Nelus Niemandt se pleidooi: ‘Gooi NG Kerk óóp vir gays’

Kyk ook:

Met die artikel hieronder wat in Beeld verskyn het, het die NGK se moderator spreekwoordelik uit die kassie geklim. Dit is goed so. ’n Mens het dit eintlik al lankal geweet, maar ’n mens het die gevoel gekry dat hy nooit die moed gehad het om dit prontuit te erken nie. Miskien het dit tyd geword dat hy ook openlik verklaar wat sy siening oor ander dinge is. Kyk Moderator ontmasker “aanstootlike leuens” – prof Nelus se brief.

Let wel, Nelus vra dat biseksualiteit ook genormaliseer word. Die implikasie is dat promiskuïteit ook bevorder word. (Dit is die gebruik om seks te hê met verskillende seksmaats.)

Die vraag is nou wat NGK lidmate te doen staan? Moet ’n mens aan ’n kerk behoort waar die moderator openlik progay is? Of moet ’n mens eers sien en kyk wat tydens die algemene sinode in Oktober hierdie jaar gebeur? Hierdie voorspel in elkgeval niks goeds vir die komende algemene sinode waar homoseksualiteit weereens bespreek gaan word. As verder in ag geneem word dat die algemene sinode baie verklein is en dat homoseksuele huwelike oral in die VSA gewettig is, kan ’n mens maar net wonder wat besluit gaan word. Kyk ook Ope byeenkoms van die NGK se Taakspan oor Homoseksualiteit in Maart 2015 te Stellenbosch.

Wat staan lidmate en NG Kerke te doen indien die algemene sinde wel ruimte maak vir homoseksuele mense?

**********

Nelus Niemandt se pleidooi: ‘Gooi NG Kerk óóp vir gays’ | Netwerk24

Hy vra dat seksverbod waai

Deur Claudi Mailovich

Woensdag 01 Julie 2015

Dit het tyd geword dat gay NG predikante nie meer gedwing word om selibaat te wees nie en dat gay paartjies se huwelik met die volle seën van die kerk voltrek word.

Dit is die pleidooi van prof. Nelus Niemandt, algemene moderator van die NG Kerk.

Hy hoop die besluit oor gay predikante sal in Oktober op die algemene sinode opgehef word en dat hulle ook sal kan trou.

“My hoop is dat die lesbiese, gay, biseksuele en transseksuele (oriëntasie) genormaliseer sal word (binne die kerk),” het Niemandt gesê.

Hy het in sy persoonlike hoedanigheid geantwoord op die vraag waar die Suid-Afrikaanse geloofsgemeenskap staan wat homoseksuele huwelike betref byna tien jaar nadat burgerlike verbintenisse gewettig is.

Dit is volgens hom nie meer ongewoon om ’n gay paartjie in ’n kerk te hê wat ten volle by die kerklike lewe geïntegreer is nie, maar hy sal graag nog wyer aanvaarding van gays in die kerk wil hê.

Die algemene sinode het in 2013 ’n taakspan opdrag gegee om onder meer standpunt in te neem oor of gay ampsdraers in praktiserende burgerlike verbintenisse vir die kerk aanvaarbaar kan wees en hul verslag sal in Oktober voor die algemene sinode in Pretoria dien.

Die kerk het laas in 2007 ’n amptelike besluit oor homoseksualiteit geneem.

Die Amerikaanse hooggeregshof het in die jongste hupstoot vir gay-regte Vrydag beslis die land se grondwet waarborg die reg op ’n huwelik tussen mense van dieselfde geslag.

Volgens dr. Wouter van Wyk, sekretaris van toerusting, inligting en kommunikasie van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (NHKA), sal homoseksualiteit waarskynlik op hul algemene kerkvergadering in 2016 weer op hul sakelys wees.

In 2013 is gekies om nie ’n besluit oor die kwessie te neem nie.

Dié kerk aanvaar nie gay dominees nie – selfs al is hulle selibaat.

Die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) het reeds in 2003 hul besluit van “sterk teenstand” teen alle vorme van buite-egtelike en homoseksuele omgang geneem.

Sedertdien was daar volgens ds. Cassie Aucamp, wat verantwoordelik is vir die skakeling met die regering en ander kerke in Suid-Afrika, geen versoek om ’n hersiening van die besluit nie en was dit dus nog nie weer op die GKSA se sakelys nie.

Ds. André Muller, stigter en hoofleraar van die Reformerende Kerk, het gesê hy het nog nie veel verandering in die kerke ervaar sedert die wettiging einde 2006 nie. Hy is opgewonde oor wat die uitwerking kan wees van die Amerikaners se besluit, wat hy glo mettertyd wel gesien sal kan word.

“Die kerke in die breë skop nog vas. Dit is skrikwekkend hoe veroordelend hulle nog is.”

Tog meen Muller, wat ’n NG leraar was voordat hy meer as twee dekades gelede bedank het omdat hy gay is, daar is wel predikante wat baie positief en aanvarend is.

“As Suid-Afrika gevra moes word om ’n referendum te hou soos in Ierland, sou dit nie gebeur nie. In die wetboeke is dit reg, maar nog nie in mense se harte nie.”

************

Beeld sê: NG moderator gee sterk leiding oor gays

Van HIER gekopieer.

Vrydag 03 Julie 2015 03:20

Prof. Nelus Niemandt, moderator van die NG Kerk se algemene sinode, is dapper met sy pleidooi dat die kerk sy deure sonder voorbehoud vir gay dominees en paartjies moet oopgooi.

Die NG Kerk het die laaste paar jaar oor die regte van gay lidmate geworstel.

Nuwer en vriendeliker klanke het teenoor gays opgeklink, maar dit was steeds ’n minderheidstem in die kerk.

Die verdeeldheid is weerspieël in die kompromis-besluit wat die kerk se algemene sinode in 2007 daaroor geneem het.

Daarvolgens word ’n huwelik as ’n verbintenis tussen een man en een vrou beskou. Gay dominees word net tot die amp toegelaat as hulle selibaat bly.

Baie mense het gereken die kerk het daarmee te ver gegaan, terwyl ander meen dit was te min.

Intussen het baie water in die see geloop.

Gay-huwelike is reeds sedert 2006 wettig in Suid-Afrika. Hier is gay- en lesbiese huwelike niks vreemds meer nie.

Ierland het onlangs ná ’n referendum besluit om gay-huwelike te wettig en in die VSA het die land se hoogste hof verlede week goedkeuring vir gay-huwelike gegee.

In die lig van dié positiewe sentiment vra Niemandt dat die regte van lesbiese, gay, biseksuele en transseksuele mense in die kerk genormaliseer word.

Niemandt is ’n ervare kerkleier. Hy weet vir seker dat sy siening tot groot ontevredenheid onder sekere lidmate kan lei.

Nietemin staan hy op vir wat hy glo reg is. Dit is onverskrokke ­leierskap wat lof verdien.

Deur sy siening te lug drie maande voor die kerk se algemene sinode in Oktober gee Niemandt die beswaardes oorgenoeg kans om wéér oor die saak te debatteer.

Vir NG lidmate wat gay is en wat boonop graag bande met die kerk wil behou, is dit ’n baie belangrike saak.

Uit die wettiging van gay-huwelike in die samelewing het ons geleer dat dit niks wegneem van mense wat daarteen gekant is nie.

Dit gee aan ander, diskrimineer teen niemand en gun diegene wat van jou verskil lewensruimte.

1 thought on “Nelus Niemandt se pleidooi: ‘Gooi NG Kerk óóp vir gays’”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui