Dit is ’n goeie besluit, sê NG dosente

Kyk ook:

In die artikel hieronder skaar ’n aantal teologiedosente van die Universiteit van Pretoria hulle by die 2015 besluit oor selfdegeslagverhoudings. Dus is al drie die NG Kerk se teologiese fakulteite openlik progay (kyk ook NG teologiese skole progay).

Behoudende lidmate wat hulle kinders nog aan die NG Kerk se teologiese skole wil laat studeer, moet ernstig daaroor besin.

Dit is baie duidelik dat daar skeuring in die NG Kerk sal moet plaasvind – die NG Kerk sal nie meer kan omdraai nie. Selfs al word die 2015 besluit omgekeer, sal verder gegaan moet word: die NG Kerk sal haar moet distansieer van die bestaande drie teologiese fakulteite. Dit is baie hoogs onwaarskynlik dat dit sal gebeur.

Hierdie artikel wys ook net weer duidelik dat liberales nie die wetenskap en getuienisse van voorheen gay mense wil erken nie. Hulle bly die benadering volg dat ’n mens so gebore word en dat ’n mens nie kan verander nie.

**********

Dit is ’n goeie besluit, sê NG dosente | Kerkbode

26 Oktober 2016

Teologiedosente van die NG Kerk aan die Universiteit van Pretoria bestempel die Algemene Sinode van 2015 se besluit oor verhoudinge tussen mense van dieselfde geslag as “‘n besonder goeie en verantwoordelike besluimemingsmoment” op die NG Kerk se reis met die Bybel en die vertolking daarvan. Die elf dosente se volledige verklaring lui:

HERMENEUTIESE REIS VAN NG KERK

Ons, dosente verbonde aan die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van Pretoria, bevestig ons dat ons teologie beoefen vanuit ’n Bybels-reformatoriese perspektief. In ons teologie en Skrifverstaan hou ons rekening met die Midde-Oosterse konteks waarin die evangelie destyds ontstaan het en die Suid-Afrikaanse konteks waarin die evangelie vandag, meer as twintig eeue later, verkondig word. Verder verklaar ons ons verbondenheid aan die belydenisgrondslag van die NG Kerk. Met hierdie bevestiging as agtergrond maak ons enkele verdere opmerkinge maak oor wat ons noem: “Die hermeneutiese reis van die NG Kerk”.

Ons wil graag ons akademiese waardering teenoor die NG Kerk uitspreek vir hulle standpuntinname tydens die Algemene Sinode van Oktober 2015 oor selfdegeslagverhoudings. Ons is ook dankbaar oor die onlangse besluite wat ons medereformatoriese kollegas van die Nederduitsche Hervormde Kerk oor die saak van selfdegeslagverhoudings geneem het. Ter ondersteuning van die buitengewone Algemene Sinode in November 2016 sou ons graag die volgende wou stel.

As akademici wat verantwoordelik is vir die opleiding van studente vir onder andere die NG Kerk, is ons oortuig dat dit ’n besonder goeie en verantwoordelike besluitnemingsmoment verteenwoordig op die hermeneutiese reis op grond van God se geopenbaarde Woord aan ons. Dit is ’n reis van die NG Kerk in Suid-Afrika oor die afgelope paar dekades wat ook die besondere onlangse hermeneutiese momente insluit van besluite soos die veroordeeling van apartheid as Skrifdwaling; die erkenning van die vrou in die amp en op hierdie tydstip, selfdegeslagverhoudings.

Om net vir een oomblik hierby te verwyl. Dit is dieselfde Kerk wat vroeër met oortuiging kon sê: Dit is wat God se wil is vir volkereverhoudinge in Suid-Afrika! Apartheid. En toe dapper genoeg was om uiteindelik op ’n voortgaande hermeneutiese reis van kritiese selfondersoek te erken. Skuus, ons het dit baie verkeerd gelees. Dit is dieselfde Kerk wat vroeër gesê het: Maar die skrif stel dit duidelik dat die vrou nie in die amp moet staan nie. Weer kon sy op hierdie voortgaande hermeneutiese reis uiteindelik later met oorgawe bely: Dit mag! En watter rykdom het daarna deel geword van ons geloofsgemeenskappe!

Dit is so: Hierdie twee voorafgaande beslissingsmomente wat as voorbeeld gebruik is, regverdig nog niks opsigself nie. Maar as ons self-krities kyk na hierdie nuwe moment op die hermeneutiese reis waarop die NG Kerk haar bevind, dan oordeel ons dat hierdie standpuntinname goed is.

Dit is ’n standpuntinname oor selfdegeslagverhoudinges in verbondenheid aan die Bybel as Woord van God en die belydenisskrifte. Dit is ’n standpuntinname oor selfdegeslagverhoudings wat opnuut getuienis aflê van die die getrouheid van die kerk aan haar tradisie, en die belydenisgrondslag van die wyse waarop sy haar hermeneutiese reis op grond van hierdie tradisie voortsit.

Juis dit word deur baie kerklike stemme as teenargument aangevoer om hierdie besluit teen te staan of te verwerp: Dit is – volgens hulle – teen die Skrif as Woord van God en teen ons belydenisgrondslag en teen ons tradisie. Graag verwys ons na die besondere standpunt van Calvyn wat na ons oordeel die NGK se hermeneutiese reis Skrifgetrou stuur en die aansluiting – in hierdie verband – by die Franse (1559) en Nederlandse Geloofsbelydenisse (1561).

In sy Institusie skryf Calvin dat ons God op twee besondere wyse kan leer ken. Aan alle mense as God se handewerk. het Hy ’n sensus divinitatis (‘n “gewaarwording van die goddelike”) toevertrou. God het ast’ware op alle mense se harte iets van Homself ingegraveer. Dit dien as aansluitingspunt vir die mens se bewuswording van God.

Daarmee saam beklemtoon hy die belangrikheid van God se openbaring in die Skrif waardeur ons op ’n besondere wyse en ten volle die reddende handelinge van God van nader leer ken in Jesus Christus. Alhoewel ook enkele ander belangrike kwalifiseringe deur Calvyn aangebring word, is die belangrike punt dat hy uiteindelik in sy beklemtoning van die twee bronne (Skrif en natuur) waardeur ons God se wil kan leer ken, ’n besondere rol toeken aan die natuurwetenskappe van sy tyd (te wete astronomie en medisyne).

Hierdeur, voer hy aan, kan ons vanuit God se handewerk iets meer leer van goddelike wysheid in die skepping. Calvyn gaan selfs so ver as om aan te voer dat daar ten opsigte van onderskeidingsvermoë in hierdie opsig van die wil van God in die skepping in die algemeen ’n ooreenstemming is tussen hulle binne en buite die Christelike geloofsgemeenskappe.

Hierdie punt wat Calvyn maak, word sterker uitgedruk in die Franse en Nederlandse Geloofsbelydenisse waarin uiteindelik kort en kragtig gestel word dat ons die wil van God ken vanuit die natuurlike orde (Sy handewerk!) en die Bybel. Uiteindelik word hierdie oortuiging – veral later in die 17de eeu in England – kort en kragtig saamgevat as die tweeboek tradisie. Ons kennis van God en die wil van God leer ons ken vanuit hierdie twee onderskeie maar komplimentere “boeke” – beide deur God geskrywe! En dit is die kern wat ons opnuut in lyn met ons Reformatoriese tradisie tot vandag toe nog wil onderskryf, naamlik die saambedink van Christelike (Reformatoriese) teologie en kennis van die natuurlike wêreld soos in die natuurwetenskappe verwoord word.

[Net soos met die 2015 besluit en die Hervormde Kerk se besluit, word hier geïnsinueer dat homoseksuele mense so gebore word en dat daar dus geen hoop vir hulle is om te verander nie. Dit is egter baie ver van die waarheid – kyk Nuutste wetenskaplike navorsing oor homoseksualiteit. En dan is daar baie voorbeelde om hierdie navorsing te bevestig – kyk Getuienisse van voorheen gay mense. Interessant dat liberales nooit hierdie feite wil erken nie.]

Ons vertrou dat die buitengewone Algemene Sinode in November 2016 die NG Kerk se tradisie van Skrifhantering sal voortsit, die gees van die NG Kerk se missionale openheid gestand sal doen en die standpunt sal handhaaf dat alle mense met hulle volle menswees deel is van die liggaam van Christus. Verder: Ons onderstreep die belang van eenheid in die kerk van Jesus Christus en ook in die NG Kerk. Daar is geen twyfel oor Jesus Christus se op drag aan sy volgelinge om een te wees nie, en daarom pleit ons by ons broers en susters in die NG Kerk om dwarsdeur die onderskeidinsgprosesse oor selfdegeslagverhoudings eenheid na te streef. Ons is tewens oortuig dat die Skrif en die tye waar in ons leef, ons aanspoor om met nuwe ywer eenheid in die NG Kerkfamilie na te jaag.

Ondeteken deur:

Die Aktuarius van die Oostelike Sinode (J vd Merwe) wat ook ’n NG dosent is, is nie gevra om hierdie verklaring te onderteken nie, op grond van die rol wat hy in die kerk moet speel.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui