Glo die Bybel

Johannes 17:17 ...U Woord is die waarheid.

Sindikasie

Glo die Bybel Glo die Bybel
Home Geloofskwessies Oordeel Die Bybel oor Oordeel
Die Bybel oor Oordeel PDF Afdruk E-pos
Saterdag, 07 Julie 2012 22:39

Daar is mense wat vreeslik erg voel oor die feit dat ons nie oor ander mense mag oordeel nie en daarom nie aan ander kan sê dat hulle verkeerd is nie (kyk bv Luister fyn na hulle wat saggies wegloop, Anton sê sy sê, Anton Pienaar, Maart 2010). Dit is waar dat ons nie mag oordeel nie, maar wat beteken dit prakties? Wat mag/moet ons as Christene doen en wat moet ons nie doen nie?

Die volgende gedeeltes in die Bybel toon aan dat ons as Christene nie ander mag oordeel nie:

 

Ons moenie oor ander oordeel nie

Matt 7: (1) "Moenie oordeel nie, sodat oor julle nie geoordeel word nie; (2) met dieselfde oordeel waarmee julle oor ander oordeel, sal oor julle geoordeel word, en met dieselfde maat waarmee julle vir ander meet, sal vir julle gemeet word.

En:

Luk 6: (37) "Moenie oordeel nie, en oor julle sal nie geoordeel word nie. Moenie veroordeel nie, en julle sal nie veroordeel word nie. Spreek vry, en julle sal vrygespreek word.

En:

Joh 12: (47) En as iemand na my woorde luister en hom nie daaraan steur nie, veroordeel Ek hom nie, want Ek het nie gekom om die wêreld te veroordeel nie, maar om die wêreld te red.
(48) Wie My verwerp en nie my woorde aanneem nie, het reeds iets wat hom veroordeel: die woorde wat Ek gespreek het, sal hom op die laaste dag veroordeel.

En:

Rom 2: (1) Daarom is daar vir jou geen verontskuldiging nie, vir jou, mens wat ‘n ander veroordeel, wie jy ook al is. Deurdat jy oor ‘n ander ‘n oordeel uitspreek, veroordeel jy jouself, want jy wat veroordeel, doen dieselfde dinge.
(2) Ons weet dat God regverdig handel wanneer Hy mense wat sulke dinge doen, veroordeel.
(3) Maar jy, mens, wat ander veroordeel wat sulke dinge doen, en jy doen dit self, verbeel jy jou dat jy aan die oordeel van God sal ontkom?

En:

Rom 12: (19) Moenie self wraak neem nie, geliefdes, maar laat dit oor aan die oordeel van God. Daar staan immers geskrywe: "Dit is my reg om te straf; Ék sal vergeld," sê die Here.

En:

Rom 14: (4) Wie is jy om oor iemand anders se bediende te oordeel? Sy eie werkgewer sal oordeel of hy goed doen of nie. Maar hy sal goed doen; daarvoor sal die Here sorg.

Maar wat is dit om te oordeel?

Ons kan nie besluit wie hemel toe gaan en wie hel toe gaan nie, ten spyte van die feit dat die Bybel is baie duidelik daaroor. Ons kan deur te sien uit mense se lewens ‘n idee hê wie op die ou end hemel toe gaan en wie nie, maar dit is net God wat presies weet wat in elke mens se hart aangaan, veral op so 'n persoon se sterfbed. Alhoewel ons dalk mag weet wat die voorwaardes is vir die ewige lewe, kan ons nie met sekerheid weet wie hemel toe gaan en wie nie. Selfs die gehardste ateïs kan moontlik op sy sterfbed tot bekering kom sonder dat iemand op aarde daarvan weet. Dus, wanneer ateïste of enige nie-Christen te sterwe kom, kan 'n mens ten beste sê dat volgens jou kennis daardie persoon nie tot inkeer gekom het nie. As jy by 'n ongelowige persoon se sterfbed is en hy ontken God met sy laaste asem, kan 'n mens seker met redelike sekerheid sê dat die persoon nie hemel toe sal gaan nie, maar tog laat 'n mens dit eerder in God se bekwame hande oor.

 

Wees oop vir teregwysing

Die Bybel is duidelik dat ‘n mens oop moet wees vir teregwysing. Ek wonder of mense wat die jy-mag-nie-oordeel-argument gebruik, werklik oop is vir teregwysing?

Spr 1: (23) As julle luister na my teregwysing, gee ek julle my wysheid in oorvloed en leer ek julle my woorde begryp.

Spr 3: (11) My seun, aanvaar die straf wat van die Here kom en moet jou nie teen sy teregwysing verset nie,
(12) want die Here straf die mens wat Hy liefhet net soos ‘n vader doen met sy seun.

Spr 6: (23) Wat ek jou voorskryf, is ‘n lamp, my onderrig is ‘n lig; wie hom laat teregwys, is op die pad na die lewe toe.

Spr 9: (8) Moenie ‘n ligsinnige mens probeer opvoed nie, hy sal jou daarvoor haat. Voed ‘n wyse op, en hy sal lief wees vir jou.

Spr 10: (17) Wie hom laat leer, ken die pad na die lewe; wie teregwysing verwerp, dwaal van dié pad af.

Spr 12: (1) Wie hom laat leer, wil graag kennis ontvang; wie hom nie laat teregwys nie, is ‘n dom mens.

Spr 15: (5) ‘n Dwaas verag wat sy vader hom leer; wie hom laat teregwys, is verstandig.

Spr 27: (6) Op ‘n vriend wat jou seermaak, kan jy reken; iemand wat jou haat, is oordadig met sy soene.

Spr 28: (23) Wie iemand teregwys, kry eerder agterna dank as wat ‘n vleier dit kry.

(Vir meer dele in die Bybel, soek vir “teregwys” in Spreuke)

 

Ons moet die sonde veroordeel

Alhoewel die Bybel duidelik is dat slegs God oor mense oordeel en dat dit ons nie toekom nie, is die Bybel ook baie duidelik dat ons die sonde moet oordeel. Ons moet natuurlik nooit uit die hoogte oordeel nie, want geen mens is sonder sonde nie. Daarom moet dit nederig gedoen word.

Jesus het bv die tug-proses ingestel:

Matt 18: (15) "As jou broer verkeerd opgetree het teen jou, gaan wys hom tereg waar julle eenkant alleen is. As hy na jou luister, het jy jou broer teruggewen.
(16) Maar as hy nie luister nie, neem nog een of twee met jou saam, sodat alles wat gesê word, deur die woord van twee of drie getuies bevestig kan word.
(17) En as hy na hulle nie luister nie, sê dit vir die gemeente. As hy ook na die gemeente nie luister nie, moet jy hom as ‘n heiden en ‘n tollenaar behandel.

En:

Luk 17: (3) Wees dus self op julle hoede. "As jou broer verkeerd optree, berispe hom; en as hy berou kry, vergewe hom. (Hier praat Jesus self.)

En:

Levitikus 19: (15) "Jy mag nie onregverdig wees in die regspraak nie: jy mag nie partydig wees vir dié wat geen aansien het nie of die vooraanstaande bevoordeel nie. Oordeel regverdig oor jou naaste.

En:

Eseg 3: (15) Ek het by die ballinge in Tel-Abib aangekom. Hulle het daar in die omgewing van die Kebarrivier gewoon, en ek het sewe dae lank verskrik daar tussen hulle gesit.
(16) Ná die sewe dae het die woord van die Here tot my gekom:
(17) "Mens, Ek het jou aangestel as ‘n wag vir Israel: jy moet luister na wat Ek sê en hulle namens My waarsku.
(18) "Wanneer Ek vir ‘n goddelose sê hy gaan sterwe, en jy waarsku hom nie, jy praat nie en jy waarsku nie die goddelose teen sy bose optrede om hom so in die lewe te hou nie, dan sal hy deur sy sonde sterwe, maar Ek sal van jou rekenskap eis vir sy dood.
(19) As jy hom waarsku en hy bekeer hom nie van sy goddeloosheid nie, van sy bose optrede nie, sal hy deur sy sonde sterf, maar jy sal jou eie lewe behou.
(20) "En wanneer iemand wat tot dusver reg gelewe het, die regte lewe laat vaar en onreg doen, en Ek bring hom tot ‘n val, sal hy sterwe. Omdat jy hom nie gewaarsku het nie, sal hy deur sy sonde sterf en sal die goeie dinge wat hy gedoen het, nie onthou word nie, maar Ek sal van jou rekenskap eis vir sy dood.
(21) As jy hom waarsku om nie te sondig nie, en hy sondig nie, sal hy bly lewe omdat hy hom laat waarsku het, en jy sal jou eie lewe behou."

(Hier is dit baie duidelik dat ons ‘n verantwoordelikheid het om ander mense reg te help. En God sê dat as ons dit nie doen nie, sal Hy ons verantwoordelik hou. Ons het dus die plig om sonde te oordeel.)

En:

Esegiël 20:4 Oordeel jy oor hulle, mens, oordeel jy. Vertel vir hulle van die afskuwelike dinge wat hulle voorvaders gedoen het.

Esegiël 22:2 "Mens, wil jy hom oordeel, wil jy oor die stad van bloedvergieting oordeel? Vertel dan vir hom van sy afskuwelike dade.

Esegiël 23:36 Die Here het vir my gesê: "Mens, oordeel jy oor Ohola en Oholiba. Vertel vir hulle van hulle afskuwelike dade.

Esegiël 23:45 Regverdige manne moet oor dié vrouens oordeel volgens die bepaling oor owerspel en die bepaling oor bloedvergieting, want hulle het owerspel gepleeg en daar is bloed aan hulle hande."

(Hier gee God aan Esegiël selfs die reg om self te oordeel, maar regverdig.)

En:

Joh 7:24 Moenie op die oog af oordeel nie, oordeel regverdig.

(Dus moet ons baie versigtig wees as ons oordeel, maar ons moet nogtans oordeel.)

En:

1 Kor 5:12 (5:12-5:13) Per slot van rekening is dit nie vir my om oor mense buite die gemeente te oordeel nie. God sal oor hulle oordeel. Maar julle moet oor julle eie mense oordeel: "Verwyder die slegte mens onder julle uit!"

(Ons moenie net oordeel nie, maar die slegtes verwyder!)

En:

1 Kor 6: (1) Gaan iemand van julle wat ‘n saak teen ‘n ander gelowige het, werklik so ver dat hy sy reg by heidense regters soek en nie by gelowiges nie?
(2) Of weet julle nie dat die gelowiges oor die wêreld sal oordeel nie? En as julle oor die wêreld sal oordeel, is julle dan onbevoeg vir sulke geringe hofsake?
(3) Weet julle nie dat ons oor die engele sal oordeel nie? Dan tog seker ook oor alledaagse dinge.

 

God is ernstig oor verkeerde dinge

Daar is nie kwessies dat God/Jesus die voorbeeld is van volmaakte liefde nie. Daar is egter mense wat net vaskyk in God/Jesus se liefde en Sy oordeel ignoreer.

In die Ou Testament is daar baie dele waar dit duidelik is hoe ernstig God oor sonde is:

  • God het die hele aarde gestraf oor die sonde van Adam en Eva (Genesis 3:14-24).
  • God het Sodom en Gomorra uitgewis (Genesis 19:24).
  • God wou vir Moses doodmaak omdat hy nie sy seun wou besny nie (Eksodus 4:24-26).
  • Toe die Israeliete te bang was om Jerigo in te val na die uittog uit Egipte, het God die Israeliete 40 jaar laat trek en almal laat sterf behalwe Josua en Kaleb (Numeri 14:28-35).
  • God het Dawid se eerste kind by Batseba laat sterf (2 Samuel 12:15-18).
  • God het vir Israel gestraf met 70 jaar van ballingskap ~600 vC (2 Kronieke 36:21).

Daar is baie ander voorbeelde wat genoem kan word.

‘n Mens kan probeer redeneer dat die God van die Ou Testament nie dieselfde is as die God van die Nuwe Testament nie, maar dit is nie waar.

God bly altyd dieselfde (Heb 1:12 “soos klere sal U dit oprol; ja, soos ‘n kledingstuk sal dit vervang word. Maar U, U bly dieselfde, en u jare het geen einde nie.”) En dit maak ook sin. Hoekom sal God, wat die mens geskep het, by ons aanpas? Hy is die Almagtige en die Een sonder sonde. Ons moet by Hom aanpas. God verander nie soos modes verander nie – die mens doen dit.

 

Jesus is ernstig oor verkeerde dinge

Verder is ook Jesus in die NT ernstig oor verkeerde dinge:

Joh 8: (10) Toe het Hy regop gekom en vir haar gevra: "Mevrou, waar is hulle? Het nie een van hulle die oordeel oor jou voltrek nie?"
(11) "Niemand nie, Here," sê sy. Toe sê Jesus: "Ek doen dit ook nie. Gaan maar en moet van nou af nie meer sonde doen nie."

In bogenoemde gedeelte werk Jesus sagkens met die prostituut, maar dit was nie altyd die geval nie. Baie mense is geneig om só op die liefde van God te fokus dat hulle die indruk gee dat God jou sal vergewe en jou die ewige lewe sal gee ongeag wat. Dit is egter glad nie waar nie. Daar sal geen genade wees vir mense wat teen God kies nie. Die volgende gedeeltes bevestig dit:

 

Jesus bring nie vrede nie

Mat 10: (33)  Maar elkeen wat My verloën voor die mense, hom sal Ek ook verloën voor my Vader wat in die hemele is.
(34)  Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie, maar die swaard.
(35)  Want Ek het gekom om tweedrag te verwek tussen ‘n man en sy vader, en tussen ‘n dogter en haar moeder, en ‘n skoondogter en haar skoonmoeder.
(36)  En ‘n mens se huisgenote sal sy vyande wees.
(37)  Wie vader of moeder bo My liefhet, is My nie waardig nie; en wie seun of dogter bo My liefhet, is My nie waardig nie.
(38)  En wie sy kruis nie neem en agter My volg nie, is My nie waardig nie.

 

Dryf handelaars uit die tempel

Matt 21: (12) Jesus het tempel toe gegaan en al die mense wat op die tempelplein koop en verkoop, daar uitgejaag. Die tafels van die geldwisselaars en die stoele van die duiweverkopers het Hy omgegooi
(13) en vir hulle gesê: "Daar staan geskrywe: ‘My huis sal ‘n huis van gebed wees,’ maar julle maak dit ‘n rowersnes."

In Joh 2:14-16 word genoem dat Jesus eers ‘n sweep gaan vleg het, dus was dit nie ‘n geval dat Hy op die ingewing van die oomblik Sy humeur verloor het nie – Hy het genoeg tyd gehad om te dink aan wat Hy gaan doen het. Dit was 'n fyn beplande aksie.

 

Die vyeboom

Mar 11: (13) Hy sien toe op ‘n afstand ‘n vyeboom met blare aan en gaan daarheen om te kyk of Hy nie miskien ‘n vy daaraan kry nie. Toe Hy daar kom, kry Hy niks nie, net blare, want dit was nie vyetyd nie.
(14) Hy sê toe vir die boom: "Van jou sal niemand tot in der ewigheid ooit weer vye eet nie." Sy dissipels het dit gehoor.

(20) Toe hulle die volgende môre vroeg by die vyeboom verbygaan, sien hulle dat hy tot in sy wortels verdroog is.
(21) Gedagtig aan wat Jesus gesê het, sê Petrus vir Hom: "Rabbi, kyk, die vyeboom wat U vervloek het, is verdroog."

En:

Luk 13: (6) Daarna het Hy hierdie gelykenis vertel: "‘n Man het ‘n vyeboom gehad wat in sy wingerd geplant was. Toe hy vrugte daaraan kom soek maar niks kry nie,
(7) sê hy vir die tuinier: ‘Kyk, dis nou drie jaar dat ek aan hierdie vyeboom vrugte kom soek, en ek kry niks nie. Kap hom uit! Waarom moet hy langer die grond uitput?’
(8) Maar die tuinier antwoord: Meneer, laat hom nog hierdie jaar staan. Ek sal die grond rondom hom omspit en bemes.
(9) Miskien sal hy dan volgende jaar vrugte dra. Maar so nie, kan u hom uitkap."

 

Die Fariseërs

Matt 23: (13) "Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars! Julle sluit die deur van die koninkryk in die mense se gesig toe. Julle gaan self nie in nie, en julle verhinder dié wat wel wil ingaan.

(15) "Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars! Julle trek oor see en land rond om een bekeerling te maak, en as hy dit word, maak julle hom twee maal so ryp vir die hel as wat julle self is.
(16) "Ellende wag vir julle, julle wat ander wil lei en self blind is. Julle sê: ‘As iemand by die tempel ‘n eed aflê, is hy nie aan sy eed gebind nie, maar as hy by die goud van die tempel ‘n eed aflê, moet hy die eed nakom.’
(17) Blinde dwase! Wat is belangriker: die goud of die tempel waardeur die goud geheilig word?
(18) Julle sê ook: ‘As iemand by die altaar ‘n eed aflê, is hy nie aan sy eed gebind nie, maar as hy by die offergawe bo-op die altaar ‘n eed aflê, moet hy die eed nakom.’
(19) Julle blindes! Wat is belangriker: die offergawe of die altaar waardeur die offergawe geheilig word?
(20) Wie by die altaar ‘n eed aflê, lê ‘n eed af by die altaar en by alles wat daarop is.
(21) Wie by die tempel ‘n eed aflê, lê ‘n eed af by die tempel en by God wat daarin woon.
(22) En wie by die hemel ‘n eed aflê, lê ‘n eed af by die troon van God en by God wat daarop sit.
(23) "Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars! Julle gee tiendes van kruisement, anys en koljander, maar wat volgens die wet van God die swaarste weeg, laat julle na: geregtigheid, barmhartigheid en betroubaarheid. Juis hierdie dinge moet ‘n mens doen en die ander nie nalaat nie.
(24) Blinde leiers! Julle skep die muggie uit julle beker uit, maar julle sluk die kameel in.
(25) "Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars! Julle maak die buitekant van die beker en die skottel skoon, maar binne is hulle vol hebsug en onmatigheid.
(26) Blinde Fariseër, maak eers die binnekant van die beker skoon, dan sal sy buitekant ook skoon wees
(27) "Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars! Julle is soos witgeverfde grafte, wat van buite mooi lyk maar daarbinne vol doodsbene en allerhande onsuiwerheid is.
(28) So is julle ook: van buite lyk julle vir mense vroom, maar van binne is julle vol huigelary en minagting van die wet."
(29) "Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars! Julle hou die grafte van die profete in stand en versier die gedenktekens van die vromes,
(30) en julle sê: ‘As ons in die dae van ons voorvaders gelewe het, sou ons nie medepligtig gewees het aan die vergieting van die bloed van die profete nie.’
(31) Op dié manier erken julle self dat julle nakomelinge is van die moordenaars van die profete.
(32) Gaan maar aan, maak klaar wat julle voorvaders begin het!
(33) "Julle slange, addergeslag! Hoe sal julle ontkom aan die straf in die hel?
(34) Luister dus goed! Ek stuur profete, wyse manne en leraars na julle toe. Julle sal party van hulle doodmaak en kruisig, en party in julle sinagoges gesel en hulle van die een dorp na die ander vervolg.
(35) So sal julle verantwoordelik wees vir die bloed van al die vromes wat op die aarde uitgestort is, van die bloed van die onskuldige Abel af tot by die bloed van Sagaria seun van Berekja, vir wie julle tussen die tempel en die altaar vermoor het.
(36) Dit verseker Ek julle: Die straf vir al hierdie dinge sal op die mense van vandag neerkom."
(37) "Jerusalem, Jerusalem! Jy wat die profete doodmaak en die boodskappers stenig wat na jou toe gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos ‘n hen haar kuikens onder haar vlerke bymekaarmaak, maar julle wou nie!
(38) Kyk, nou word julle stad as puinhoop aan julle oorgelaat.
(39) Maar Ek sê vir julle: Julle sal My van nou af sekerlik nie sien nie totdat die dag kom wanneer julle sal uitroep: Loof Hom wat in die Naam van die Here kom!"

En:

Luk 13: (15) Toe sê die Here vir hom: "Julle huigelaars! Maak elkeen van julle nie op die sabbatdag sy bees of sy donkie van die krip los en lei hom weg om hom te laat suip nie?
(16) En hier is ‘n vrou, ‘n kind van Abraham, wat werklik al agtien jaar lank deur die Satan gebind is. Mag sy dan nie op die sabbatdag van hierdie band losgemaak word nie?"

Jesus was dus glad nie altyd hierdie sagte persoon wat altyd simpatie en empatie met almal gehad het nie. Soms het Hy mense reguit en selfs aggressief aangevat en geen doekies omgedraai nie.

 

Geen genade vir ongereddes

Luk 13: (23) Toe vra iemand Hom: "Here, is dié wat gered word, maar min?"
(24) Hy sê vir hulle: "Span al julle kragte in om by die smal deur in te gaan. Baie, verseker Ek julle, sal probeer om in te gaan, maar sal dit nie regkry nie.
(25) "As die eienaar van die huis eers opgestaan en die deur toegesluit het, sal julle buite staan en aan die deur begin klop en roep: ‘Here, maak vir ons oop!’ Maar Hy sal julle antwoord: ‘Ek weet nie waar julle vandaan kom nie.’
(26) Dan sal julle sê: ‘Ons het saam met U geëet en gedrink, en op ons strate het U die mense geleer.’
(27) Maar Hy sal weer vir julle sê: ‘Ek weet nie waar julle vandaan kom nie. Niemand van julle het gedoen wat reg is nie. Maak dat julle van My af wegkom!’
(28) "Daar sal julle huil en op julle tande kners wanneer julle Abraham en Isak en Jakob en al die profete binne-in die koninkryk van God sal sien, terwyl julle self buitentoe weggejaag word.
(29) "Daar sal mense uit die ooste en die weste kom, uit die noorde en die suide, en aansit by die feesmaal in die koninkryk van God.
(30) Onthou net: Daar is laastes wat eerste sal wees, en eerstes wat laaste sal wees."

God mag wel ‘n God van Liefde wees, maar wees gewaarsku – daar sal geen genade vir mense wees wat nie gereed is nie. Almal gaan nie maar jammer gekry word en hemel toe gaan nie.

 

Herodes

Luk 13:32 Maar Hy sê vir hulle: "Gaan sê vir daardie jakkals: ‘Kyk, vandag en môre dryf Ek nog bose geeste uit en maak Ek mense gesond, maar op die derde dag sal Ek my werk klaar maak.’

 

Heiligheid/reinheid is vir Jesus belangriker as vredeliewendheid/verdraagsaamheid

Jakobus 3:
(17) Maar die wysheid van Bo is ten eerste rein, dan vredeliewend, vriendelik, bedagsaam, vol medelye en goeie vrugte, onpartydig en opreg.
(18) En die vrug van die geregtigheid word gesaai in vrede vir die wat vrede maak.

1 Kronieke 13:
(7) Hulle het die ark van God op ‘n nuwe wa vervoer van die huis van Abinadab af. Ussa en Agjo het die wa gedrywe.
(8) Dawid en die hele Israel het uitbundig voor die ark van God uit gedans, begelei deur liedere, liere, harpe, tamboeryne, simbale en trompette.
(9) Toe hulle by Nakon se dorsvloer kom, het Ussa die ark met sy hand teëgehou, want die osse het gestruikel.
(10) Die toorn van die Here het teen Ussa ontvlam; die Here het hom getref omdat hy met sy hand aan die ark geraak het, en hy het daar langs die ark gesterf.

Om God se heiligheid te eer is belangriker as om Hom lofsange toe te sing.

Nie ‘n kwessie van oordeel nie

Ten slotte: Dit is so dat ons baie versigtig moet wees om mense te oordeel - om te dink dat jy beter as ander persone is of dat jy weet wie hemel toe gaan en wie nie. Dit is egter 'n heel ander ding om die sonde te oordeel. Party mense kan redeneer dat niemand in die posisie is om iemand anders se sonde of verkeerdhede te kan kritiseer nie, want elkeen is sondig. Dit is egter nie 'n geldige argument nie: Die feit dat almal sondig is beteken dat mens nederig moet wees wanneer jy ander teregwys, maar soos hierbo genoem, is die Bybel duidelik dat ons mekaar wel moet reghelp. In so geval is dit nie een mens wat 'n ander mens oordeel nie, maar die Bybel wat mense oordeel.

 

Kyk ook: