Laat NG kerkrade oor gays besluit

Die kuratorium (die liggaam wat toesig hou oor die opleiding van teologiese studente by ’n universiteit) Stellenbosch vra dat selibaatheid as voorwaarde vir gay leraars geskrap word (kyk twee artikels hieronder).

Indien homoseksualiteit sonde is (wat wel die geval is – kyk Die Bybel oor Homoseksualiteit), en hierdie versoek moet konsekwent toegepas word, is die implikasie dat predikante ook toegelaat moet word om te vloek, egbreek te pleeg, seks met diere te hê, banke te beroof in hulle vrye tyd, ens.

Johannes de Koning lig die implikasie van hierdie besluit baie mooi uit in die artikel Pienk Stellenbosch?.

**********

Kuratorium vra skrap van voorwaarde

24 September 2015, Volksblad

Claudi Mailovich

JOHANNESBURG. – Die kuratorium Stellenbosch vra dat selibaatheid as voorwaarde vir gay leraars geskrap word.

Die NG Kerk laat wel homoseksuele gelegitimeerdes met ’n selibate lewenstyl tot die predikantsamp toe, maar die kuratorium vra in ’n beskrywingspunt in die aanvullende agenda vir die NG Kerk se algemene sinode dat dié standpunt gewysig word. Hy beveel aan die verlening van predikantsbevoegheid moet ’n taak van die algemene sinode wees.

Die NG Kerk het in 2007 ’n agtpunt-standpunt oor homoseksualiteit ingeneem. Daarin word bepaal die verbintenis tussen een man en een vrou word as ’n huwelik beskou.

Die kuratorium vra die NG Kerk se amptelike erkenning en seën “vir die burgerlike verbintenis tussen homoseksuele pare wat ’n durende verhouding van liefde en trou aan mekaar wil bevestig”. Die kuratorium sê in dié beskrywingspunt, wat deur die NG Kerk-dosenteraad gesteun word, hy is dankbaar dat die NG Kerk ten volle vir homoseksuele mense as lidmate en in die kerkampte ruimte maak.

Hy skryf hy is “geroepe” om standpunt in te neem “teen teeenstrydighede in die vorige besluite wat die diepste mensewees van die studente wat ons oplei en toelaat, raak”. Die kuratorium werk ten nouste met teologiestudente, die voornemende NG Kerk-predikante, en hy is “intens bewus” van die spanning, omdat gay mense in ’n vaste verhouding gelegitimeer, maar nie in ’n gemeente georden kan word nie. Die oostelike sinode het ook ’n beskrywingspunt ingedien waarin hy vra dat volstaan moet word met die besluite van 2007 oor homoseksualiteit en die besluit oor die huwelik in 2011 en die wysinging daaraan in 2013.

Die algemene sinode vergader vroeg in Oktober in Pretoria.

*****

‘Laat NG kerkrade oor gays besluit’ | Netwerk24

Dan kan sulke paartjies trou, stel taakspan voor

Claudi Mailovich, Woensdag 23 September 2015 04:30

Die NG Kerk is in ’n morele skaakmatsituasie oor verhoudings tussen mense van dieselfde geslag.

Word sulke verhoudings aanvaar, sal dit vir talle lidmate en evangeliese groepe ’n bewys wees van die kerk se ongehoorsaamheid aan “wat hulle beskou as die direkte Skrifuitsprake teen homoseksualiteit”.

Keur die kerk sulke verhoudings af, “sal ons ontrou wees aan die Skrifboodskap van Christus oor die menswaardigheid van alle mense en die aanvaarding van alle mense en hul insluiting in God se genadeverbond”.

Vir ’n taakspan van die kerk wat navorsing oor verhoudings tussen mense van dieselfde geslag gedoen het, was die hartseerste dat talle lidmate steeds dié opvatting het: “Ons aanvaar die sondaars, maar nie die sonde nie.”

Die taakspan van drie sal hul bevindings oor minder as twee weke aan die verteenwoordigers van 1 100 gemeentes verduidelik.

Die aanvullende agenda, waarin die taakspan se verslag gepubliseer is, is Dinsdag op die kerk se Facebook-blad geplaas.

In die verslag, wat handel oor die etiese riglyne vir selfdegeslagverhoudings, is bevind dat seks in die ruimte van ’n permanente, eksklusiewe verhouding tussen twee mense hoort.

Die taakspan herbevestig in sy kommentaar dat ’n huwelik tussen een man en een vrou is, die algemene sinode in 2004 en 2007 besluit het.

Hulle stel egter voor dat die “diskresie van kerkrade om in die gees van Christelike liefde op te tree” uitgebrei word sodat kerkrade gegrond op plaaslike omstandighede en die morele status van gay-verhoudings self ’n besluit oor vaste verbintenisse kan neem.

Dan sou gay paartjies in ’n kerk verbind kon word indien ’n kerkraad dit sou goedkeur.

In dié stadium moet ’n gay leraar selibaat wees om ’n gemeente te kan lei en gay paartjies kan nie in die kerk in die eg verbind word nie.

Prof. Nelus Niemandt, moderator van die NG Kerk, het vroeër vanjaar ’n persoonlike pleidooi gerig waarin hy vra dat gay predikante nie gedwing moet word om selibaat te wees nie. Hy het toe onder hewige kritiek deurgeloop.

In die verslag word die verskeie standpunte in besonderhede uiteengesit benewens die tradisionele verskille in hoe die tekste verstaan word.

Daar word onder meer geskryf dat die kerk se standpunt oor gay-verhoudings groot seer veroorsaak, vir die persoon én familielede.

Maar daar is ook die standpunt dat die kerk immoraliteit sal verwelkom en die Bybel sal verontagsaam as hy homoseksuele verhoudings sou goedkeur.

Hulle skryf daar is ontevredenheid oor hoe verdoemende tekste oor onder meer egskeiding en vroue in die amp met ’n moderne bril gelees word, maar dieselfde nie met homoseksualiteit gedoen word nie.

Die taakspan het homoseksuele paartjies van oor die land heen ontmoet en dit het vir hulle duidelik geword dat alle homoseksuele mense nie oor dieselfde kam geskeer moet word nie.

“Die perverse homoseksuele optrede wat ons vooroordele voed en wat dan veralgemenend en onregverdig aan alle homoseksuele toegedig word, moet as oneties van die hand gewys word,” lui die verslag.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui