Rapport se Piet Strauss voorblad
  • Goeiedag vrinne,

    Jammer oor die groot stilte die afgelope ruk. Gaan maar rof hierdie kant.

    Ek koop nie die Rapport nie, dus het ek die voorbladstorie heeltemal gemis waar Rapport sy bes doen om die poniepers te na-aap en iets te berig oor Piet Strauss se klaarblyklike buite-egtelike verhouding(s). Ek ken vir oom Piet redelik goed (die manier waarna ek na hom verwys behoort dit te illustreer) en ek sluk maar swaar aan die beskuldiging. Maar dit daar gelaat. Wat my genoop het om hieroor te skryf op die Forum is onse Johann Ernst se reaksie. "Die NGK ag egskeiding van ’n predikant as ’n tugwaardige oortreding en soveel te meer as daar owerspel was."

    Ek vang nie mooi nie. Egskeiding is 'n tugwaardige oortreding, maar om die maagdelike geboorte en Jesus se opstanding te ontken is hankie-dorie? Mens kan jouself maar 'n post-teis noem, selfs Jesus se godhead ontken, maar moet net nie skei nie (of Belhar teenstaan nie).

    Moenie fout maak nie, skei is nooit 'n goeie ding nie en owerspel nog minder, maar moet die tug nie bietjie konsekwent toegepas of oorweeg word nie? Die NGK gaan in elk geval niks aan oom Piet kan doen wat Rapport en die dapper naamlose strider nie reeds gedoen het nie.


    Vir diegene wat nie Netwerk24 toegang het nie, plak ek die hele artikel hieronder.

    http://www.netwerk24.com/nuus/2015-04-19-prof-piet-strauss-se-petaljes-was-daar-ng-n-vrou

    Prof. Piet Strauss se petaljes: ‘Derde party’ bedank as leier by Voortrekkers
    Deur Herman Scholtz Sondag 19 April 2015 05:10

    Die NG Kerk gaan bewerings ondersoek dat prof. Piet Strauss, ’n voormalige moderator en -teologiedosent aan die Universiteit van die Vrystaat, ook in die 1990’s oor die tou getrap het. Hy het die afgelope week die kerk ingelig dat hy ná ’n 40 jaar lange huwelik met Ria (63), ’n bekende Bloemfonteinse onderwyser, gaan skei. Die egpaar het agt volwasse kinders (vier is aangeneem).

    Intussen het Charon Streit (51), die sielkundige van Kimberley met wie hy volgens ’n naamlose klikker onlangs ’n buite-egtelike verhouding aangeknoop het, gister as onderleier van die Voortrekkers bedank. Strauss (61) is ’n voormalige hoofleier van die Voortrekkers en het op Voortrekkerkampe met Streit bevriend geraak.

    Die klikker het in ’n brief aan die kerk, Voortrekkers en media beweer Strauss en Streit was so doenig met mekaar by Voortrekkerkampe dat die kinders ongemaklik geraak het. Streit ontken egter dat sy ’n romantiese verhouding met Strauss gehad het.

    “Piet beskryf dit as ’n emosionele verhouding. Ek sou eerder sê dis ’n emosionele vriendskap. Ons is steeds goeie vriende.”
    Strauss sê sy het bloot bedank om die Voortrekkers verleentheid of ongemak te spaar en om op haar praktyk te fokus. Sy bly steeds ’n lid van die Voortrekkers.

    Dr. Johann Ernst, die aktuarius van die NGK, het aan Rapport gesê al die bewerings is aan Strauss se ring in Bloemfontein oorhandig vir ’n ondersoek. Die bewering van ’n vorige buite-egtelike verhouding, in die 1990’s, is daarby ingesluit.
    Die NGK ag egskeiding van ’n predikant as ’n tugwaardige oortreding en soveel te meer as daar owerspel was, sê Ernst.
    “Almal maak foute, maar ons tug die herhaling van sonde.” Die bewering van ’n vorige verhouding is dus relevant omdat dit ’n “herhaling van sonde” sou toon.

    Die vorige “verhouding” waarna die klikker verwys, was met een van sy dogters se musiekonderwysers, het Strauss aan Rapport gesê. Daardie verhouding was, nes sy vriendskap met Streit, net ’n “emosionele band”, sê hy.
    Strauss erken wel dat sy band met die musiekonderwyser destyds probleme in sy huwelik veroorsaak het, maar hy sê dit is uitgesorteer.

    “Die hele situasie is baie traumaties. Om eerlik te wees, daar was bitter min van my huwelik oor. Ek en Ria verskil oor baie dinge – ook oor die redes vir die egskeiding.”
    Streit sê sy het niks met die verbrokkeling van die huwelik te make nie. Uit die aard van haar beroep pak baie mense by haar af, en Strauss het deur die jare met haar gedeel dat hy ongelukkig is in sy huwelik. “In Januarie het hy my gebel en gesê hy gaan uittrek.” Die twee het af en toe oor die foon gepraat en sou mekaar soms sien wanneer hulle óf in Kimberley óf in Bloemfontein was. Maar Strauss sê hulle het nooit spesiaal na die ander stad gery om te kuier nie.

    “Ek het die eerste keer met Piet te doen gehad by die Presidentverkennerskamp in (Julie) 2009. Ek was maar net ’n offisier van Kimberley en hy die hoofleier,” het sy glimlaggend vertel. Terwyl Voortrekkers na hom verwys as “neef Piet” of “prof. Piet” praat sy net van “Piet”, haar vriend. Sy ontken hulle het ontmoet toe Strauss haar bygestaan het met haar egskeiding.
    Sy onthou ook hul gesprekke was nie net oor Strauss se ongelukkige huwelik nie. “Ons is geesgenote. Ons het oor baie diep en emosionele goed gepraat. Ek het byvoorbeeld vir die eerste keer die Belharbelydenis verstaan toe hy dit vir my verduidelik het.” Strauss is ’n prominente teenstander van die aanvaarding van die belydenis deur die NGK.

    “Ons kom baie goed oor die weg en ons het niks verkeerd gedoen nie,” sê Streit. Die “soentjies en drukkies” waaroor die klikker praat, is die Voortrekker-manier van groet, het verskeie Voortrekkers beaam. En ja, sy hét met Strauss gedans, maar ook met ander mans en kinders. Dis deel van die Voortrekker-program om te leer wals, sê sy.

    Streit ontken ten sterkste dat sy in Strauss se kamer was soos wat die klikker beweer, wat nog te sê ná middernag.
    Strauss het haar die afgelope week gewaarsku dat haar naam as ’n derde party in sy huwelik geopper word. “Die hele ding het my so in die gesig geslaan,” sê sy. Maar sy het besluit om net die waarheid te praat, want sy het niks om weg te steek nie.

    Vir eers wil Streit net aangaan met haar lewe totdat die stof gaan lê, sê sy met een van haar dogters se hand op haar skoot.
    Dr. Danie Langner, hoofleier van die Voortrekkers, sê hulle gaan verder met die kommando van Bloemfontein in gesprek tree waar Strauss nog betrokke is. Daar is egter nie ’n ondersoek nie, want daar is nooit ’n amptelike klag by die Voortrekkers ingedien nie.

    “Dit bly ’n tragedie as enigiemand skei, en prof. Piet en Ria is ’n vooraanstaande egpaar van die Voortrekkers. Maar ons veroordeel hom nie omdat hy skei nie.”

    ’n Familievriend van die Strauss-gesin sê die saak is ’n “tragedie par excellence”. “Almal weet Piet was nooit by die huis nie. Hy het vir die kerk en die Voortrekkers geleef.”
  • Wat jy sê is baie waar Coert. Die dubbel-pratery kom uit hul dubbelhartigheid, dink ek. Jakobus 1:8 in Engels: "A double minded man ( Afr dubbelhartige) is unstable in all his ways."

Dagsê, Vreemdeling!

Welkom by ons nuwe geselsplek, as jy nuut is hier, skep 'n rekening en gesels saam.