Nelis, wat is die doel van die Algemene Sinode?

Daar is aan Nelis Janse van Rensburg, moderator van die NGK, gevra om die 2016-besluit oor selfdegeslagverhoudings te verduidelik en hy het dit in die volgende Youtube video (21 Nov 2016) geantwoord:

Hier volg ’n opsomming van wat hy gesê het (kyk bylaag A onder vir ’n meer volledige weergawe van wat hy gesê het):

  1. Die NGK is oortuig dat daar slegs ruimte is vir seksuele omgang binne ’n huwelik tussen ’n man en ’n vrou. Dit is wat die Bybel ons leer.
  2. Ons aanvaar die Bybel as ons gesag en dit is waarop die eerste besluit berus.
  3. Mense is gelykwaardig.
  4. Gemeentes besluit self wie in hulle ampte is (leraar, ouderling, diaken en lidmaat). Dit was nog altyd so.
  5. Die sinode gaan nie besluite op gemeentes afdwing nie. As gemeentes nie deur die Gees gelei voel om ruimte te maak vir mense wat in homoseksuele verhoudinge staan nie, hoef hulle nie.
  6. Omdat daar tans “duisende” homoseksuele mense in die NGK is en daar geen tugsaak teen enige van hierdie persone is nie, is dit ’n bewys dat gemeentes reeds besluit het om ruimte te maak vir mense wat in homoseksuele verhoudinge is.
  7. Predikante mag op hierdie stadium nie gay verbintenisse legitimeer nie. Daarvoor het ’n mens ’n sinodebesluit nodig.

Dit is baie duidelik dat daar baie verwarring en teenstydighede is:

As ’n mens in ag neem hoe progays gereageer het op die 2016-besluit (kyk ‘Ons is nie welkom nie’) en as in ag geneem word wat Nelis in punt 1 en punt 2 hierbo sê, dan wil dit voorkom of die 2015-besluit werklik in sy totaliteit omgedraai is. Dus is daar slegs ruimte vir seksuele omgang binne ’n huwelik tussen ’n man en ’n vrou. Dit is ook wat die Bybel leer. Die afleiding wat gemaak moet word is dat enige ander seks nie-Bybels is en daarom sonde is.

Maar dan sê Nelis dat (sommige) gemeentes eintlik klaar besluit het om mense in homoseksuele verhoudinge te akkommodeer. Dus laat hierdie gemeentes sonde toe sonder om iets daaraan te doen. En verder sê hy dat die Algemene Sinode nie gemeentes gaan dwing om mense in homoseksuele verhoudinge te akkommodeer nie. Dit is heeltemal teenstrydig met die gedagte dat die 2015-besluit omgedraai is. Dit klink eerder of die 2015-besluit steeds geld.

Die enigste feit waarvan daar sekerheid is, is dat predikante tans nie selfdegeslaghuwelike kan bevestig nie.

Daar is egter ’n paar dinge wat baie onduidelik is:

  1. Is die 2015-besluit werklik in sy totaliteit omgedraai of is slegs die gedeelte omgedraai dat predikante selfdegeslaghuwelike kan bevestig?
  2. Wat gaan die Algemene Sinode met predikante maak wat wel mense in selfdegeslaghuwelike bevestig?
  3. As gemeentes nie aan die AS gehoor hoef te gee nie en mag doen soos hulle “deur die Gees gelei word”, WAT IS DIE DOEL VAN DIE ALGEMENE SINODE?

Bylaag A: Byna volledige antwoord van Nelis Janse van Rensburg volgens Youtube video:

Die eerste en ek dink die belangrikste besluit wat eintlik in die middel van ’n stel besluite gelê het, is dat die NGK oortuig is dat seksuele omgang tussen man en vrou nét in die huwelik hoort. Dat daar eintlik geen ander ruimte is nie. Dat dit die Bybelse taal is en dat die Bybel die huwelik as ’n ruimte skep vir seksualiteit, en spesifiek soos dit bewoord is: “seksuele omgang”. Dit is eintlik die kern van die hele besluit.

Die tweede belangrike punt in die besluit wat geneem is, is dat die Bybel as gesag aanvaar behoort te word. Dit is waarom die eerste besluit berus is. Die Bybel praat eintlik net van die huwelik as die ruimte vir die seksuele omgang.

Nou die verskillende interpretasies van die Bybel was mos nou eintlik baie duidelik in die sinode. Dit is nou geen geheim dat mense die Bybel nog al die eeue verskillend gelees het en verskillende perspektiewe daarom gehad het nie.

Ek dink dit het in die sinode helder geword dat almal ernstig is oor die gesag van die Bybel. Toe daar gestem is oor die gesag van die Bybel was dit eenparig. Die Bybel is die bron waaruit ons onderskei.

Die derde baie belangrike punt in die besluit was dat mense gelykwaardig is. Ongeag hulle ras, seksuele oriëntasie en geslag. Mense is gelyk voor God.

Die vierde ding wat baie belangrik uit die besluit uitkom is dat gemeentes inderdaad besluit oor wie in hulle ampte is in die vier ampte van die kerk: leraar, ouderling, diaken of lidmaat. En dit was nog altyd so. Dit het eintlik niks verander nie. Gay mense is gedoopte lidmate van die kerk. Maar, het die sinode gesê, die maatstaf wat julle aanlê is dieselfde moreel etiese maatstawwe wat julle aanlê vir heteroseksuele mense. So, die gemeente kan besluit: ons het ’n gay dominee. Dit is waar die vraag ontstaan, die weerstand ontstaan, omdat die eerste besluit sê dat seksuele omgang net binne die huwelik moontlik is beteken dit gewoonlik dat as die gemeente bewus is dat die dominee in ’n seksuele verhouding met iemand anders is [’n mens neem aan hy praat van iemand van dieselfde geslag] dan sal dit die persoon uitsluit. Maar in beginsel het al die lidmate toegang toe die ander drie ampte. So dit is ’n baie belangrike besluit.

Die belangrike ding is ook dat die sinode gesê het: ons gaan nie met stokke en swaarde met die gemeentes werk nie. Inteendeel, as die Gees die gemeente nie oortuig het van iets wat die sinode besluit het nie, het die gemeente steeds ruimte om binne die konteks van die gemeente self met onderskeiding daarmee om te gaan. Omdat dit sy uitgangspunt is volg dit net logies dat hy nog nie besluit het dat hy homoseksuele verhoudings gaan erkenning gee nie en ook nie gaan legitimeer nie en dit ook nie gaan bevestig nie. Dit is die implikasie. Dit staan nêrens nie, maar dit is die implikasie van daardie besluit.

Wat egter in gemeentes gebeur, en dit gebeur al vir jare, dat gemeentes mos nou daardie onderskeidingsvermoë het, hulle mag besluit. In die NGK is daar duisende gay lidmate en hulle is gedoopte lidmate, belydende lidmate en in die NGK is daar op die oomblik nie een tugsaak teen iemand omdat hy gay is nie. So die gemeentes het eintlik klaar besluit dat ons ’n gay lidmaat akkommodeer. Ons diskrimeer nie teen hulle nie. Daar is ook nie een tugsaak teenoor ’n gay lidmaat wat in ’n verhouding is nie. So die gemeentes het dit óók besluit, dat wanneer ons ’n gay lidmaat het wat in ’n verhouding is gaan ons ook nie optree teenoor daardie lidmaat nie. En dit het nie verander in die situasie nie. Gemeentes moet steeds met liefde omgaan soos die Gees hulle lei. Wat hulle nie kan doen nie, is om hulle dominee gevoegdheid te gee om gay verbintenisse te legitimeer nie. Om dit te kan doen het jy ’n algemene sinode besluit nodig. In die gemeente konteks rondom die hantering van gay lidmate dink ek moet gemeentes gewoon soos in die verlede hulle oordeel gebruik, steeds hulle oordeel gebruik.

Kyk ook

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui