Glo die Bybel

Johannes 17:17 ...U Woord is die waarheid.

Sindikasie

Glo die Bybel Glo die Bybel
Home Geloofskwessies Die bose/duiwel Brief aan dr Gerda de Villiers - Wynand Louw
Brief aan dr Gerda de Villiers - Wynand Louw PDF Afdruk E-pos
Maandag, 30 Julie 2012 07:37

Die volgende brief van Wynand Louw is verkort in Rapport geplaas onder die opskrif As jy in Jesus glo, moet jy Sy woorde glo:

 

Dr Gerda de Villiers, die Satan en Jesus (en Dr Ben du Toit)

Die berig “Is Satan die duiwel of ’n teenstander?” (Rapport, 29 Julie) het betrekking. 

Dr Gerda de Villiers het lankal die tradisionele Christelike geloof verlaat. Sy is bekend daarvoor dat sy ontken dat Jesus in die Ou Testament voorspel word – en daarmee weerspreek sy Jesus se aansprake daarop dat Hy in die Ou Testament voorspel word direk. Dit is 'n blatante onkenning van Jesus se uniekheid en sy aansprake op bonatuurlike, Goddelike kennis.

Sy verklaar Jesus dus tot leuenaar of geestelik versteurde.

Daar is geen manier waarop iemand beweer dat hy IN Jesus glo as hy nie VIR Jesus glo nie. 

Jesus het gesê dat Hy in die Ou Testament voorspel is. Om die teendeel te beweer en dan te beweer jy is enigsins 'n Christen (iemand wat IN Jesus glo) is dus bedrog.

Die selfde geld natuurlik vir die duiwel. Jesus het gesê die duiwel bestaan. As sy beweer Jesus was verkeerd – m.a.w. dat sy nie VIR Jesus glo nie – is dit afdoende bewys dat sy nie IN Jesus glo nie.

Die Heidelbergse Kategismus en die Nederlandse Geloofsbelydenis is duidelik dat die duiwel bestaan. De Villiers verwerp dus nie net Jesus as haar verlosser nie, sy verwerp ook die belydenisskrifte van die Nederduits Gereformeerde Kerk.

Die vraag is, waarom is sy in diens van die teologiese departement by Tukkies, en is sy ook betrokke by die opleiding van kwekelinge van die NG Kerk?

Ek het hierdie vraag in persoonlike gesprek aan Prof Nelus Niemandt gevra. Hy het geantwoord dat sy 'n universiteits aanstelling was en nie deur die kerk aangestel is nie. Op hierdie manier het hy die kerk van alle blaam vir die feit dat sy kwekelinge van die NG Kerk help oplei onthef. Volgens hom is haar kontak met studente ook redelik beperk.

Dit klink werklik baie hol in die lig van die Kerkorde se bepaling, ek haal aan: “Elke kuratorium dra sorg vir, beheer en hou toesig oor die opleiding en die voortgesette opleiding van evangeliedienaars”. Indien die kuratorium beheer en toesig het oor die opleiding van studente van die NG Kerk het, kan prof Niemandt eenvoudig nie maar net sy skouers optrek oor wie die universiteit dan sou aanstel om ons kwekelinge op te lei nie.

Die kuratorium het 'n duidelike opdrag om beheer en toesig oor opleiding te hou.

Die onstellende is egter dat daar ander teoloë by Tukkies is wat ook openlik die Bybelse boodkap verwerp, wat baie meer met studente kontak het as Dr de Villiers.

Prof Julian Muller propageer panenteïsme in die openbaar. Hierdie leer dat die mens in wese God is, is 'n direkte weerspreking van die Bybel en 'n blatante verwerping van die evangelie. Tog is Muller onlangs bevorder tot visie-dekaan van die teologiedepartement.

Wat gaan hier aan?

Dit is moeilik om nie tot die gevolgtrekking te kom dat daar 'n doelbewuste plan is om mense wat die evangelie verwerp en vir 'n vreemde teologie verruil, in sleutelposte in die NG Kerk verwelkom word nie.

Wat die tugsaak teen Dr Ben du Toit betref:

Die Algemene Sinode van 2011 se besluit om dwaalleer ten opsigte van die duiwel in die kerk toe te laat was onwettig. Dit is reeds op die Hoëveld Sinode aangespreek en die saak is op die volgende Algemene Sinode se agenda. Ons kan maar net vertrou dat die volgende Algemene Sinode hierdie fout sal regstel.

Dr du Toit se enigste verweer teen die klag van dwaalleer was die besluit van die Algemene Sinode van 2011.

Die ondersoekkommissie het tydens die ondersoek bewys dat hulle uitermatig bevooroordeeld was ten gunste van Dr du Toit. Dit is op grond hiervan dat ek my aan die verrigtinge onttrek het en appèl aangeteken het teen hulle besluit. Die gronde vir appèl is dus “ 'n redelike vrees vir vooroordeel aan die kant van die ondersoekkommissie.”

Vriendelike groete

Dr Wynand Louw

Melkbosstrand

Kyk ook: 

 

Comments 

 
0 #1 Gideon Aggenbag 2012-07-30 10:53
Ek maak graag enige opmerkings oor Gerda de Villiers se “Satan in die Ou Testament?” soos dit gepubliseer is in http://teo.co.za/artikel/articles/473/1/Satan-in-die-Ou-Testament/Bladsy1.html.

Gerda “ondersoek die verskillende kontekste waar ‘satan’ in die Hebreeuse Bybel voorkom om meer duidelikheid oor die onderwerp te kry.” Sy sê (opsommenderwys ) dat, waar die woord “satan” (Hebreeus “saw-tawn”) in die Ou Testament (OT) voorkom, dit meestal dui op ‘n status, ‘n rol of ‘n pos wat ‘n persoon beklee – “…dit kan ‘n aardse mens of ‘n hemelse wese aandui”. So ‘n status, soos ‘n “aanklaer” of “teenstander” (soos “satan” dan ook vertaal word) in bv. die regspraktyk, was “‘n werklike status. Dit was egter bloot tydelik, nie ‘n permanente pos nie. Verskillende mense kon binne verskillende omstandighede as ‘aanklaer’ opgetree, maar as die saak afgehandel was, was die ‘aanklaer’ ook van sy status onthef.”.

Haar uiteindlike slotsom is “Maar of daar werklik ‘n Satan is, dit wil sê ‘n spesifieke wese met ‘n persoonlike identiteit wat Satan heet, is egter te betwis.” Ons moet dus “versigtig wees om die latere duiwel van die Nuwe Testament en Christelike kerk in tekste in te lees. Want die Ou Testament ken hom nie. Sy stel dit dan ook: dit is “onwaarskynlik dat satan ‘n eienaam kan wees”.

Die vraag is nou: As die Nuwe Testament (NT) nou van die duiwel as ‘n (bonatuurlike) persoon by name Satan (Grieks: “satanas”) praat, moet ons dan aanvaar dat die OT hom (“sawtawn”) gladnie “ken” nie? In die NT is “die duiwel” en “die satan” so vervleg dat dit onmoontlik is om te ontken dat die duiwel Satan self is, en dat Satan ‘n duiwel is – ‘n bonatuurlike persoon.

In die NT kom die bepaalde lidwoord (“hô”) voor om ‘n subjek se eienaam aan te dui, en dui Jesus net so gemaklik aan met “hô jêsoes” as wat dit Satan aandui met “hô satanas”. (As ons daarop aandring om l.g. met “die satan” te vertaal, waarom dan nie e.g. met “die jesus” nie?).

Omdat ruimte beperk is, wil ek graag volstaan met slegs een voorbeeld: die bok vir Asásel (die sondebok) van Lev.16. Nadat dié bok belaai is met die volk se ongeregtighede (wat Aäron bely het) word dit weggelei na die woestyn/wildernis – tradisioneel die woonplek van die duiwel – en daar gelaat.

Hierdie “vooruit-skou” is deur Jesus vervul toe Hy by Sy doop die sonde van die wêreld op Homself geneem het (“opgetel en weggedra” het – Joh.1:29; Mat.3:15), en die Heilige Gees Hom weggelei het om deur die duiwel versoek te word (Mat.4:1). Hier, by Sy versoeking, word die die terme “versoeker”, “duiwel” en “satan” afwisselend gebruik om dieselfde persoon aan te dui (vv. 1,3,5,8,10,11).

Die term “duiwel” (Grieks: “diabolos”) word dan ook in Strong vertaal as “false accuser” (“valse aanklaer”) en verwys na die Hebreeuse “sawtawn” wat óók vertaal word as “aanklaer” of “teenstander”. Uit vele NT-tekste word dit duidelik dat Satan die opperste duiwel van die duiwels is, dat hy die identiteit van ‘n bonatuurlike wese het en dat hy God se teenstander is.

Toegegee dat “satan” meermale in die OT voorkom as ‘n natuurlike menslike teenstander. Dit beteken egter nie dat die opperste van die duiwels, by name Satan, nie óók in die OT voorkom nie – soos in die boek Job. Net omdat daar in sommige tekste natuurlike mense duidelik mekaar se “teenstander” (“sawtawn”) is of die rol/funksie van “aanklaer” vervul, beteken nie dat Satan nie ook by name daarin voorkom nie – net so min as wat ‘n natuurlike persoon wat as ‘n “verlosser” optree, sal verhinder dat Jesus as werklike persoon óók “Verlosser” genoem word nie.

Die NT verwys na Satan in dele soos Mt.4:1,5,8,10,11; Mk.4:15; Lk.10:18; 13:16; 22:3,31; Joh.13:27; Hand.5:13; 26:18; Rom.16:20; 1Kor.7:5; 2Kor.2:10; 12:7; 1Tes.2:18; 2Tes.2:9; 1Tim1:20; 5:15; Openb.2:9,13,24; 3:9; 12:9,2,7. (Let veral op l.g. gedeelte!) Met hierdie direkte NT-verwysings na die duiwel as Satan, kan l.g. se bestaan en werkinge in die OT sekerlik nie ontken word nie, want hy bestaan beslis alreeds lank voordat die OT geskryf is.

Daar bestaan egter nog ‘n manier om te ontken dat die OT Satan ken, en dit sou wees om te beweer dat die NT-skrywers hulleself misgis het en dus ongeloofwaardig is.
Quote
 

Add comment


Security code
Refresh