Louis Jonker: Is Jesus Christus die enigste pad na God toe?

Kyk ook:

In ’n RSG-onderhoud met Jean Oosthuizen, lei ’n mens duidelik af dat Louis Jonker ’n universalis is.

In George Claassen en Frits Gaum se boek God? Gesprekke oor die oorsprong en uiteinde van alles, Maart 2012, bladsy 91, word dit bevestig:

Is Jesus Christus na jou mening die enigste pad na God toe, Louis?

Omdat ek maar te bewus bly van my (en ander mense!) se gebrekkige vermoë om God se werklikheid te kan ken en beskryf, kan ek nie ’n finale antwoord hierop gee nie. Ek kan nie oordeel oor mense wat – omdat hulle in ander kuturele omgewings gebore is en leef – dalk nooit die geleentheid het of gehad het om Jesus Christus te ontmoet nie. My verstaan van God as ’n liefdevolle God laat nie ruimte vir die verwerping van sulke mense nie! Terselfdertyd is ek terdeë bewus van die Nuwe-Testamentiese uitspraak dat Jesus Christus die weg en die waarheid en die lewe is. En met hierdie uitspraak kan ek heelhartig saamstem.

Wat vir my wel besonders is van die Christelike geloof (en veral die Protestants-gereformeerde weergawe daarvan) is die prominensie van genade. Dis die enigste godsdiens – sover ek weet – wat nie werk met allerhande verdienstes nie. Ek sou baie gesukkel het met ’n verdienste-godsdiens. En ek is dankbaar vir ’n genade-godsdiens! Vir my is Jesus Christus ’n uitnemende uitdrukking van die genade-karakter van godsdiens. Hoewel ek dus nie groot uitspraak wil maak oor Jesus Christus as die enigste God nie, is ek tog oortuig dat Hy vir mý die beste pad is!

5 thoughts on “Louis Jonker: Is Jesus Christus die enigste pad na God toe?”

  1. Ek glo nie hierdie vraag gaan erens uitkom nie maar probeer is die regte geweer.
    As ek sou sê Jesus is die enigste pad na God toe kan dit mos nie waar wees nie. Ek aanvaar dat baie mense nie Jesus kan ontmoet nie weens hulle kultuur ens, maar wat ook dan van die mense wat voor Jesus geleef het. As Jesus die enigste pad is, wat dan van Moses en al die profete en mense wat in God geglo het? Daar kan mos nie twee stelle reels wees om by God uit te kom nie.

    1. Ponkie, kom ons begin eers met die volgende:
      Wat glo jy van Jesus? Was Hy werklik God?
      Het Hy werklik gesê dat daar slegs een weg na die Vader is?
      Het Hy die opdrag gegee om aan ander nasies hierdie boodskap te gaan verkondig?

      1. Hi Daniel baie dankie vir jou antwoord, maar jy wil nou presies van my weet wat ek van jou wil weet. Jy antwoord my vraag met ‘n vraag. Ek vra weer. Wat van mense wat Jesus nie geken het nie, en dus nie kan antwoord op die vrae wat jy vir my vra nie? Kan hulle dan nie gered word nie?

        1. Ponkie, die baie simplistiese antwoord is “nee”. Dit is hoekom Jesus ons uitgestuur het met die “groot opdrag“. As dit anders was, op grond van watter kriteria sou mens hemel toe kon gaan? Goeie werke? Die Bybel is baie duidelik dat goeie werke jou nie kan red nie.
          Oor Moses, Abraham en al die Ou Testamentiese karakters: Hoeveel hulle presies geweet het van ‘n drie-enige God weet ‘n mens nie, maar dinge het verander met die koms van Jesus. Voor Jesus het hulle offers gebring. Na Jesus het offers weggeval en was Jesus die volmaakte offer. Miskien kan ‘n mens sê, sou Moses en Abraham na Christus geleef het, sou hulle geglo het dat Jesus die seun van God was.

  2. Dankie Daniel kom ons los dit maar daar. Jy weet ook nie en jy raai ook maar en jou antwoord maak geen sin nie.
    Dankie vir jou tyd.
    Groetnis

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui