Die Bybel oor die praat in tale

Kyk ook:

Opsomming

Daar is twee tipes “praat in tale” waarvan die Bybel praat:

  1. Aardse tale: Dit is wanneer God tydelik aan iemand die vermoë gee om in ’n ander aardse taal te praat sodat mense dit kan verstaan (soos bv wat gebeur het in Handelinge 2).
  2. Hemelse tale: Mense wat in ongewone tale praat, ’n taal wat nie bekend op aarde is nie. Hierdie taal kan slegs verstaan word wanneer iemand anders dit kan uitlê deur die werking van die Heilige Gees.

Oor die praat in ander aardse tale, is daar nie baie Christene wat dit bevraagteken nie – God kan mense tydelik die vermoë gee om in ’n ander taal te praat sodat ander dit kan verstaan. Die kwessie kom egter met die praat van hemelse tale. Hieroor is daar die volgende opinies:

  1. Dit bestaan nie of dit kom van die bose.
  2. Dit bestaan, maar word slegs aan sommige mense gegee.
  3. Dit is vir alle Christene beskore.
  4. As jy nie in tale kan praat nie, dan het jy nog nie die Heilige Gees ontvang nie.

Na aanleiding van die gedeeltes in die Bybel wat hieronder gegee word, word die volgende gevolgtrekkings gemaak:

  • Die praat van hemelse tale bestaan. Die Bybel verwys daarna as “ongewone tale of klanke” (1 Kor 14:4). Paulus het self in hemelse tale gepraat (1 Kor 14:18).
  • Nêrens in die Bybel word gesê dat die praat van hemelse tale die bewys is dat jy die Heilige Gees ontvang het nie. 1 Kor 12:28-30 is baie duidelik daaroor. Dus is dit nie noodwendig vir almal beskore nie. Verder, indien iemand wil glo dat die spreek van hemelse tale die bewys is dat ’n persoon die Heilige Gees ontvang het, moet die spreek van aardse tale en die gawe van genesing ensovoorts, ook bygevoeg word as bewys.
  • Indien jy in ’n hemelse taal kan praat, dan het jy die Heilige Gees ontvang. Anders gestel, jy kan nie in ’n hemelse taal praat as jy nie die Heilige Gees ontvang het nie.
  • Paulus sê wel dat hy wens dat almal ongewone tale kon praat, maar hy moedig gelowiges eerder aan om hulle te beywer vir ander gawes wat tot opbou van ander gelowiges is soos byvoorbeeld die gawe van profetiese woorde (1 Kor 14:5-6,39).
  • Iemand wat in tale praat bou net homself op. Dit is nie tot opbou van ander gelowiges nie, tensy dit uitgelê word (1 Kor 14:4).
  • Ons moenie mense verhinder om in tale te praat nie (1 Kor 14:39). Dit mag egter nie eredienste ontwrig nie. Wanneer iemand tydens ’n erediens in tale praat, moet iemand anders dit uitlê (1 Kor 14:27-28), anders voeg dit geen waarde toe nie omdat dit slegs tot opbou van die persoon self is wat in tale praat.
  • Wanneer daar buitestaanders teenwoordig is, moet daar verkieslik weggebly word van die praat in tale. Daar moet eerder aan hulle geprofeteer word (1 Kor 14:23-24).

Dus bestaan hemelse tale, maar dit is slegs vir sekere Christene beskore.

Wat sê die Bybel

Hier volg die verse in die Bybel oor die onderwerp met ’n bespreking:

Markus 16:15-18

(15)Hy het vir hulle gesê: “Gaan uit, die hele wêreld in, en verkondig die evangelie aan die hele mensdom. (16)Wie tot geloof gekom het en gedoop is, sal gered word; wie nie glo nie, sal veroordeel word. (17)Die volgende wondertekens sal voorkom by dié wat glo: in my Naam sal hulle bose geeste uitdrywe; in ander tale sal hulle praat; (18)met hulle hande sal hulle slange optel, en as hulle iets drink wat dodelik giftig is, sal dit hulle geen kwaad doen nie; hulle sal siekes die hande oplê, en dié sal gesond word.”

Dit is nie duidelik of hier na aardse of hemelse tale verwys word nie. Verder kan ’n mens ook nie noodwendig aflei dat almal wat die Heilige Gees ontvang het, al hierdie dinge sal doen nie. Mense wat glo dat die speek in hemelse tale ’n bewys is dat jy die Heilige Gees ontvang het, moet ook die ander genoemde dinge in vers 18 byvoeg as bewys dat ’n persoon die Heilige Gees ontvang het (bose geeste uitdrywe, slange optel, weerstand teen gif en gawe van genesing).

Handelinge 2

(4)Almal is met die Heilige Gees vervul en hulle het in ander tale begin praat soos die Heilige Gees dit aan hulle gegee het om onder sy leiding te doen. (5)Daar het godsdienstige Jode uit al die nasies onder die son in Jerusalem gewoon. (6)Toe die mense die geluid hoor, het ’n groot skare saamgedrom. En omdat elkeen gehoor het hoe daar in sy eie taal gepraat word, het hulle nie geweet hoe hulle dit het nie.

Ek dink dit is duidelik dat hier van aardse tale gepraat word, dus is dit nie van toepassing op hierdie bespreking nie.

Alhoewel almal wat met die Heilige Gees vervul is in ander (aardse) tale begin praat het, beteken dit nie noodwendig dat almal wat die Heilige Gees ontvang het in tale sal kan praat nie. In hierdie geval het almal wel in tale begin praat.

Ook, indien mense glo dat almal wat die Heilige Gees ontvang het in hemelse tale sal kan spreek, dan moet almal wat die Heilige Gees ontvang ook in ander aardse tale kan praat.

Handelinge 10:45-46

(45-46)Toe die Joodse gelowiges wat saam met Petrus gekom het, hoor hoe die mense ongewone tale of klanke gebruik en God prys, was hulle baie verbaas dat die Heilige Gees as gawe uitgestort is ook op mense wat nie Jode is nie. En Petrus sê: (47)“Hierdie mense het net soos ons die Heilige Gees ontvang. Wat kan dan verhinder dat hulle nou met water gedoop word?”

‘n Mens kan aflei dat hier van hemelse tale gepraat word, veral as die woord “klanke” in ag geneem word. ’n Mens kry glad nie die idee dat hierdie mense in ander aardse tale gepraat het ter wille van mense van ander taalgroepe nie (soos in Handelinge 2). ’n Mens kan ook nie noodwendig aflei dat almal wat die Heilige Gees ontvang het ook in tale sal kan praat nie. Wat wel seker is, is dat ’n persoon nie in ’n hemelse taal sal kan praat as hy nie die Heilige Gees ontvang het nie.

Handelinge 19:6

(6)Paulus het hulle ook die hande opgelê. Toe het die Heilige Gees op hulle gekom, en hulle het ongewone tale of klanke gebruik, en hulle het geprofeteer.

Mense wat glo dat as jy nie in hemelse tale kan praat nie, dan het jy nog nie die Heilige Gees ontvang nie, sal in die versoeking wees om hierdie gedeelte te gebruik om hulle standpunt te verdedig. Maar hierdie is weereens ’n spesifieke geval.

1 Korintiërs 12:10, 28-30:

(10)Aan die een gee Hy die krag om wonders te doen, aan ’n ander die gawe om te profeteer, en aan nog ’n ander die gawe om tussen die geeste te onderskei. Aan nog een gee Hy die gawe om ongewone tale of klanke te gebruik en aan ’n ander om dit uit te lê. (11)Maar al hierdie dinge is die werk van een en dieselfde Gees, wat aan elkeen afsonderlik ’n gawe uitdeel soos Hy wil. (12)Net soos die liggaam ’n eenheid is en baie lede het, en soos al die lede saam, al is hulle baie, een liggaam vorm, so is dit ook met die liggaam van Christus.

(28)En in die kerk is daar mense aan wie God ’n bepaalde taak gegee het. Ten eerste is daar apostels, ten tweede profete, ten derde leraars; verder is daar dié wat wonderdade kan doen, dan dié wat genadegawes ontvang het om mense gesond te maak, om hulp te verleen, om leiding te gee of om ongewone tale of klanke te gebruik. (29)Is almal miskien apostels? Is almal profete? Is almal leraars? Kan almal miskien wonders doen? (30)Het almal die genadegawes om mense gesond te maak? Of gebruik almal miskien ongewone tale of klanke en kan almal dit uitlê?

Hier word duidelik van hemelse tale gepraat. Die doel van die praat van aardse tale is om die evangelie te bring vir mense van ander taalgroepe. As hierdie na aardse tale verwys het, sou dit nie nodig wees vir iemand anders om dit uit te lê nie.

Daar word ook baie duidelik gesê dat almal dit nie noodwendig sal kry nie. Dit is ook hieruit duidelik dat alle Christene nie noodwendig al die gawes gaan kry nie.

1 Korintiërs 13

(1)Nou wys ek julle wat nog die allerbeste is: Al praat ek die tale van mense en engele, maar ek het geen liefde nie, het ek ’n stuk klinkende metaal, ’n galmende simbaal geword.

(8)Die liefde vergaan nooit nie, maar die gawe van profesie sal verdwyn, die gawe om ongewone tale en klanke te gebruik, sal ophou, en dié van kennis sal uitgedien raak.

Vers 1 dui op beide aardse en hemelse tale.

Vers 8 sê dat die gawe van ongewone tale sal ophou. Vandag is daar nog mense wat in tale kan praat, maar daar is vandag waarskynlik minder Christene wat dit kan doen. God het waarskynlik vir ’n tyd lank meer wonderwerke op aarde toegelaat. Byvoorbeeld, Petrus kon amper willekeurig mense gesond maak (Handelinge 9:32-34). Alhoewel daar vandag nog geloofsgenesings plaasvind, is dit waarskynlik minder as in daardie tyd. Dieselfde geld waarskynlik vir die praat in tale en dus is dit nie noodwendig vir alle Christene beskore nie.

1 Korintiërs 14

Hierdie hele hoofstuk bespreek die praat in tale. Slegs ’n paar gedeeltes word uitgelig:

(2)Iemand wat ongewone tale of klanke gebruik, praat nie met mense nie, maar met God. Niemand verstaan hom nie, want deur die Gees sê hy onbegryplike dinge.

Vers 2: Hier word sonder enige twyfel na hemelse tale verwys. Geen verdere bespreking is nodig nie.

(4)Die een wat ongewone tale of klanke gebruik, bou net homself op, maar die een wat profeteer, bou die gemeente op. (5)Ek sou graag wil hê dat julle almal ongewone tale of klanke gebruik, maar nog liewer dat julle profeteer. Die een wat profeteer, is van groter betekenis as die een wat ongewone tale of klanke gebruik, tensy hy dit ook uitlê, sodat die gemeente daardeur opgebou kan word. (6)En nou, broers, as ek na julle toe kom en ongewone tale of klanke gebruik, van watter nut sal ek vir julle wees? Ek sal vir julle net van nut wees as ek ’n openbaring of kennis of profesie of lering aan julle meedeel.

Vers 4: Dit is baie duidelik dat hier nie van aardse tale gepraat word nie, want met die praat van aardse tale is dit eerder tot opbou van die ander persoon en in ’n baie mindere mate tot opbou van die persoon wat in die taal praat. Dit is ook baie duidelik teen die gedagte dat die spreek van ’n hemelse taal nie bestaan nie óf van die bose kom.

Daar word definitief nie gesê dat almal ’n hemelse taal sal kan praat nie. Inteendeel, ’n mens lei eerder die teendeel af:

  • Vers 2: Daar staan “Iemand wat ongewone tale of klanke gebruik, praat nie met mense nie”. Indien dit vir almal bedoel was, sou ’n mens verwag het dat Paulus sou sê: “Wanneer julle ongewone tale of klanke gebruik, praat julle nie met mense nie”.
  • Vers 5: Paulus sê dat hy graag sou wou hê dat almal ongewone tale of klanke gebruik, maar hy gee dit nie as ’n voorvereiste nie.

Paulus self kon in ’n hemelse taal praat en hy het dit gedoen. Hy het dit nie onderdruk nie, behalwe miskien tydens eredienste.

(18)Ek dank God dat ek meer ongewone tale of klanke gebruik as julle almal. (19)Maar in die byeenkoms van die gemeente wil ek liewer vyf woorde met my verstand praat om ook ander te onderrig, as duisend woorde in ongewone tale of klanke.

Die feit dat Paulus verwys na die praat van tale tydens die erediens is ‘n bewys dat hy na hemelse tale verwys. Die praat in aardse tale tydens die erediens sou van geen nut wees as almal in die gemeente dieselfde taal gepraat het nie. Indien taal wel ‘n probleem was, sou hulle eerder van tolke gebruik gemaak het.

(22)So is die gebruik van ongewone tale of klanke dan ’n teken vir ongelowiges en nie vir gelowiges nie. Daarteenoor is die profesie vir gelowiges en nie vir ongelowiges nie. (23)As die hele gemeente dan bymekaar is en almal gebruik ongewone tale of klanke en daar kom buitestaanders of ongelowiges binne, sal hulle nie sê julle is van julle verstand af nie? (24)Daarteenoor, as almal profeteer, en daar kom ’n ongelowige of ’n buitestaander binne, dan word hy deur almal in sy gewete aangespreek en kom hy tot selfondersoek.

(27)Wat die ongewone tale of klanke betref, net twee of hoogstens drie moet dit praat, elkeen op sy beurt, en daar moet een wees wat dit uitlê. (28)As daar nie iemand is wat dit kan uitlê nie, moet dié een wat ongewone tale of klanke gebruik, stilbly in die byeenkoms van die gemeente en net tuis met homself en met God praat.

Weereens word daar verwys na die praat van tale tydens die erediens.

(39)Daarom, my broers, beywer julle om te profeteer en moenie die gebruik van ongewone tale of klanke verhinder nie.

Dus is die praat van ongewone tale of klanke nie ’n slegte ding nie.

Paulus sê wel dat hy wens dat almal ongewone tale sou kon praat, maar hy moedig gelowiges eerder aan om hulle te beywer vir ander gawes wat tot opbou van ander gelowiges en ongelowiges is.

Matteus 6:7-13

(7)“Wanneer julle bid, moet julle nie soos die heidene ’n stortvloed van woorde gebruik nie. Hulle verbeel hulle hulle gebede sal verhoor word omdat hulle baie woorde gebruik. (8)Moet dan nie soos hulle maak nie, want julle Vader weet wat julle nodig het, nog voordat julle dit van Hom vra. (9)“So moet julle bid:“Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word; (10)laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel. (11)Gee ons vandag ons daaglikse brood; (12)en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree; (13)en laat ons nie in versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose.

Toe daar aan Jesus gevra is hoe ’n mens moet bid, toe gee Hy die antwoord hierbo. As die praat in tale so belangrik was, hoekom het Jesus nêrens hiervan melding gemaak nie?

Verdere bespreking

Daar is sommige mense wat sê dat indien jy hierdie gawe van die Here afsmeek, Hy dit vir jou sal gee.

Dit is definitief waar vir sommige mense: daar is mense wat dit werklik van God afgesmeek het, maar dit is ook waar dat sommiges dit baie maklik gekry het. In Bylaag A hieronder word Peter Pollock, oud snelbouler van Suid-Afrika, se getuienis gegee. Hy het die gawe gekry nadat Trevor Goddard vir hom ’n gebed gedoen het. ’n Mens lei af dat dit waarskynlik ’n korterige gebed was. ’n Mens kry glad nie die idee dat dit van God afgesmeek is nie. Dit is ook duidelik dat Peter glad nie verwag het dat so iets sou gebeur het nie.

En dan is daar ander mense wat dit vir God gevra het, maar dit nie gekry het nie. Byvoorbeeld John Piper kan nie in tale praat nie.

Bylaag A: Peter Pollock se getuienis:

Hier volg Peter Pollock, voormalige SA krieketspeler se getuienis. Hy is die oom van Shaun Pollock.

(Uit God se snelbouler, deur Peter Pollock, 2001, bl 143-144)

Een aand, net voordat ek terug hotel toe is, het Trevor [Goddard] gevra of hy vir my kon bid. In sy gebed het hy gevra dat die Heilige Gees Hom in my lewe moes manifesteer, en jy kan jou voorstel hoe verwonderd ek die volgende oggend was toe ek in my kamer in die Holiday In wakker geword en in my stiltetyd in tale begin spreek het! En dit was nie net een of twee woorde nie, maar ’n vrolike gebrabbel in ’n taal wat vreem, maar terselfdertyd baie werklik geklink het. Dieselfde woorde of uitinge het gereeld voorgekom, maar my verstand het geen beheer gehad oor wat my mond en my lippe gesê het nie. Dit was ’n vreemde, maar ’n wonderlike ervaring. Ek kon ophou praat en weer begin net wanneer ek wou, maar ek het nie een enkele woord verstaan van wat ek gesê het nie, selfs al het die woorde so maklik en glad oor my lippe gevloei. Dis dus vanselfsprekend dat ek oor die verskynsel begin wonder en antwoorde begin soek het.

Hoe kon ek seker maak dis die Heilige Gees wat deur my gepraat het? Ek was my lewe lank sinies oor sulke ervarings, maar nou was dit met my aan die gebeur. Ek moes bewyse daarvoor kry, ’n onfeilbare toets. Die toets was baie eenvoudig en tog geloofwaardig: spreek in tale en lees terselfdertyd ’n boek, het ek besluit. Ek het dit probeer doen en albei reggekry: ek kon lees en verstaan wat ek gelees het terwyl ek onophoudelik gebrabbel het. As ek moes dink wat ek wou sê, sou ek nie kon konsentreer op wat ek gelees het nie. Nogal oulik, het ek gedink. En nou vir ’n tweede toets: spreek in tale en skryf terselfdertyd ’n notatjie aan jou vrou. Dit het ook gewerk. My verstand was nie by die tale betrek nie. Dit was die tale van die Heilige Gees wat deur die gewone menslike spraakkanale gekom het.

In ’n tyd waar alles op die wêreldse ingestel is, ontkom niks aan toetse nie, maar God het helder en duidelik geantwoord.

Op ’n keer was ek weer in Oos-Londen by ’n jeugsaamtrek waar ek vir ’n klomp jongmense gebid het wat vorentoe gekom het om hulle lewe aan die Here te gee. Ek het my oë toegemaak toe ek gebid het, maar daar was so ’n konsternasie dat ek hulle weer oopgemaak het. Oral voor my het liggame op die grond gelê. Ek het gebid dat die Here hulle moes aanraak, en die hele klomp het neergeslaan. Ek het al hierdie soort verskynsels ernstig oordink en bevraagteken en gewonder of die mense nie mekaar gestamp en gestoot het dat hulle omgeval het nie. Daardie aand was ek definitief die meeste van almal verbaas oor die gebeure, en ek was die prediker!

2 thoughts on “Die Bybel oor die praat in tale”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui