Die Bybel oor Jesus se maagdelike geboorte/verwekking

Alhoewel dit streng gesproke meer korrek is om van Jesus of Maria se maagdelike bevrugting of verwekking te praat, praat almal in die algemeen van Jesus se maagdelike geboorte. Dit is natuurlik ook reg, want volgens Matteus 1:25 het Josef nie met Maria omgang gehad voordat Jesus gebore is nie. Dus, was Maria nog ’n maagd toe Jesus gebore was.

Liberale teoloë glo egter nie in die maagdelike bevrugting nie. Hulle gebruik soms argumente soos:

  • Alhoewel die Bybel die woord “maagd” gebruik, kan dit ook “jong vrou” beteken. Dit is nie noodwendig ’n vrou wat nog nooit geslagsgemeenskap gehad het nie.
  • Sommige getuienisse in die Nuwe Testament wil ’n Goddelike wonderlike gebeurtenis daaraan koppel. Ander sien Jesus se geboorte egter as ’n natuurlike geboorte. (Andries van Aarde)
  • Matteus was nie geïnteresseerd in die feite nie en Lukas sê bloot “Die Heilige Gees sal oor jou kom” (Willie Cilliers)
  • Jesus se biologiese pa was waarskynlik ’n Romeinse soldaat.

Bybel

Kom ons kyk wat sê die Bybel:

Matteus 1:18-23

(18)Hier volg nou die geskiedenis van die geboorte van Jesus Christus. Toe sy moeder Maria nog aan Josef verloof was, het dit geblyk dat sy swanger is sonder dat hulle gemeenskap gehad het. Die swangerskap het van die Heilige Gees gekom. (19)Haar verloofde, Josef, wat aan die wet van Moses getrou was maar haar tog nie in die openbaar tot skande wou maak nie, het hom voorgeneem om die verlowing stilweg te verbreek. (20)Terwyl hy dit in gedagte gehad het, het daar ’n engel van die Here in ’n droom aan hom verskyn en gesê: “Josef seun van Dawid, moenie bang wees om met Maria te trou nie, want wat in haar verwek is, kom van die Heilige Gees. (21)Sy sal ’n Seun in die wêreld bring, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos.” (22)Dit het alles gebeur sodat die woord wat die Here deur sy profeet* gesê het, vervul sou word: (23)“Die maagd sal swanger word en ’n Seun in die wêreld bring, en hulle sal Hom Immanuel noem.” Die naam beteken God by ons.

* Vers 22 verwys na Jesaja 7:14 : Daarom sal die HERE self aan julle ’n teken gee: Kyk, die maagd sal swanger word en ’n seun baar en hom Immánuel noem. (AFR53)

Matteus is baie duidelik daaroor dat Maria se bevrugting ’n wonderwerk was en dat daar geen man betrokke was nie.

Skeptici kan redeneer dat die woorde “want wat in haar verwek is, kom van die Heilige Gees” in vers 20, nie noodwendig beteken dat dit ’n wonderwerk was nie. Indien Jesus se pa wel ’n Romeinse soldaat was, hoekom voeg Matteus vers 22-23 by?

Lukas 1:30-38

(30) Die engel sê toe vir haar: “Moenie bang wees nie, Maria, want God bewys genade aan jou. (31)Jy sal swanger word en ’n seun in die wêreld bring, en jy moet Hom die naam Jesus gee. (32)Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word. Die Here God sal Hom die troon van sy voorvader Dawid gee, (33)en Hy sal as koning oor die nageslag van Jakob heers tot in ewigheid. Aan sy koningskap sal daar geen einde wees nie.” (34)Maar Maria sê vir die engel: “Hoe is so iets moontlik, aangesien ek nog nooit omgang met ’n man gehad het nie?” (35)Die engel antwoord haar: “Die Heilige Gees sal oor jou kom, en die krag van die Allerhoogste sal die lewe in jou wek. Daarom sal die een wat gebore word, heilig genoem word, die Seun van God. (36)Kyk, ’n bloedverwant van jou, Elisabet, het in haar ouderdom self ook ’n seun ontvang, en sy wat as onvrugbaar bekend was, is nou al in haar sesde maand. (37)Niks is vir God onmoontlik nie.” (38)Maria sê toe: “Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat u gesê het.” Toe het die engel van haar af weggegaan.

Volgens Lukas is dit selfs duideliker dat Maria se bevrugting ’n wonderwerk was en nie natuurlik gebeur het nie.

Johannes 8:41

(41)Julle doen wat julle vader gedoen het.” Hulle [die Fariseërs] sê toe vir Hom: “Ons is nie uit owerspel gebore nie. Ons het net die een Vader, naamlik God.”

Skeptici mag dalk moontlik redeneer dat bogenoemde ’n aanduiding is dat Jesus se bevrugting nie ’n wonderwerk was nie. Dit sou egter baie naïef wees om so te redeneer. Dit is duidelik dat die Fariseërs vyandig was teenoor Jesus. Hulle sou dus graag die maagdelike bevrugting wou ontken en so probeer om Jesus te diskrediteer.

Jesus se geslagsregister

Jesus se geslagsregister word in Matteus 1 en Lukas 3 weergegee. Hulle verskil egter. Die rede is omdat Matteus 1 die geslagsregister gee van Josef, Jesus se nie-biologiese pa, terwyl Lukas 3 die geslagsregister van Maria, Jesus se biologiese ma, gee. Dit is ongehoord dat die ma se geslagsregister gegee word, tensy dit gedoen is omdat Jesus eintlik geen biologiese band met Josef gehad het nie, maar slegs met sy ma, Maria. Kyk Jesus se geslagsregister volgens Matteus en Lukas.

Belydenisskrifte

In die Apostoliese Geloofsbelydenis/Twaalf artikels staan die volgende:

“En [ek glo] in Jesus Christus, Sy enig-gebore Seun, ons Here; wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria.”

Let daarop dat die twaalf artikels vervat is in die Heidelbergse Kategismus, vraag 23 en een van die NG Kerk se drie belydenisskrifte is.

Volgens die legitimasie-eed van NG Kerk predikante bely elke predikant die volgende:

“verklaar hiermee in alle opregtheid voor die Here dat ek van harte glo dat … die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die Dordtse Leerreëls, … ooreenkom met die Woord van God. Ek belowe om die voorgenome leer ywerig en volhardend te leer en in my wandel getrou te handhaaf, sonder om iets teen die leer, hetsy regstreeks of onregstreeks, te leer of te skrywe. En net soos ek hierdie leer te goedertrou aanneem en van harte glo, so verwerp ek alle dwalings wat teen hierdie leer stry en beloof ek om dit te weerlê, teë te spreek en alles in my vermoë te doen om dit uit die kerk te weer”

Dus, enige predikant wat die maagdelike geboorte bevraagteken, breek sy legitimasie-eed. Dit is beter vir so ’n predikant om uit die kerk te bedank as om in die kerk te bly en voort te gaan om sy dwaallering te versprei.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui