Dominee van haatspraak aangekla oor pedofilie-uitsprake

Kyk ook:

Die menseregtekommisssie (MRK) het ’n totale belaglikheid geword…

Hennie Pienaar, medestigter van Queers without Borders (QWB), het vir Chris van Wyk by die MRK gaan aankla oor sy uitlating dat indien die kerk homoseksualiteit moet aanvaar, die kerk vir dieselfde redes ook pedofiele sal moet aanvaar.

Nou het die MRK besluit om dit verder te neem en Chris na die gelykheidshof te neem.

Die eerste wat Chris hiervan gehoor het, is toe Netwerk24 hom gekontak het om sy kommentaar hieroor te kry.

Hieroor is Hennie Pienaar baie in sy skik.

Dit is baie duidelik dat vryheid van spraak nie meer ’n gegewe is nie.

***********

Dominee van haatspraak aangekla oor pedofilie-uitsprake | Netwerk24

Deur Jana Marx

07 Oktober 2019 06:00

Die Menseregtekommissie (MRK) gaan ʼn klag van haatspraak teen dr. Chris van Wyk, NG predikant, by die gelykheidshof indien.

Die NG Kerk (NGK) het Sondag met sy 17de vergadering van die Algemene Sinode (AS) in Benoni aan die Oos-Rand begin.

Die vergadering duur tot Vrydag.

Van Wyk, wat lid van die AS se moderatuur was totdat die 17de vergadering gekonstitueer het, het in 2018 in ’n Facebook-kommentaar homoseksualiteit met pedofilie vergelyk.

Die beweging, Queers without Borders (QWB), en ʼn besoeker by die 17de vergadering, het Van Wyk aanvanklik by die MRK verkla.

Die beweging, wat in 2017 gestig is, is ’n maatskaplike drukgroep wat die samelewing bewus maak van hoofsaaklik LGBTIQ-kwessies.

In die e-pos van adv. Loyiso Mpondo van die MRK in die Oos-Kaap se regsafdeling, wat Netwerk24 gesien het, sê Mpondo aan die QWB dat die MRK nié tevrede was met Van Wyk se vertoë op die QWB se klag nie en het “sedertdien besluit om gelykheidshofverrigtinge teen hom by die landdroshof in Port Elizabeth in te stel”.

In sy kommentaar op die Kerkbode se Facebook-blad het Van Wyk geskryf indien seksuele oriëntasie ’n gawe van God is, “sal jy pedofilie – seksuele aangetrokkenheid tot kinders – ook op soortgelyke wyse moet aanvaar”.

Hy het gereageer op die bekentenis van ds. Nelis Janse van Rensburg, nuutverkose moderator, dat sy persoonlike oortuigings nie strook met die kerk se standpunt oor selfdegeslagverhoudings nie.

Janse van Rensburg het in 2018 onder meer geskryf:

“Ek is oortuig daarvan dat seksuele oriëntasie ’n goeie gawe uit God se hand is wat ons met dankbaarheid mag ontvang en met sorg moet koester.”

Van Wyk het in sy repliek aan die MRK ontken dat hy die vergelyking getref het.

“Ek het nie ’n vergelyking tussen selfdegeslagverhoudings en pedofilie getref nie. Ek het gesê indien alle seksuele oriëntasies ’n geskenk van God is, soos ds. Nelis Janse van Rensburg volhou, hy alle seksuele oriëntasies, soos pedofilie, moes insluit om konsekwent in sy argument te wees.
“Ek het slegs sy foutiewe logika uitgewys. Dis duidelik uit my brief dat ek nie na homoseksuele oriëntasie as sodanig verwys het nie.”

Van Wyk was Sondagaand nog nie bewus van die nuwe stappe teen hom nie.

“Dis ’n jaar later. Hoe is dit dat ek eerste in die media daarvan hoor of lees?”

Hy wou nie kommentaar op die klag lewer voordat hy nie self in kennis gestel is nie.

* Van Wyk is die predikant by die NG kerk Somerstrand in Port Elizabeth en ook voormalige moderator van die Oos-Kaapse sinode.

2 thoughts on “Dominee van haatspraak aangekla oor pedofilie-uitsprake”

  1. Leer om te argumenteer – slogans en ideologieë vat jou net sover, tensy jou gevoelens seergemaak word, dan hardloop mens hof toe…?

    Chris van Wyk volg die advies:

    1 Timoteus 6 : 3 As iemand ’n ander leer verkondig en nie hou by die gesonde woorde van ons Here Jesus Christus en by die leer van ons godsdiens nie, 4 is hy verwaand en weet hy niks. Hy het ’n sieklike beheptheid met twisvrae en met stryery oor woorde. Daaruit ontstaan afguns, twis, beledigings, gemene verdagmakery, 5 voortdurende rusie van mense wat verstandelik verward en van die waarheid beroof is. Hulle dink dat die godsdiens iets is om geldelike wins mee te maak. 11 Maar jy, man van God, moet van hierdie dinge af wegvlug. Streef na opregtheid, toewyding aan God, geloof, liefde, volharding, minsaamheid. 12 In die goeie wedloop van die geloof moet jy al jou kragte inspan en die ewige lewe as prys behaal. Daartoe het God jou geroep en het jy die goeie belydenis voor baie getuies afgelê.

  2. Dank die Here vir mense wat soos Luther, verklaar ” Hier staan ek, ek kan nie anders nie!” Mag die Here self jou en jou familie versterk met Sy nabyheid in hierdie tyd Dr Chris. Uiteindelik is dit wat God van ons dink en s^e, belangriker as wat enige mens op aarde van dink of verklaar.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui