Glo die Bybel

Johannes 17:17 ...U Woord is die waarheid.

Sindikasie

Glo die Bybel Glo die Bybel
Boekbespreking: Opgestaan – deel 1 PDF Afdruk E-pos
Geskryf deur Slabbert le Cornu   
Woensdag, 20 Julie 2011 21:40

(Kyk oorspronklike artikel by http://proregno.wordpress.com/2011/07/20/boekbespreking-opgestaan-deel-1/)

Deel 2: http://proregno.wordpress.com/2011/07/27/boekbespreking-opgestaan-deel-2/

Deel 3: http://proregno.wordpress.com/2011/07/28/boekbespreking-opgestaan-deel-3-fundamentalisme/

Deel 4: http://proregno.wordpress.com/2011/08/01/boekbespreking-opgestaan-%E2%80%93-deel-4-verdagte-teoloe/

Deel 5: http://proregno.wordpress.com/2011/08/09/boekbespreking-opgestaan-%E2%80%93-deel-5-akkreditasie/

Deel 6: http://proregno.wordpress.com/2011/08/15/boekbespreking-opgestaan-deel-6-moenie-weifel-nie/

***********

Boekbespreking: Opgestaan: Studente se stryd om geloof by Tukkies in die jare 2001-2006, deur Ferdie Mulder. Opgestaan Publikasies: Cambridge, England. 2011. 343bl. Hier verkrygbaar.

‘n Paar aanhalings om mee te begin:

“. . . Jesus het daarom nie letterlik uit die dood opgestaan nie, bevind die radikale historiese metode . . . Hulle [die NH] wek twyfel oor sy werklike, liggaamlike, historiese opstanding uit die dood en bring dus die kern van ons geloof in ’n opgestane Here in die gedrang.” – Algemene Sinode Kommissie van die NG Kerk se verklaring oor die Nuwe Hervorming, wat in 2003 amptelike status op Algemene Sinode vlak gekry het.

“… hoe meer ek daaroor dink en skryf, hoe minder kan ek op daardie vraag net eenvoudig “Ja” antwoord (op ‘n vraag of Jesus liggaamlik opgestaan het en die graf leeg is – slc). Inteendeel, ek het behoefte om met my hele hart daarteen te protesteer, omdat die vraag en die manier waarop die vraag geformuleer en gevra is, ’n teologie oor die opstanding verteenwoordig wat ek nooit kan onderskryf nie … Die mense wat vreeslik klem lê daarop dat alles [Jesus se opstanding] net so letterlik gebeur het en waar is, én dié wat glo dat dit meer figuurlik en metafories verstaan moet word, glo almal op grond van die geloof wat ons ontvang het. . . Ons moet tog nie weer van ons geloof ’n dwingende sisteem maak waarin almal ewe netjies moet inpas en presies dieselfde moet glo nie. . . Of jy nou “metafories glo” en of jy “letterlik glo”, uiteindelik is die vraag of jy saam met Petrus bely dat Jesus die Christus is, die Een wat God se hart vir ons oopmaak waardeur ons gered word” - prof. Julian Müller, NG dosent in Praktiese Teologie by die Universiteit van Pretoria,in sy boek Opstanding.

“Die Satan as, of die duiwel dan as ’n persoon hoe ’n mens dit nou ook al sal wil probeer verduidelik of verklaar is nie deel van my beskouing daaroor nie . . . ek kan nie dink dat dit nodig is vir mense . . . dat ons konsepte soos die Hel en die Duiwel wat daarin funksioneer so op ’n letterlike manier moet glo . . . nie” – prof. Julian Müller, tydens die tweede Universiteitsverhoor van mnr. Ferdie Mulder, 2-5 Oktober 2006.

“Die Bybel is die produk van die gekonkel van mense!” – prof Jurie Le Roux, professor in OT by die UP.

“Vir die eerste eeuse Christene het Jesus opgestaan, omdat dit deel van hul wêreldbeeld was. Vandag kan ons dit nie meer so verstaan nie.” – prof Jurie Le Roux aan teologiese student Ferdie Mulder op 19 Junie 2004 na ‘n eksamenvraestel.

“Van Aarde se boek oor die historiese Jesus (Fatherless in Galilee, waarin hy die maagdelike verwekking van Christus verwerp en beweer Christus is ‘n buite-egtelike kind – slc) is ‘n hoogtepunt in die Suid-Afrikaanse Bybelwetenskap” – prof. Jurie Le Roux.

“Waarom hierdie boek lees? As Jesus nie letterlik die dood oorwin het nie, en sommige teoloë se skeptiese of akkommoderende uitsprake die waarheid is, dan dink ek dat dit álmal wat hulself Christene noem, raak. Want dan, ten minste soos Paulus dit verstaan, geld die woorde: “As die dooies nie opgewek word nie, ‘laat ons eet en drink, want more sterf ons!’” (1 Korintiërs 15:32). Indien sommige skeptiese teoloë egter verkeerd is (soos ek werklik glo), dan hoop ek dat hierdie boek inligting en interpretasies mag bevat wat gelowiges kan inlig oor wat agter die skerms aan die gang was (ten minste in 2001-2006). Hopelik is daar ook interpretasies wat gelowiges kan help om dinge in ’n breër perspektief te plaas. Dalk is daar hopelik ook ’n paar baie klein bakens van hoop.” – Ferdie Mulder oor sy boek, Opgestaan.

“ … to keep Gospel truth in the Church is of even greater importance than to keep the peace… Yes! peace without truth is a false peace; it is the very peace of the devil. Unity without the Gospel is a worthless unity; it is the very unity of @#!*% . Let us never be ensnared by those who speak kindly of it.” – JC Ryle

Die Nederduits Gereformeerde Kerk (NGK) bely ‘amptelik’ dat Christus liggaamlik opgestaan het volgens die aanhaling heel bo, maar hul optredes deur hul instellings en vergaderings bevestig dit nie. Met die mond word Christus se liggaamlike opstanding mooi ‘amptelik’ bely, maar met daad word Hy indirek verloën, deur hul vergaderings wat hul nie aan die juk van Christus onderwerp nie, wat meer op mense as op Christus vertrou, nie die suiwere evangelie deur die tug orals handhaaf nie en juis dié vervolg wat hulle oor hul dwalings (en liefdelose verdraagsaamheid van dwalings) aanspreek (NGB artikel 29 oor die kenmerke van die ware en valse kerk).

Dit is die konklusie waarby ek uitgekom het na ek die boek Opstanding die afgelope week gelees het.

Om hierdie sterk uitspraak van my te bewys, wil ek elkeen wat die kerk van ons Here Jesus Christus liefhet in Suid-Afrika, en veral elke ware gelowige wat nog in die NGK lidmaat is, sterk aanbeveel om hierdie boek van Ferdie Mulder te lees, peinsend, biddend … treurend … en weer te besin oor vir wie en waarvoor u u bydraes en kragte gee en waar u toelaat dat u en u kinders in die geloof (ongeloof?) gevoed word.

Die afgelope week, waar ek saam met my gesin en skoonfamilie die pragtige natuurskoon in die Bosveld kon geniet het, het ek Ferdie se boek gelees (nie ‘gestudeer’ nie, ek was op verlof!), en daarna het ek gehuil voor die Here oor die kerkverband wat ek ook eens liefgehad het, waarin ek ook groot geword het, waar ek ook belydenis afgelê het, en waarin baie van my familie hul nog steeds bevind.

Ferdie probeer nie ‘neutraal’ of ‘objektief’ oorkom nie, dankie daarvoor, hy getuig met ‘n kalmte en nederige bewoëndheid oor die hartseer gebeure van die jare 2001 tot 2006 aan die teologiese fakulteit by Tukkies, ook met erkenning vir die eie foute wat hy langs die pad gemaak het (wat niks is in vergelyking met die dodelike dwalinge en onreg wat hy en ander moes verdra het nie). Na al die gebeure en leed wat hom aangedoen is, wil ek hom gelukwens dat hy ondanks alles nie antwoord met ‘n verbitterde gesindheid nie, maar heel eerlik en grasievol die hele verhaal vertel. Hy getuig in vriendelikheid en bekwaamheid teenoor hulle wat daarop uit was om hom te ‘verwyder’ van die teologiese fakulteit. Min van ons sal so iets kon regkry.

Tukkies is natuurlik ook my (eerste) alma mater waar ek so bietjie regte gestudeer het, en later ‘n BA Algemeen (Bybelkunde en Wysbegeerte) voltooi het van 1988-1993 (dit het my so rukkie gevat om spoed op te tel …). Sekere name van dosente is daarom aan my bekend (o.a. Dirk Human in Bybelkunde OT), asook die twyfelagtige teologie wat hul voorgestaan het (waaroor ek in deel 2 gaan uitbrei). Daarom was Ferdie se verhaal oor die gebeure vir my ook belangrik.

Wat het gebeur in 2001 tot 2006 by die teologiese fakulteit van Tukkies ?

Ferdie vat die historiese gebeure goed saam in sy boek in hoofstuk 1 [5,6][1]:

“Sedert en selfs voor die Nuwe Hervorming het daar ook ’n breër stroom van vooraanstaande teoloë begin aanklank vind by, of ten minste ernstig begin nadink oor, hierdie “nuwere” insigte (waarvan die mees sentrale een, wat die boek Opstanding betref, natuurlik die liggaamlike opstanding van Christus is, wat die NH ‘letterlik’ ontken en verwerp -slc). Hier kan mens dink aan sommige publikasies van mense soos professor Willem Vorster (1980’s), professor Gert Pelser (1990’s), dr. Danie Veldsman (1993), dr. Ben du Toit (2000), professore Andries van Aarde (2000), Jurie le Roux (2002), Dirk Human (2003), Louis Jonker (2004), Anton van Niekerk (2005) en Julian Müller (2006), om maar net ’n paar te noem. Konflik tussen kerklike teoloë oor hierdie kernbelangrike geloofsake het veral sedert die jaar 2000 skerp begin toeneem, en uiteindelik ook verwarring in die publieke domein en veral ook onder gelowiges tot gevolg gehad. By Tukkies is van hierdie sake op die spits gedryf deur ’n bekommerde groepie studente wat na jare se studie, opregte worsteling, gesprekke en klagtes, standpunt begin inneem het. Vir ten minste sommige dosente, teoloë en kerklike invloedrykes in belangrike magsposisies was hierdie optrede geen welkome verwikkeling nie. Die klaarblyklike onwilligheid van die verteenwoordiger van die kuratorium, dr. Flip du Toit, asook ander rolspelers, om die sake verantwoordelik, billik en deursigtig te hanteer, het uiteindelik bygedra tot ’n studenteverklaring en belydenis oor Jesus se opstanding.

Daarin is drie dosente van Tukkies, professore Julian Müller, Jurie le Roux en Dirk Human, en twee teoloë uit die Kaap, dr. Louis Jonker en dr. Ben du Toit by name genoem as sou hulle omstrede en verwarrende uitsprake oor Jesus se opstanding maak. Dit het ’n herrie in die media ontketen. As inisieerder van die verklaring is ek uiteindelik deur ’n kuratorium-kommisie by Tukkies skuldig bevind aan oneerlikheid. Dit het tot gevolg gehad dat my studies as NG teologiestudent opgeskort is, hangende my berou. Uiteindelik is die teoloë van leerdwaling aangekla, waarna amptelike ondersoeke deur die kerk onderneem is. Nadat die drie dosente op alle aanklagte deur die kerk onskuldig bevind is (die Kaapse ondersoeke het veel langer geneem, maar hulle is ook onskuldig bevind), is ek deur die Tukkies-dosente (en ook professor Cas Vos wat toe dekaan was) dissiplinêr by die universiteit aangekla. Na ’n verhoor van vier dae is ek skuldig bevind op al die aanklagte teen my en, nadat ek my meestersgraad voltooi het, lewenslank geskors van die Fakulteit Teologie.

Laasgenoemde skuldigbevinding was die laaste episode in ’n komplekse stukkie kerkgeskiedenis tussen die jare 2001 en 2006 by Tukkies en in die NG Kerk.

Wat presies was die aanleidende faktore wat sou kulmineer in die studenteverklaring? Wát het alles agter die skerms aangegaan? Wát was sommige studente se ervaringe? Wat het dosente geskryf en geleer? Hoe pas die kuratorium-dagbestuur in al hierdie gebeure in? Was die studenteverklaring ’n onnodige en selfs bedenklike student(e)-stofopskop? Of was daar meriete daarin? In die volgende hoofstuk begin ek in die jaar 2000, en neem jou as leser graag op ’n reis met allerhande verrassings, persoonlike ontnugterings, intriges en ’n verskeidenheid gebeure.”

Wat was die wesentlike saak op die tafel ?

Volgens die skrywer was dit die belydenis van die liggaamlike opstanding van ons Here Jesus Christus. Ja natuurlik, dit was die saak waarin al die strydpunte saamgetrek het, maar na my mening (alhoewel die skrywer vir verstaanbare redes nie daarop kon fokus nie), was (en is) die onderliggende wesentlike sake in hierdie hele stryd, ‘n verkeerde Gods (Jesus)- en Skrifbeskouing wat al geleidelik deur die jare (dekades?) al meer begin posvat het in die NGK en veral die teologiese fakulteite, asook die (broederbondagtige?) wyse waarop die kerklike strukture en leiers, veral die kuratorium en ander kerklike liggame die profetiese stem van Ferdie en sy klasmaats moes stilmaak om weer ‘vrede’ te bring … al is dit ‘n valse vrede en ten koste van die waarheid.

Eerstens, oor ‘n verkeerde Godsbeskouing, om maar net een voorbeeld te noem: hoe op dees aarde ‘n professor (Müller) openlik kan bely dat hy ‘Integrale wêreldbeeld’ aanhang, naamlik in Panenteïsme as wêreldbeeld kan glo en bely, waar ‘alles in God is en God in alles is’ [179] en nog steeds in ‘rus en vrede’ sy dwalinge kan versprei onder teologiese studente, om nie eers te praat van lidmate nie, wys baie duidelik uit dat die probleem te doen het nie net met ‘n blote ander ‘interpretasie’ of ‘siening’ nie, maar ‘n ander God, ‘n ander Skrifbeskouing, ‘n ander geloof. Soos J. Gresham Machen tereg gesê het: Christianity and Liberalism is twee verskillende gelowe, so is Christelike Teisme en Panenteïsme ook twee verskillende gelowe. ‘n Mens hoef ook net die eerste artikel van die Apostoliese Geloofsbelydenis te onderskryf, om te besef Panenteïsme word deur die Heilige Skrif soos bely in die Drie Formuliere van Enigheid, verwerp, en as ek reg onthou moet NG predikante en professore nog steeds hierdie belydenisskrifte onderteken.

Sodra jy die Skepper – skepping onderskeiding (let wel nie ‘n deïstiese skeiding nie, maar onderskeiding) verwerp, d.w.s. as jy Gen.1:1 verwerp, dan verwerp jy die Christelike geloof, die Bybelse leer (Panenteïsme is wesentlik nader aan Panteïsme, as aan Christelike Teïsme, eintlik ‘n onderafdeling of variasie daarvan). Sien NGB artikel 8-12; HK Sondag 10. Sodra die band tussen God se skepping en herskepping losgemaak word (of radikaal teenoor mekaar gestel word), tussen natuur en genade, dan kan, dan moet dwalinge soos ewolusionisme, feminisme (ja, veral dit, alhoewel die skywer vir verstaanbare redes nie daarop fokus nie, veral nie die ‘vrou in die amp’ kwessie nie. Sien meer daaroor hier: Marcionisme en die vrou in die amp) en die ontkenning van die liggaamlike opstanding hoogty vier. Meer daaroor later.

Soos Ferdie hierbo genoem het, die uiteinde was dat die professore en al hul handlangers ‘onskuldig’ bevind is, en dat hy skuldig bevind is aan ‘oneerlikheid’, wat my bring by die tweede punt waaroor hierdie hele saak gegaan het, naamlik die ‘magspeletjies’ van die kerklike leiers. Ferdie verwoord dit treffend in sy slothoofstuk (“Onskuldig, vrede en berusting”), waarin hy ook vrae vra waarom enige van sy appèlle teen die onskuldig bevindings van die dwalende professore nie aangehoor is op sinodale vlak nie (beklemtonings bygevoeg) [261, 266]:

“Ek begin hierdie hoofstuk met die woord “vrede”. Die konteks waarin ek dit hier gebruik, kom uit advokaat Johan du Toit (die dosente en universiteit se regsverteenwoordiger) se pleitrede ter verswaring van straf nadat ek deur die universiteitskommissie skuldig bevind is op al die aanklagte. Advokaat Du Toit het in sy betoog dat ek lewenslank van Tukkies se Fakulteit Teologie geskors moet word, geargumenteer dat só ’n skorsing noodsaaklik is “vir die moontlike bring van vrede en berusting in die Fakulteit”.

Met strafoplegging was die kommissie dít met hom eens, waarna die vonnis toe voltrek is. Die motief agter my skorsing was dus duidelik: vrede en berusting moet terugkeer na die fakulteit. Om dít te verwesenlik, moet die moeilikheidmaker wat valse bewerings en beskuldigings van oneerlikheid teenoor die dosente gemaak het, lewenslank geskors word.

… Hoe dit ookal sy, terugskouend is dit my oortuiging (alhoewel ek dalk ook nie al die feite tot my beskikking het nie) dat die sinodale appèlliggame om die dood nie wou hê dat die appèlle deurgevoer moes word nie. Maar hoekom nie? In 2005 het professor Piet Strauss in die media gesê dat indien daar ongelukkigheid is oor hoe ’n ring ’n leerdwaling-ondersoek hanteer het, dan kan daar na die sinodes gegaan word. Daar kan die predikante en lidmate wat so ’n sinode bywoon, dan stem oor die appèlle. Daarna, soos mens sou kon byvoeg, kan daar ook na die Algemene Sinode gegaan word. Dáár sal dan ook oor die sake gestem kan word en indien ’n twee-derde meerderheid oordeel dat daar meriete in die appèlle is, dank kan dit beteken dat die klagte inderdaad gewig gedra het. Hierdie sake word in detail uiteengesit in die NG Kerk se Kerkorde. Dit is natuurlik moeilik om te bewys, maar my gevoel is dat indien daar in 2006-2007 ’n appèl voor ’n sinode of die Algemene Sinode sou dien, daar ’n moontlikheid kon wees dat ten minste sommige van die dosente se interpretasies verwerp kon word. Hou ook in gedagte dat die NG moderators van die streeksinodes in 2009 Jesus se liggaamlike opstanding bely het teenoor ’n klein groepie wat kapsie daarteen gemaak het. Die meeste van die beswaarmakers het merkwaardig genoeg ook ’n kontroversiële rol vervul in dele van hierdie boek. Ek dink byvoorbeeld aan dr. James Kirkpatrick, professore Julian Müller en Danie Veldsman (laasgenoemde was lid van die ondersoekliggaam wat professor Müller onskuldig bevind het waarna hy professor by Tukkies geword het).

Kan dit wees dat daar tog, in ten minste ván die appèlle, persoonlike belange, kerklike magspeletjies en derglike dinge ’n rol gespeel het?

Die kerklike magspeletjies het juis tot uiting gekom in die feit dat van die 40 studente wat die Verklaring onderteken het (wat Ferdie opgestel het teen die dwalinge van die professore oor die opstanding), later 39 hul ondertekening terug getrek het, omdat hul op verskeie subtiele maniere gedreig is aangaande hul verdere studies, hul beurse, legitimering, ens. (en allerlei flouerige verskonings dat hul kamstig ‘mislei’ is deur die opsteller, waaroor ek in ‘n volgende deel meer sal uitbrei). Een van die oorspronklike ondertekenaars het hom wel later verbind tot die ondertekening [317]. Respek vir die broer. Dit is belangrik om te vermeld dat van die 24 studente wat saam begin het in 2001, slegs ses later gelegitimeer is, en waarvan 2 ook later die NGK verlaat het [273].

Ek poog, soos die tyd dit in die komende dae en weke gaan toelaat, om verder met Ferdie Mulder se boek in gesprek te gaan, ook daar waar ek broederlik met hom verskil. Ek wil deel 1 van my boekbespreking eindig met ‘n paar laaste gedagtes, en natuurlik weer die aanbeveling: koop die boek en lees dit ! Dit is ‘n kosbare stuk kerkgeskiedenis, ‘n pragtige getuienis vir Christus toe een van sy kinders aan ’regbanke’ oorgelewer is (Matt.10:17), asook om te sien hoe die ‘kerklike strukture’ te werk gaan om sy sin te kry, om ‘n ‘studentjie’ vas te vat wat begin uitroep “die teologiese konings het nie klere aan nie”.

Wie is die ware konkelaars ?

In ‘n neutedop wil ek, vanuit my eie perspektief, die gebeure van 2001-2006 saamvat, deur die vraag te vra volgens prof. Jurie Le Roux se ‘gekonkel woorde’, wie nou eintlik die ware konkelaars is ? Ek meen:

Die vervolging, onreg en verkleinering wat plaasgevind het teen Ferdie en medestudente in die jare 2001-2006, en nog belangriker om die sentrale leerstuk van die liggaamlike opstanding van Christus te negeer deur hulle te vervolg wat beskerm moes word, en hulle vry te spreek wat skuldig is aan dwalinge – is die gevolg van die ‘gekonkel’ van dwaalleraars en magspeletjies van kerklike broederbonders (soos gesien kan word in die 7 verhore wat tydens hierdie saak daaroor plaasgevind het), wat mense en mense-aansien meer vrees en respekteer as vir God en sy gebod (contra Spr.29:25 en Mark.8:38). In deel 2 van my bespreking wil ek daarop wys in antwoord op Le Roux wat die vroeë kerk beskuldig van ‘n ‘gekonkel’ van die Woord, dit eintlik hoër kritiese en postmodernistiese teoloë is wat ala ‘Da Vinci Code’ filmteologie besig is om te konkel met die Woord, die kerkgeskiedenis en ons gereformeerde belydenisskrifte, al vir dekades lank.

Nie die kerk van Christus, die ware leer, die ware liefde tot God en die naaste nie, maar mense se aansien en eer, pensioenfondse en teologiese fakulteite en universiteite se aansien, is belangriker geag as God se eer, die waarheid van die liggaamlike opstanding van Christus, en die aanbidding van die enigse ware Drie-enige God, die Skepper (nie deel van) van hemel en aarde, wat Sy eniggebore Seun vir ons gestuur het, God wat mens geword het deur die maagd Maria, om vir ons sondes te sterwe aan die kruis, en die derde dag weer liggaamlik uit die dood op te staan, om op te vaar na die hemel, en nou aan die regterhand van God sit, wat vir ons intree, en eendag terugkom om regverdig te kom oordeel … oor ons almal se woorde en dade, ook elke woord wat van die kansel, kateder en in hofsale gespreek is … asook die ‘gekonkel’ wat plaasgevind het agter die skerms (Pred.12:13,15; 2 Kor.5:10; Hebr.4:13).

Mag Hy ons in sy regverdige oordeel genadig wees, mag elkeen wat bewus is van sy onreg en gekonkel in hierdie hele saak van 2001 tot 2006, hom bekeer en regmaak waar dit moontlik kan, ook vir elke vreesagtige gelowige wat nie Christus, die Opgestane Heer bely het toe dit werklik saak gemaak het nie (Mark.8:38).

Ek dank die Vader, dat Hy Ferdie en ander studente deur alles gedra het om die geloof te behou, ongeag al die ‘foute’ wat ook gemaak is, om getrou te bly aan Mark.8:38, en God meer gevrees en gerespekteer het as mense (Spr.29:25) wat die wese van die geloof wat aan ons oorgelewer is (Judas 3; 1 Kor.15), aangetas het.

My hart huil saam met Ferdie en ander oor daardie studente en gelowiges wat nou nog verward is, wat die geloof verlaat het deur die toedoen van dwalinge. Ons troos is, dat die uitverkorenes wel verwar kan word, vir ‘n tyd lank die sekerheid en vreugde van die geloof kan verloor, maar nooit in der ewigheid verlore sal gaan nie (lees Matt.24:11-13 in die lig van 24:24 en Joh.10:28; sien ook DL hoofstuk 5). Dit is ons wonderlike troos in Jesus Christus, want Hy hét opgestaan (Matt.28:6,7), geen dwaalleraar of kwaadwillige twyfellaar kan dit verander nie !

So ja, aan die eenkant is daar vrede, vir elkeen wat glo in Christus en al sy weldade, wat waarlik in Hom glo soos Hy Hom geopenbaar het, ongeag dat dit ‘dwaasheid’ is in die oë van die Nuwe Hervormers en Panenteïste (1 Kor.1:18-31).

Maar, aan die anderkant is daar nie vrede, ten minste nie ware vrede nie, waar die leuen voortgaan en beskerm word, waar die dwaling saam met die waarheid in ‘n sogenaamde (valse) liefde ‘geakkomodeer’ word in ons postmodernistiese kerke, is daar gaan ware vrede en toekoms nie, en is iemand ‘n valse profeet as hy ‘n valse vrede ten koste van die waarheid verkondig (Jes.5:20; 57:21; Jer.6:14; 2 Tim.4:1-5), as Hy verkondig dat Jesus Christus as die Seun van God nie in die vlees gekom het nie. Sy ongeloof en ongehoorsaamheid bly as straf op hom (1 Joh.5:12), hy erken met sy ongeloof dat Hy nie uit God gebore is nie (1 Joh.5:1) en dat hy verlore sal gaan, as hy hom nie bekeer nie (Joh.3:36).

JC Ryle verwoord ons roeping in sy skrywe ‘The Fallibility of Ministers’, soos volg (iets wat ons doppers ook gerus van ernstig moet kennis neem vir ons eie stryd waarin daar in leer en kerkreg ook maar te maklik ‘gekonkel’ word):

“I now pass on to the second lesson that we learn for Antioch (Gal.2:11-16). That lesson is that to keep Gospel truth in the Church is of even greater importance than to keep the peace… We have not right to expect anything but the pure Gospel of Christ, unmixed and unadulterated – the same Gospel that was taught by the Apostles – to do good to the souls of men. I believe that to maintain this pure truth in the Church men should be ready to make any sacrifice, to hazard peace, to risk dissension, to run the chance of division. They should no more tolerate false doctrine than they should tolerate sin. They should withstand any adding to or taking away from the simple message of the Gospel of Christ.

For the truth’s sake our Lord Jesus Christ denounced the Pharisees, though they sat in Moses’ seat and were the appointed and authorized teachers of men. “Woe unto you, Scribes and Pharisees, hypocrites,” he says, eight times over, in the twenty-third chapter of Matthew. And who shall dare to breathe a suspicion that our Lord was wrong?

For the truth’s sake Paul withstood and blamed Peter, though a brother. Where was the use of unity when pure doctrine was gone?

And who shall dare to say he was wrong?

For the truth’s sake Athanasius stood out against the world to maintain the pure doctrine about the divinity of Christ and waged a controversy with the great majority of the professing Church. And who shall dare to say he was wrong?

For the truth’s sake Cranmer, Ridley and Latimer, the English Reformers, counselled Henry VIII and Edward VI to separate from Rome, and to risk the consequences of division. And who shall dare to say that they were wrong?

For the truth’s sake Whitefield and Wesley a hundred years ago denounced the mere barren moral preaching of the clergy and their day and went out into the highways and byways to save souls, knowing well that they would be cast out from the Church’s communion. And who shall dare to say that they were wrong?

Yes! peace without truth is a false peace; it is the very peace of the devil. Unity without the Gospel is a worthless unity; it is the very unity of @#!*% . Let us never be ensnared by those who speak kindly of it. Let us remember the words of our Lord Jesus Christ: “Think not that I came to send peace upon Earth. I came not to send peace, but a sword” (Matt. 10:34). Let us remember the praise he gives to one of the Churches in the Revelation: “You cannot bear them who are evil. You have tried them which say they are Apostles, and are not, and have found them liars” (Revelation 2:2). Let us remember the blame he casts upon another ‘You allow that woman Jezebel to teach” (Revelation 2:20). Never let us be guilty of sacrificing any portion of truth upon the altar of peace. Let us rather be like the Jews, who, if they found any manuscript copy of the Old Testament Scriptures incorrect in a single letter, burned the whole copy, rather than run the risk of losing one jot of tittle of the Word of God. Let us be content with nothing short of the whole Gospel of Christ.

I warn then every one who loves his soul to be very jealous as to the preaching he regularly hears and the place of worship he regularly attends. He who deliberately settles down under any ministry which is positively unsound is a very unwise man.”

My geliefde broer en suster, is ek en u wys of onwys in ons kerklike tuistes vandag en vir die toekoms ?

Na ek die boek klaar gelees het, het ek nie geweet wie die mees tragiese figure is nie:

1. die professore wat blykbaar oortuig is dat al hul dwalinge nog werklik inpas onder die vaandel van ‘gereformeerd christelik’ ? (In hierdie sin het die belydende lede van die Nuwe Hervorming meer integriteit, deur opreg hul nuwe geloof te bely [al is hul ‘opreg’ verkeerd] en te besef hul kan nie meer saam met die kerk van alle eeue die Apostolicum van harte bely nie.)

2. of die kuratorium en ander kerklike leiers wat dink hul doen God ‘n guns deur ‘n dienskneg van God te vervolg en te skors, en so ‘n valse vrede te skep wat nie God se eer of die kerk van Christus dien nie ?

3. of ware opregte gelowiges in die NGK (en ander kerkverbande?) wat nog steeds, ongeag dat hul geweet het van hierdie saak, met hul geld en gawes ‘n postmodernistiese teologiese fakulteit ondersteun wat eintlik ‘n intergeloofsteologie instelling in die praktyk geword het ?

Waar jou skat is, sal jou hart ook wees. Bely ons met woorde én dade wat ons waarlik glo, dat Christus waarlik opgestaan het, en ons saam met Hom ? Is ons bereid, ook ons wat in kerkverbande sit wat al meer die afvalligheid van die NGK volg, om die kostes te bereken om Jesus te volg, ongeag die gevolge … soos Ferdie ?

“En Hy sê vir almal: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis elke dag opneem en My volg. Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, hy sal dit red. Wat baat dit ‘n mens tog as hy die hele (akademies-teologiese?) wêreld win, maar homself verloor of skade aandoen? Want elkeen wat hom skaam vir My en my woorde, vir hom sal die Seun van die mens Hom skaam wanneer Hy kom in sy heerlikheid en dié van die Vader en van die heilige engele.” – Luk.9:23-26

Einde van deel 1.

Tegniese aspekte

Hier is die blog wat die boek adverteer: Opgestaan Publikasies

Die beste plek om die boek aanlyn aan te koop, is Graffiti Boeke

Meer inligting oor die skrywer se huidige werksaamhede: Ferdie Mulder

Die inhoudsopgawe:

Vooraf

Voorwoord

Tegniese Inligting

Terminologie

Hoofstuk 1: Oriëntasie en uitgangspunt

Hoofstuk 2: Teologiese studies – vreugde en trane

Hoofstuk 3: Die Oop Gesprek van 29 Mei 2005

Hoofstuk 4: Die Studenteverklaring van 15 Junie 2005

Hoofstuk 5: Studente gedreig

Foto’s 104

Hoofstuk 6: Die ondersoeke – ’n oriëntasie

Hoofstuk 7: Die ringsondersoeke en universiteitsverhore

– Professor Julian Müller

– Professor Jurie le Roux

– Professor Dirk Human

Hoofstuk 8: Onskuldig, vrede en berusting

Bylaag 1: Die 2005-Eerstejaarskamp

Bylaag 2: Die Kaapse teoloë

Bylaag 3: ’n Teologiese regsaksie? – My dissiplinêre verhoor

Bylaag 4: Intergeloofsaanbidding? – Die 2006-retraite

Bylaag 5: Riaan Rossouw se herverbintenis tot die verklaring

Bylaag 6: Die 2003-retraite in die lig van die verhore

Bylaag 7: Intriges rondom bekende persone

Bronnelys

 


[1] Alle bladsy verwysings tussen hakies kom uit die boek onder bespreking, Opstanding, tensy anders vermeld.