Glo die Bybel

Johannes 17:17 ...U Woord is die waarheid.

Sindikasie

Glo die Bybel Glo die Bybel
2011-04-22 Ongelowige Thomas? Juis nie... PDF Afdruk E-pos
Geskryf deur Beeld   
Woensdag, 04 Mei 2011 21:18

 

Ongelowige Thomas? Juis nie ...

(http://m.news24.com/beeld/By/Nuus/Ongelowige-Thomas-Juis-nie-20110422)

Deur: Kirby van der Merwe

2011-04-22 15:53

 

Geloof is soms gebroke, gehawend, swak en ontoereikend.

Twyfel is nie ’n sonde nie – dis menslik.

En ’n mens mág maar twyfel, skryf die teoloog Julian Müller in ’n nuwe boek. Kirby van der Merwe het met hom gesels aan die vooraand van Paasfees.

In die konsistorie van die NG kerk Universiteitsoord in Hatfield, Pretoria, wys Julian Müller na ’n geraamde foto van homself.

Met die byskrif “J.C. Müller. Studenteleraar; 30 Junie 1978 – 27 Mei 1990” hang die foto tussen die portrette van ander dominees wat die studentegemeente hier bearbei het.

’n Streep middagson val deur die groot vensters agter die kansel en gooi ’n ligkol op die voorste banke waar ons sit.

Dis ’n imposante kerkgebou wat ontwerp is deur die bekende argitek Jan van Wijk; hy wat ook vir die ontwerp van die Taalmonument in die Paarl verantwoordelik was.

Volgens Julian, op 64 professor in praktiese teologie en vise-dekaan van die fakulteit teologie aan die Universiteit van Pretoria, het dit een van die beste pyporrels in die land.

Die vertrek is ruim; stil, maar nie stoer soos die moederkerke nie – dalk oor dit eerder ’n ouditorium is, dalk oor die ry groot pers kerse op die vloer voor die kansel.

Julian is op sy gemak in die kerk. Hy was bestem om predikant te word, skryf hy in sy jongste boek Om te Mag Twyfel, wat pas by Tafelberg verskyn het.

“Jy kan sê die kansel is vir my gekies toe my ouers tydens my moeilike geboorte – daar is vir moeder en kind se lewe gevrees – in hul oomblik van nood met God in onderhandeling gegaan het.

Ek sou as ’n klein Samuel grootgemaak word vir die tempel en vir God uit dankbaarheid dat ons lewe gespaar is,” skryf hy.

Hier in die kerk sê Julian hy het nes ander kinders van kleins af gewonder wat hy eendag gaan word.

Die antwoord was altyd dieselfde: ’n predikant.

“Selfs as klein seuntjie toe ons predikant, ds. Grové, op die plaas daar naby Nigel huisbesoek kom doen het en hy my gevra het wat ek eendag gaan word, was my antwoord: ‘’n Dominee’.

“In Om te Mag Twyfel beskryf ek my geloofsreis vanaf klein seuntjie deur die strikke op die geloofspad – soos evangeliese geloofsekerheid, Christelike nasionalisme en kerklike sekuriteit – en hoe ek Goddank daarin geslaag het om nie by een van dié strikke vas te haak nie, tot hier waar ek die mistieke grens van 65 nader en ek binnekort ‘op pensioen’ moet gaan.”

Sy eerste gemeente was in die middestad van Johannesburg, waar hy van 1971 tot 1975 predikant was.

Julian was daarna vir drie jaar leraar in ’n gewone voorstedelike gemeente, Primroseheuwel aan die Oos-Rand, voor hy in 1984 sy doktorsgraad in praktiese teologie aan die Universiteit van Pretoria voltooi het terwyl hy studenteleraar by die NG kerk Universiteitsoord in Hatfield was.

Jare later vertel hy hier in dieselfde kerk sy boek is “’n soort outobiografiese teologie”.

“Biografie as teologie ... Jy sien, die Afrikaanse teologie is nogal geneig daartoe om besonder dogmaties, sistematies en argumentatief te wees.

Maar in die afgelope paar jaar het die belangstelling in verhalende, narratiewe teologie toegeneem.

Teologie is ’n besinning oor geloof en wat daarmee verband hou – dit kan óf geweldig sistematies en argumentatief aangepak word, óf spontaan en verhalend.”

En dis presies wat hy gedoen het.

“Ek vertel my lewensverhaal spontaan en verhalend om mý ervaring van geloof sowel as twy- fel te verwoord. Godsdiens en jou geloof is ingebed in jou lewe, dit staan nie apart van jou lewe nie.”

Daar was outobiografiese elemente in sy vorige werk Reis-geselskap (2000) en Passie en Spasie (2009), maar dit bly ’n waagstuk om oor jou eie verhaal te skryf – selfs al is jy selektief oor wat jy vertel.

“Dit stel jou bloot. Jy kan nie outobiografies werk en, soos in my geval, ook die skyn van geloofsekerheid probeer behou nie. As jy oor jou eie lewe en ervarings skryf, gaan jy noodgedwonge kaalgestroop anderkant uitkom.”

Selfs al bly jy “sover moontlik by die feite”, is daar in elke outobiografie ’n element fiksie “gegewe die kwesbaarheid van die geheue”, sê hy. “En dan moet jy hoop lesers sal jóú geloofspad en jou teologiese insigte lesenswaardig vind.”

Vroeër, toe ons op pad was na die kerk, het ’n uitsonderlike toneeltjie afgespeel wat maklik ongemerk sou kon verbygaan in die harwar van studente tussen klasse: vier vroulike studente, hul Bybels oop, het in ’n kringetjie stiltetyd gehou onder die jakarandas op die grasperk voor die Hans Merensky-biblioteek.

Nie een van die groepie is teo- logiestudente nie, maar Sindile Malaza het vertel sy en Palisa Mayizale, Zamangethe Zwane en Mukondeleli Elekanyani kom elke dag tussen klasse bymekaar om die Bybel as rigsnoer vir hul daaglikse lewe te bepeins.

Toe Julian die groepie vra hoekom ’n antieke teks soos die Bybel vandag vir hulle belangrik is, het Malaza, ’n wiskunde- student, gesê dit is eintlik die vraag wat sy aan hóm wil stel.

En daar vra sy die professor in praktiese teologie: Hoe werk teologie in die praktyk? Hoe relevant is teologie en die Bybel in vandag se lewe?

Julian se antwoord?

“Dít is die punt van die teologie: om die Bybel in konteks te bekyk en te probeer verstaan. Die teks kom van êrens af, dit het ’n geskiedenis en dit het in ’n sekere konteks ontwikkel.

Praktiese teologie gaan juis oor die hede, oor hoe ons die teks vandag toepas; hoe Christene en die kerk daarop reageer.

“Ons moet die huidige konteks verstaan en probeer om die gaping te oorbrug tussen die antieke boek en die situasie van vandag om die Bybel se boodskap vir vandag relevant te maak.

Ek veronderstel dit is wat Sondae in alle kerke gebeur.”

Hy het voorgestel Malaza moet die Amerikaanse teoloog Harvey Cox se boek The Future of Faith in die hande probeer kry.

“Cox verdeel die 2 000 jaar lange geskiedenis van die Christendom in drie tydperke. Die eerste drie eeue noem hy die ‘age of faith’ – toe gelowiges vir Jesus gevolg het.

Daarna kom die ‘age of belief’, ’n tydperk waarin kerkleiers beheer oorgeneem het en leerstellings en geloofsbelydenisse geformuleer het.

Maar Cox noem die hede die ‘age of the Spirit’ waarin Christene van dogma begin wegstuur, spiritualiteit begin omarm en oop is vir ander gelowe.”

In die jongste tydperk, vervolg Julian, gaan dit in die kerk nie oor “?’n vasgestelde, korrekte manier van doen nie. Dit gaan bloot oor Christenskap.”

Hy het die groepie met begrip aangekyk.

“So, ek dink dis waar julle julle nou bevind, en dis waarom julle doen wat julle doen.” En dit, sou ’n mens kon veronderstel, is ook waarom hy doen wat hý doen.

’n Kollega het hom eenmaal gevra wanneer hy ’n gespreksgroep vir “ongelowige gelowiges” gaan begin.

“Dit was na aanleiding van ’n koerantartikel wat ek oor die onderwerp geskryf het. Sy het gemeen daar is ’n behoefte daaraan.”

Hy het die groep nooit begin nie, maar haar opmerking het ’n saadjie geplant en sy jongste boek is “op ’n manier my reaksie op haar versoek”.

Die titel van sy boek is met ’n rede nie Om te Twyfel nie, maar eerder Om te Mag Twyfel. Om te mág twyfel.

“Daar’s ’n groot verskil, want dit staan teenoor die boodskap dat dit verkeerd is om te twyfel en dat alles presies in kanne en kruike moet wees.”

Nee, beklemtoon hy, hy wil nie twyfel saai of dit aanmoedig nie. Inteendeel, hy wil eerder die ruimte – die moontlikheid – vir vertwyfeling erken en ontgin.

Hy skuif hom reg. “Die boek is geskryf vir mense soos ek, mense wat soms sukkel met geloof en nie elke dag ewe goed glo nie.

“Dis geskryf vir mense soos ek wat hul geloof beslis nie as ’n prestasie kan aanbied nie, wat soms verras is dat hulle tóg nog glo en wat soms ontsteld is dat hulle so ongelowig is.

En dis vir dié wat onthou hoe ons as kinders ongedwonge en maklik geglo het, maar nou sukkel om steeds so naïef te vertrou.”

Hy neem hierdeur stelling in teenoor die “kampioene van geloof” en skaar hom eerder by die “ongelowige gelowiges”.

Die kampioene van geloof? Wie is hulle presies?

“Ek wil nie op tone trap nie, maar ek sou sê dit is mense wat glo hulle kan wondere verrig en wat hulself altyd voorhou in terme van hul eie geloof.”

Hy wil juis nie oor die oorwinnings van geloof praat nie – daar- van is daar reeds genoeg in die populêre Christelike literatuur.

“Ek wil eerder die teenoorgestelde beklemtoon, naamlik dat geloof gebroke, gehawend, swak en ontoereikend is.

Geloof het geen inherente krag en betekenis nie, dis kwesbaar en breekbaar. En daarmee distansieer ek my van die konsep ‘geloofsekerheid’.”

Hy sit terug in die kerkbank en rus sy arms op die stoele weerskant van hom.

“Ek het met verloop van tyd skepties geword oor die konsep ‘geloofsekerheid’, want dit is ’n konsep waarmee gepoog word om iets tot geloof toe te voeg, asof geloof alleen nie genoeg is nie. Jy moet nóg ’n kwaliteit daarby verwerf.

“Dis asof daar twee soorte geloof is: sekere én onsekere geloof. En dan kan jy dit verder voer: geloof wat oortuig is, en geloof wat onoortuig is; die geloof van wedergebore Christene en die geloof van gewone Christene ...”

Hoekom stroom Christene dan na kerke en byeenkomste waar “kampioene van geloof” die boodskap van “geloofsekerheid” verkondig?

“Ek dink daar is verskillende redes waarom soveel mense in daardie rigting gaan.

Godsdienssosioloë sê vir ons kerke wat ’n duidelike, eenvoudige boodskap verkondig, groei wêreldwyd, terwyl mense wegbeweeg van die meer intellektuele soort benadering wat bevraagteken en wat twyfel verwoord.”

Nie dat dit hom pla nie.

“Ek glo nie die waarheid is noodwendig waar die massa is nie. Ek vra my dié vraag: Wáárom vind mense aanklank by die ‘eenvoudige’ boodskap?

Daar is ’n naam daarvoor: Keuse-moegheid. Godsdienssosioloë sê mense moet deesdae soveel keuses maak.

Vroeër was dit net nodig om ’n paar keuses te maak, die meeste is vir jou gemaak: aan watter politieke party en kerk jy behoort, waar jy bank.

Dit was familie- of kulturele keuses. Nou het dit verander. Ons moet nou self keuses uitoefen wat in die verlede vir ons gemaak is.

“Jy kan nou self besluit aan watter kerk jy wil behoort en as jy moeg is vir dié kerk, skuif jy na ’n volgende.

So is dit op alle terreine. Nou sê die godsdiens- sosioloë mense is moeg daarvoor om keuses te maak.

Hulle soek ’n plek, veral op godsdienstige vlak, waar daar eenvoudig vir hulle gesê word: Dis hoe dit is, só moet jy glo.”

Julian vra homself egter: Wat is die kerk se verantwoordelikheid?

“Moet die kerk saamspeel en lidmate paai en steeds kom met daardie ou, geykte boodskap, al glo ons nie meer daaraan nie?

Of moet ons eerlik wees en mense help om te midde van die twyfel tog vashouplek in hul geloof te vind?”

Julian en Zirkea, ’n maatskaplike werker, is vanjaar veertig jaar getroud. “Gelukkig getroud, en ons het vier kinders, vier skoonkinders en vyf kleinkinders,” sê hy.

En nou, met “op pensioen gaan” om die draai, wil hy meer skryf, dalk ook gholf speel.

Hy lees wyd. “Enigiets wat my hand kan vind. Ons is ’n huis van lesers. Letterkunde, ontspanning, enigiets.

My oudste seun het byvoorbeeld vir my die Amerikaanse fisikus Fritjof Capra se The Turning Point gegee, wat die geskiedenis van die wetenskap en die ekonomie opnuut bekyk en verduidelik hoe onvoldoende die ou denkraamwerke geword het vir die postmoderne, tegnologiese wêreld.”

Julian is juis geïnteresseerd in hoe die kerk se rol in die samelewing verander.

“Vanaf die vroegste tye het die kerk hom knus geskaar by die politieke of ekonomiese mag. Dit is ’n lekker maklike plek.

“Maar die kerk kan nie meer eenkant staan nie, hy moet hom skaar aan die kant van die gemarginaliseerdes en dié wat swaarkry en sukkel. Die kerk moet alle vorme van diskriminasie aanspreek.”

Dié rol van die kerk is tog reeds vervat in die Belhar-belydenis?

“Presies, en ek ondersteun dit geheel en al. Die NG Kerk het nie ’n ander uitweg as om die Belhar-belydenis, op watter manier ook al, te ondersteun nie.”

Die kerk kan ’n beter, meer verantwoordelike bydrae in mense se lewe maak deur eerlik met hulle te wees en nie ’n valse boodskap voor te hou nie, sê hy.

Vals? “Vals in die sin dat ons mense nie bloot gee wat hulle wíl hoor nie. Die kerk móét tog ’n profetiese rol in die wêreld speel.”

“Moet die kerksaamspeel en lidmate paai en steeds kom met daardie ou, geykte boodskap, al glo ons nie meer daaraan nie?”

 

 

 

Comments 

 
0 #1 Henrietta Klaasing 2011-05-06 11:09
Ai, wat mens nie alles sal doen om die nuutste "modes" na te volg nie.... die heersende gier is mos postmodernisme, of sommer : Nie-Weet-Kunde, want die één ding wat hpostmoderniste soos Julian Müller wél weet, is dat hulle nie weet nie...