Die Trojaanse Perd in die NG Kerk (7 skrywers)

Die Trojaanse Perd

in die NG Kerk

– die kanker van Evolusie en Liberalisme

Vir enigiemand wat ernstig is oor
Christenskap en die Kerk

Advertensieplakkaat (portret)
Advertensieplakkaat (landskap)
Kliek hier...

Kliek op een van die knoppies hieronder om die elektroniese weergawe gratis af te laai.

Datum van publikasie: November 2010

Let wel dat die internetskakels in die boek nie meer werk nie omdat dit verander het. Al die artikels is wel steeds op hierdie webblad. Om ’n spesifieke artikel te soek, gebruik asseblief die soekblokkie.

Inhoudsopgawe

1. Skrywers

Skrywers

Bydraers

  • Anna Louw
  • James Maré
  • Pieter Pelser
  • Dr. Kobus Stapelberg
  • Sarel van der Merwe
  • Ellison Mouton

2. ’n Voëlvlug oor die hoofstukke van die boek

Perspektiewe oor teologiese veranderinge binne die NG Kerk oor die afgelope ongeveer vyftig jaar word aan die begin van hierdie boek gegee. Melding word gemaak van die heersende roeringe en die ingrypende implikasies vir die geloof van lidmate en die praktiese lewe van die Kerk.

Daar word gekyk na hoe die ommekeer in Skrifbeskouing ook nie Skrifkritiek en Skrifgebruik onaangetas gelaat het nie. Dit het tot gevolg dat Bybelwaarhede soos die opstanding van Christus, Sy maagdelike geboorte, Sy Godheid en selfs Sy plaasvervangende sterwe verloën word. Daar kan selfs gevra word: Is die hart van die evangelie nie uitgeruk nie? Die liberale aanslag het verdoemende gevolge op vele terreine. Die hantering van homoseksualiteit word bespreek as voorbeeld van die gevolge van verkeerde besluite aangaande Skrifbeskouing.

Nuwe strominge soos die Ontluikende Kerk en die “Nuwe Hervorming” (NH) kom onder die vergrootglas. Ernstige kommer word uitgespreek oor die ongereformeerde rigting wat hierdie strominge ingaan en die traagheid om met leertug teen teoloë op te tree wat meelopers hiervan is.

Enkele gedagtes word uitgespreek oor die Evangeliese Inisiatief (EI). Alhoewel daar waardering is vir die getuienis wat die EI uitdra ten opsigte van wat die waarheid is, is die vraag: Doen die EI genoeg om ’n omkeer te bewerkstellig?

Evolusie, wat gesien word as die vrot appel in die NG Kerk se kis, kry uitgebreide aandag, omdat die omhelsing van evolusionisme verwoestende en verreikende gevolge het op sake wat deel is van die gereformeerde belydenis.

Die hoofstuk oor die huwelik en saambly toon aan wat met ’n sogenaamde minder veroordelende verklaring ten opsigte van saambly beoog word, naamlik om vir die soveelste keer akkommoderend te wees. Ons kan nie die Woord van God verander om by die kultuur van die dag of om by mense se sienings en filosofieë te pas nie. In Sy Woord is dit duidelik dat seks buite die huwelik deur God verbied word.

Die agste hoofstuk toon aan presies hóé ongelyk die speelveld tussen liberales en behoudendes al geword het. Die media werk op vele terreine aktief mee om postmodernistiese liberalisme in die kerk in te voer.

3. Boek se inhoudsopgawe

Om ’n idee te gee waaroor die boek handel, hier volg die inhoudsopgawe:

Woordelys v
Lys van afkortings xi
Voorwoord xii
INLEIDING 1
HOOFSTUK 1: Die ommekeer in Skrifbeskouing 3
HOOFSTUK 2: Skrifkritiek en Skrifgebruik 15
HOOFSTUK 3: Gevolge van verkeerde besluite aangaande Skrifbeskouing 28
HOOFSTUK 4: Homoseksualiteit – ’n voorbeeld van die heersende manier van Skrifuitleg 46
HOOFSTUK 5: Aanslag op die Woord vanuit postmodernistiese denkwyses 72
HOOFSTUK 6: Evolusie en evolusionisme – die vrot appel in die kis! 107
HOOFSTUK 7: Die huwelik in die spervuur 159
HOOFSTUK 8: Ongelyke speelveld? 176
HOOFSTUK 9: Vorentoe! 199
BYLAAG A: George Claassen hoofspreker by UP se Teologiese Fakulteit 206
BYLAAG B: Verklaring van Doornkloof NG Kerk oor “Grense en saambly” 231
BYLAAG C: Geloofsekerheid 236
BYLAAG D: Voorgestelde vrae wanneer ’n predikant beroep word 246
Bronnelys 249
Aanbevole bronne 251

4. Agterblad kommentaar

In hierdie boek word gewys dat die gesaghebbende teoloë met hul optrede en uitlatings rooi waarskuwingsligte vir die NG Kerk laat flikker. Skokfeite wat die voortbestaan van die kerk van Jesus Christus ernstig bedreig, word op die tafel geplaas. Elke gelowige in die NG Kerk behoort hierdie boek te lees en daadwerklik op te tree, aangesien die Skriffondamente omvergegooi word. Ons het nog tyd om wakker te word en ons Drie-enige God om genade te smeek!

Dr. Elreza Mulder
Studente Dekaan
Back to the Bible Training College

Dr. P.J. (Flip) Buys, ondervoorsitter van die World Reformed Fellowship sê: Hierdie publikasie is ’n profetiese roepstem. Enersyds veroorsaak dit pyn in my hart.
Nogtans help die lees van die boek om die worsteling van baie Christene te verstaan. Hier is mense aan die skryf wat die Here liefhet en die kerk van Christus liefhet. Wanneer jy alles aandagtig lees word jy op jou knieë gedwing om saam te bid vir ware herlewing en reformasie.

5. Vrae en Antwoorde

Hoekom is so ’n boek nodig? Wat wil met die boek bereik word?

Daar is ’n hele paar dinge wat op hierdie vraag geantwoord kan word:

  • In Jak 5:19-20 staan: (19)My broers, as een van julle van die waarheid afdwaal en iemand sou hom terugbring, (20)weet dan dat hy wat ’n sondaar van sy dwaalweg terugbring, hom uit die dood red en maak dat ’n menigte sondes vergewe word. En in Esegiël 3:17-21 stel God wagters aan wat Israel namens Hom moet waarsku. Om te sê dat God ons as wagters aangestel het, klink voorbarig. Kom ons sê eerder dat ons dit op ons hart het om die kerk te waarsku van dwalings wat in die lang termyn God se Koninkryk skade sal aandoen.
  • Baie mense ontken of onderskat die probleem of dink maar dat ander mense hierdie probleem moet oplos. Ons wil mense inlig oor hoe groot die probleem van liberale teologie werklik is en aanmoedig om saam met ons te veg om die leer suiwer te hou.
  • Om teologiese studente se oë oop te maak en hulle te laat besef dat daar ’n ander kant is as wat by die teologiese fakulteite aan hulle geleer word.
  • Om mense wat sinodes/ringe bywoon, attent te maak op die gevaar van liberale teologie sodat hulle met hulle stem die regte invloed kan uitoefen.
  • Kerkrade, wie se taak dit is om dwaling te bestry, moet die regte aanstellings kan maak.
  • Mense moet hulle kinders van vroeë ouderdom inlig oor hierdie gevare, veral evolusie, wat vandag op skool geleer moet word.

Alhoewel die boek uitsluitlik vertel van die dwaling ondere sekere teoloë in die NG Kerk, hoop ons dat mense van ander kerke ook hierdie sal lees en daarvoor op die uitkyk sal wees in hulle eie kerke en vir die die NGK sal bid. Geen kerk is immers gevrywaar teen hierdie tipe dwaling nie (kyk Hersien leer oor gesag van die Bybel).

Is julle nie bang dat hierdie boek huidige lidmate negatief sal maak oor die NG Kerk en dat hulle die kerk sal verlaat nie?

Alhoewel die boek huidige lidmate negatief of moedeloos kan maak, is dit nie die doel van die boek nie. Dit is nie ons doel om die NG Kerk tot ’n val te probeer bring nie. Dan sou ons eerder net die kerk verlaat het en na ’n ander kerk gegaan het. Dit is juis omdat ons lief is vir die NG Kerk dat ons hierdie boek geskyf het. Ons voel dat as iemand nie iets doen nie, sal die kerk in elk geval ’n stadige dood sterf.

Dit is baie belangrik om lidmate tot die besef te laat kom dat ons wakker moet wees en dwaling ernstig moet opneem. Ons glo dat lojale NGK lidmate saam met ons sal bid en veg vir die geloofsuiwerheid van die kerk van Christus.

Hoe ken die skrywers mekaar?

Ons is ’n landwye groep lidmate en leraars, wat die NG Kerk liefhet. Ons het per e-pos met mekaar begin kontak maak, ons besorgdhede met mekaar begin deel en mekaar so leer ken.

Is dit nie ’n baie negatiewe boek nie?

Dit is definitief nie van die positiefste boeke wat ’n mens in jou lewe sal lees nie, en daar is mense wat sê dat hulle nie alewig besig wil wees met die negatiewe nie. Maar die vraag is net, wat is die alternatief? Hoe moet ’n mens hierdie swaar en ernstige saak in ’n positiewe lig stel? Dit is dieselfde om vir Jesaja, Jeremia, en die ander profete te sê dat hulle te negatief is. Maar hoe verkondig jy op ’n positiewe manier aan ’n volk wat nie wil luister nie, dat hulle weggevoer gaan word as hulle nie tot inkeer gaan kom nie?

Dink maar aan die voorbeeld in 1 Konings 22 toe al die ander profete positief wou wees en vir koning Josafat aanbeveel het om te gaan veg:

(10) Die koning van Israel en koning Josafat van Juda het elkeen in sy koninklike gewaad op sy troon gesit by die dorsvloer voor die poort van Samaria. Voor hulle was al die profete besig met hulle voorspellings. (11)Sedekia seun van Kenaäna het vir hom ’n paar horings van yster gemaak en gesê: “So sê die Here: Met hierdie horings sal u die Arameërs stoot tot dit klaar is met hulle.” (12)So het al die profete voorspel. Hulle uitspraak was: “Trek op teen Ramot in Gilead. U sal wen. Die Here gee die stad aan die koning oor.” (13)Die boodskapper wat vir Miga gaan roep het, het vir hom gesê: “Kyk, die uitspraak van die profete was eenstemmig gunstig vir die koning. Laat joune nou tog dieselfde wees. Sê iets goeds!” (14)Maar Miga sê: “So seker as die Here leef, wat die Here vir my sê, dit sal ek sê!” (15)Toe Miga by die koning kom, sê dié vir hom: “Miga, moet ons teen Ramot in Gilead gaan veg? Of moet ons dit laat staan?” “Gaan gerus,” antwoord Miga, “u sal wen. Die Here gee die stad aan die koning oor. (16)Maar die koning sê vir hom: “Hoeveel keer moet ek nog by jou daarop aandring dat jy vir my niks anders as die waarheid in die Naam van die Here moet sê nie!” (17)Toe sê Miga: “Ek het die hele Israel verstrooi op die berge gesien soos skape wat nie ’n wagter het nie. Die Here het gesê: Hulle het nie ’n koning nie, laat hulle maar in vrede teruggaan, elkeen na sy huis toe.” (18)Die koning van Israel sê toe vir Josafat: “Ek het jou mos gesê hy voorspel vir my nie iets wat goed is nie, net die slegste.” (19)En Miga praat verder: “Hoor die woord van die Here! Ek het die Here op sy troon sien sit met die hele hemelse leërmag wat weerskante van Hom staan. (20)En die Here het gesê: ‘Wie sal vir Agab so ver kry dat hy na Ramot in Gilead toe gaan en daar sneuwel?’ Die een het toe dit gesê en die ander dat, (21)totdat die gees vorentoe kom en voor die Here gaan staan en gesê het: ‘Ek sal hom so ver kry.’ En toe die Here vir hom vra: ‘Hoe?’ (22)sê die Gees: ‘Ek sal uitgaan en ’n leuengees word in die mond van al sy profete.’ Toe sê die Here: ‘Jy sal hom so ver kry. Gaan doen dit, jy sal dit regkry.’ (23)So het die Here ’n leuengees in die mond van al hierdie profete van u laat kom, maar die Here het in werklikheid vir u ’n ramp aangekondig.”

Wat moet ’n mens maak van Miga se reaksie: moes hy ook agter die ander profete aanpraat om nie as “stroomop” gesien te word nie?

Is dit nie onchristelik om mense (veral mede-Christene) te teiken en hulle in ’n slegte lig te probeer stel nie?

Dit is ’n baie geldige vraag. Hierdie vraag word spesifiek bespreek in die voorwoord waar ’n hele paar gevalle genoem word waar Jesus self baie sterk teen mense opgetree het wat van beter moes weet. Kyk byvoorbeeld:

  • Jesus is baie ernstig oor verkeerde dinge: In Joh. 8:10-11 sê Jesus vir ’n prostituut om nie meer te gaan sondig nie, alhoewel in groot liefde deurdat Hy keer dat sy gestenig word en haar nie daar en dan veroordeel nie.
  • In Joh. 2:14-16 dryf Jesus die handelaars uit die tempel. Let daarop dat Hy eers ’n sweep gaan vleg het – dus was dit nie ’n geval dat Hy Sy humeur verloor en mense uitgetrap het sonder om mooi te dink nie. In soverre menslike waarneming van die gebeure aangaan het Hy lank tyd gehad om te dink wat Hy gaan doen.
  • In Matteus 10 is Jesus baie duidelik dat die waarheid baie belangriker is as konsensus: (34)”Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie maar die swaard. (35)Ek het gekom om tweedrag te bring ‘tussen ’n man en sy vader en tussen ’n dogter en haar moeder, tussen ’n skoondogter en haar skoonmoeder; (36)ja, ’n man se huismense sal sy vyande wees.’
  • In Markus 11:13-14, 20-21 vervloek Jesus ’n vyeboom omdat dit nie vrugte dra nie terwyl dit nie eens vyetyd was nie. Dit wys hoe ernstig Jesus is oor hierdie saak van gelowiges wie se lewens nie geestelike vrugte wys nie. In Matteus 23:13-39 vaar Jesus in geen onduidelike terme uit teenoor die Fariseërs. Hy gebruik woorde soos: “Ellende wag vir julle”, “huigelaars”, “Blinde dwase!”, “Julle blindes!” en “Julle slange, addergeslag!
  • In Lukas 13:32 noem Jesus vir Herodes ’n jakkals: “Gaan sê vir daardie jakkals …
  • In Lukas 13:23-30 is Jesus baie duidelik oor wat met ongereddes in die toekoms sal gebeur. In verse 27 en 28 sê Jesus: “Ek weet nie waar julle vandaan kom nie. Niemand van julle het gedoen wat reg is nie. Maak dat julle van My af wegkom! Daar sal julle huil en op julle tande kners wanneer julle Abraham en Isak en Jakob en al die profete binne-in die koninkryk van God sal sien, terwyl julle self buitentoe weggejaag word.
  • Ook volgens Paulus in 2 Kor. 7:8-10 is dit belangrik om nie sonde te doen nie, selfs al bring dit hartseer as mense tereggewys word: Al het ek julle ook deur my brief hartseer gemaak, is ek nou nie daaroor jammer nie. Miskien was ek tog jammer toe ek sien dat daardie brief julle hartseer gemaak het, al was dit net vir ’n kort rukkie. Nou is ek egter bly, nie omdat ek julle hartseer gemaak het nie, maar omdat ek julle so hartseer gemaak het dat julle tot inkeer gekom het. Julle was immers hartseer soos God dit wou hê. Ons het julle dus in geen opsig benadeel nie, want droefheid volgens die wil van God bring bekering wat tot redding lei, en daaroor was niemand nog ooit jammer nie. Daarteenoor bring droefheid uit wêreldse oorwegings die dood.
  • Volgens Esegiël 3:17-21 is dit ook uiters belangrik om dwaling in die kerk uit te wys, nie net ter wille van die kerk, sy lede en nie-lede nie, maar ook jouself: Mens, Ek het jou aangestel as ’n wag vir Israel: jy moet luister na wat Ek sê en hulle namens My waarsku. Wanneer Ek vir ’n goddelose sê hy gaan sterwe, en jy waarsku hom nie, jy praat nie en jy waarsku nie die goddelose teen sy bose optrede om hom so in die lewe te hou nie, dan sal hy deur sy sonde sterwe, maar Ek sal van jou rekenskap eis vir sy dood. As jy hom waarsku en hy bekeer hom nie van sy goddeloosheid nie, van sy bose optrede nie, sal hy deur sy sonde sterf, maar jy sal jou eie lewe behou. En wanneer iemand wat tot dusver reg gelewe het, die regte lewe laat vaar en onreg doen, en Ek bring hom tot ’n val, sal hy sterwe. Omdat jy hom nie gewaarsku het nie, sal hy deur sy sonde sterf en sal die goeie dinge wat hy gedoen het, nie onthou word nie, maar Ek sal van jou rekenskap eis vir sy dood. As jy hom waarsku om nie te sondig nie, en hy sondig nie, sal hy bly lewe omdat hy hom laat waarsku het, en jy sal jou eie lewe behou.

Ongelukkig was ons gedwing om sekere name uit te lig. Die doel van die boek is egter om aan te toon en te waarsku hoe die gesag van God se Woord afgetakel en die suiwerheid van die Christelike geloof aangetas word. Die doel is nie om sekere mense “by te kom” nie.

Moes ons nie hierdie kwessies persoonlik met die betrokke individue bespreek het nie?

Moes ons nie ons kwessies persoonlik met hierdie mense uitgeklaar het nie, soos in Matteus 18:15-17 vir ons gesê word nie?
In baie gevalle is dit wel gedoen deur telefoonoproepe of persoonlike e-posse, maar dit het nie gewerk nie. Verder het hierdie mense al openlik in die media en in mediadebatte hulle sieninge weergegee en dit duidelik gemaak dat hulle sieninge nie sommer gaan verander nie. Uit ons boek sal dit duidelik word dat ons lankal verby die punt is om hierdie kwessies persoonlik met hierdie mense op te neem. Neem ook verder die volgende in ag:

  • Rom 16: (17)Ek druk julle dit op die hart, broers: Pas op vir dié wat verdeeldheid veroorsaak en die mense afvallig maak van die leer wat julle ontvang het. Bly weg van hulle af.
  • 2 Joh 1:10-11 : (10)As daar iemand na julle toe kom wat ’n ander leer bring, moet julle hom nie in julle huise ontvang nie en hom selfs nie groet nie, (11)want wie hom groet, is saam skuldig aan die kwaad wat hy doen.

Indien iemand soos bv Julian Müller ’n artikel skryf soos Dít wat ons nié dink in die media skryf, voel ons verplig om ook in die media kommentaar op die artikel te lewer, hoofsaaklik ter wille van ander – sodat ander kan sien dat daar ook ander mense is wat ’n probleem het met so ’n siening.

Kan die boek skeuring veroorsaak? Moet die kerk skeur?

Die doel van die boek is nie om ’n skeuring in die NG Kerk te bewerkstellig nie, maar ons opinie is dat ons nie ten alle koste ’n skeuring moet vermy nie. Ons meen dat die NG Kerk vir sekere waarhede staan en dat dié wat nie daarmee kan saamgaan nie, soos prof. Sakkie Spangenberg en prof. Flip Schutte moet maak en die kerk verlaat (kyk Broer Julian moet dalk maar soos Flip maak). Dit is nie die behoudende lidmate wat die Kerk moet verlaat nie.

Wat is die toekoms van die NG Kerk se teologiese fakulteite? Wat stel julle voor moet gebeur? Moet voornemende predikante nog daar studeer? Indien nie, waar anders?

Ons het vertroue in die NG Kerk se bekendste teologiese fakulteite verloor. Ons hoop vir ’n daadwerklike verandering daar. Ons mening is dat alhoewel dit belangrik vir voornemende predikante is om te hoor wat die liberales, evolusioniste, ateïste, Nuwe Hervormers, Nuwe Era (“New Agers”), ens. se opinies is, dit belangriker is om presies te hoor wat die opinies en sieninge van gereformeerde behoudenes, Bybelgelowiges en skeppingsleerders/kreasioniste is. Dit is uiters onregverdig en subjektief om slegs die een kant van die saak as enigste waarheid aan studente te verkondig (kyk Seisoen van (eensydige) luister!). Die vraag is natuurlik of die huidige dosente daartoe in staat is om hierdie feite objektief aan studente te oor te dra – dit is nou as hulle enigsins gewillig sou wees om dit te doen.

Ons dink nie dit moet ’n vereiste vir voornemende NG predikante wees om by die NG teologiese fakulteite te studeer nie, maar dan moet alternatiewe geskep of geïdentifiseer word. Fakulteite word immers akademies beheer deur die onderskeie universiteite. Ons hoop dat hierdie boek daarin sal slaag om studente wat wel verkies om daar te studeer, voor te berei op wat hulle te wagte kan wees en dat hulle nie meegesleur sal word deur die liberale en God-onterende denke nie. Ons hoop dat hierdie boek teologiese studente sal aanmoedig om ook ander apologetiese bronne soos www.creation.com te raadpleeg, siende dat niks hiervan tans op universiteit aan hulle voorgehou word nie.

Kyk ook Ons Geloof Gesprek.

6. Kommentaar/kritiek oor die boek

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui