Antwoord op Prof Nelus Niemandt se artikel in Kerkbode 16 Maart 2012

Kyk ook Louis Scheepers se opmerking hieronder.

********

Antwoord op Prof Nelus Niemandt se artikel in Kerkbode 16/03/2012 | Hierstaanek

16 Maart 2012

Geagte Prof Niemandt

U artikel in die Kerkbode van 16/03/2012 verwys. (Moderator ontmasker ‘aanstootlike leuens’)

A) Agtergrond

Ek het u in persoonlike eposse versoek om asseblief seker vrae omtrent u geloof te beantwoord. Die redes hiervoor was as volg

1) Die sogenaamde emerging of emergent church beweging is besig om wêreldwyd veld te wen en vernietiging onder tradisionele en gereformeerde kerke te saai. Die emergent kerk se wêreldbeeld is panenteïsties. Hulle verwerp dus die Bybelse teïstiese wêreldbeeld. Omdat panenteïsme beweer dat alles in God is en God in alles is, is die bestaan van ‘n totaal bose wese buite die wese van God (die duiwel) ‘n logiese onmoontlikheid in panenteïsme. Panenteïsme is totaal onverenigbaar met die Bybel. (Vir meer oor panenteïsme, kyk https://hierstaanek.com/2011/09/22/31/.)

2) Die Algemene Sinode het in Oktober 2011 besluit dat daar plek in die NG Kerk sou wees vir mense wat die bestaan van die duiwel as ‘n wese met sy eie gestalte en voorkoms verwerp. Hierdie besluit was ongeldig en het die Here se Naam oneer aangedoen. U het niks daaroor gesê nie. (Vir meer oor die sinodebesluit, kyk https://hierstaanek.com/2012/01/01/die-algemene-sinode-van-2011-se-besluit-oor-die-duiwel-is-ongeldig/)

3) Kort daarna het u in ‘n radio-onderhoud met Evert Bierman ‘n vraag oor die bestaan van die duiwel uiters onbevredigend en dubbelsinnigbeantwoord (kyk Nelus Niemandt oor die bose en seks voor die huwelik).

Ek haal aan uit die onderhoud:

Evert (6:22): Glo jy in die duiwel se bestaan as fisiese wese?

Nelus: Kyk, dit is nou die punt mos nou wat ons in die kerk ook gesê het. Ek is self huiwerig om daardie idee van ‘n fisiese wese wat dan skielik alomteenwoordig kan wees, vergelykbaar is met God. Ek het eintlik in my eie lewe al lankal uitgemaak dat ek my nie vreeslik besig wil hou of my teologie laat definieer hoe ek oor die duiwel dink nie.

4) U haal gereeld emergent leiers soos Brian McLaren en Jurgen Moltmann in u skrywes aan, sonder dat u u lesers waarsku teen hulle dwaalleer. Kevin DeYoung skryf byvoorbeeld oor Brian McLaren:

In McLarenism there is no original sin, no wrath, no hell, no creation-fall-redemption, no definite future, no second coming that I can see, no clear statement on the deity of Christ, no mention of vicarious substitution or God’s holiness or divine sovereignty, no ethical demands except as they relate to being kind to others, no God-offendedness, no doctrine of justification, no unchanging apostolic deposit of truth, no absolute submission to the word of God, nary a mention of faith and worship, no doctrine of regeneration, no evangelistic impulse to save the lost, and nothing about God’s passion for his glory. This is surely a lot to leave out.

McLaren’s Christianity is not new and certainly not improved. I don’t believe you can even call it Christianity. It is liberalism dressed up for the 21st century. We can only hope this wave of liberalism fades as dramatically as did the last

(Vir meer hieroor, kyk https://hierstaanek.com/2012/02/22/deyoung-die-evangelie-en-mclarenisme-is-brian-mclaren-n-christen/)

‘n Ander teoloog waarna u dikwels verwys is Jurgen Moltmann, ‘n bekende panenteïs wat allerweë beskou word as die vader van emergent teologie. Dit is wat Cooper te sê het oor Moltmann se panenteïsme:

This overall theological perspective is clearly Neoplatonic when compared, for example, with the Augustinian-Reformed tradition of Christianity. In that tradition God is perfectly and eternally triune, good, loving, omniscient, omnipotent, and sovereignly free whether or not he creates a world; he is free whether to permit a fall; and he is therefore fully gracious and agapic in the love by which he creates, sustains, redeems, and perfects the world. Although they affirm many of the same basic doctrines, these are two quite different understandings of the Christian faith as a whole. Moltmann was educated as a Reformed theologian, but he abandoned that tradition early in his career and has not returned.
http://www.amazon.com/Panentheism-Other-Philosophers-Plato-Present/dp/0801027241

Weereens verwys u ons na Moltmann, maar u sê niks van sy destruktiewe dwaling van panenteïsme nie. U haal dus mense aan wat bekend is daarvoor dat hulle die evangelie verwerp, en dan weier u om die gevolglike verwarring op te klaar deur te verklaar wat u glo!

5) Die NG Kerk is besig om teen ‘n vinnige tempo te krimp. Mense verlaat die NG Kerk omdat daar onsekerheid is oor wat die leiers van die kerk glo. Ek verwys spesifiek hier na mense wie Bybelse beginsels in die openbaar verwerp soos Prof Julian Müller en Dr Ben du Toit, wat skynbaar deur die leierskap van die kerk beskerm word. Ander verloor hulle geloof omdat die evangelie nie meer suiwer verkondig word nie. ‘n Onlangse artikel in die pers raam die lidmaatverlies van die NG kerk in die laaste jaar op 20 000.

6) Dit is dus van kardinale belang dat die leierskap van die NG Kerk hierdie geloofwaardigheidskrisis van die kerk aanspreek, en te begin deur hulle in die openbaar teen die betrokke dwaalleer uit te spreek.

In die lig hiervan het ek u per epos spesifieke vrae oor u geloof gevra. Ek het ook genoem dat dit nie maar genoeg is om te sê “Ek staan by my legitimasie eed,” nie, omdat verskeie teoloë wat duidelik die belydenisskrifte verwerp dit al gesê het. Ons persoonlike korrespondensie is hier te lees: https://hierstaanek.com/2012/01/04/korrespondensie-met-prof-nelus-niemandt/

Ek glo ek was die hele tyd eerbiedig teenoor u, en het werklik in broederliefde teenoor u probeer optree. Let asb op die datums van die korrespondensie en die datum waarop ek dit publiseer het op my blog. Ek wou u soveel moontlik tyd gee om my op ‘n bevredigende manier te antwoord.

7) U het my egter met ‘n kortaf “Ek staan by my legitimasie eed” weggestuur, ten spyte van die feit dat ek aan u verduidelik het dat dit nie goed genoeg is nie.

8) Op 12/02/2012 het u op Kerkbode se Facebook muur sekere uitlatings gemaak wat duidelik gewys het dat u die emergent beweging ondersteun. Aangesien u my steeds ‘n antwoord verskuldig was, het ek ‘n ope brief aan u gepos op Kerkbode se Facebook muur. Dit is hier te kry: https://hierstaanek.com/2012/02/12/ope-brief-aan-prof-nelus-niemandt-gepos-op-facebook-12022012/

Let asb op dat dit meer as ses weke was nadat ek ons korrespondensie op my blog gepos het. Weereens het ek gehoop u sou reageer.

B) Die vrae

In die lig van bogenoemde agtergrond, dink ek nie dit is enigsins onbillik, oneerlik of leuenagtig om u te versoek om die volgende vrae volledig te beantwoord nie. Die gewone lidmate van die NG Kerk het ‘n absolute reg om te weet dat hulle leiers die belydenisskrifte onderskryf, en ek bevestig my reg om u in broederliefde te versoek om hierdie vrae te beantwoord.

Vraag 1) Aanvaar u ‘n wêreldbeeld wat breedweg as “panenteïsme” beskryf kan word? Met ander woorde, glo u dat die hele skepping analoog is aan die geskape menslike natuur en liggaam van Christus? Glo u dus een van die volgende: dat god die “siel” of “mind” van die skepping is, dat die skepping “deel van god” is of dat die skepping “uit god gespruit het?” (“emanated from god?”) U verwys in u Facebook pos baie positief na Jurgen Moltmann, wat panenteïsme vekondig. Ondersteun u dus Moltmann se pantenteïstiese teologie?

Vraag 2) Glo u dat Jesus uniek is in die feit dat Hy alleen uit God gegaan en van God gekom het soos hy beweer in Johannes 6:46? (In teenstelling met wat die panenteïste beweer: dat ons almal “Homo Christos” is?)

Vraag 3) Glo u Jesus is uit ‘n maagd gebore, dat daar geen manlike saad by sy konsepsie betrokke was nie, maar dat Maria deur ‘n bonatuurlike ingrype van God bevrug is?

Vraag 4) Glo u Jesus het Lasarus uit die dood opgewek, soos wat ‘n mediese dokter dit vandag sou bevestig?

Vraag 5) Glo u Jesus het met ‘n ware, tasbare liggaam uit die dood opgestaan, wat alhoewel dit nie aan die huidige natuurwette van hierdie bestel onderworpe is nie ‘n ware, fisiese objek is wat onder andere ook in tyd en ruimte kan funksioneer? Glo u dat die wat gered word ook eendag sulke tasbare liggame sal hê? Of stem u saam met die teoloë wat die opstanding op ‘n metaforiese vlak beskou, soos Julian Müller?

Vraag 6) Glo u dat die bewuste, ewige verdoemenis in die hel bestaan?

Vraag 7) Glo u dat die duiwel en sy demone geskape wesens in eie reg is, met die eienskappe van persoonlikheid? (Anders as Dr Ben du Toit?)

Vraag 8) Glo u dat slegs die mense wat Jesus bewustelik aanneem as Verlosser gered sal word, en dat die res vir ewig hel toe gaan?

Laastens wil ek u graag verwys na my artikel oor die Algemene Sinode van 2011 se besluit om dwaalleer in die kerk toe te laat. Dit is by hierdie adres: https://hierstaanek.com/2012/01/01/die-algemene-sinode-van-2011-se-besluit-oor-die-duiwel-is-ongeldig/

U het in u legitimasie eed belowe om dwaalleer met al u krag uit die kerk te weer. Ek wil u dus versoek om een van die volgende te doen, ten opsigte van my artikel oor die sinodebesluit.

1) Verduidelik asseblief op logies beredeneerde wyse uit die kerkorde, die belydenisskrifte en die Bybel, waarom ek verkeerd is, en die Sinode se besluit oor die toelating van dwaling in die kerk volgens die Bybel en belydenisskrifte regverdigbaar is.

Of, indien u dit nie kan doen nie,

2) Verklaar dan hier en nou dat u ‘n gravamen teen die betrokke besluit by ‘n volgende kerkvergadering waarop u gaan dien gaan inhandig.

Indien u nie 1) kan doen nie maar weier om 2) te doen, sou dit beteken dat u u legitimasie eed verbreek.

C) Antwoord op u artikel en aantygings in Kerkbode.

1) Die redes waarom u weier om my te antwoord.

U verskaf ses redes waarom u my nie wil antwoord nie. Daarop wil ek die volgende antwoord:

U maak sekere subjektiewe aannames oor my motiewe, my integriteit en my “liefdeloosheid”. Ek wil u graag oortuig van my suiwer motiewe en dat ek werklik deur Christus se liefde vir Sy Kerk gedryf word, en het dit in ons persoonlike korrespondensie ook genoem. Ek verwys u na my brief aan u gedateer 13/11/2011:

“En ek is jammer as u voel dat ek u aanval – dit is nie die bedoeling nie. Die bedoeling is om in Chrsitus se liefde ‘n broederlike gesprek met u te voer.”

Dit is jammer dat u verkies om my te veroordeel eerder as om my woord daarvoor te aanvaar en my die voordeel van die twyfel te gee.

U sê ek vra die vrae onderhewig aan my eie reëls: Ek het dit baie duidelik gestel dat u breedvoerige akademiese verklarings kan insluit in u antwoorde. (Verwys my brief aan u gedateer 03/11/2011.) Daar sou dus geen manier wees waarop ek u kan voorskryf wat om te sê of u reg op vrye spraak aan bande kon lê nie.

U is reg dat ek nie in “oop gesprek” belangstel nie, in die sin dat ek u nie van enigiets op hierdie stadium wil oortuig nie, en ook dat ek nie noodwendig myself wil oopstel vir nuwe teologiese oortuigings nie. Debat en redevoering is dus nie my doel nie. Ek wil bloot weet wat u glo. En ek het die reg om te weet wat u glo omdat ek lidmaat van die kerk is waarvan u die moderator is. Hierdie kan dus nie ‘n legitieme rede wees om my nie te antwoord nie.

Laastens wil ek noem dat u verwysing na die inkwisisie uiters onregverdig en kwetsend is. Die inkwisisie het mense gemartel en vermoor. Hulle het gesinne uitgewis en van hulle eiendom beroof. Ek het geen mag om u te martel of te laat verbrand nie, en beslis nie die wil nie. My korrespondensie met u was deurendtyd respekvol.

2) Die lyn van argumente

Dit is jammer dat u my skynbaar verkeerd verstaan. Ek haal u aan:

“Dit is egter kenmerkend van die lyn van die argumente: hulle haal die feit dat ek na so ‘n skrywer verwys het aan, koppel dit aan ‘n ander stelling van so ‘n skrywer en gee dan voor dat ek volledig alle standpunte van die ander persoon ondersteun.”

Ek haal die sin aan waarna u hier vewys (gepos op Facebook):

“Prof Niemandt, in die lig van u ondersteuning van McLaren, en in die lig van sy uitsprake hierbo, is ons dus korrek as ons aanneem u verwerp die idee dat Jesus die enigste weg tot die Vader is? Verwerp u dus die leerstelling van die belydenisskrifte dat slegs dié wat Jesus bewustelik aanneem gered sal word?

Of is u bereid om u van McLaren te distansieer?”

Dit is baie duidelik dat ek nie voorgee dat u al McLaren se standpunte of selfs die standpunt waaroor dit hier gaan ondersteun nie. Let op dat die die sin wat ek hier uit my pos aanhaal nie ‘n stelling is nie, maar ‘n vraag! En die doel van die vraag is om ‘n antwoord te kry. Let veral op die laaste sin, wat bedoel is om ‘n sterk antwoord van u te ontlok: “Of is u bereid om u van McLaren te distansieer?”

Ek het werklik gebid dat u antwoord “ja” sou wees.

Ek is seker dat u met herlees van die sin sal besef dat u interpretasie hierbo verkeerd is.

Ek moet ook noem dat u antwoord ietwat onbevredigend was. U het duidelik uitgewys dat u McLaren nie aangehaal het ten opsigte van sy universalisme nie. (Ek het dit ook nie beweer nie) U het egter nie die volgende stap geneem en sy universalisme verwerp en u van dié spesifieke dwaling van McLaren distansieer nie. Die probleem is dat u mense soos McLaren aanbeveel deur hulle positief aan te haal, maar dat u u nie distansieer van hulle dwalings nie. Iemand het op Facebook opgemerk: “Dit is soos om die skape wetend na die wolwe te stuur.”

Hierdie pos oor McLaren is maar een voorbeeld. Ek het onlangs ook een gepos oor Moltmann, en dieselfde retoriese tegniek gebruik.

3 ) Die drie “leuens” waarvan u my beskuldig.

Die “leuen” dat u “vaag is oor wat u glo”: Prof Niemandt, u moet besef dat dit hier gaan om die persepsie van u respondente, (ons, die gewone mense met wie u in die openbare arena kommunikeer) nie van die bedoeling van u as die kommunikeerder nie. ‘n Onderwyser voel dalk hy kommunikeer baie goed, maar sal nie weet of hy goed kommunikeer totdat hy terugvoer van leerling (sy respondente) gekry het nie. Dit is net so met die lidmate in die kerk. Ons lees dinge wat u skryf, maar dit skep meer vrae as wat dit vrae beantwoord. Ons terugvoer aan u as kommunikeerder is dus dat ons nie verstaan nie, en dat ons verduideliking nodig het. Sal ‘n goeie onderwyser sy leerling uittrap as die leerling sy lesing as “vaag” ervaar en dus ‘n verduideliking versoek? Net so sou ek hoop dat u as evangeliebedienaar nie die mense wat vrae het oor u boodskap het sal bestraf, veroordeel en brandmerk as leuenaars net omdat hulle vrae oor u boodskap het nie.

Emergent teologie is wel verder van die Evangelie verwyder as Islam. Ek wil noem dat dit ‘n proposisionele stelling is wat waar of vals bewys kan word – nie ‘n emosionele stelling wat op emosionele of intuïtiewe gronde aangespreek moet word nie. U is dus welkom om dit as ‘n vals proposisie te beoordeel, maar dan lê die las op u om u standpunt te bewys. Ek glo ek het genoeg feite gegee om te bewys dat die proposisie waar is. In plaas van om my van boosheid te beskuldig, wag ek vir u bewyse dat die proposisie vals is.

Islam stem op hierdie punte, wat deur die baie in die emergent beweging verwerp word, saam met die Bybel:

  • Teïstiese Godsbeeld
  • Goddelike inspirasie van die heilige geskrifte
  • Jesus se maagdelike geboorte
  • Jesus se sondelose lewe
  • Jesus se wonderwerke
  • Jesus se liggaamlike hemelvaart
  • Jesus se liggaamlike wederkoms
  • Die finale oordeel
  • Die ewige, bewuste verdoemenis in die hel

U sê: “Die leuen wat hulle herhaal is dat ek swyg oor geloofsake”. Dit is glad nie wat ek gesê het nie. Wat ek gesê het, en by herhaling, is dat u weier om u geloof met my te bespreek. En dit is ‘n feitelik korrekte stelling.

Laastens moet ek noem dat my stelling “maar die voor die hand liggende antwoord is dalk (sic) hy dalk bang is omdat hy weet dat hy nie meer die belydenisskrifte ondersteun nie,” die één gevolgtrekking is wat ek weet mense maak (nie nét ek nie) in die lig van die feit dat u weier om u geloof in die openbaar teenoor my te bely.

Dit is nodig dat u verstaan dat hierdie nie ‘n stelling is oor u geloof nie (Let op die woord “dalk” – dit bepaal die betekenis van die sin! En ignoreer maar die tikfout: ek glo dit moes lees “dat hy dalk bang is…”), maar dat dit ‘n oproep is dat u moet besef van watter ongelooflike groot belang dit is dat u die vrae moet antwoord!

Met die herlees van die sin besef ek egter dat dit dalk dubbelsinnig kan wees: Ek het die “dalk” bedoel om onsekerheid oor u vrees om te antwoord en u ondersteuning van die belydenisskrifte uit te druk. Indien u die sin verstaan het dat die “dalk” slegs onsekerheid oor u vrees om te antwoord uitdruk vra ek u nou hier om verskoning vir die dubbelsinnigheid van die sin, en hoop ek dat u my verduideliking sal aanvaar.

En hier is die hardste sin wat ek nog aan u geskryf het. (Op Facebook gepos.) Ek glo dit is feitelik korrek. Ek het werklik probeer om die waarheid in liefde te praat. U kan dus maar al my korrespondensie met u hieraan meet:

“Dit is ongelukkig nie ek wat u verdag maak, nie Prof. Niemandt. Dit is u wat uself verdag maak deur uself met mense te assosieer wat dwaalleer verkondig, en dan weier om die gevolglike verwarring op te klaar deur te verklaar wat u glo. Ek hoop u besef dat u in u lang antwoord hierbo ook nie my vraag geantwoord het nie.

Ek wil u dus dringend versoek om my vrae omtrent u geloof onmiddelik te antwoord.”

4) U bespreking van die emergent kerk

U skryf:

“Ek dink kerke kan die beste verstaan word in die lig van hulle gewoontes en gebruike (wat die etos of karkater van die kerke uitmaak)”

U gaan dan voort om ‘n reeks kenmerke van die Emerging kerke te lys, en sê dan waarmee u saamstem en waarvan u verskil. In u lys van algemene kenmerke en dinge waarmee u saamstem, is daar egter net dinge wat die kerke doen en hoe hulle dit doen. U sê min van wat hulle glo.

Dit is een van die groot probleme van die Emergent beweging: Ortodoksie word verruil vir ortopraksie. Wat jy glo is nie belangrik nie, net wat jy doen.

Die vaders van die reformasie sou in hulle grafte omdraai as hulle u stelling hierbo moes hoor. Kerke word nie die beste verstaan uit wat hulle doen nie. Hulle word die beste verstaan uit wat hulle glo – hulle belydenisskrifte.

En dit is die olifant in die voorkamer van u artikel: U maak slegs vlugtig opmerkings oor wat die emergent beweging glo, en praat glad nie regtig oor die kwessies wat die gemiddelde ingeligde NG lidmaat probleme mee het nie.

U verwys na drie geloofsartikels van die Emergent kerk waar u nie mee saam stem nie:

–Rob Bell se “sagte” siening van God se oordeel. Hierdie is die een ding wat almal van weet, want dit was hoofnuus in Christelike tydskrifte. U is dus half verplig om dit te noem. U laat egter na om te verduidelik dat Rob Bell die Bybelse teïstiese godsbeskouing verwerp ter wille van panenteïsme, en dat Rob Bell glo daar is nie ‘n hel nie en alle mense word gered. Die Christelike geloof is dus maar net een van hoeveel geldige gelowe. Hierdie twee dwalings op sigself plaas Bell buite die grense van die Christelike geloof. En u sê nog steeds nie wat u glo oor panenteïsme en universalisme nie!

–U verwys ook na die doop en verbondsteologie. Ek is verheug dat u hierdie belydenisse van die Gereformeerde tradisie ondersteun, maar nie een van hierdie twee leerstellings is sentraal aan die Christelike geloof nie. Baptiste sowel as dispensasionaliste is geredde Christene. (Emergents verwerp toevallig dispensasionalisme, ten gunste van ‘n eskatologiese eutopie.) John McArthur, een van my hedendaagse geloofshelde is beide: Baptis en dispensasionalis. (Die feit dat hulle nie ons belydenisskrifte bv oor die doop aanvaar nie, beteken egter hulle kan nie leraars in ons kerk wees nie.)

Ek sou graag wou hoor wat u sê oor wat die Emergent beweging glo oor die volgende dinge wat sentraal tot die geloof staan, en wat mense buite die Christelike geloof plaas. Die feit dat u hierdie punte verswyg skep ‘n vals positiewe indruk van die emergent beweging. Ek vertrou dat u dit nie met opset doen nie.

  • Panenteïsme, soos verwoord deur Dr Julian Müller.
  • Die verwerping van die sondeval, soos Dr du Toit dit in sy boek beskryf.
  • Die bestaan of nie van die duiwel soos in die openbaar deur Dr du Toit ontken.
  • Die finale oordeel. Is daar ‘n hel of nie?
  • Jesus se maagdelike geboorte, soos deur Dr du Toit verdag gemaak.
  • Jesus se sondelose lewe.
  • Jesus se soendood aan die kruis word deur sommige emergents beskryf as “kosmiese kindermishandeling”.
  • Jesus se liggaamlike opstanding uit die dood en die opstanding van die vlees, soos verwerp deur Dr Müller.
  • Die Goddelike inspirasie van die Bybel, soos ontken deur Dr du Toit.

Dit is werklik jammer dat u skynbaar onwillig is om hierdie spesifieke dwalings van die emergent beweging aan te spreek. U is natuurlik reg as u sê dat geen twee emergents saamstem nie. Daar is dus waarskynlik min van hulle wat elke liewe dwaling op die lysie hierbo glo. Maar die lysie in geheel gee ‘n goeie oorsig oor die dwalings, baie word verkondig deur mense wat u gereeld aanhaal, soos bv Brian McLaren.

(En ja, iemand wat die hele lysie dwalings aanhang is verder van die Christelike godsdiens as Islam. Dit is ‘n feit en ek daag u uit om dit te weerlê.)

Dus sit ons nou in ‘n groter penarie as ooit tevore: U het amptelik geantwoord, maar ons weet steeds nie wat u glo in verband met die bogenoemde dwalings van die emergent kerk nie.

U sê wel u onderskryf die belydenisskrifte.

Dit is dus totaal onverstaanbaar vir my waarom u dan nie die detail van die belydenisskrifte in die openbaar wil bely nie.

Die probleem is, Prof Julian Müller en ander het ‘n presedent geskep van mense wat “die belydenisskrifte onderskryf” maar tog duidelik die Christelike geloof verwerp. (Hoe is ‘n “post-teïs” ‘n Christen?)

U sê dus bitter min in u artikel van 4000 woorde oor dinge wat regtig saak maak. Ek kan maar net hoop u sal die lys dwalings hierbo aanspreek.

So nie sal die krisis in die NG Kerk verdiep.

Wynand Louw

Kommentaar

mnrnel: 15/03/2012 at 9:58 am

Dit is baie selde dat ek so ‘n goed deurdinkte en voorafopgestelde stuk gelees. ‘N stuk wat alle aspekte dek en getuig van die skrywer se diepte van betrokkenheid by sy eie standpunt.

Die tragiek is dat dit totaal gestroop is van toegeneentheid teenoor ‘n ander se standpunt en eerder vir ‘n buitestaander lyk na ‘n goed beplande hinderlaag om die anderpersoon in ‘n lokval te lei.

As die kerk getalle verloor is dit nie die gebrek aan duidelikheid oor wat die leierskap “glo” nie maar eerder hierdie tipe gedagtegang en vyandigheid teenoor die “demoniese” individuele worsteling met universele geloofskwessies. Nie eers die strategies geplaasde sinsnedes van “ek vra dit in broederliefde” kan my oortuig dat ons nie hier te make het met strooipoppe wat opgestel word met die uitsluitlike doel om hulle net weer af te skiet nie.

‘N vorige blogskrywer het dit so mooi gestel: “moenie met strooipoppe stoei nie” M.Scott Peck beweer dat een van die aspekte wat ons help om ons probleme te oorkom is toespitsing op die waarheid. Hierdie tipe aanval probeer juis die waarheid volgens “hier staan ek” te verkondig en wee die een wat net ‘n aks van jou waarheid verskil.

Ek kan duidelik sien dat u ‘n groot appeltjie te skil het met die Emergent church. Soveel so dat selfs Islam as artillirie ingespan word. As iemand nie jou e-posse beantwoord i sy oersoonlike hoedanigheid nie wil hy mos nie meer met jou redekawel nie. Hou eerder op met baklei en tree in werklike oop gesprek.

Coldplay sing in sy liedjie “every tear is a waterfall” : I’d rather be a comma than a full stop.

hierstaanek: 15/03/2012 at 10:56 am

Jan

Dankie vir jou respons.

Ek belowe jou ek het toegeneëndheid teenoor Prof Niemandt (onthou egter ek ken hom nie persoonlik nie), maar veral teenoor die kerk wat hy as moderator lei. My hart breek oor wat op die oomblik in ons kerk gebeur.

Wynand

Louis Scheepers: 15/03/2012 at 10:20 am

Wynand, ek ondersteun jou ope brief, en sal ook graag die antwoorde op hierdie vrae wil sien! Toe ek die antwoord van Prof Nelius Niemandt lees, was dit soos dejavu. Dit is altyd dieselfde antwoorde oor en oor. Ons “behoudendes” gun nie vir hulle ‘n plek nie, en probeer hulle swartsmeer.

Ek het in 2005 by Tukkies begin teologie swot, en was een van die wat destyds Ferdie Mulder se verklaring onderteken het (en ONGELUKKIG daarvan onttrek het uit onkunde, nadat ons met regstappe gedreig is). Ek is ‘n baie sterk behoudende teoloog en het beleef hoe jy vertrap en sleg gesê word, wanneer jy aan die behoudende-evangeliese kant staan. Ek kan boeke skryf oor my ses jaar van “hel” by Tukkies se teologiese fakulteit.

Ek het self in Prof Niemandt se klas gesit en het self al met hom verskil oor van sy sieninge. Ek het dieselfde tipe antwoord gekry; waar hy letterlik sy rug op my draai en sê dat hy nie verder met ‘n mens gaan praat oor die sake nie.

In ons gemeente moes ek al hoeveel keer vure doodslaan, nadat lidmate uit die NG Kerk wil bedank agv besluite deur ons Algemene Sinode en sekere artikels en dinge wat in die koerante is. Ek het al by verskeie mense gehoor dat hulle skaam kry om deel te wees van die NG Kerk.

Ek kry ook skaam om te sê dat ek deel is van die NG Kerk, na besluite soos die oor die duiwel se bestaan! Dit is plein kettery!

Dit is tyd dat ons kerk se leierskap verantwoording doen, en ophou wegkruip agter die leuen dat behoudende teoloë hulle probeer swartsmeer. Ek is bereid om my geloof eerlik en opreg voor die hele wêreld te bely, en sal dit doen selfs al sal dit tot die dood lei! As ek bereid is om dit te doen, behoort ons kerkleierskap dit ook te doen!

Die vraag is of die NG Kerk gaan kan bly voortbestaan as dinge aangaan soos nou! Ek sien ‘n skeuring kom, en ek dink nie dit is meer ver nie!

mnrnel: 15/03/2012 at 10:07 pm

Geagte Wynand

Vannaand is ek die een met eier op my gesig. Laat my toe om te verduidelik.

Ek is bevoorreg om regte vriende te he wat inspraak in my lewe maak en ek in hulle s’n. Die heuningkwas word mildelik gebruik maar soms ook ‘n skerp tong as dit nodig is om mekaar die regte pad te wys. Gewoonlik is dit maar ons eie ego en opgeblase selfidee wat in ons pad staan om die werklikheid in die oe te kyk.

Vanmiddag het ek met trots my respons op jou inisiële skrywe (wat eintlik niks met my te make het) met twee van my medelewensreisigers gedeel.

Ek is behoorlik oor die vingers getik oor verskeie sake. Nie een oor wat jy gesê het nie of stellings wat ek gemaak het nie maar oor die totaal inmengerige en skoorsoekende trant van my eie skrywe.

Ek vra dus hiermee groot verskoning as dit enigsins geblyk het dat ek dink ek meer weet van die onderwerp as jy. Ek besef dat dit juis hierdie tipe optrede is waaroor ek jou so heerlik aangevat het waaraan ekself skuldig is. Ek weet ook dat ek ‘n totale misbruik gemaak het van my vermoe om met woorde te speel om ekstra oemf aan my woordhoue te gee.

Jou eerlike antwoord op my “bull in a china shop” tirade is die bewys dat dit werd is om ook hierdie fasset van die komplekse dilemma te ondersoek om werklike eenheid in die kerk te bewerkstellig sodat ons net meer en meer funksioneel in hierdie wereld kan optree om God se hande en voete te wees.

My opregte verskoning.

Jan

Anna: 16/03/2012 at 9:30 am

Baie dankie Wynand vir jou vraag aan Dr Niemandt. Ek is maar ‘n baie eenvoudige Christen en kind van die Here sonder enige teologiese kennis.
Dis vir my verstommend dat jou vraag so ‘n heftige reaksie ontlok het van die Moderator.

Wat kan nou makliker wees as om te sê ek glo so & so volgens die Bybel ?
Om daarmee ‘n probleem te hê, is eintlik indirek ‘n antwoord.

Miskien moet predikante en teoloë nog gewoond word aan die gedagte dat lidmate die volste reg het om ingelig te wees in detail.
En om doodseker te maak van die werklike feite.
Die gemeente ( waarvan ek en jy lid is ) is die draer van die waarheid.1Tim3:15.

Baie dankie Jan vir jou grootmoedigheid om jou fout te erken. Jy het sommer gawe, wyse vriende & hul vriend het ‘n leerbare gees!

Sanrie Maree: 16/03/2012 at 11:36 am

Beste Wynand,
Baie dankie vir jou moed om op te staan vir die Here. Ek wou huil toe ek ds Louis Scheepers se brief hierbo lees. Ons gesin het na baie worstelling besluit om die NG Kerk te verlaat. Gelukkig behoort Jesus nie aan die NG Kerk nie…

hierstaanek: 16/03/2012 at 11:52 am

Sanrie, ek kan maar net bid ons leiers kom tot hulle sinne.

Sanrie Maree: 20/03/2012 at 12:56 am

Beste Wynand,
Moenie moed verloor nie. Die profeet Jeremia was bespot, uitgelag, versreeu en in ‘n hok gesit omdat hy die koning gewaarsku het dat as hulle nie die afgode uit die Tempel haal nie, God hulle sal wegvoer Babilon toe……

somersetmorkel: 25/03/2012 at 9:25 pm

Jesus in Kapenaum in die sinagoge: Dr Mark Norman, ‘n leraar van die Church of England het onlangs gepreek: A man with an unclean spirit, in the church, amongst those who professed cleanliness, indicates that Israel, God’s church, was in a bad way.. today we have the same problem. We are in dire need for the church to be cleaned of unclean spirits, and you can only do that by honouring Christ as the holy Cleaner. Only the Holy One can clean the church which is in serious apostasy because they do not acknowledge Satan’s reality… Without Satan, you cannot understand redemption.. You cannot understand morality or how to be moral.. You cannot understand the Bible.. You might as well close it and throw it away… Veelseggend as mens dink waar ons al trek in die moderne teologiese afvalligheid van die Waarheid..

somersetmorkel: 25/03/2012 at 9:26 pm

Wie dwaas is, sal dwaser word, sê die Skrif op ‘n plek… en: Hulle sal die gesonde leer nie verdra nie, maar sal leringe van DUIWELS navolg.. Hulle glo nie in die bestaan van die duiwel nie, en weet dus nie om hom te weerstaan nie – soos die Skrif ook se. Hulle volg hom met verduisterde visie, en noem dit intellek.. Dit gebeur vandag met hierdie mense met hulle humanistiese teologie – humanologie. ‘n Messiaanse Jood het onlangs gepreek oor Petrus se uitspraak toe hy Jesus wou keer om te gaan sterf: The answer of Jesus to Peter was Get thee behind me Satan, for you think not of the things of God but of man… This is humanism… Satan is not a witch, Satan is not sorcerer – he is a humanist. That is why Christ rebuked Peter in this manner.. Mens kan dieselfde se vir hierdie misleide teoloë wat die werk van mense bo die werk van God stel, en dan ook ander mislei.. blindes wat blindes lei, en ‘albei sal in die sloot val – soos die Skrifte se. Dis tragies, want hulle wil nie luister nie, vasgevang in die mag van ‘n misleidende gees. Mag hulle tog die waarheid vind in bekering terug na die Woord van God – voor dit vir hulle te laat is.. Maar, sjoe – hulle harte is hard..!

somersetmorkel: 25/03/2012 at 9:27 pm

Kommentaar deur dr Mark Norman (Ev Church of England, Queenswood, Pretoria, 23 March 2012) oor NT Wright: His exegetical insights are outstanding, he is genuinely brilliant. His 2003 book on the resurrection is probably the best single study on the topic ever. However to my mind there are serious problems with his theology: for example some of his views on Pauls view on justification (he represents the so-called ‘New Perspective on Paul’- a perspective contradictory to Reformed Theology). There are also problems with his views on Scripture and the substitutionary nature of the atonement.. (As dit so is, is hy m.i. ook op pad na waar baie ‘slim’ mense heen op pad is: hulle eindig uiteindelik op in ernstige dwaling.)

Malherbe: 04/07/2015 at 5:12 pm

Ongeloofilk dat julle ouens oor absurditeite soos die bestaan van duiwels kan redeneer. In watter eeu leef julle? Redekawel jul soms ook oor kaboueters en feetjies?

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui