2015 NGK homoseksuele besluit

Die NG Kerk se Algemene Sinode het op Vrydag 9 Oktober 2015 hierdie skokkende besluit oor selfdegeslagverhoudings geneem en ’n net so skokkende pastorale brief uitgereik. Daarna het Dirkie van der Spuy, wat ’n mens gedink het behoudend is, ’n baie verdraagsame houding ingeneem teenoor hierdie besluit, terwyl die kerkraad van Moreletapark hulle sterk gedistansieer het van hierdie besluit (kyk Nelis Janse van Rensburg en Dirkie van der Spuy oor die 2015 NGK homoseksuele besluit).

Hieronder volg:

  1. Die besluit
  2. Pastorale brief

‘n Mens wonder of sinodegangers met eerlikheid kan sê dat hulle gevra wat vir die Here aanneemlik is (Efesiërs 5:10).

Kommentaar verskyn in [rooibruin blokhakies].

Oorspronklik: www.kerkargief.co.za/acta

**************

1. Besluit

Die Algemene Sinode het op Vrydag 9 Oktober soos volg besluit:

Stemming: Ja: 114 / Nee: 63

1 Die Algemene Sinode herbevestig die gelykwaardigheid van alle mense ongeag seksuele oriëntasie en verbind haarself tot die handhawing van die menswaardigheid van alle mense.

2 Die Algemene Sinode verklaar dat hetero- en homoseksuele persone wat in ʼn verhouding van persoonlike geloofsgehoorsaamheid aan die Here leef, ten volle kan deelneem aan al die voorregte van die kerk as verbondsgemeenskap. [Kommentaar: Volgens 1 Korintiërs 6:9-10 lyk dit nie vir my of ’n persoon wat in ’n homoseksuele staan in geloofsgehoorsaamheid aan die Here kan leef nie.]

3 Die Algemene Sinode herbevestig die besluite oor die huwelik van 2004, 2007 en 2013 dat slegs die verbintenis van een man en een vrou as ʼn huwelik beskou word.

4 Die Algemene Sinode besluit om in die lig van pt 1 hierbo erkenning te gee aan die status van burgerlike verbintenisse van persone van dieselfde geslag wat gekenmerk word deur liefde en trou, en maak voorsiening dat hierdie verbintenisse deur predikante wat hulle weg oopsien, bevestig kan word.

5 Dieselfde Christelik-etiese standaarde (leer en lewe) geld vir die legitimasie van ordening van alle persone. Punt 7 van die besluit van 2007 verval. [Kommentaar: Dus kan predikante nou in homoseksuele huwelike staan.]

6 Die Algemene Sinode erken die diversiteit van beskouinge oor selfdegeslagverbintenisse binne die NG Kerk en bevestig die reg van kerkrade om hieroor hulle eie standpunte en praktyke te formuleer en te reël.

7 Die Algemene Sinode bevestig die diskresie van kerkrade om die verskille oor homoseksualiteit in gemeentes te hanteer en versoek hulle om dit in ʼn gees van Christlike liefde te doen.

8 Die Algemene Sinode bied hierdie besluite oor selfdegeslagverhoudings aan met nederigheid na ʼn ernstige soektog en as die beste toepassing van die boodskap van die Bybel soos ons dit tans verstaan. Die Algemene Sinode versoek lidmate, gemeentes en kerkvergaderings om weereens op ʼn selfstandige soekproses na die toepassing van die boodskap van die Bybel hieroor te gaan. In die soektog kan studiestukke van die Algemene Sinode van 2007, 2011, 2013 en 2015 ernstig gelees word. In ooreenstemming met die NGB Art 2 behoort die besondere en algemene openbaring gebruik te word, dws die beste huidige menswetenskaplike bevindings. [Kommentaar: NGB Art 2 gaan oor “Die middele waardeur ons God ken”. Hierdie besluit is dus gegrond op die aanname dat dit wetenskaplike bewys is dat ’n mens homoseksueel gebore word (God se skepping). Eerstens is dit baie ver van die waarheid af – kyk Nuutste wetenskaplike navorsing oor homoseksualiteit. Tweedens leer ons God eerstens ken deur die Bybel en slegs aanvullend deur Sy skepping indien dit nie teenstrydig is met die Woord nie. Wat het van sola scriptura geword? Miskien moet NGB Art 29 meer aandag verdien…]

9 Die Algemene Sinode besluit om ʼn Christelik-Bybels-etiese model oor die seksualiteit vir alle mense te ontwikkel om gemeentes te begelei in die lig van die voorafgaande besluite. Hierdie saak word ook verwys na die Projekspan vir Leer en Aktuele Sake, wat reeds ʼn soortgelyke opdrag in A p 172 punt 7.4 ontvang het. [Kommentaar: “Christelik-Bybels-etiese model” en “homoseksuele verhouding” staan direk teenstrydig. ’n Mens kan nie die twee begrippe versoen nie.]

10 Die Algemene Sinode besluit om ʼn bevatlike oorsig van die NG Kerk se reis met homoseksualiteit saam te stel en te versprei om gemeenteleiers te bemagtig in die begeleiding van gemeentes oor hierdie saak.

VOORSTELLERS: André Bartlett, Monty Sahd

Die uitslag van die stemming was 114 ten gunste van en 63 daarteen.

Die volgende persone teken hulle teenstemme aan: JH Hattingh, T Danzfuss, H Janse van Rensburg, PG Otto, HJ Niemand, R Britz, BH Swart, CP Crause, D Oelofse, J van der Westhuizen, J Smook.

VOORSTEL: SELFDEGESLAGVERHOUDINGS (T Danzfuss/H Janse van Rensburg) – nie goedgekeur nie:

Die Algemene Sinode besluit om die besluite wat geneem word oor selfdegeslagverhougings eers terug te verwys na al die streeksinodes vir goedkeuring of kommentaar. Die ASM kry volmag om hierdie besluite namens die Algemene Sinode te bekragtig sodra minstens twee derdes van die sinodes dit goedgekeur het.

  1. Hierdie besluite is nie net leerstellig van aard nie, maar raak ook elke gemeente.
  2. Hierdie besluite raak nie net die NG Kerk se beleid nie, maar ook die interpretasie van ons belydenis, bv HK vr 108–109 oor die sewende gebod.
  3. Die Sinode se besluit is met ʼn geringe meerderheid geneem namens ongeveer 1 miljoen lidmate.

Die Algemene Sinode het verder besluit:

1 Vanuit ons verbintenis tot die waardes van die Seisoen van Menswaardigheid sê ons as Algemene Sinode opreg jammer vir mense wat seergekry het en wie se waardigheid aangestas is weens enige homofobiese taal, gedrag of gesindheid van die kant van die kerk, ook tydens hierdie vergadering.

2 Die Algemene Sinode weerhou haarself voortaan van enige homofobiese taal, gedrag en gesindheid juis vanweë ons verbintenis aan die Seisoen van Menswaardigheid, en ook vanuit ʼn diepe oortuiging van die diskriminerende aard van sodanige taal, gedrag en gesindheid as gevolg daarvan.

Die Algemene Sinode het verder besluit:

1 Die Algemene Sinode dra dit aan die Algemene Steunspan Regte op om die kerkregtelike- en regsimplikasies van enige besluit(e) insake selfdegeslagverhoudings te ondersoek met verslag en aanbeveling aan die Algemene Sinodale Moderamen.

2 Die Algemene Sinode neem kennis dat volgens die Civil Union Act (Wet 17 van 2006) vereis word dat denominasies skriftelik by die Minister moet aansoek doen om toestemming te verkry om selfdegeslagverbintenisse te voltrek (vergelyk Klousule 5 wat soos volg lees: Designation of ministers of religion and other persons attached to religious denomination or organisation as marriage officers:(1) Any religious denomination or organisation may apply in writing to the Minister to be designated as a religious organisation that may solemnise marriages in terms of this Act).

Die Algemene Sinode het verder besluit:

1 Die Sinode van Namibië versoek die Algemene Sinode om kennis te neem dat pt 4 in die goedgekeurde voorstel wat soos volg lees “erkenning te gee aan die status van burgerlike verbintenisse van persone van dieselfde geslag”, in stryd is met die landswette van Namibië.

2 Die Algemene Sinode keur goed dat hierdie pt 4 oor selfdegeslagverhoudinge nie afdwingbaar is op die Sinode van Namibië nie.

2. Pastorale brief

Op 10 Oktober 2015 het die sinode die volgende brief vrygestel:

PASTORALE BRIEF N.A.V. DIE 2015 ALGEMENE SINODE

Geliefdes in die Here Jesus Christus,

Ons neem vrymoedigheid om aan u te skrywe oor die besluit wat die Algemene Sinode hierdie week oor selfdegeslagverhoudings geneem het. Hierdie vrymoedigheid spruit uit ons diep verbondenheid aan mekaar as mense wat Jesus as die Here bely. Dit is nie in die eerste plek die wêreld se media se taak om u in te lig oor ons besluit nie, maar dit is ons as familie se verantwoordelikheid om met u hieroor te praat.

Dit is nie die eerste keer dat ons as kerk hieroor moes standpunt inneem nie. In 2007, 2011 en 2013 is daar besluite geneem wat ons al voorheen met u gekommunikeer het. Ons was genoodsaak om weer oor die saak na te dink. Soos die vorige kere was dit vir ons moeilik. Met oop Bybels en biddende harte het ons as gelowiges saam na die wil van die Here gesoek. [Kommentaar: Hierdie is ’n blatante leuen, om die minste te sê.] Dit is al wat saakgemaak het. Die probleem is net dat ons, soos die kerk wêreldwyd, as gelowiges van mekaar verskil oor wat die wil van die Here in hierdie saak sou wees. Juis daarom het ons moeite gedoen om in liefde met mekaar te praat oor hoe ons die wil van die Here hoor en verstaan in hierdie komplekse wêreld waarin ons leef. Daar was ’n sterk gevoel dat verdere studie nodig is, maar uiteindelik het die sinode besluit dat ons nie kan bekostig om niks te sê nie. Om net stil te bly, sou te veel sê. Ons bied hierdie besluit met nederigheid aan as ’n besluit wat steeds aan voortgaande besinning onderworpe is. Ons vra ook mooi dat u die besluit in sy geheel sal verstaan. U sal opmerk dat die besluit die ruimte ooplaat vir kerkrade om na gelang van hulle eie oortuiging en omstandighede te handel, dat daar voortgaande navorsing gedoen sal word, maar dat daar ook bepaalde besluite geneem is waaraan gevolg gegee gaan word. Vanselfsprekend binne die raamwerk van die liefde.

Ons het die volledige besluit so wyd as moontlik bekend gemaak (en heg dit ook hier onder aan). Die volgende punte is veral belangrik:

Die Algemene Sinode het verklaar dat beide hetero- en homoseksuele lidmate ten volle aan al die voorregte van die kerk kan deelneem. Dit sluit in dat dieselfde Christelik-etiese standaarde vir alle persone geld wanneer dit by legitimasie en ordening kom – die Algemene Sinode maak geen onderskeid tussen persone nie.

Ons bevestig ons standpunt dat slegs die verbintenis van een man en een vrou as ’n huwelik beskou word, maar gee ook erkenning aan burgerlike verbintenisse van persone van dieselfde geslag wat gekenmerk word deur liefde en trou – en maak voorsiening dat hierdie verbintenisse deur predikante wat hulle weg oopsien, bevestig kan word.

Omdat ons die diversiteit van beskouinge in die kerk erken, gee ons die reg aan kerkrade om hieroor hulle eie standpunte en praktyke te formuleer en te reël. Hierdie is ’n besluit wat ruimte wil maak, wat gemeentes wil toelaat om vanuit oortuiging en nie onder dwang nie na God se wil te soek.

Ons as Algemene Sinode onderneem om in die tyd wat kom alle regsimplikasies, byvoorbeeld rondom burgerlike verbintenisse, te ondersoek en inligting aan sinodes en kerkrade beskikbaar te maak. Ons onderneem verder om materiaal te ontwikkel waarmee ons lidmate en gemeentes kan begelei, maar ons versoek alle lidmate, gemeentes en kerkvergaderings om ook selfstandig te gaan soek na die toepassing van die boodskap van die Bybel in hierdie verband.

Die sinode het ook talle ander besluite geneem. Ons het onder meer besin oor die gestuurdheid van ons kerk na die wêreld. Ons getuienis oor Jesus Christus as Verlosser en Saligmaker is beklemtoon. Jeugbediening was ’n belangrike fokus van die vergadering. Ons het ook goed nagedink oor die kerklike media, die praktyk georiënteerdheid en toeganklikheid van teologiese opleiding, armoede, kerkeenheid en maatskaplike geregtigheid. Oor hierdie en nog veel meer sake is die leiding van die Here gesoek.

Die kerk is vir ons ’n veilige ruimte waarbinne ons eerlik met mekaar kan praat en waar ons onsself voortdurend afvra wat vir die Here aanneemlik is (Ef. 5:10). Dit is ons behoud. Dankie dat ons as lidmate van die NG Kerk die pad lojaal-krities saam kan aanpak. Ons het mekaar meer as ooit tevore nodig. Laat ons steeds aan mekaar en bo alles aan Christus vashou.

Groete van julle broers in Christus

Nelis Janse van Rensburg en Dirkie van der Spuy

Moderator en assessor van die Algemene Sinode van die NG Kerk

******

Kyk ook

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui