Gemeente ‘kies liefde bo vrees’ met aanstelling van gay leraar

Kyk ook:

Parkegemeente in Kraaifontein (naby Kaapstad) het ds Louis van der Riet, ’n gay predikant, op 17 Februarie 2019 met ’n groot gejuig bevestig.

Wat moet ’n mens hiervan dink?

In Wat van gay kerke? het ek probeer wys wat Christene se benadering moet wees tot gay kerke. In kort kom dit daarop neer dat ons nie lidmate van gay kerke as medegelowiges kan sien nie (kyk onder andere 1 Korintiërs 5).

Maar kan ons Parkegemeente as ’n gay kerk sien? Trouens, om aangetrokke te voel tot mans is op sigself nie sonde nie. Dit is eers wanneer jy tot die daad oorgaan. Dit mag selfs wees dat Louis van der Riet openlik gay is, maar beplan om selibaat te bly vir die res van sy lewe of selfs met ’n vrou te trou, soos sommige gay mans doen – kyk My man is (nie) gay: Getroude mans aangetrokke tot ander mans.

Dit is egter hoogs onwaarskynlik. Inteendeel, in die artikel Gay dominee: ‘Ek was nog nooit kwaad vir die kerk nie’ sê hy dat hy homself nie gaan dwing om slegs van sy middellyf en op gay te wees nie. (Dus gaan hy ook in sy onderlyf gay wees.) Dus kan ons verwag dat hy in die toekoms in ’n verhouding betrokke sal raak en sal dit “dominee en sy man” wees in die pastorie. Veral ná hierdie oorweldigende ondersteuning wat hy tans beleef.

Verbeel jou ’n jong getroude predikant word bevestig en deur sy hele bevestiging word met lof gepraat van sy buitengewone liefde vir vroue, veral mooi vroue. Dit sou om die minste te sê, uiters onvanpas wees. En net so was hierdie bevestiging onvanpas.

Ons kan nie self besluit hoe ons God lief wil hê nie. Ware liefde vir God, is om gehoorsaam aan Hom te wees.


Spotprent van die moderator op Facebook, na aanleiding van sy betrokkenheid by die bevestiging van ’n gay leraar.

Die ander vraag is: indien gay predikante bevestig word in NG gemeentes, wat was dan die doel van die 2016-besluit (kyk ook Nelis, wat is die doel van die Algemene Sinode?). Dit is veelseggend dat die moderator van die NG Kerk, Nelis Janse van Rensburg, tydens die bevestiging vir Van der Riet gesê het:

“Ons is trots op jou. Ons is oneindig trots op jou, dat jy jou weg oopgesien het tot hier.”

Hierdie gebeurtenis gaan waarskynlik baie punte tel vir die progays tydens vanjaar se algemene sinode…

Dit is baie duidelik dat dit veel beter sal wees as die NG Kerk skeur.

Opdatering: Op 29 Maart 2019 het die volgende inligting aan die lig gekom: Wat het werklik by NG Kerk Parke gebeur? Dit bevestig dat Parkegemeente amptelik ’n gay-kerk is.

***************

Kyk: Gemeente ‘kies liefde bo vrees’ met aanstelling van gay leraar | Kerkbode

18 Februarie 2019, Conette le Roux

Geskiedenis is Sondagaand in ’n stampvol baksteenkerk in Kraaifontein in die Kaapse noordelike voorstede gemaak toe ʼn openlike gay man as leraar van die NG Kerk bevestig is.

“As gemeente en kerkraad onderneem ons om vir jou as gay persoon ’n veilige ruimte te bied,” het ds Charl Stander van Parke-gemeente tydens die bevestiging van ds Louis van der Riet (29) gesê.

Vele seënwense uit die gemeente het gevolg vir Van der Riet, wat in ʼn modieuse swart pak geklee was met ’n byderwetse swartraambril.

Van der Riet het sy nuwe gemeente bedank vir hulle waagmoed. “Ek is deel van ʼn instansie wat soveel mense seergemaak het. Elke nou en dan kies mense wel liefde bo vrees … En dan maak die genade weer ’n bietjie sin. So, te danke aan julle kan ek vanaand nog ʼn tree gee. Nog ʼn versreël bysit. Nog ʼn keer getuig die graf en die kas staan leeg.”

Ds Nelis Janse van Rensburg, voorsitter van die algemene sinodale moderamen, het Van der Riet namens die breër kerkverband verwelkom. “Ons is oneindig trots daarop dat jy jou weg oopgesien het tot hier.”

Prof Elna Mouton het gesê hoe bevoorreg sy was om ʼn pad saam met Louis te kon stap tydens sy studies aan die Fakulteit Teologie op Stellenbosch. “Ek het respek vir jou menswees … Mag dit baie mense tot nadenke stem.”

Vir dr Jacob Meiring, teoloog en berader wat spesifiek op lyflikheid fokus, was dit ʼn merkwaardige oomblik. “Jy staan waar ek as gay persoon nie 30 jaar gelede kon staan nie. Jy kan nie getrou aan God wees as jy nie getrou aan jouself is nie.”

“Die kerkraad se besluit om my te beroep beskou ek as ’n dapper stap van getuienis en gehoorsaamheid, aangesien (sover my kennis strek) dit die eerste beroep van ’n openlike gay leraar in die NG Kerk sal wees. Die warm ontvangs wat ek in die gemeente ontvang het is reeds ’n voorsmaak van die hoop wat leef in en deur Parke-gemeente,” het ds Louis van der Riet voor die geleentheid aan Kaapkerk, webblad van die Sinode van Wes-Kaapland gesê.

Van der Riet se bevestiging kom te midde van verdeeldheid oor selfdegeslagverhoudings in die NG Kerk. In November 2016 het Van der Riet in ʼn inskrywing op Facebook sy seksualiteit bekend gemaak. Hy het in 2015 vir 10 weke die Taizé-gemeenskap in Frankryk besoek en het in die tyd “laat gaan” van sy behoefte om sy eie lewe en die kerk te regeer, het Louis geskryf.

Intussen het die buitengewone Algemene Sinode van die NG Kerk die 2015-besluit oor selfdegeslagverhoudings, dat openlike gay dominees kan bedien en dat hulle burgerlike verbintenisse mag voltrek, omgekeer.

Die Algemene Sinode het bepaal dat standpunte nie op gelowiges en gemeentes afgedwing sal word wanneer “die Gees die gemeentes nie oortuig het nie”. Verder het die Algemene Sinode bevestig dat kerkrade die reg behou om self te besluit wie in leiersposisies in die gemeentes mag dien.

Nadat Van der Riet se studieleier, prof Robert Vosloo, Sondagaand ʼn boodskap gebring het oor die “beliggaamde soeke na waarheid” het die gebruiklike handopleggingseremonie voor in die kerk plaasgevind.

Prop Laurie Gaum het aan Louis gesê dat sy seksualiteit ʼn gawe is. “Gebruik dit in jou gemeente,” was sy raad.

Ds Scherlize Hayes van die NG gemeente Ysterplaat-Suid het vertel hoe sy en Louis onlangs saam in die Echo-huis in Stellenbosch gewoon het. “Jy het altyd die ekstra myl vir mense geloop. My gebed is dat dit in jou bediening sal voortgaan.”

Van der Riet het die aand afgesluit met die wens dat vanaand net die begin sal wees vir alle vorme van “insluiting van ’n beliggaamde soeke na waarheid”.

“Die liefde is meer waagmoedig as vrees. Die hoop beskaam nie,” het hy bygevoeg.

Dr Gustav Claassen, algemene sekretaris van die NG Kerk, kon nie bevestig of Van der Riet se bevestiging wel ʼn eerste vir die NG Kerk is nie.

3 thoughts on “Gemeente ‘kies liefde bo vrees’ met aanstelling van gay leraar”

  1. Ek sal graag wil hoor waar het Louis van der Riet die Here Jesus Christus waarlik as verlosser en saligmaker ontmoet. Laat hy vertel HOE 2 Kor. 5: 17 toe sy lewe beinvloed het. Wanneer hy n troue moet voltrek en Skriflesing doen uit Genesis dat God hulle man en vrou geskape het en dat hulle een moet word … hoe kom hy daar verby. My kop hang voor die heilige God oor wat daar plaasgevind het.

  2. n Hartseer dag vir die Kerk van Jesus Christus wat kies lynreg teen dit wat geskrywe staan in die Ewige Woord van God.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui