Jy moet kies tussen die grondwet en die Bybel

Kyk ook:

Jan Louw het die volgende artikel op Facebook geplaas op 2 Desember 2018.

***********

Jy moet kies tussen die grondwet en die Bybel

Dit is die keuse waarvoor Christene in SA en trouens Christene oor die hele wêreld in toenemende mate gestel word.

  • ’n Parlementslid van COPE, het pas wetgewing by die speaker ingedien waarvolgens huweliksbevestigers van die staat nie meer die reg sal hê om te weier om mense in homoseksuele verhoudings te trou nie. In ’n berig op TV hieroor is ’n plakkaat vertoon met die strekking: WE MAKE LAWS ACCORDING TOT THE CONSTITUTION AND NOT THE BIBLE.
  • Daar dien ook nou ’n saak voor die Konstitusionele Hof oor die grondwetlikheid van ouers se reg om hulle kinders met ’n pak slae te tug.

Sowat 80% van die mense van SA dui aan dat hulle Christene is. Dieselfde situasie geld ook in die VSA. Tog word Christene gekonfronteer met wetgewing wat meebring dat hulle aan bande gelê word, sodat hulle nie meer volgens hulle Christelike geloofsoortuigings kan optree nie.

Hoe het ons in hierdie situasie beland? Hoe het dit gebeur dat ’n land se grondwet groter gesag verkry het as die Bybel?
In baie gevalle word die President van ’n land met sy hand op die Bybel ingesweer, maar daar eindig dit. Waar die wette gemaak word en waar dit saak maak, geld die gesag van die Bybel nie meer nie.

Die toestand moet toegeskryf word aan filosofiese magte wat die mensdom veral vanaf die Franse Revolusie begin oorheers het. Daardie mag word HUMANISME genoem. HAT beskryf humanisme as ’n “wêreldbeskouing wat die menslike waardigheid, die vryheid en die waarde van die persoonlikheid vooropstel en die godsdiens van weinig belang ag”. In die grondwet van SA is daar dan ook ’n Handves van Menseregte opgeneem, waarin hierdie “waardigheid” van die mens beskerm word.
Dit is teen hierdie agtergrond dat wetgewing oor die doodstraf en lyfstraf bv afgeskaf is. Die wettiging van huwelike tussen homoseksuele mense sedert 2006 in SA moet ook gesien word as ’n produk van hierdie humanistiese filosofie in die wêreld.
Volgens baie mense se getuienis beskik ons land oor ’n wonderlike grondwet, maar dit is ook ’n feit dat die grondwet terminologie van die humanistiese filosofie reflekteer. Mense se regte vorm die basis van die grondwet. Op die manier kry mense wat die wet van God nie erken nie dit reg om ons land se grondwet vir hulle eie doeleindes uit te buit.

Jesus het die grondwet van die Koninkryk van God as volg saamgevat:
“Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart siel en verstand. Dit is die eerste en die groot gebod. Die tweede wat hiermee gelykstaan is jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”

Die humanisme het vir die mensdom ’n nuwe wet gegee waarvolgens mense moet lewe. Dit lui min of meer as volg:
“Jy moet die Mens liefhê met jou hele hart siel en verstand. Dit is die eerste en die groot gebod. Die tweede wat hiermee gelykstaan is jy moet jou naaste oortuig en verplig om hom aan die wil van die Mens te onderwerp.”

Ons moet nie die ingrypende reperkussies wat hierdie soort wetgewing vir die Christendom inhou onderskat nie. Dit is deel van ’n strategie van die Bose waarop hy sy magsbasis op die aarde wil vergroot. Daniël van die Bybel vertel hy het ’n openbaring van God gekry. Hy sê hy het ’n gesig gesien van ’n dier wat die hele aarde sal verslind en vertrap. Die dier sal die Allerhoogste laster en die heiliges van die Allerhoogste vervolg. Hy sal tye en wet verander en mense sal vir ’n vasgestelde tyd in sy mag kom (Daniël 7:23-25).
Die profete van God het geprofeteer aangaande die vreemde tye wat ons nou belewe. In die boek Openbaring hoofstuk 13 hoor ons ook van bose magte wat die mense se lewens sal beheer.

Ons kan nie veel daaraan kan doen om hierdie magte te stuit nie. Die ware kerk van Christus kan alleen maar getuig van die wil van God en waarsku om nie teen God in opstand te kom nie. Ons moet ook bid dat die wetgewers in die Parlement die nodige respek vir God sal hê wanneer daar nuwe wette gemaak word, want die eer van God is in laaste instansie op die spel.

Waar staan jy in hierdie tyd? Staan jy by die Bybel of gaan jy maar genoeë neem met die voorskrifte wat die staat aan sy burgers opdring. Neem kennis – die duiwel is daarop uit om die kinders van God met landswette te kriminaliseer en op dié manier te vervolg. Wie dit bv waag om homoseksuele gedrag op Bybelse gronde af te keur word gou aangekla van haatspraak en skending van menseregte. Alle aanduidings is daar dat dit vir Christene in die toekoms net moeiliker sal gaan om van die waarheid te getuig. Dit is tekens van die tye waarvoor ons, ons moet gereedmaak.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui