Gay-huwelike: NGK-lidmate dreig met hof

Kyk ook:

Die volgende artikel wys die gevolge van die NG Kerk se sinodebesluit oor homoseksualiteit in 2015. Dit gaan nou al so ver dat lidmate die kerk hof toe sleep. Dit laat ’n mens dink aan 1 Korintiërs 6:1-11 (alhoewel ’n mens hierdie nie heeltemal kan vergelyk nie).

********

Gay-huwelike: NGK-lidmate dreig met hof

Jean Oosthuizen, 14 Augustus 2016 00:15

’n Groep lidmate van die NG Kerk, waaronder bekende regsgeleerdes en teoloë, dreig om hul eie kerk hof toe te sleep om die kerk te dwing om gay mense toe te laat om in die kerk te trou.

Die groep van 11 gee die kerk twee weke kans om ’n algemene sinodebesluit van verlede jaar – dat gays wel in die kerk mag trou – onmiddellik toe te pas.

Indien nie, dreig hulle om die kerk voor die einde van die maand deur die howe te dwing om dit te doen.

Die lidmate se optrede volg op regsadvies van een van die land se voorste regsgeleerdes, adv. Wim Trengove, waarin hy sê dat die kerk teenstrydig met sy eie kerkorde optree deur nie sy eie besluit in werking te stel nie.

Die algemene sinode het in Oktober, ná jare se rondtrap oor die kwessie, besluit dat NG predikante wat hul weg oopsien wel gay paartjies in die huwelik mag bevestig.

Die implementering van hierdie besluit is egter “gevries” vanweë appèlle en groot ontevredenheid hierteen.

Nou lyk dit asof dié omstrede kwessie uiteindelik in die howe gaan draai nadat ’n prokureursbrief laat Vrydagmiddag deur die prokureursfirma Baker & McKenzie aan die NG Kerk se leierskap gestuur is.

Die brief is vergesel van Trengove se uitgebreide regsmening wat blykbaar lynreg bots met die anonieme regsmenings waarop kerkleiers hulle tot dusver beroep het.

Die 11 lidmate wat dreig om hul eie kerk te dagvaar is:

  1. Adv. Leon Wessels, direkteur van die Sentrum vir Menseregte aan die Universiteit van die Vrystaat en ereprofessor aan die Noordwes-Universiteit;
  2. Dr. Murray Coetzee, verbonde aan die Beyers Naudé-sentrum vir publieke teologie in Stellenbosch;
  3. Prof. Hendrik Bosman, waarnemende dekaan van die teologie-fakulteit aan die Universiteit Stellenbosch;
  4. Dr. Frits Gaum, emerituspredikant en voormalige redakteur van die Kerkbode;
  5. Dr. Chris Jones, hoof van die Universiteit Stellenbosch se kantoor vir morele leierskap;
  6. Dr. Nadia Marais, sistematiese teoloog aan die Universiteit Stellenbosch; en
  7. Laurie Gaum, gay lidmaat
  8. Pieter Oberholzer, gay lidmaat
  9. Hennie Pienaar, gay lidmaat
  10. Lulani Vermeulen, gay lidmaat
  11. Judy Kotze, gay lidmaat

Volgens Trengove se regsmening het kerk­leiers in stryd met hul eie kerkorde opgetree toe die kerk se moderatuur op advies van die kerk se algemene taakspan: regte (ATR) besluit het om die algemene sinode se besluit op ys te plaas hangende anonieme appèlle teen die sinode se besluit dat gays wel in die kerk mag trou.

Die kerk se verweer, dat hulle ingevolge die gemenereg geen keuse gehad het om die besluit op te skort hangende die appèlle wat daarteen aangeteken is nie, word ernstig deur Trengove bevraagteken.

Nelis Janse van Rensburg, moderator van die NG Kerk, het vroeër vanjaar op Facebook geskryf die opskorting van die gay-besluit “was die outomatiese gevolg van die appèlle” en dat die kerk, ingevolge die gemene reg, geen keuse gehad het nie.

Volgens Trengove se regsmening is dit glad nie die geval nie. Hy sê die gemene reg maak nie ongekwalifiseerd daarvoor voorsiening dat ’n besluit waarteen daar geappelleer word outomaties opgeskort word nie.

Trengove sê dit is in elk geval verkeerd om die prosedurereëls van howe net so van toepassing te wil maak op die besluite van kerkvergaderings.

Hy sê die kerkorde maak boonop nie voorsiening vir appèlle teen besluite van die kerk se algemene sinode nie, aangesien die algemene sinode die kerk se hoogste besluitnemingsliggaam is.

Sover uit artikel 19.1 van die kerkorde afgelei kan word dat daar wel voorsiening vir sulke appèlle is, is dit ongeldig omdat dit teenstrydig is met die res van die kerkorde.

Die implikasie dat ’n meerderheidsbesluit van die algemene sinode met twee jaar vertraag kan word, is ook teenstrydig met die kerkorde.

Selfs as daar aanvaar word dat daar geappelleer kan word teen besluite van die algemene sinode beteken dit nie die besluit móét opgeskort word hangende die appèl nie.

Die lidmate wat die regsmening ingewin het, sê die opskorting van die algemene sinode se besluit veroorsaak dat, in die seisoen van menswaardigheid waarop die NG Kerkfamilie tans fokus, (gay) mense verdere pyn aangedoen word.

Vroeër het 65 teoloë – onder wie die NG Kerk se voormalige moderator, prof. Nelus Niemandt – die algemene sinodale moderamen (ASM) daarvan beskuldig dat hulle die menswaardigheid van gay mense op ’n “skreiende wyse” aantas deur die algemene sinode se besluit te bevries. Die 65 teoloë se beswaar het tot dusver ’n taamlik koue skouer van die kerk gekry. Die kerk se eie koerant, Kerkbode, het geen aandag aan hul brief geskenk nie.

Janse van Rensburg het aan Rapport bevestig dat die kerk die 11 lidmate se prokureursbrief ontvang het. Hy sê dit is “nie ’n slegte ding” dat daar op dié manier regsekerheid gesoek word nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui