om te verklaar wat hy glo. Daarop het Nelus ’n elle lange antwoord geskryf oor die sogenaamde leuens wat oor hom versprei word, maar steeds het hy nie Wynand se eenvoudige vrae geantwoord het nie. (Kyk Moderator ontmasker “aanstootlike leuens” – prof Nelus se brief – 11 Maart 2012)

Ds Louis Scheepers het die volgende opmerking gemaak nav Wynand se artikel Antwoord op Prof Nelus Niemandt se artikel in Kerkbode 16/03/2012:

Wynand, ek ondersteun jou ope brief, en sal ook graag die antwoorde op hierdie vrae wil sien! Toe ek die antwoord van Prof Nelus Niemandt lees, was dit soos dejavu. Dit is altyd dieselfde antwoorde oor en oor. Ons “behoudendes” gun nie vir hulle ’n plek nie, en probeer hulle swartsmeer.

Ek het in 2005 by Tukkies begin teologie swot, en was een van die wat destyds Ferdie Mulder se verklaring onderteken het (en ONGELUKKIG daarvan onttrek het uit onkunde, nadat ons met regstappe gedreig is). Ek is ’n baie sterk behoudende teoloog en het beleef hoe jy vertrap en sleg gesê word, wanneer jy aan die behoudende-evangeliese kant staan. Ek kan boeke skryf oor my ses jaar van “hel” by Tukkies se teologiese fakulteit.

Ek het self in Prof Niemandt se klas gesit en het self al met hom verskil oor van sy sieninge. Ek het dieselfde tipe antwoord gekry; waar hy letterlik sy rug op my draai en sê dat hy nie verder met ’n mens gaan praat oor die sake nie.

In ons gemeente moes ek al hoeveel keer vure doodslaan, nadat lidmate uit die NG Kerk wil bedank agv besluite deur ons Algemene Sinode en sekere artikels en dinge wat in die koerante is. Ek het al by verskeie mense gehoor dat hulle skaam kry om deel te wees van die NG Kerk.

Ek kry ook skaam om te sê dat ek deel is van die NG Kerk, na besluite soos die oor die duiwel se bestaan! Dit is plein kettery! Dit is tyd dat ons kerk se leierskap verantwoording doen, en ophou wegkruip agter die leuen dat behoudende teoloë hulle probeer swartsmeer. Ek is bereid om my geloof eerlik en opreg voor die hele wêreld te bely, en sal dit doen selfs al sal dit tot die dood lei! As ek bereid is om dit te doen, behoort ons kerkleierskap dit ook te doen!

Die vraag is of die NG Kerk gaan kan bly voortbestaan as dinge aangaan soos nou! Ek sien ’n skeuring kom, en ek dink nie dit is meer ver nie!

Kyk ook

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui