2004 NGK besluit oor skrifgebruik en skrifgesag

Kyk ook:

Die volgende is gekopieer vanaf NG Kerk dokumente, Skrifgebruik en Skrifgesag 2004.

*********

5. SKRIFGEBRUIK EN SKRIF­GESAG (2004)

Die Alge­mene Sinode keur die volgende verklaring goed en verwys dit na gemeentes en ringe vir be­spre­king:

5.1 Die Nederduitse Gereformeerde Kerk bely, as kerk wat in die Gereformeerde tradisie staan, dat die Bybel die Woord van God is en dat dit daarom:

* gesag het oor ons hele lewe, omdat dit aan ons betuig dat ons nie aan onsself behoort nie, maar aan die Here, sodat ons geroep word om in vertroue op Hom en in gehoor­saamheid aan Hom te leef;

* betroubaar is, omdat ons vas glo dat God werklik is soos Hy Homself in die Skrif aan ons bekend maak: die Vader, Seun en Gees wat uit genade ons God is;

* duidelik is, omdat die kerk hierin die hel­der­heid van die evangelie van God se lief­de en genade hoor;

* voldoende is, omdat die Heilige Gees ons deur die Bybel alles leer wat ons hoef te weet om in God te glo en om sy wil te gehoorsaam (vlg NGB Artikel 7).

Daarom bely ons steeds gelowig dat dié waar­heid bo alles is.

5.2 Soos nog altyd vir die Gereformeerde tradi­sie, bete­ken hierdie belydenis vir ons nié:

* dat die Bybel vereis dat ons ons denk­ver­moë, wat ’n gawe van God is, moet opoffer nie;

* dat die Bybel gesien kan word as ’n eksakte handboek vir historiese of wetenskaplike kennis nie;

* dat die hele Bybel so maklik is om te ver­staan dat enige mens selfstandig en on­mid­­dellik alles daarin kan begryp nie;

* dat die Bybel vir ons die volle kennis oor alle aspekte van die werklikheid gee, sodat geen verdere menslike nadenke of navor­sing nodig is nie.

5.3 Ons bely verder dat God deur die Heilige Gees die kerk deur die eeue in die waarheid van hierdie Woord lei. Dit beteken vir ons dat ons die Skrif as die lewende Woord van God hoor in ge­meenskap met die Heilige Gees en met mekaar. Daarom was die kerke in die Gereformeerde tradi­sie nog altyd oortuig van die belangrikheid van ’n verant­woor­de­like inter­pretasie van die Skrif waar­deur die kerk as ge­loofsgemeenskap onder leiding van die Heilige Gees soek na die waarheid, gereg­tig­­heid en barm­hartigheid wat God deur sy Woord in ons tot stand bring. Hierdie oortuiging dat die kerk die Skrif moet interpreteer, blyk onder meer uit:

* die klem wat van die begin af gelê is op ’n grondige kennis van die oorspronklike tale (Hebreeus, Grieks en Aramees) waarin die Bybel geskryf is, asook die soeke na die beste metodes vir verantwoordelike Skrif­uitleg;

* die beklemtoning dat die hele Skrif gelees moet word in die lig van die konteks waar­in dit ont­staan het, sodat die tyd- en kul­tuur­betrok­ken­heid daarvan verreken kan word in die uitleg;

* die soeke na reëls vir die uitleg van die Skrif (voor­beelde van sulke uitlegreëls uit ons tra­disie is: dat die Skrif as totaliteit gelees moet word, dat Skrif met Skrif ver­gelyk moet word en dat die moeiliker dele in die lig van die mak­liker dele vertolk moet word en dat die Skrif uit sy hart, die evangelie van Jesus Chris­tus, ver­staan moet word);

* die onderskeid wat in die uitleg van die Skrif gemaak is tussen verskillende dele van die Skrif wat ’n verskillende soort ge­sag het (by­voor­beeld die onderskeid tus­sen die histo­rie­se en normatiewe dele van die Skrif, asook die onderskeid tussen die kultiese en morele wet­gewing);

* die dankbare, maar kritiese luister na die ma­nier waar­op die Skrif in die geskiedenis van die kerk uitgelê is en in ons eie tyd deur mede­gelowiges in ons eie kerk en ander kerke uit­gelê word;

* die vestiging van kerklike praktyke vir die inter­pretasie van die Skrif, soos veral die pre­diking, maar ook katege­se, Bybel­stu­die, teo­logiese studie en andere;

* en veral ook in die daarstel van belydenis­skrifte waarin die kerk streef om die hart van die Skrif­boodskap duide­lik te vertolk en ge­hoor­saam te aanvaar.

5.4 Hoewel die kerk in elke tyd anders mag oor­deel oor die beste reëls en metodes vir ver­ant­woor­­de­like Skrifuitleg, bly dit vir ons ’n basiese oor­tuiging dat die belydenis van die Skrif as Woord van God nooit teenoor ver­ant­woordelike Skrifuitleg staan nie. Die belydenis roep ons juis op om ons­self, in gemeenskap met mekaar en met al die gawes wat God vir sy kerk gegee het, toe te lê op die soeke na die waarheid.

5.5 In die lig van hierdie belydenis glo ons dat God ook in die uitdagende tye waarin ons leef, sy kerk deur sy Woord en Gees in die waarheid sal lei. As Gereformeerdes verbind ons ons daartoe om, ook wat die komplekse leerstellige en etiese kwessies van ons tyd betref, in hier­die oortuiging saam te soek na waarheid, gereg­tigheid en barm­hartigheid. Ons glo dat hierdie soeke ’n ekume­niese strewe is, in ver­bondenheid met die kerk van alle eeue en die kerk dwarsoor die wêreld. Waar ons van mekaar verskil, glo ons dat ons in gesprek met mekaar moet bly, in die gebed dat God ons liefde al meer sal laat toeneem in begrip en fyn aanvoeling, sodat ons die dinge sal kan onder­skei waarop dit werklik aankom (Filippense 1:9-10).

Soos aanvaar deur die Algemene Sinode van 2004.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui