Julian Müller

Facebook: facebook.com/julian.muller.1257

Julian Müller was ’n dosent by die teologiese fakuteit van UP. Hy was ook later die hoof van die teologiese fakulteit.

Jesus se opstanding: Hy en Jurie le Roux is deur Ferdie Mulder gevra om hulle standpunt oor Jesus se opstanding duidelik in die openbaar bekend te maak. In kort het dit tot Ferdie se lewenslange skorsing by UP se teologiese fakulteit gelei terwyl Müller en Le Roux weggekruip het agter “ek staan by my legitimasie-eed[1].

alt

Skeppingsleer: Op 2 Februarie 2010 tree dr George Claassen, ’n ateïs, as spreker op tydens die UP teologiese fakulteit se openingsdag. Toe later aan Müller gevra is of Mark Harwood, ’n skeppingsleerder (kreasionis) van Australië, ook die studente kan toespreek, wys Müller dit van die hand (kyk UP Teologiese Fakulteit – Claassen in, Harwood uit en Seisoen van (eensydig) luister!). Ongeag jou siening oor skeppingsleer, is hierdie duidelik onaanvaarbaar en erg subjektief.

Postteïsme: Hy noem homself ’n postteïs, dus verklaar hy hiermee dat hy klaar is met die God van die Bybel, met God as ’n Persoon. Hy sê: “Ek, aan die ander kant, sou myself ’n postteïs wou noem. Dit beteken ek aanvaar doelbewus dat daar ’n era met denkwyses en taal oor God verbygegaan het.” (kyk Dít wat ons nié dink). In sy artikel PANENTEÏSME: ’n nuwe verstaan van God vir ’n nuwe tyd? bevestig hy dat sy Godsbeskouing drasties verskil van wat Christene glo.

Satan: Sy siening oor die duiwel is dat mense hierdie konsep uitgedink het om hom as sondebok te gebruik eerder as om self verantwoordelikheid te neem vir hulle dade en optrede. Kyk sy twee gesprekke op RSG op 6 Mei 2018 en 23 Jun 2019.

In Augustus 2012 tree hy af in die posisie: adjunkdekaan van die Fakulteit Teologie aan die Universiteit Pretoria.

Kyk ook die volgende artikels:

Aanhalings

“… die moontlikheid is daar dat wetenskaplikes kan bevind dat die beendere van Jesus ontdek is … Sou ons geloof sulke bevindinge kan oorleef? As ons nie onderskei tussen geloofs- en wetenskaplike aansprake nie, sal ons geloof dit nie kan oorleef nie …”

“Indien ons geloof egter op ‘n ander dieper werklikheid as bloot die fisies waarneembare … gebasseer is, hoef ons nie beangs te wees oor nuwe ontdekkings nie”

(Uit Gesprek tussen die Ring van Louis Trichardt en die NG dosenteraad van die fakulteit teologie, UP., 20 Junie 2011)

“Alles dui dus daarop dat die opstandingsverhale nie histories-feitelik verstaan moet word nie, maar metafories en mitologies gelees moet word”

(Uit Geloofsgesprekke in die Tsitsikamma, bl. 109).

Voetnotas

[1] Die volgende twee aanhalings(kyk Opgestaan)

Aanhaling 1: Opgestaan, bladsy 55:

…het ds. Nel nogal wys opgetree deur ’n vraag oor Jesus se opstanding aan professor Müller te stel: “Julian, het Jesus liggaamlik opgestaan, en beteken dit dat die graf leeg is?” Ek sal nooit die lang en ongemaklike stilte vergeet wat gevolg het voordat professor Müller huiwerig op ds. Nel se vraag geantwoord het nie. Toe RSG die program die daaropvolgende Sondagaand uitgesaai het, was dit opvallend (en jammer?) dat dié lang stilte uitgesny is. Was dit deur die toedoen van dr. Flip Loots of die redigeerders by RSG? Die swanger stilte sou nooit nasionaal uitgesaai word nie. Sy antwoord was:

“Ek het vanoggend ’n erediens bygewoon soos wat ek elke oggend ’n erediens bywoon op ’n Sondag. En met groot vrymoedigheid sê ek met die gemeente saam die Apostolicum, want dit is wat ek glo . . . dit beteken nie dat daar nie ruimte vir herinterpretasie is nie.”

Aanhaling 2: Opgestaan op bladsy 162 geskryf het:

So wat het met die duiwel en die Bose gebeur tydens professor Müller se leerdwaling-ondersoek, as mens dit so mag stel? Ek het ’n aantal stukke getuienis ingedien waarin dit my indruk was dat professor Müller die bestaan van die duiwel en die Bose ontken. Ook is daar twee maal spesifiek tydens die ondersoek vir hom gevra of hy glo in die bestaan van die duiwel. Hy het al die getuienis wat ons ter stawing ingedien het verwerp, maar dalk meer belangrik ook nie reguit geantwoord op die vrae oor of hy glo in die bestaan van die duiwel nie. Hy het soos volg geantwoord:

“Die blote noem van iets soos die Duiwel en die Bose beteken nié dat ek ’n eie standpunt daaroor uitgespreek het nie. Ek het my nêrens daaroor uitgespreek of ’n eie standpunt daaroor gestel nie. Die dokumente word dus op ’n oneerlike wyse aan die bewerings van die Klaers verbind en so bou hulle ’n konstruk op van wat ek daaroor sou glo. Ek is nie bereid om op sulke konstrukte – wat nie my eie is nie – te antwoord nie. Ek bevestig nógeens dat ek staan by die legitimasie verklaring en daarom ook die Belydenisskrifte van die NG Kerk”

Kyk egter wat Julian in RSG gesprek oor die duiwel en die bose (2018) en RSG gesprek oor die duiwel of Satan (2019) gesê het.