Bestaan daar net een pad na God?

Kyk ook:

Die volgende artikel wys die geloofsoortuigings van Desmond Tutu, Willie Esterhuyse, Frits Gaum, Lina Spies en Jean Oosthuizen.

**********

Bestaan daar net een pad na God? | Netwerk24

Jesus is nie die enigste pad na God nie, het emeritusaartsbiskop Desmond Tutu aan dr. Frits Gaum, emerituspredikant van die NG Kerk, gesê. Dit het ’n vurige bespreking op die Woordfees in Stellenbosch ontlok, berig Nadine Theron.

Beeld, 9 Maart 2017

Gaum het op die Woordfees in Stellenbosch aan ’n bespreking deelgeneem oor sy boek God op soek?

Gaum het sy boek geskryf in reaksie op die filosoof prof. Willie Esterhuyse se boek Geagte Jahwe en Esterhuyse gekonfronteer met dit wat hom “moerig” gemaak het oor die boek.

Esterhuyse was ook deel van die gesprek wat deur Jean Oosthuizen, voormalige nuusredakteur van Kerkbode, gelei is.

“Maar wat van die hele ding van dat net die Christelike geloof reg is? Wat dan van al die ander gelowe, wat dan van Moslems? Wat van mense wat nie glo nie, maar wat hoë morele waardes het?” het Oosthuizen gevra.

Gaum het dit beantwoord deur te sê wat emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu aan hom gesê het toe Gaum hom gevra het of Jesus die enigste pad na God is.

“Ek het ’n baie goeie antwoord by hom gekry . . . hy het gesê dis nie die enigste pad nie, maar dis ’n unieke pad na God.”

Volgens Gaum is dit die pad waarin hy glo. “Maar ek sal nooit sê dis die enigste pad nie. Ek glo wel dat God met ander mense op ander maniere te werk gaan. Om oordeel oor ander mense uit te spreek, dit betaal mos nie,” sê Gaum.

[Dit is baie duidelik dat Gaum nie sy Bybel glo nie. Volgens die Bybel is dit die enigste weg. Geen hoë morele waardes gaan jou in die hemel kry nie. Kyk Die Nuwe Testament oor redding.]

Die bekroonde digter prof. Lina Spies het uit die gehoor gesê: “Ek gaan nou hier sê wat vir my pla en ek rig dit spesifiek na jou toe, Frits.

“Hierdie uniekheid waarvan jy praat – ek is jammer dat ek dit gaan sê en ek gee nie om as mense my daarvoor kwalik neem nie – maar dit impliseer ’n soort hoogmoed waarvan ek niks hou nie. Naamlik dat ons tog dink ‘ag, ons het die eintlike waarheid beet’ en die oomblik wanneer jy dit dink, dan kan ek dit nie meer aanvaar nie om die eenvoudige rede dat dit my liefde vir mense in die ander geloofshoedanighede ondermyn.”

Sowat vier jaar gelede het Oosthuizen en Kerkbode se paaie onder ’n wolk van omstredenheid geskei nadat die amptelike koerant van die NG Kerk sy borgskap onttrek het aan ’n gesprek oor geloofsake op die Woordfees in 2013 se program wat Oosthuizen help reël het. [Kyk Jean Oosthuizen afgedank.]

Kort daarna het Spies haar bedanking uit “die volle Afrikaanse kerkfamilie” aangekondig. Spies het ná Maandag se bespreking gesê dít het haar ontstel.

Dit was ’n vurige bespreking. ’n Groot gesprekspunt en dit omtrent Esterhuyse se boek wat Gaum erg ontstel het, was Esterhuyse se belydenis dat hy nie glo God is ’n persoon wat “sit en toutjies trek nie” en eerder aan God op ’n metaforiese vlak dink.

Gaum sê: “Ek glo God is ’n persoon en dis waar ons verskil.”

Die twee denkers het Bybeltekste en die aanhalings van bekende filosowe na mekaar geslinger.

Op Gaum se vraag oor hoe ’n mens ’n God dan kan liefhê sonder om ’n persoon lief te hê, het Esterhuyse geantwoord dat hy selfs sy motor kan liefhê.

Op Oosthuizen se vraag aan Gaum oor waar God was toe ’n Vrystaatse boer en sy vrou terug van die kerk op hul plaas afgemaai is (een van die vrae wat Gaum in sy boek probeer beantwoord), het Gaum gesê deur die mens te skep, het God van sy mag prysgegee omdat God die mens vrye wil gegee het. [Die meer korrekte antwoord is dat die sondeval dood en swaarkry in die wêreld ingebring het. Dit is egter jammer dat Gaum waarskynlik nie in ’n letterlike sondeval glo nie.]

BRIEWE

Die Here is g’n metafoor

Deur Petrus Theron, Naboomspruit 13 Maart 2017 05:02

Ek skryf na aanleiding van die Woordfees-debat tussen prof. Willie Esterhuyse, dr. Frits Gaum en Jean Oosthuizen getiteld “Bestaan daar net een pad na God?” waaroor Beeld op 9 Maart berig het.

Ek vind dit tragies dat mense wat aanspraak maak op teologiese geleerdheid hulself openbaar as twyfelaars terwyl hulle al die geleentheid in die wêreld het om die Waarheid uit te vind en, inteendeel, ook te weet.

Jean Oosthuizen sê: “Maar wat van die hele ding van dat net die Christelike geloof reg is? Wat dan van al die ander gelowe, wat dan van Moslems? Wat van mense wat nie glo nie, maar met hoë morele waardes?”

Vir Jean Oosthuizen wil ek kortliks sê: Ja! Wat daarvan? Geen ander geloof op aarde het so ’n sterk uitspraak van hul God wat sê: “Hoor, o Israel, die Here onse God is ’n enige Here.”

Nie een ander God het gesê: “Ek is die Weg, die Waarheid en die Lewe! Niemand kom na die Vader behalwe deur My nie!”

Hoë morele waardes sal jou nêrens bring nie, want die Here sê uitdruklik dat selfs ons werke van geregtigheid soos vuil lappe in Sy oë is.

Prof. Esterhuyse, hoe bedoel jy dat jy God op ’n metaforiese vlak ken?

Die dag as ons voor die Here se Troon staan om vir ons lewens verantwoording te doen, gaan Hy jou beslis vra om jou “metaforiese” verhouding te verduidelik. So ’n verhouding klink vir my bietjie informeel, so bietjie minagtend, so bietjie “casual”.

Die Here is niemand se ou gabba of tjommie of metafoor nie!

Dr. Gaum, as die Here bepaal dat Hy mense gaan toelaat om vrye wil uit te oefen, het Hy ook bepaal dat daar ’n oordeelsdag sal wees waar elkeen moet verantwoording doen vir ¬elke daad, denke en motief.

Dis maklik om dinge te sê omdat jy op ’n podium van gesag staan, maar op die uiteinde gaan die Here al hierdie dinge deur die vuur trek om te kyk van watter stoffasie dit is.

Wat gaan dr. Spies, Jean, dr. Gaum en prof. Esterhuyse sê as hulle agterkom dat al hul stryery, wêreldwysheid, opinies, kritiek en uitsprake als deur die vuur verbrand is en dat hulle self in gevaar is om ’n ewige verdoemenis te betree omdat Jesus vir hulle sê: “Ek het julle nooit geken nie!” Gaan daardie belewenis ook dan ’n metafoor wees?

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui