Glo die Bybel

Johannes 17:17 ...U Woord is die waarheid.

Sindikasie

Glo die Bybel Glo die Bybel
Home
Hoe evolusie werk en hoekom dit nie werk nie PDF Afdruk E-pos
Sondag, 30 Augustus 2009 23:00

Volgens die evolusieteorie het mens en dier ontwikkel deur ’n proses van mutasies en natuurlike seleksie: mutasies het die lewende wese verander (bv. van ’n vis na ’n landdier) en natuurlike seleksie het veroorsaak dat die nuwe dier meer word deur oorlewing van die sterkste of die geskikste in ’n spesifieke omgewing.

Om dit beter te verstaan moet genetiese inligting, mutasies, natuurlike seleksie en dieresoorte verduidelik word:

Wat is genetiese inligting?

Dit is basies die DNS-inligting van ’n organisme. Visse het die genetiese inligting vir vinne en skubbe, maar nie vir hande, vingers en ’n vel nie. Voëls het die genetiese inligting vir vlerke, spesiale longe, vere, snawels, lê van eiers ens, maar mense het nie daardie genetiese inligting in hulle DNS nie.

Vir evolusie om plaas te  kon vind, moes ’n eensellige organisme (met relatief min genetiese inligting) genetiese inligting bygekry het om na ’n mens te evolueer met baie meer of ander genetiese inligting.

Wat is mutasies?

Mutasies is DNS-kopieerfoute wat soms voorkom. Hierdie mutasies veroorsaak dat diere ander eienskappe bykry, sou evolusie waar wees. Dus is dit die proses in evolusie om ’n dier te verander van een dier na ’n ander dier.

Nadelige mutasies sluit byvoorbeeld die volgende in: Slange met twee koppe, siamese tweelinge, beeste met 5 pote en blinde visse.

Voordelige mutasies, sluit byvoorbeeld die volgende:

  • Beeste met meer vleis: Sommige beeste het 'n mutasie ondergaan wat veroorsaak dat hulle meer vleis gee.
  • Vlerklose besies: Daar is besies op sommige klein eilande wat hulle vlerke verloor het agv ’n mutasie en wat daarom nie deur die wind weggewaai word die see in nie.
  • H-Pylori is ‘n bakterie wat weerstand teen antibiotika het.

Alhoewel bogenoemde mutasies voordelig is, het dit nie die genetiese inligting van die dier vermeerder nie, maar verminder.

Wat is natuurlike seleksie?

Natuurlike seleksie kan mbv 'n voorbeeld verduidelik word:

Gestel daar is honde met lang hare en sommige met kort hare. As daar ’n baie koue front kom, sal die honde met die kort hare doodgaan van die koue en die honde met die lang hare sal oorleef (oorlewing van die geskikstes vir die omgewing). 'n Reun en teef met lang hare, sal heel moontlik kleintjies hê wat ook lang hare het. Dus sterf die korthaar honde natuurlik uit. Dit is duidelik dat genetiese inligting verlore geraak het (honde met kort hare het verlore geraak).

Dit is heel moontlik hoe byvoorbeeld die verskillende olifante (Indiese, Afrika en mammoete) van een oorspronklike olifantsoort ontstaan het.

Die beginsel van seleksie word ook gebruik in teling van diere (geforseerde seleksie): Daar word met twee (of meer) vinnige perde geteel om vinnige vulletjies te kry. Maar gewoonlik is hierdie vinnige perde baie vatbaarder vir siektes omdat hulle genetiese inligting verloor het in die proses.

Skeppingsleerders het geen probleem met natuurlike seleksie nie. Inteendeel, Edward Blyth het al 25 jaar voor Darwin sy boek “The origin of species” geskryf het, verklaar dat diere verander dmv natuurlike seleksie. Dit bring egter slegs veranderinge mee in dieselfde dieresoort en laat nie ‘n volgende soort ontstaan nie.

Diersoorte

Wolwe en honde is byvoorbeeld almal diere van dieselfde soort (wolffamilie).
Leeus, tiere, luiperds en huiskatte is almal van dieselde soort (katfamilie).

Daar was slegs twee diere (en veertien van die rein diere) van elke soort op Noag se ark (twee van die wolf-, kat- (ens) soort). Uit daardie diere het al die diere van vandag gekom deur natuurlike seleksie. Geen genetiese inligting het egter bygekom nie.

 

Probleme met evolusie

1. Beide mutasies en natuurlike seleksie lei tot ’n vermindering van genetiese inligting

Daar is nog nooit ’n natuurlike proses (mutasies of seleksie) waargeneem waar genetiese inligting vermeerder het nie (bv ’n vis wat pote kry). Hierdie vraag is al aan Richard Dawkins gevra, maar na 18 sekondes van stilte het hy gevra dat die kameras afgesit word. Daarna het hy ’n antwoord gegee, maar wat glad nie van toepassing op die vraag was nie (soek gerus die videotjie op www.youtube.com – “Richard Dawkins stumped” en kyk die artikel Was Dawkins Stumped? wat daaroor handel.)

2. Verandering slegs in dieselfde soort

Daar is baie voorbeelde waar verandering in dieselfde diersoort plaasgevind het deur mutasies en/of natuurlike seleksie en elke keer het genetiese inligting verminder. Daar is egter geen voorbeelde waar een diersoort in ’n ander diersoort verander het nie.

3. Onvereenvoudigbare kompleksiteit (“Irreducable complexity”)

Michael Behe het die voorbeeld van ’n muisval gebruik om bogenoemde te illustreer: ’n muisval het 5 komponente nodig om te werk. Indien slegs een van daardie komponente nie werk nie, dan werk die hele ding nie. Daar is vreeslik baie voorbeelde in die natuur waar baie meer dinge gelyktydig in plek moet wees as net vyf, soos bv die eerste lewe op aarde, bakteriese flagellum (‘n elektriese motortjie wat bakterieë aandryf), die oog, bloedstolling en trane. ’n Eenvoudige voorbeeld is voëls: as een ding (vlerkvere, vlerkmeganisme, ligte beenstruktuur, spesiale longe, ens) nie in plek is nie, kan ’n voël nie (behoorlik) vlieg nie.

4. Geen voordeel van tussenstap

Daar word geglo dat voëls uit dinosourusse geëvolueer het. Dit moes in ’n hele paar klein verskillende stappe gebeur. Die probleem is egter, veronderstel dat ’n dinosourus ’n mutasie ondergaan het waar sy voorste pote vlerke word, maar dit kan nog nie vlieg nie, dan is dit nog nie voordelig nie en sal dit vinnig weer uitsterf omdat ’n dinosourus met pote (ipv vlerke) baie meer prakties is.

Kyk ook:

 

Is hierdie kwessie belangrik vir Christene?

Ja, dit is. Daar word voorgegee dat evolusie wetenskaplik bewys is, dus impliseer dit dat die Bybel verkeerd is in Genesis 1. Dit laat baie mense hulle geloof verloor of beïnvloed hulle geloof negatief. Richard Dawkins sê byvoorbeeld dat evolusie veroorsaak het dat hy ’n intellektueel vervulde ateïs kan wees. Soek vir die woorde “testimony”, “testimonies” of "side issue" op www.creation.com vir nog baie voorbeelde.