Kerksaak: ‘Ook bínne kerk is vele standpunte’

Kyk ook:

Kerksaak: ‘Ook bínne kerk is vele standpunte’

13 Maart 2019
Louis Jonker

Louis Jonker van Stellenbosch skryf: Ek het met groot dankbaarheid kennis geneem van die uitspraak wat in die Noord-Gautengse Hooggeregshof oor die NG Kerk se 2016-besluit rondom selfdegeslagverhoudings gelewer is, en dat die 2015-besluit nou weer die geldende een is.

Die onlangse hofuitspraak laat myns insiens geregtigheid geskied teenoor LGBTIQA+ lidmate en ampsdraers, en ek verheug my saam met hierdie lidmate en ampsdraers oor die hernude erkenning wat hulle binne die NG Kerk ontvang. Ek verbind myself daartoe om saam met hierdie lidmate en ampsdraers die geloofspad verder te stap, en sien uit na hul groter deelname in die volle spektrum van die NG Kerk se bedieninge in diens van die Here.

Ek het egter ook met ontsteltenis uit die volledige hofuitspraak kennis geneem van ’n bepaalde verweer wat deur die NG Kerk in die hooggeregshof aangevoer is om die Kerk se onskuld met betrekking tot onregverdige diskriminasie te bewys. Die volgende aanhaling uit die hofuitspraak het betrekking: “On behalf of the Church it was submitted that the 2016 decision did not restrict Gaum’s freedom of association; Gaum is free to join another Church that interprets the Bible in the way that Gaum does” (p. 34 van hofuitspraak). Die hof het hierdie verweer verwerp met betrekking tot die impak wat dit het op die kwessie van onregverdige diskriminasie (waaroor ek dankbaar is). Dit moet egter uitgewys word dat die standpunt wat namens die NG Kerk aangevoer is, ’n oorvereenvoudiging en wanvoorstelling is van die kwessie van Bybelinterpretasie binne die Kerk. Dit moet duidelik gestel word dat daar ook bínne die NG Kerk vele Bybelwetenskaplikes, teoloë en ander gelowige lidmate is wat die Bybel op presies dieselfde wyse as ds Laurie Gaum en ander LGBTIQA+ persone interpreteer. Om voor te gee dat daar slegs een manier van Bybelinterpretasie binne die NG Kerk gehandhaaf word (wat die anti-gay standpunt verteenwoordig, en waarvan ds Gaum en ander gay-lidmate dan sou afwyk), is oneerlik, verwarrend en nie in lyn met die seisoen van menswaardigheid waartydens die 2016-besluit geneem is nie.

Ek wil voorts op die NG kerkleiding ’n beroep doen om die hofuitspraak te aanvaar in die gesindheid dat die Here van die Kerk óók deur sekulêre instellings met die Kerk kan praat (soos reeds uit die destydse Du Plessis-saak geblyk het). Ek verbind my daartoe om die NG Kerkleiding in my voorbidding aan die Here op te dra vir nugterheid, nederigheid, onderskeidingsvermoë, geduld en veral liefde in hierdie moeilike tyd waarin hulle die Kerk moet lei. Mag die Here aan u, en aan ons almal, die wysheid gee vir ’n oomblik soos hierdie.

LEES OOK: Kerksaak: Lees volledige uitspraak hier

LEES OOK: Kerk krap kop oor leraars wat nie wil aftree

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui