2019 NGK homoseksuele besluit

Tydens die algemene sinode van 2019 (op 8 Oktober 2019) het die sinode besluit om weer ruimte te maak vir selfdegeslagverhoudings. Voor die besluit geneem is, is daar besluit dat daar tydens die 2015 Algemene Sinode prosedurele foute gemaak is met die besluit op selfdegeslagverhoudings en daarom het die 2015-besluit verval.

‘n Voorstel van die Sinode Wes-Kaapland (Mei 2019) is as voorstel aangebied en dit is so aanvaar:

Kyk die volgende video op Youtube om te sien hoe dit alles gebeur het:

NGK Algemene Sinode 2019 LiveStream Live Stream

Kyk ook Wat sê ons van die 2019 NGK homoseksuele besluit?

Twee dae later is die volgende persverklaring uitgereik:

Die algemene sinode reik ‘n persverklaring uit oor selfdegeslagverhoudings, 10 Oktober 2019

Hier volg die volledige besluit met enkele kommentare tussenin.

Oorspronklik: www.kerkargief.co.za/acta

***********

Besluit: Selfdegeslagverhoudings

1. Die Algemene Sinode neem kennis dat verskille in die kerk ten opsigte van Skrifhantering en Skrifuitleg tot vasgelooptheid gelei het, en dat voortgaande besinning oor verantwoordelike Skrifuitleg steeds nodig is.[Kommentaar: Die woorde “verantwoordelike Skrifuitleg” word gewoonlik deur liberales gebruik om daarmee aan te toon dat behoudendes nie die Skrif verantwoordelik gebruik nie ten koste van mense se menswaardigheid.]

2. Die Algemene Sinode bely egter dat die eenheid van die kerk gefundeer is in ’n eenheid met Christus en die belydenisgrondslag, en dat hierdie eenheid nie verbrokkel wanneer daar oor Skrifhantering en Skrifuitleg ten opsigte van hierdie saak verskil word nie, maar verryk en verdiep word.

[Kommentaar: Kyk Nelis Janse van Rensburg se argumente ongeldig.]

3. Die Algemene Sinode is verbind tot ’n voortgaande en nederige diepe luister na mekaar, met respek vir mekaar se uiteenlopende benaderings, Skrifhantering en hermeneutiek.

4. Die Algemene Sinode moedig gemeentes aan om voort te gaan met die skep van gesprekruimtes vir gesonde geloofsonderskeidende gesprekke oor hierdie (en ander) teologies-etiese kwessies, en toe te sien dat:

4.1 hierdie ruimtes inklusief en divers bly;

4.2 nie oor ánder te praat nie, maar eerlik en broos vanuit die eie posisie, en

4.3 daar werklik erns gemaak word met die Woord van God.

5. Die Algemene Sinode respekteer kerkrade se reg om geloofsonderskeidende gesprekke in hulle eie kontekste te voer en moedig kerkrade aan om deurdagte en verantwoordelike besluite te neem.

6. Die Algemene Sinode moedig kerkrade aan, om by die aanwysing van persone in die ampte,  lidmate se:

6.1 doop, belydenis, roeping, spiritualiteit en getuienis van leer en lewe,

6.2 toegang tot die sakramente,

6.3 integriteit van verhoudings, en

6.4 geskiktheid vir die spesifieke rol in ag te neem

6.5 ongeag ras, geslag, klas of seksuele oriëntasie en -identiteit.

[Kommentaar: Die woorde “seksuele oriëntasie” beteken dat dit die hele spektrum van LGBTQIA+ insluit.]

7. By die legitimasie van teologiese studente, moet die studente se:

7.1 doop, belydenis, roeping, spiritualiteit en getuienis van leer en lewe,

7.2 toegang tot die sakramente,

7.3 integriteit van verhoudings, en

7.4 teologiese- en bedieningsvorming in ag geneem word, ongeag ras, geslag, klas, of seksuele oriëntasie en -identiteit.

[Kommentaar: Dus sal teologiese studente wat homoseksualteit beoefen ook nou gelegitimeer word. (Kyk Wie is Lulani Vermeulen?)]

8. Die Algemene Sinode erken dat daar:

8.1 kerkrade en predikante is wat nie hulle weg oopsien om burgerlike verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag te bevestig nie,

8.2 ook kerkrade en predikante is wat wel hulle weg oopsien om burgerlike verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag te bevestig.

9. Die Algemene Sinode wil graag die ruimte wat vir almal geskep word, om volgens hulle oortuiging op te tree, bevestig. Die Algemene Sinode besluit ook dat daar ’n span saamgestel word wat elke streeksinode sal besoek om hierdie saak duidelik en deeglik deur te werk. Dit kan ons help om ’n ingeligte besluit neem.

10. Die Algemene Sinode dra dit aan ATLAS op om ’n formulier te ontwikkel vir die bevestiging van burgerlike verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag.

11. Die Algemene Sinode

11.1 betreur dat die verloop van die debat en die besluite in die kerk die afgelope jare lidmate verwar en seergemaak het;

11.2 vra gay-lidmate en hulle families wie se menswaardigheid wetend en onwetend misken is, uitdruklik om verskoning vir die pyn wat hulle in die kerk beleef het;

11.3 verbind hom daartoe om in die gees van hierdie besluit ruimtes te skep vir gesprek waarin almal se menswaardigheid gerespekteer word.

11.4 Die Algemene Sinode bedank gay-lidmate wat volgehou het met waagmoedige en konstruktiewe gesprekke in die kerk.

12. Die Algemene Sinode dra dit aan ATLAS op om voort te gaan met studie oor die huwelik en menslike seksualiteit met die oog op terugvoer aan die volgende sinode.

5 thoughts on “2019 NGK homoseksuele besluit”

  1. Wel ons is in die groot afvalligheid – aan die een kant die Saduseers (liberale) en die ander kant die Fariseers (NAR: Jesus + ervarings) en in die middel ’n kleiner wordende eiland.
    Mag God ons genadig wees en mag vervolging ons suiwer!

  2. Julle elkeen wat in die sinode vir gays is, gaan lees 2 Petrus 2:1-22.
    In die laaste 25 jaar het ek gesien hoe ons as Afrikaners die knie buig vir die vlees en nie die Gees. Julle vergeet dat die kerk bestaan uit mense en nie uit julle teologiese besluitnemings nie. As julle wil dwaalleer probeer bring en ’n verder skeiding in die Afrikaner volk, sal jul die prys betaal soos al die ander voor julle. Wat verkeerd is, is verkeerd en dit kan nie deur julle as mense probeer reg gespreek word nie. Ons as ’n volk is verdeeld in politiek; nou wil julle ons verdeel as kerk. Dis tyd dat julle wat jul ophou met die bose besluite die uittog moet neem. Dis tyd vir die volk van ons vir die laaste smeltkroes. Dis tyd vir ’n kerk waar ons God dien volgens Sy Woord. Dit is nie elke jaar vertaal sodat dit makliker raak vir mense nie. Dis soos om God se woorde te verdraai. Een volk, een kerk, een God. Want as ons nou verdeel oor menslike dwaalleer sal ons nooit weer een wees nie. Julle sinode het geen mag oor ons as God se kerk nie. Julle is net nog ’n Sodom en Gomorra en ons die ware kerk is Lot. Sterkte!

    1. 2 Tim 3 verse 1 tot 3 … Dít moet jy weet: in die laaste dae sal daar swaar tye kom. 2Die mense sal selfsugtig wees, geldgierig, grootpraterig en verwaand, beledigend teenoor hulle medemense en ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar en ongodsdienstig; 3hulle sal liefdeloos en onversoenlik wees, kwaadpraters, bandeloos en wreed, sonder liefde vir die goeie; 4hulle sal verraaiers wees, roekeloos en hooghartig. Hulle sal eerder liefde vir genot hê as liefde vir God.

      Veral die laaste sin…

    2. Frik baie dankie jou kommentaar is uit die boonste rakke!!! Sonde bly sonde en kan nie goedgekeur of goedgepraat word nie! Dwaalleer is van die bose.

  3. Presies wat bedoel die sinode met punt 6. Ek haal aan: “6. Die Algemene Sinode moedig kerkrade aan, om by die aanwysing van persone in die ampte, lidmate se:
    6.1 doop, belydenis, roeping, spiritualiteit en getuienis van leer en lewe,” moet in ag neem. Wat beteken dit vir persone wat sogenaamd grootgedoop is?
    Wat is die leer van die NG kerk?
    Tydens bevestiging van kerkraadslede, kinderdoop, belydenis van geloof ens word daar van lidmate verwag om die volgende belofte te maak. Ek haal aan uit die formulier vir die belydenis van geloof: “Ten tweede: Beloof jy om as lidmaat van die gemeente van Christus deur sy genade in die beiydenis van die leer tot die einde van jou lewe te volhard, en alle Ieringe wat daarvan afwyk, te verwerp? ”

    My vraag is nou hoe kan daar van enige person verwag word om jou vir die res van jou lewe aan die leer van enige kerk te verbind? Die leer verander gedurig en kerkleiers verskil gedurig daaroor. Lidmate is veward en word geforseer om kant te kies. Ek is van mening dat die kerk self hul eie leer verbreek veral ten opsigte van ou geskrifte soos byvoorbeeld die Heidelbergse kategismus.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui