Die Bybel oor die Drie-eenheid van God

Inhoudsopgawe

  1. Daar is een God
  2. Die Drie-eenheid bestaan uit drie persone
  3. Jesus is God
  4. Heilige Gees in die Ou Testament
  5. Progressiewe openbaring
  6. Jesus moes God wees
  7. Verdere bronne

Moslems kritiseer graag die Christelike geloof oor die feit dat die Bybel ’n Drie-eenheid verkondig wat hoegenaamd nie sin maak nie (kyk byvoorbeeld ***FULL DEBATE!*** Mohammed Hijab vs. David Wood | Tawheed vs. Trinity).

Moslems glo dat Jesus ook ’n profeet van Allah is, maar dat Jesus nooit beweer het dat hy self God was nie. Hulle glo dat die Bybel, soos ons dit vandag ken, nie die oorspronklike manuskripte is nie, maar deur die Christene verander is.

Die feit is dat die Drie-eenheid ’n baie abstrakte konsep is. Die vraag is hoekom vroeë Christene die Bybel só sou verander het om so ’n abstrakte konsep deel van hulle geloof te maak? Wat sou hulle motivering wees? (Kyk ook Hoe nie om ’n nuwe geloof te begin nie.)

Die woorde “Drie-eenheid” verskyn nie in die Bybel nie, maar die konsep van die Drie-eenheid word baie duidelik deur die Bybel verkondig, soos hieronder gewys word.

1. Daar is een God

Die volgende verse word gegee om te wys watter verse soms gebruik word om te probeer redeneer teen die drie-eenheid.

Deuteronomium 6:4

(4)Luister, Israel, die Here is ons God, Hy is die enigste Here.

Hierdie vers word algemeen gebruik om te argumenteer téén die Drie-eenheid.

In die oorspronklike Hebreeus word dit soos volg geskryf: “Shema Yisrael Yahweh Eloheinu Yahweh Echad

Direk vertaal lyk dit soos volg: “Luister Israel, God, ons God, God, een”

In ***FULL DEBATE!*** Mohammed Hijab vs. David Wood | Tawheed vs. Trinity (1:29:18), sê David Wood dat dit moontlik is dat hierdie na die Drie-eenheid van God verwys.

Kyk ook Deuteronomium 6:4 (God is een).

1 Korintiërs 8:4

(4)Wat nou betref die eet van vleis wat aan ’n afgod geoffer is: ons weet dat daar geen afgod in die hele wêreld is wat iets beteken nie, en dat daar ook geen God is nie, behalwe Een.

Galasiërs 3:20

(20)Maar as daar net één is wat handel, is ’n tussenganger nie nodig nie, en God ís net een.

1 Timoteus 2:5

(5)Daar is immers net een God, en daar is net een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus.

Let egter daarop dat die punt van al hierdie verse om vir monoteïsme te pleit. Met ander woorde: daar is net een ware God, anders as Hindoeisme wat ‘n politeïstiese geloof is.

2. Die Drie-eenheid bestaan uit drie persone

Die volgende verse wys duidelik dat die Drie-eenheid bestaan uit drie persone.

Genesis 1:1

(1)In die begin het God die hemel en die aarde geskep.

In Hebreeus word die woord “Elohim” [H430] gebruik vir God. Volgens Strongs is H430 die meervoud van “Eloah” [H433], wat “almagtig/sterk/allerhoogste God” beteken.

Genesis 1:26

(26)Toe het God gesê: “Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld, sodat hy kan heers oor die vis in die see, die voëls in die lug, die mak diere, die wilde diere en al die diere wat op die aarde kruip.”

Duidelike verwysing na meer as een persoon, naamlik die Drie-eenheid.

Genesis 3:22

(22)Toe het die Here God gesê: “Die mens het nou soos een van Ons geword deurdat hy alles kan ken. As hy nou maar net nie sy hand uitsteek en die vrug van die boom van die lewe vat en daarvan eet en altyd bly lewe nie!”

Duidelike verwysing na meer as een persoon, naamlik die Drie-eenheid.

Genesis 11:7

(7)Kom laat Ons afgaan en verwarring bring in hulle taal, sodat die een nie die ander verstaan nie.”

Genesis 19:24 (AFR53)

(24)En die HERE het swawel en vuur oor Sodom en Gomorra laat reën van die HERE uit die hemel

Psalm 110:1

(1)Die Here[H3068] het tot my Here[H113] gespreek: Sit aan my regterhand, totdat Ek u vyande maak ’n voetbank vir u voete.

[H3068] Jehovah
[H113] Adonai

Kyk ook Matteus 22:41-45 : (41)Toe die Fariseërs bymekaar was, vra Jesus vir hulle: (42)“Wat dink julle van die Christus? Wie se seun is Hy?” “Dawid s’n,” antwoord hulle Hom. (43)Hy sê toe vir hulle: “Waarom het Dawid deur die ingewing van die Gees Hom dan ‘Here’ genoem? Hy sê tog: (44)‘Die Here het vir my Here gesê: Sit aan my regterhand totdat Ek jou vyande aan jou onderwerp het.’ (45)As Dawid self Hom ‘Here’ noem, hoe kan Hy dan Dawid se seun wees?”

Dit is duidelik dat God die Vader praat van God die Seun wat aan sy regterhand moet sit.

Jesaja 6:8

(8)Toe het ek die Here hoor vra: “Wie kan Ek stuur? Wie sal ons boodskapper wees?” Ek het geantwoord: “Hier is ek! Stuur my!”

Jesaja 48:16

(16) Kom nader na My toe en luister hierna: Van die begin af al het Ek niks geheim gehou nie, vandat iets begin gebeur het, is Ek nog altyd daar. En nou, die Here God het my en sy Gees gestuur.

Hier is die Seun aan die woord en verwys Hy na beide die Vader en die Heilige Gees.

Jesaja 61:1

(1)Die Gees van die Here my God het oor my gekom; die Here het my gesalf om ’n blye boodskap te bring aan die mense in nood, Hy het my gestuur om dié wat moedeloos is, op te beur, om vir die gevangenes vrylating aan te kondig, vryheid vir dié wat opgesluit is,

Hier is die Seun aan die woord. Vergelyk hierdie met Lukas 4:14-19.

Matteus 3:16-17

(16)Jesus is toe gedoop en het dadelik daarna uit die water gekom. Meteens het die hemel bokant Hom oopgegaan, en Hy het die Gees van God soos ’n duif sien neerdaal en op Hom kom. (17)Daar was ook ’n stem uit die hemel wat gesê het: “Dit is my geliefde Seun. Oor Hom verheug Ek My.”

Hier is duidelik al drie persone van die drie-eenheid teenwoordig.

Matteus 28:19
(19)Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en

2 Korintiërs 13:13

(13)Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sal by julle almal wees.

1 Johannes 5:7 (AOV)

(7)Want daar is drie wat getuig in die hemel: die Vader, die Woord en die Heilige Gees, en hierdie drie is een;

3. Jesus is God

Kyk Die Bybel oor Jesus se godheid.

4. Heilige Gees in die Ou Testament

Dit is duidelik dat die Heilige Gees reeds voor die uitstorting van die Heilige Gees in Handelinge 2 daar was:

Genesis 1

(2)Die aarde was heeltemal onbewoonbaar, dit was donker op die diep waters, maar die Gees van God het oor die waters gesweef.

Psalm 51

(13)Moet my tog nie van U af wegdryf en u Heilige Gees van my af wegneem nie!

Esegiël 2

(2)Terwyl Hy met my praat, kom die Gees in my en laat my regop staan. Ek het die stem met my hoor praat.

Kyk ook Esegiël 36:27, Esegiël 37:1.

Lukas 1

(15)… reeds van sy geboorte af sal hy met die Heilige Gees vervul wees.

(35)Die engel antwoord haar: “Die Heilige Gees sal oor jou kom, en die krag van die Allerhoogste sal die lewe in jou wek. Daarom sal die een wat gebore word, heilig genoem word, die Seun van God.

(41)Net toe Elisabet die groet van Maria hoor, het die kindjie in Elisabet se moederskoot beweeg, en sy is met die Heilige Gees vervul

Matteus 3

(16)Jesus is toe gedoop en het dadelik daarna uit die water gekom. Meteens het die hemel bokant Hom oopgegaan, en Hy het die Gees van God soos ’n duif sien neerdaal en op Hom kom. (17)Daar was ook ’n stem uit die hemel wat gesê het: “Dit is my geliefde Seun. Oor Hom verheug Ek My.”

Matteus 28

(19)Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en

5. Progressiewe openbaring

Die Drie-eenheid is ’n voorbeeld van progressiewe openbaring in die Bybel. Dit is die idee dat God nie alles reeds in die Ou Testament openbaar het nie, maar dat sekere dinge of detail eers later in die Bybel openbaar is. (Lewe na die dood is nog ’n voorbeeld van progressiewe openbaring.)

Soos hierbo gewys kom die Drie-eenheid reeds in die Ou Testament voor. Dit is egter onduidelik of mense in die Ou Testament werklik die Drie-eenheid verstaan het soos ons dit vandag verstaan. Die Nuwe Testament bring meer inligting na vore oor die Drie-eenheid.

6. Jesus moes God wees

As Jesus slegs ’n mens was, sou hy nooit vir ons sondes kon instaan deur aan die kruis te sterf nie. Hoe werk dit:

Die straf vir sonde is die dood. Omdat elke mens op aarde al êrens sonde gedoen het, verdien ons almal die dood. As jy self die dood verdien, kan jy nie vir iemand anders instaan in sy plek nie – jy moet jou eie straf uitdien. Jesus is die enigste persoon wat vir ons sondes kon instaan omdat Hy sonder sonde was. Hy kon net sondeloos wees indien hy God was.

Kyk ook Dink jy dat jy ’n goeie mens is?.

Nog verse

1 Timoteus 6:16; 1:17,

Gen 1:2, Mat 3:16-17; 28:19, Luk 1:35, Joh 1:1,3,14; 3:16; 4:24; 10:30; 14:23; 16:13-14, Hand 5:3-4, Rom 1:1-4; 8:3-4, 1 Kor 8:6; 12:4-6, 2 Kor 1:21-22; 13:13, Ef 1:7; 3:14,16; 4:4-6; 5:18-21, Heb 9:14, 1 Pet 1:2-3, Judas 1:20-21, 1 Joh 5:7,20, Op 19:13

Verdere bronne

9 thoughts on “Die Bybel oor die Drie-eenheid van God”

  1. Goeie more ek is dringend op soek na die Waarheid…daar is nou soveel leerstellings en verwarring oor die 3 eenheid Godheid … en in watter Naam ons moet doop ..ek wil asb openbarings feite hê oor die 2 konsepte ..want ek’s regtig verward oor dit ..ek is gedoop en volgens sommige mense moet ek my laat oor doop. Ek is gedoop in Vader, Seun en Heilige Gees.

    1. Lezette, my opinie is dat ons vir mekaar ruimte moet maak oor die doop. Die Bybel is glad nie so klinkklaar duidelik oor presies hoe jy gedoop moet word nie. Dus is dit hoegenaamd nie nodig om jouself weer te laat doop nie. Ek is egter tog oop vir die idee dat daar mense is wat klein gedoop is maar wat eers baie later in hulle lewe werklik tot bekering kom. Daar mag waarde wees vir sulke mense om hulleself weer te laat doop. Kyk Die Bybel oor die doop

      1. Geagte Daniel Louw

        Jesus maak dit baie duidelik in sy Woord hoe ons gedoop moet word ( Net soos HY gedoop is) en dit is in die NAAM VAN JESUS CHRISTUS. Slegs onderdompeling en nie besprinkeling wat nêrens in die Woord voorkom nie. Sien Handelinge.

        Blessings

  2. Middag sê … ek soek asb ’n antwoord … ek is by my vorige kerk gedoop in die Naam van Vader ens… Nou hier waar ek nou dien beweer die Apostel ons is verkeerd gedoop. Ons moet in Handelinge gedoop word, want ons kan nie in sy titel name gedoop word nie want ons is nie God nie… Ek is verwar.

  3. As ek iets mag se wat die doop bja belangrik maak…elkeen wat glo..[sodra ons tot inkeer gekom het,tot sonde oortuiging], eerste stap van gehoorsaamheid..moet hom laat doop,se die Bybel. Sonde kan nie net af gewas word nie,dis die afle,begrawe,waterdood,van die ou mens en die opstaan van die nuwe..in die Drie Eenheid van GOD.

  4. Dit is so aan my verduidelik, en ek verstaan dit só: kleindoop (besprinkeling) is nie nutteloos nie. Dit beteken ñ verseëling as God se eiendom. Dit is ook goed en niks mee verkeerd om daarna weer groot gedoop te word na bekering nie. Inteendeel wanneer jy jouself bekeer en die Heilige Gees van God druk dit op jou hart, dan kan dit jou net geestelik goed doen om jou te laat doop (onderdompel) as volwasse bekeerde. Dit kan volgens my oortuiging geen sonde wees nie. Sou ek die geleentheid kry sal ek graag wil grootdood (onderdompel). Ek was as baba besprinkel in die NG kerk.

  5. As kind van God (Christen) kan jy net gedoop word in die Drie Eenheid van God. Of jy nou by woorde gedoop word in “God” of die “Seun Van God” of die “Vader, Seun en Heilige Gees” is vir my dieselde “God” Ek het bekeer tot “God” deur Sy genade wat outomaties ook beteken dat ek myself bekeer het tot al drie Persone van God (Vader, Seun en Heilige Gees) al het ek in woorde vir “God” gevra vir vergifnis en kindskap. God weet ek ken en eer Hom as ñ Drie Eenheid selfs al rig ek my gebede tot “God”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui