Glo die Bybel

Johannes 17:17 ...U Woord is die waarheid.

Sindikasie

Glo die Bybel Glo die Bybel
My brief teen die kerkdeur - Nico Geldenhuys (K) PDF Afdruk E-pos
Geskryf deur Administrateur   
Saterdag, 05 November 2011 21:00

My brief teen die kerkdeur
2011-11-04 23:53

(Gekopieer vanaf http://www.dieburger.com/By/Nuus/My-brief-teen-die-kerkdeur-20111104-2)

Hoewel hy die Bybel bestudeer en elke Sondag twee dienste bywoon, het Nico Geldenhuys verlede week met die nagmaal uit die kerk gevlug. Soos Martin Luther van ouds, wil – moet? – hy ’n brief teen die kerk se deur vasspyker, sê hy. Want hoewel hy lankal nie meer glo nie, gee hy steeds om.

’n Week gelede, op Hervormingsondag, het ek uit die kerk gevlug.

Dit was ’n intieme aanderediens, en die dominee het ’n paar mooi gedagtes oor leierskap met ons klein groep kerkgangers gedeel. Maar toe die tyd vir die nagmaal aanbreek, het hy aangekondig dat die formaat vanaand van ander kere verskil: Elk van die 15 kerkgangers moes individueel na die preekstoel kom, waar die nagmaal een-een aan hulle bedien sou word.

Ek het beangs om my rond- gekyk om die reaksie van die gemeente te probeer peil. Niemand het beswaard gelyk nie.

Ek het ’n rukkie lank doodstil gesit en kyk hoe vrywilligers een-een opgestaan het om die nagmaal te ontvang. Telkens was die dominee se hand op hul skouer terwyl hy die stuk brood aan hulle sou oorhandig en daarna sou bid.
Nadat drie vrywilligers elkeen hul beurt gekry het, het ek besef die uurglas loop leeg – ek het voor ’n keuse gestaan.

Toe die dominee vir die vierde kerkganger bid, het ek my Bybel gegryp en na die uitgang gehardloop. Buite het ek in my kar gespring en weggery.

En terwyl ek ry, met Bob Dylan so hard moontlik oor die luidsprekers, het ek gedink: Dis nogal ironies dat my middelnaam “Petrus” is.

Ek is 23 jaar oud en oortuig daarvan dat God nie bestaan nie. Ek is ook ’n lidmaat van die NG Kerk, en ek is nie van plan om te loop nie.

Ek woon elke Sondag twee eredienste by, hoewel ek nie meer saamsing of saambid nie. Ek doen daagliks Bybelstudie – soms ’n paar hoofstukke uit Genesis of Jesaja, ander kere ’n hele sendbrief in die Nuwe Testament. Die Handelinge van die Apostels is meestal boeiend genoeg om in een sitting deur te lees.

In die noorde van Botswana, waar ek die grootste deel van my hoërskoolloopbaan deurgebring het, het ons dikwels sendelinge gehuisves wat na Zambië onderweg was. Die sendelinge het my só geïnspireer dat ek met alle geweld teologie wou gaan studeer. Ná my studie wou ek my by hierdie mense aansluit en die Woord van die Here gaan verkondig.

Maar my verhoogvrees het die oorhand gekry; daarom het ek eerder ’n regsgraad aangepak. Tussendeur het ek die Here gedien in die Johannesburgse gemeente waarvan ek lidmaat was – eers as tesourier, daarna as diaken en uiteindelik selfs met ’n paar lees-preke wanneer ons dominee met verlof was.

In my studentejare het hierdie kaartehuis in duie gestort. Ek het die Bybel meer intensief vanuit ’n histories-wetenskap- like raamwerk bestudeer en ’n paar ontstellende ontdekkings gemaak. Die maagdelike-geboorte-verhaal is op ’n vertaalfout in die Griekse Bybel geskoei. Die skrywer van die Hebreër-brief het oneerlik met sy Psalm-tekste omgegaan om sy argument te versterk. Matteus het plagiaat gepleeg. Lukas se geknoei met datums het ’n gat in Jesus se geboorteverhaal gelaat.

Die geloofslewe van geen Christen wat eenmaal sulke ontdekkings gemaak het, is daarna ooit weer dieselfde nie.

Ek het probeer red wat te redde is deur by die liberale teoloë vlerk te sleep. Maar uiteindelik bevind ’n mens jou op ’n glybaan wat jou net vérder ondertoe sleep.

Toe ek nie langer vir myself en die gemeente kon lieg nie, het ek een middag ’n briefie aan die kerkraad getik en dit, soos ’n wafferse Martin Luther, met ’n duimspyker aan die kerk se deur gaan vasheg. Maar daar was een belangrike verskil: Luther het agtergebly om met die kerk oor sy stellings te debatteer. Ek was nie dapper genoeg om daardie aand die kerkraad in die oë te kyk en my stellings te herhaal nie. Ek het die briefie maar net teen die deur gelos en gewag vir ’n oproep van die leierouderling.

Pleks van soos Luther, het ek eerder gevoel soos Guido de Bres, wat op die aand van 1 November 1561 die Nederlandse Geloofsbelydenis oor die kasteelmuur van Tournai gegooi het in die hoop dat die Spaanse regering dit sal lees.
’n Tyd lank wou ek niks met die kerk te doen hê nie. Onlangs het ek egter ingeskakel by ’n wonderlike NG gemeente waar ek met ope arms ontvang is – en dít ondanks my oortuigings.

Verlede maand het ’n bundel by Griffel Media verskyn met die reformatoriese titel Hier Staan Ek... Daarin het vyf predikante anoniem gebieg dat hulle vasgevang voel in ’n kerk wie se belydenisse hulle nie meer kan onderskryf nie.
Vandag moet ook ek bieg: Die Bybel is nie vir my die Woord van God nie. Jesus het nie vir my sondes gesterf of ná drie dae uit die graf opgestaan nie. Wat in die hiernamaals met my sal gebeur, weet ek nie, maar ek vermoed dat ek in dieselfde toestand sal wees as in 1987 – die jaar voordat ek gebore is. (En van 1987 onthou ek net mooi niks!)

Waarvan ek wél seker is, is dat ek nooit my intense liefde vir die Bybel verloor het nie. Dit is ’n boek wat die vermoë het om my meer as enige ander boek te bekoor en te inspireer. Ek put inspirasie uit daardie dapper profete van die Ou Testament, daardie profete wat die konings van Israel en Juda trompop geloop het met ’n radikale boodskap van sosiale geregtigheid. Soms was die profete ook bang, moedeloos of hardkoppig.

Ek dink aan die skrywers van Rut en Jona wat die vooroordele van hul gemeenskap uitgedaag het met treffende protesliteratuur. Aan die Prediker, wat gewroeg het oor die sin van alles hier op aarde. Aan die Jesus van die Markus-evangelie wat selfs ná sy “opstanding” verwerp word. Aan Job, wat aangedring het op ’n reguit antwoord van God. Aan Paulus, wat kon uitroep: In Christus is daar nie Jood of nie-Jood, man of vrou, slaaf of vryburger nie. In Christus is ons almal één.

In daardie woorde van Paulus lê die tweede rede waarom ek na die kerk teruggekeer het: Ek sal graag wil sien dat die kerk terugkeer na die eerste beginsels van naasteliefde; die beginsels voordat dogmatiese bagasie bygekom het.
Bestudeer ’n slag die oudste geskrifte in die Nuwe Testament soos die Markus-evangelie en die briewe van Paulus. Vergelyk dit met latere geskrifte soos die Hebreër-brief en die Openbaring en kyk hoe Jesus as’t ware “geëvolueer” het.

Ek glo dat die Christendom nie hoef te staan of val by ’n letterlike interpretasie van sy mites nie. Jesus se geboorte- verhale, die leë graf en die hemelvaart is mitologie wat later by die verhaal gevoeg is. Die Christus-ervaring het tevore sonder hierdie tierlantyntjies bestaan – dit kan dus oorleef daarsonder.

Maar terug na daardie aand in die kerk. Vir die tweede keer in my lewe moes ek kies tussen veg en vlug. Tot my ewige spyt het ek albei kere gekies om te vlug.

Vandag smeek ek die kerk se besluitnemers om nie die twyfelaars in hul midde te verguis nie. Ons is in hierdie posisie omdat ons die waarheid gesoek het – nie omdat ons kwade bedoelings gehad het nie. Baie van ons is steeds lief vir die Bybel en lief vir die kerk. Party is selfs nog lief vir God.

’n Week ná die herdenking van Martin Luther se belydenis teen die kerkdeur van Wittenberg prewel duisende kerkgangers steeds saggies: Hier staan ons. Ons staan hier omdat ons nie anders kan nie.

Ons sien ’n kerk wat wurg aan sy belydenisskrifte omdat dit nie tred gehou het met die kennisontploffing van die laaste paar eeue nie. En ons wil help om oplossings vir hierdie krisis te vind sodat die kerk sy profetiese stem kan terugkry in ’n land wat na profete smag.

 

Kommentaar

Daniel Louw
2011-11-05

Dit is darem ironies. Hy skryf: "Ek glo dat die Christendom nie hoef te staan of val by ’n letterlike interpretasie van sy mites nie. Jesus se geboorte- verhale, die leë graf en die hemelvaart is mitologie wat later by die verhaal gevoeg is. Die Christus-ervaring het tevore sonder hierdie tierlantyntjies bestaan – dit kan dus oorleef daarsonder."
Maar tog het dit veroorsaak dat hy sy geloof in God verloof het.

Hy skryf: "Vandag smeek ek die kerk se besluitnemers om nie die twyfelaars in hul midde te verguis nie. Ons is in hierdie posisie omdat ons die waarheid gesoek het"
In 'n mate wil ek hom jammer kry, maar ek wil amper ook sê: "TWAK!" Daar is tonne en tonne apologetiese materiaal wat hy kon gelees het:
www.creation.com, www.icr.org, www.tektonics.org, www.antwoord.org.za, www.reasonablefaith.org, ens. Daar is baie debatte waar Christene vir ateïste ore aan sit. Kyk ook Hoeveel integriteit het die Nuwe Testament en Kommentaar op "Quo Vadis: 'n Ope brief aan die Gereformeerde kerke in die RSA".

AGGENEE MAN!!!

Ferdie Mulder

(Van hier gekopieer)

‘n Ánder brief aan die kerkdeur
– ’n poging tot kommentaar op Nico Geldenhuys se 5/11/2011 BY artikel (“My brief aan die kerkdeur”)
Ferdie Mulder
15 November 2011
Cambridge

Net mooi 'n dag ná Nico Geldenhuys se artikel in BY verskyn het (“My brief aan die kerkdeur”, 5/11/2011), ontvang ek uit die bloute op Facebook 'n persoonlike boodskap van 'n bekommerde moeder wat vertel van haar seun en skoondogter wat dié Sondag-more uit die kerk gestap het nét toe die gemeente predikant 'n teoloog voorstel wat die erediens sou waarneem. Waar Nico sy “Bybel gegryp [het] en na die uitgang gehardloop” het ten tye van 'n nagmaals erediens – klaarblyklik omdat hy nie meer kan glo in die “mites” van 'n Jesus wat maagdelik verwek is, vir ons sondes gesterf het, en letterlik uit die graf opgestaan het nie, het dié jong egpaar dieselfde gedoen maar om heel ander redes.
Maak nie saak wie die teoloog was wat gepreek het nie, die jong egpaar het klaarblyklik beleef dat hulle geloof in dié Jesus wat vir hulle maagdelike verwek is, vir ons sondes gesterf het en letterlik opgestaan het, hulle genoop het om op te staan en uit die kerk te stap. Later sou ek hoor dat die jong man al vroeër respekvolle gesprekke met dié teoloog gehad het, wat hom oortuig het dat hierdie geleerde se “dogma” nie meer die goeie nuus van die Bybel is nie. Nes Nico sy opstaan klaarblyklik met Martin Luther kon vergelyk, so sou die jong egpaar ook kon doen.
Sommige teoloë en navorsing wys tereg daarop dat daar in veral die Weste 'n afname in kerkbywoning is en dat die gesekulariseerde samelewing 'n negatiewe uitwerking het op voorheen Christelike gemeenskappe (Sien bv. Philip Jenkins se Next Christendom). In besonder hoor mens ook in dié kringe van 'n diepe skeptisisme as dit kom by dogmas soos Jesus se maagdelike verwekking, kruisiging of sy opstanding. Met 'n Jesus wat morele wyshede, liefde en sosiale geregtigheid vir ons gee is daar geen probleem nie, dis die bonatuurlike en unieke aansprake wat 'n enorme probleem skep. Nico se verhaal illustreer iets daarvan.

(Om Ferdie se kommentaar verder te lees, gaan na die skakel hierbo.)

Slabbert le Cornu

Kyk Sal die regte seuns van Luther opstaan?.

 

Kyk ook

 

Comments 

 
0 #2 lewies dercksen 2012-03-08 14:38
Vriend daar is 'n begindsel in die lewe wat se net dit wat die mens saai sal hy ook maai, ek nooi jou kom dan ontvang jy die bewyse dat die Meester wel lewe en ek bewys jou dat daar geen ander boek as die Bybel is wat geglo vertrou en geleef kan word nie. as jou oog duister is hoe donker is jou liggaam net nie. Dit is maklik om die fout by die kerk te soekm maar vra jouself- wie is die kerk? jy is die kerk, want Jesus soek nie geboue nie maar jou siel, daarom kan ek jou verseker het hy kom sterf omdat hy jou liefhet.
 
 
0 #1 Henrietta Klaasing 2011-11-05 22:24
Volgens Nico wil "ons" : " help om oplossings vir hierdie krisis te vind sodat die kerk sy profetiese stem kan terugkry in ’n land wat na profete smag." Sy "ons" is seker mense wat soos hy nie in God en sy Woord glo nie. Wie of wat se boodskap sal sulke "profete" verkondig?