Diversiteitsforum sukkel om te herrys

Kyk ook:

Onderstaande het op die NGK se facebookblad verskyn.

Dit was skynbaar ’n poging om die gestorwe NG-diversiteitsforum weer te laat opstaan. Slegs behoudenes het egter kommentaar gelewer en die diversiteitstaakgroep is onwaarskynlik te vinde vir hulle voorstelle. Waarskynlik daarom is die diversiteitsforum (gespreksforum) op www.ngkerk.org.za morsdood.

——————————-

NG Kerk

2 Mei 2012

Die Diversiteitstaakgroep se kommunikasiekomitee het in 2010 ’n paar riglyne neergelê vir gesprekke op die Diversiteitsforum. Alhoewel hierdie bladsy nie aan die diversiteitsforum gekoppel is nie, is dit moontlik sinvol as ons saam gesels oor hoe gesprekke oor die kerk en geloof op facebook positief kan plaasvind. Hierdie gedagtes kan dalk ’n goeie plek wees om te begin. Ek [NG Kerk] het dele uitgehaal om dit net bietjie meer hanteerbaar te maak.

UITGANGSPUNTE VIR DIE DIVERSITEITSFORUM

Die kommunikasiekomitee van die Diversiteitstaaksgroep het pas vergader en die volgende uitgangspunte vir die Forum bevestig, soos reeds ook uit skrywes daarop geblyk het.

Toeligtende kommentaar word tussen hakies bygevoeg.

1 Die forum wil ’n oop gesprek oor diversiteit bevorder tussen alle verskillende groepe wat in die visie en missie genoem word.

2 Twee belangrike voorwaardes geld vir enigiemand om aan die gesprekke deel te neem: Eerstens dat die fokus op diversiteit soos in die visie en missie moet bly, en tweedens dat die gesprek hoflik en met wedersydse respek gevoer moet word.

3 Vanweë die aard en plasing van die forum op die NG Kerk se webwerf is dit duidelik dat die gesprek vanuit ’n Christelike en gereformeerde oord geïnisieer word, maar enigiemand wat hiervan verskil, is juis in die belang van diversiteit welkom om menings te kom wissel.

5 Onderlinge en selfs drastiese verskille, selfs binne eie gereformeerde geledere, word erken en gerespekteer.

6 Gesprekke moet waar moontlik in die rigting van hooftemas gestuur word ter wille van ’n groter samehang.

Die komitee glo die forum is belangrik vir diversiteitsbevordering en beskou onderlinge verskille geensins as probleme nie, maar juis as uitdagings vir ’n sinvolle gesprek. Die einddoel is immers die bevordering van naasteliefde in die wye sin van die woord.

Kommentare

Wynand Louw

Die probleem met die Diversiteitsforum was dat die persone wat die leiding moes neem en die gesprek moes inisieer dit geensins uit ’n “Gereformeerde oord” gedoen het nie. Dit was vir hulle uiters moeilik om basiese artikels van die Gereformeerde belydenis te bely, en het vrae oor hulle eie geloof in die verband aanhou systap en ontduik.

“Diversiteit” is in die forum gebruik as verskoning vir relativisme. Die Bybel en Gereformeerde belydenis is deur deelnemers aan die forum relativeer totdat dit totaal betekenis verloor het. Die grense van aanvaarbare diversiteit van teologiese standpunte in die NG Kerk is nooit in die forum gestel nie, ten spyte van herhaalde versoeke dat dit gedoen moet word.

Ook in die verband is die Gereformeerde belydenis – wat duidelik deur die kerkorde as absolute grense van diversiteit in die NG Kerk vasgelê word – skynbaar totaal misken.

Die Diversiteitsforum sal dus slegs kan funksioneer indien dié wat in beheer is hulleself neerlê by die Kerkorde van die NG Kerk en die Drie Formuliere van Eenheid as die absolute grense van leerstellige diversiteit in die NG Kerk aanvaar.

Aangesien die NG Kerk ’n vrywillige organisasie is, is die neerlegging van hierdie grense geensins ’n aantasting van enigiemand se menswaardigheid of menseregte nie.

Wie die grense van diversiteit wyer wil definieer as die Drie Formuliere van Eenheid kan nie aanbly in die NG Kerk nie.

Dit is so eenvoudig soos dit.

Ek is regtig bly dat dit lyk of die forum weer gaan funksioneer. Die wie die leiding gaan neem moet dit egter, soos die pos hierbo dit duidelik stel, binne die grense van die NG Kerk se Kerkorde doen en leerstellige diversiteit beperk tot dit wat die Kerkorde toelaat: Die belydenisskrifte.

Henrietta Klaasing

Stem saam met jou Wynand. Van die begin af het mens die idee gekry dat die “diversiteitsforum” soos dit toe genoem was, ’n instrument was wat debat (en sodoende denke?) in ’n bepaalde rigting, ’n tipe social gospel (liberaal? humanisties?) wou dwing. Daar was sogenaamd vryheid van “spraak” want ’n aanvanklike plasing het onmiddellik verskyn sonder vooraf moderering, maar indien ’n mens se plasing nie binne die voorgeskrewe eng baantjies was nie, is dit summier verwyder. Na die dood van Charles Malan het dit “gespreksforum geword, maar … dit was net “more of the same”.

Coert Welman

Ek moet toegee, dinge was darem beter onder Gerhard. As mens doodseker wou wees dat ’n plasing onder Charles Malan se heerskappy moet verdwyn, dan moes dit ’n Bybelvers bevat. Boem! Tatta plasing.

Voorstel vir die Diversiteit taakspan: aangesien dit vir julle ’n onbegonne taak gaan wees om ’n teologies neutrale persoon te kry om die forum te bedryf, maak dan seker dat die forumbestuurder nooit deelneem aan enige gesprekke nie en stel die grense van aanvaarbare diversiteit onmiddellik na die afskop van die “new and improved” D-Forum.

Hennie Mouton

Die werkbaarheid en geestelike sinvolheid van die nuwe diversiteitsforum lê in die betekenis en uitvoering van die volgende 2 uitgangspunte soos deur die taakspan daargestel:

“Vanweë die aard en plasing van die forum op die NG Kerk se webwerf is dit duidelik dat die gesprek vanuit ’n Christelike en gereformeerde oord geïnisieer word, maar enigiemand wat hiervan verskil, is juis in die belang van diversiteit welkom om menings te kom wissel.

Onderlinge en selfs drastiese verskille, selfs binne eie gereformeerde geledere, word erken en gerespekteer.”

Indien dit gaan uitloop op slegs ’n spul wyduiteenlopende opinies van behoudend tot uiters liberaal, gaan dit niks meer bereik as kletskerk nie, alhoewel die styl darem net minder swak behoort te wees.

Daar moet dus uiteindelik gepoog word om aanvaarbare grense van diversiteit binne die NG Kerk te probeer neerlê.

Die “Christelike en gereformeerde oord” kan dus nie net gaan oor die inisiëring van die aksie nie, maar moet ook in die uiteindelike bevindings gehandhaaf word, tensy die doel is om die kerk buite die “Christelike en gereformeerde oord” te probeer indoktrineer.

“Naasteliefde” kan nie ten koste van waarheid nagejaag word nie, want dan kom dit nie van God af nie, en mag nie deur Sy kerk aangehang word nie.

God se naasteliefde kan nie teenstrydig met Sy openbarings daaroor in Sy Woord wees nie, en kan dus nooit kompromieë met vals gelowe probeer akkommodeer nie.

Philip du Toit

Ek wil reageer op hierdie stelling:

“Eerstens dat die fokus op diversiteit soos in die visie en missie moet bly”

Ek dink een van die grootste struikelblokke in die diversiteitsforum is dat die konsep van “diversiteit” as sodanig ook geproblematiseer kan word, en dat die gevoel bestaan het dat daar nie altyd voldoende ruimte binne die gesprek was om ook hierdie konsep te bespreek nie. M.a.w., die visie en missie, of liewer, die MANDAAT vir ’n diversiteitsforum en wat daaronder verstaan word het onder bespreking gekom. Om gesprekke dus telkens te wou forseer om “oor diversiteit” te handel, het ’n dwangbuiseffek op gesprekke gehad, terwyl daar volgens diegene wat die konsep van diversiteit geproblematiseer het, juis ook daaroor gepraat moet word. M.a.w., die gevoel het onstaan dat om nie die gesprek oor die problematisering van diversiteit as sodanig voldoende toe te laat nie, dat sulkes uitgehou probeer word. Myns insiens bestaan daar ’n gevaar in die verabsolutering van diversiteit, juis dat jy diegene wat dit bevraagteken, uitsluit. Hierdie kernprobleem sal dus in gedagte gehou moet word.

Om dus te vereenvoudig.

Indien die taakspan dus nie die mandaat van diversiteit oop wil maak vir bespreking nie, moet hulle doelbewus diegene wat dit problematiseer uitsluit, en sodoende die hele konsep van diversiteit en insluiting dekonstrueer.

Of hulle moet die mandaat vir diversiteit wel oop maak vir bespreking en in die proses bepaalde grense stel vir diversiteit en sodoende die konsep van absolute diversiteit weereens dekonstrueer.

Watter kant toe jy ook al redeneer,ek dink nie jy kan “diversiteit” absoluut maak nie.

Gideon Aggenbag

Dit is bemoedigend dat dit sinvol geag word “as ons saam gesels oor hoe gesprekke oor die kerk en geloof op facebook positief kan plaasvind…”. My vraag is egter hoe sinvol dit is dat deelnemers wat duidelik geen erg het aan die “kerk en geloof” nie (dws. ongelowiges/ateïste) ongestoord toegelaat word om hulle menings (en dikwels spottery) in so ’n bespreking te stel. Hierdie is immers ’n gespreksruimte vir gereformeerde gelowiges?

Hierbo word dit gestel: “6 Gesprekke moet waar moontlik in die rigting van hooftemas gestuur word ter wille van ’n groter samehang. …

Die komitee glo die forum is belangrik vir diversiteitsbevordering… Die einddoel is immers die bevordering van naasteliefde in die wye sin van die woord.”

Wat is die hooftemas en wie bepaal dit? Is die hooftema “diversiteitsbevordering” – sodat “naasteliefde in die wye sin van die woord” bevorder kan word? Naasteliefde is natuurlik ’n eg-Christelike beginsel en behoort altyd en oral deur christene uitgeleef en bevorder te word. Wanneer naasteliefde en diversiteitsbevordering egter bedmaats gemaak word, móét sommige vrae gevra word:

Word die grense van naasteliefde miskien só uitgebrei dat dit beteken dat christene die aanhangers van ander gelowe nie sal aanstoot gee deur Jesus Christus as die enigste weg tot saligheid te proklameer/verkondig nie? Sal naasteliefde ook gesamentlike aanbidding (met enige ander geloof) insluit? (Dit was alreeds in ’n vorige gespreksforum voorgestel!)

En die bedmaat, “diversiteitsbevordering”? Akkommodering van diverse, uiteenlopende geloofstandpunte? Watter soort diversiteit wil ons bevorder? Teologiese diversiteit? Nuwe Era en/of Ontluikende sieninge? Postmoderne standpunte? Wil ons soek na hoeveel “wiggle room” in die kerk mag wees? Wat bedoel die diversiteit-taakspan met diversiteitsbevordering met die einddoel as “bevordering van naasteliefde in die wye sin van die woord”?

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui